Voedsame kos is belangrik vir alle ouderdomsgroepe, maar soveel te meer vir bejaardes. In elke lewensiklus verander jou leefstyl en belangriker, jou voedingsbehoeftes.
Bejaardes se voedingsbehoeftes raak meer intens weens 'n afname in die vermoë om voedingstowwe te absorbeer en hulle het dus hulp en ondersteuning nodig om seker te maak hul basiese voedingsbehoeftes word bereik.
Wees oplettend
Volgens Ide-Marie Venter, 'n geregistreerde dieetkundige by GERATEC, is dit veral belangrik dat diegene wat na hulle omsien oplettend is oor hul voedselinname.
"Daar moet gekyk word na wat 'n ouer persoon eet en of dit gebalanseerd en genoeg is. Dit is belangrik om fisieke veranderinge dop te hou, byvoorbeeld gewigsverlies, gastro-intestinale probleme soos hardlywigheid of diarree, asook moeilike kou, sluk en hantering van eetgerei. Maatreëls moet sou gou as moontlik in plek gestel word."
"Optimale voeding is belangrik om te verseker dat bejaardes goed voel, maar ook om enige kroniese toestande wat hulle moontlik ontwikkel het te beheer en menige ander mediese toestande te voorkom," sê sy.
Venter sê dat die bejaardes se kinders hul dieet en eetgewoontes 'n gesprekspunt maak om te verseker hulle is nie ondervoed nie.
"So is jy verseker dat hulle die korrekte inligting en kennis het, die finansiële vermoë het om dit te kan bekostig, sowel as die fisieke vermoë om dit te kan bekom en voorberei.
"Gelukkig is daar baie aanlyn opsies waar etes of kruideniersware afgelewer kan word, menige alternatiewe vir kos wat gereed om te eet is, en ander opsies."
Charlotté Jansen van Vuren, 'n geregistreerde dieetkundige in Hermanus, meen daar is talle faktore wat 'n invloed kan hê op 'n bejaarde se dieet en eetgewoontes.
"Gesondheidskwessies kan dit moeiliker maak om te kook en selfs onafhanklik te eet. Sekere medikasie kan weer veranderinge in smaak veroorsaak, die mond droog laat voel of selfs die aptyt wegvat.
"Die vermoë om te ruik en proe verswak soos ons ouer word. Dit lei tot 'n afname in voedselinname, omdat die kos nie meer smaaklik is nie.
"Afgesien van smaakveranderinge, verswak bejaardes se aptyt, dus sal hulle al hoe minder eet. Daarom is dit belangrik dat bejaardes se voedselinname gemonitor word," voeg sy by.
Ouderdom speel groot rol in dieet
Jansen van Vuren sê die verouderingsproses speel ook 'n groot rol in bejaardes se voedingsbehoeftes.
"Die hoeveelheid energie wat 'n bejaarde nodig het hang af van verskeie faktore soos ouderdom, gewig en so meer en sal van persoon tot persoon verskil. Hierdie groep is geneig om spiermassa te verloor omdat hulle minder eet en minder aktief is.
"Die verandering in metabolisme wat deur die jare plaasvind, beteken nie dat die persoon minder voedingstowwe nodig het nie. Inteendeel, die behoefte vir voedingstowwe sal min of meer dieselfde bly.
"Jou kalsiumbehoeftes vir sterk bene en tande verhoog. Ekstra porsies melk, jogurt en kaas is dus baie belangrik om in hul dieet in te sluit.
"Indien die bejaarde verswakte tande het en dit moeilik vind om volgraanprodukte, harde vrugte en groente en neute te eet, bied eerder saggekookte pap soos Maltabella, gestoofde of geblikte vrugte, eiers en sagte vis aan."
Venter beaam dit en sê dit verg goeie beplanning om met die ietwat minder kos wat benodig word steeds al die mikronutriënte in te neem, aangesien die behoefte hieraan nie afneem nie.
Jansen van Vuren sê daar is verskeie dinge wat kinders en versorgers kan doen om seker te maak dat bejaardes genoegsame voedingstowwe inkry:
- Probeer speel met verskillende kleure en teksture om die maaltyd interessanter te maak.
- Gebruik eetgerei van hout of plastiek as die kos metaalagtig of bitter smaak.
- Sluit peuselhappies tussen etes in of bedien eerder ses klein etes deur die dag in plaas van drie groot etes.
- Vloeistowwe is makliker om in te neem wanneer bejaardes se aptyt laag is, daarom is soppe en skommeldrankies goeie, voedsame alternatiewe.
- Stel doelwitte op waarop jy en die bejaardes in jou lewe ooreengekom het, byvoorbeeld om ses glase water per dag te drink of om twee vrugte per dag te eet. Help bejaardes om 'n wekker op hul selfoon te stel wat hulle sal herinner om water te drink of iets te eet.
- Skep 'n positiewe omgewing om in te eet. Gooi 'n mooi tafeldoek oor die tafel en sit blomme of kerse op die tafel.
- Maak seker dat daar geen afleiding in etenstyd is nie. Skakel die televisie af gedurende etes en fokus meer op kwaliteittyd saam.
Venter sê bejaardes moet die volgende in hul dieet insluit:
- Volkoring en hoëveselprodukte - Dit bevorder normale stoelgang en speel 'n groot rol in algemene gesondheid en welstand.
- Suiwelprodukte - Dit is die beste bronne van kalsium en ander minerale wat noodsaaklik is vir beengesondheid en word weinig genoegsaam ingeneem.
- Proteïene - Daar is dikwels verlaagde inname as gevolg van koste. Dis ook moeilik om te kou en gaar te maak as hulle alleen woon. Vis wat ryk is aan omega-3 soos sardientjies is 'n goeie opsie en speel ook 'n rol in kognitiewe welstand.
- Mikrovoedingstowwe - Vitamien B12 en vitamien D is geneig om laer as die noodsaaklike vlakke te wees omdat die inname daarvan dikwels minder en absorbering laer is.
- Water - Ouer persone ervaar dikwels 'n laer dorssensasie en verswakte persone drink dikwels voorkomend minder vloeistof om oormatige gebruik van die toilet te vermy. Dehidrasie is die algemeenste oorsaak van 'n water- en elektrolietwanbalans en kan veroorsaak dat 'n persoon verward en gedisoriënteerd voorkom.
GEBORG
Lelani Louw Oudiologie

Kommunikasie staan sentraal in ons as mens en gehoor vorm 'n onlosmaaklike deel daarvan. Daarom besef oudioloog Lelani Louw van Lelani Louw Audiology dat elke persoon wat by haar deur instap eiesoortig is - hul persoonlikheid, hul gehoor- en kommunikasiestruikelblokke, hul familiestruktuur en hul gereedheid vir verandering. Lees ook meer oor die verband tussen onbehandelde gehoorverlies en demensie op Lelani se webtuiste. Eerlikheid, vriendelikheid en integriteit is ook op haar prioriteitslys en die geluk van haar pasiënte is van groot belang! Indien kliënte nie gelukkig is met haar diens nie, verwag sy dat hulle dit aan haar noem, want saam kan hulle aan 'n oplossing werk. Vir meer inligting skakel 021 595 1141 of stuur 'n e-pos na lelanilouw@happyhearing.co.za of klik hier vir die webtuiste.
Dr. Johann Lochner

Jy is nooit te oud vir 'n mooi glimlag of om lekker te kan eet nie! Sukkel jy om te eet as gevolg van afwesige tande? Is jy versigtig om uitbundig te lag omdat jy bang is jou gebit gaan loskom? Dr. Johann Lochner, spesialis in mondgeneeskunde en periodonsie, en dr. Retief Wessels, periodontis, verskaf spesialisbehandeling in hul onderskeie velde. Mondhigiëniste, Stefanie Engelbrecht, Kylie Hendricks en Hester Botha is daar om onderhoudsbehandeling te verskaf om mondgesondheid te behou. Die hoogste kwaliteit, bewysgebaseerde behandeling in hul spesialisgebiede word gelewer. Hulle gebruik die nuutste toerusting en tegnieke om gesonde, mooi glimlagte te skep en te onderhou. Kontak hulle vir 'n konsultasie by hul moderne spesialispraktyk in Somerset-Wes. Daar sal jy in 'n kalm, ontspanne atmosfeer ontvang word deur ‘n vriendelike span.
















