Blaasinfeksies is 'n verskynsel oor die wêreld heen, maar dit lyk of dit 'n algemene toestand onder Suid-Afrikaners is.
Luidens 'n studie wat in die Journal of Health & Biological Sciences gepubliseer is, het Suid-Afrika die hoogste persentasie van urienweginfeksies (UWI) onder agt Afrikalande suid van die Sahara.
In die algemeen is die voorkoms van UWI's in Afrika suid van die Sahara 32,12%, met die hoogste voorkoms wat in SA (67,6%) aangeteken is, gevolg deur Nigerië (43,65%) en Zambië (38,25%).
In SA is UWI's veral algemeen onder vroue. Faktore soos gekompromitteerde immuniteit, diabetes en swak persoonlike higiëne, vererger deur swak sanitasie, beperkte toegang tot skoon water en onvoldoende gesondheidsorginfrastruktuur verhoog 'n vrou se risiko om 'n UWI op te doen.
Elani van Zyl, produkbestuurder van Pharma Dynamics, sê 25% tot 30% van vroue tussen die ouderdomme van 20 en 40 jaar kry wederkerende infeksies.
"Wanneer jy twee UWI's binne ses maande of drie binne 'n jaar kry, word dit as wederkerende UWI's beskou."
Sy wys daarop dat vroue anatomies meer geneig is tot UWI's aangesien hulle 'n korter uretra as mans het.
Hierdie korter afstand tussen die blaas en die eksterne omgewing maak dit makliker vir bakterieë om deur die uretra te beweeg en die blaas te bereik, wat tot infeksies lei.
"Seksuele aktiwiteit kan ook ongewenste bakterieë in die urienweg inbring, aangesien die uretra by vroue baie nader aan die anus is as by mans, wat dit makliker maak vir bakterieë om in die blaas te beland."
By mans kan prostaatprobleme hul risiko vir UWI's verhoog.
Van Zyl sê 'n geswelde prostaat kan verskillende dele van die urinêre stelsel aantas, wat dit moeiliker maak vir urine om deur die nou buis te vloei. Dit kan ontsteking veroorsaak, wat die risiko van bakteriële infeksie verhoog en kan tot sistitis en of prostatitis in mans lei.
Sy sê hoewel die beste behandeling vir 'n UWI antibiotika is, is die voorkoming van urienweginfeksies deurslaggewend in die stryd teen antibiotikaweerstandigheid en om te verseker dat hierdie medikasie doeltreffend bly vir die behandeling van bakteriële infeksies.
Voorkom infeksie met dié agt wenke
1. Bly gehidreer: Om baie water te drink, help om bakterieë uit die urienweg te spoel, wat die risiko van infeksie verminder. Mik vir ongeveer ses tot agt glase water per dag.
2. Handhaaf goeie higiëne: Vroue moet van voor na agter afvee nadat hulle die badkamer gebruik het om die verspreiding van bakterieë vanaf die anus na die uretra te voorkom.
3. Urineer wanneer nodig: Moenie urine vir lang periodes inhou nie, aangesien dit bakterieë in die urienweg kan laat vermeerder. Maak jou blaas gereeld leeg, veral ná seksuele omgang.
4. Beoefen veilige seks: Die gebruik van kondome tydens seksuele omgang kan help om die risiko te verminder om bakterieë in die urienweg in te voer.
5. Vermy irriterende produkte: Sekere vroulike produkte kan die uretra irriteer en die risiko van UWI's verhoog. Kies eerder sagte, ongegeurde produkte.
6. Dra klere wat "asemhaal": Styfpassende klere, soos van sintetiese materiale, kan 'n warm en klam omgewing skep wat bakteriese groei aanmoedig. Dra katoenonderklere om te help om die geslagsdele droog te hou.
7. Versterk jou immuunstelsel: 'n Gesonde immuunstelsel help om infeksies te bekamp. Handhaaf 'n gebalanseerde dieet, oefen gereeld en kry genoeg slaap.
8. Bestuur onderliggende toestande: Toestande soos diabetes kan die risiko van UWI's verhoog. Behoorlike bestuur van onderliggende gesondheidstoestande kan help om die risiko van infeksies te verlaag.





















