Welstand

Verlaag risiko deur gesonder leefstyl

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Wêreldkankerdag word jaarliks op 4 Februarie gevier.
Wêreldkankerdag word jaarliks op 4 Februarie gevier. (iStock)

Om slim te eet en drink, asook gereeld deel te neem aan fisiese aktiwiteite, is maar net sommige van die dinge wat jy kan doen om jou kankerrisiko te verlaag.

Vanjaar word individue vir Wêreldkankerdag, 'n internasionale bewusmakingsdag onder leiding van die Unie vir Internasionale Kankerbeheer (UICC), aangespoor om hul persoonlike kankerrisiko te verlaag deur gesonder te leef.

Wêreldkankerdag word sedert 2000 jaarliks op 4 Februarie gevier.

Lorraine Govender, Kanker Suid-Afrika (Kansa) se nasionale bestuurder vir gesondheidsbevordering, meen dat Suid-Afrikaners die mag het om hul eie welstand te beïnvloed.

"Die tema vanjaar gaan daaroor om ons stemme te verenig en aksie te neem. "Ongeag wie jy is, jy het die mag om die impak van kanker op jouself en die mense vir wie jy lief is, te verlaag.

"Die top drie bekende veranderbare risikofaktore vir kanker wêreldwyd is rook, alkoholgebruik en 'n hoë gewig (LMI van 30 en meer).

"Byna die helfte van kankerverwante sterftes wêreldwyd kan aan hierdie faktore toegeskryf word.

"Dit beteken dat individue 'n belangrike rol kan speel om hul kankerrisiko te verlaag deur hierdie stowwe te vermy, 'n gebalanseerde dieet te volg en gereeld aan fisiese aktiwiteite deel te neem."

Cary Adams, die uitvoerende hoof van die UICC, sê miljoene voorkombare kankersterftes word deur ongesonde produkte veroorsaak.

"Soos ons Wêreldkankerdag vier, staan die UICC gereed om regerings te ondersteun om mense se blootstelling aan tabak, alkohol en geprosesseerde kosprodukte te verminder."

Gaan vir siftingstoetse

Volgens Wêreldkankerdag het nagenoeg 10 miljoen mense in 2020 aan kanker gesterf. Meer as 40% van kankerverwante sterftes is voorkombaar aangesien dit gekoppel word aan veranderbare risikofaktore soos rook, alkoholgebruik, 'n swak dieet en fisiese onaktiwiteit.

Ten minste een derde van alle sterftes wat met kanker verband hou, kan ook voorkom word deur roetine-siftingstoetse, vroeë opsporing en behandeling.

Dr. Johann Riedemann, 'n kliniese en bestralingsonkoloog by Cancercare, sê omdat almal nie altyd toegang tot gesonder kosse het nie, is daar alternatiewe om jou kankerrisiko te verlaag.

"Kry jou oefening in, bly weg van koolhidrate, onversadigde vette en geprosesseerde kosse, en moenie wag as jy 'n knop voel nie. Gesels ook met jou dokter as jy bekommerd is as jou familie 'n geskiedenis met kanker het of gehad het. Mammogramme en prostaat- spesifieke antigeen-toetse (PSA) vir onderskeidelik bors- en prostaatkanker is ook 'n opsie," verduidelik Riedemann.

Hy voeg by dit is veral belangrik dat mense op Wêreldkankerdag daarvan bewus gemaak word om 'n gesonder leefstyl te handhaaf en ook dat 'n vroeë diagnose beteken dokters kan die kanker vroeër begin behandel.

"Kankerbehandeling raak duurder en minder effektief hoe later die diagnose gemaak word. In my spesialiteit van kinder-, tiener- en jongmens-kankers wys statistieke dat in 'n hoë middelinkomste land soos Suid-Afrika, 30-40% van hierdie groep pasiënte sterf voor 'n diagnose gemaak kan word.

"Dus is dit belangrik dat bewustheid gekweek word en families met 'n geskiedenis van kanker reeds vroeg begin gaan vir siftingstoetse."

Wat kan jy doen om jou kankerrisiko te verlaag?

  • Kies gesonde kosse.
  • Wees aktief.
  • Hou op rook en staak die gebruik van e-sigarette.
  • Sny jou alkoholinname.
  • Vermy sonbeddens en wees son-slim.
  • Vermy besoedelstowwe en chemikalieë.
  • Wees bedag op kankertekens en -simptome.
  • Ent jou in teen menslike papilloomvirus (HPV).
  • Gaan vir gereelde mediese ondersoeke

Kanker in syfers

Kanker is 'n komplekse, lewensgevaarlike siekte wat miljoene Suid-Afrikaners tref. Daar word voorspel dat die voor­koms van kanker in Suid-Afrika in die komende dekades sal toeneem.

Volgens die studie Cancer on the Global Stage: Incidence and Cancer-Related Mortality in South Africa, wat in September 2021 in die joernaal The Asco Post gepubliseer is, sal nuwe kankergevalle na verwagting in 2030 en 2040 onderskeidelik tot 138000 en 175000 styg. Verder word voorspel dat kankerverwante sterftes in dieselfde tydvakke tot 73000 en 94000 sal styg.

Die navorsers het bevind dat borskanker, prostaatkanker, servikale kanker, longkanker en kolorektale kanker die vyf mees algemene kankers in Suid-Afrika is. Van dié kankers is longkanker egter die hoofoorsaak van kankerverwante sterftes.

Alhoewel borskanker ten minste 'n 25% hoër voorkoms het, is servikale karsinoom die hoofoorsaak van sterftes onder vroue.

Volgens die Globocan 2020-verslag van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se internasionale agentskap vir kankernavorsing (IACR) is altesaam 108 168 nuwe kankergevalle in 2020 in Suid-Afrika aangemeld.

Kanker is by 51 059 mans en meer as 57 000 vroue gediagnoseer, lui die verslag. Prostaatkanker, longkanker, kolorektale kanker, kaposi-sarkoom en nie-Hodgkin-limfoom is die topvyf kankers onder mans, terwyl bors-, servikale, kolorektale, long- en baarmoederkanker mees algemeen onder vroue voorkom.

Die verslag sê verder dat meer as 56 000 mense in 2020 weens kanker gesterf het, met longkanker wat die meeste lewens geëis het, gevolg deur servikale kanker en borskanker.

GEBORG

Vacuhealth

Prostaat- en testikulêre kanker is albei verwant aan die maklike voorplantingsorgaan en kan ongelukkig tot erektiele disfunksie lei. Die beteken egter nie die einde van jou manwees nie. Vacuhealth se Vaurect is die ideale oplossing vir ereksieprobleme. Die vakuum-ereksieapparaar werk deurdat 'n vakuum in 'n silinder geskep word wat bloed na die are in die penis trek en sodoende 'n ereksie skep. Vacurect is 'n trots Suid-Afrikaanse produk, probeer dit gerus!

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM