Vir enigeen kan 'n kankerdiagnose soos 'n doring in die vlees voel, maar vir mans blyk dit moeiliker te wees om te verwerk omdat hulle byna altyd sal verkies om sterk te wees.
Linda Greeff, 'n onkologie- en palliatiewe maatskaplike werker in Welgemoed, in Kaapstad, sê die aanvaarding van 'n kankerdiagnose is vir almal baie traumaties en is 'n geweldige skok vir die hele gesin.
"Die ouderdom van die pasiënt sal ook 'n groot impak hê. Vir byvoorbeeld 'n pasiënt van 18 tot 40 jaar oud is die siekte baie traumaties en hulle behoort berading te ontvang aangesien hul hele lewe verander.
"Middeljariges en bejaardes se behoeftes is anders en enige terapeutiese insette sal moet ag slaan op die behoeftes van die pasiënt en sy gesin in die beplanning en die ondersteuningsaksies wat saam aangepak word."
Sy sê die volgende kan ook in ag geneem word:
• Die fase van die siekte sal die impak op die persoon bepaal. As die siekte vroeg gediagnoseer word, is kuratiewe behandeling verseker, maar as dit gevorderd is en al versprei het, is die behandelingsdoelwitte dikwels meer vaag en onseker. Dit kan geweldige onsekerheid en spanning veroorsaak. Behandeling is dan gerig op lewensverlenging en om lewensgehalte te verbeter.
• Testikel- of prostaatkanker, of selfs long- en kolonkanker is gewoonlik baie traumaties omdat dit 'n groot impak kan hê op die persoon se selfbeeld, seksualiteit en die rol as man en voorsiener van sy gesin.
• Die finansiële impak van die siekte kan dikwels 'n groot impak hê op die gesin en die pasiënt as sodanig. Wees bedag en beplan voorkomend as jy in 'n posisie is om dit te doen.
• Selfbemagtiging met kennis van die newe-effekte van behandeling kan help om die emosionele trauma te verminder.
• Kanker het steeds die stigma van 'n doodsvonnis en kan as sulks ook die pasiënt se benadering beïnvloed. Berading kan help met die oriëntering van die pasiënt tot hul siekte en kan help om ondersteuningsbronne te ontsluit wat hulle sal help tydens hulle reis met kanker.
Volgens dr. Vanessa Marais, 'n kliniese sielkundige wat spesialiseer in kanker depressie en angs in Durbanville en Stellenbosch, kan mans voel dat hulle onder meer finansieel nie meer 'n genoegsame bydrae tot hulle gesin kan lewer nie as gevolg van langdurige behandeling na 'n kankerdiagnose.
"Kanker en kankerbehandeling takel 'n persoon se liggaam af wat sy fisieke en psigiese vermoëns op vele vlakke beïnvloed en kan veroorsaak dat hy waardeloos en nutteloos voel as man, pa en broodwinner. Die diagnose van kanker veroorsaak emosies soos vrees, angs en onsekerheid. Party mans kan dit moeilik en vreemd vind om hul emosies te herken, te hanteer en te deel met ander. Mans voel dikwels dat hulle "sterk" en in beheer moet voorkom vir hul familie of gesin, asook kollegas en vriende."
Waarom raak mans depressief?
Dr. Marais sê die redes waarom mans depressief raak na 'n kankerdiagnose verskil effens van dié van vroue:
• Die diagnose en behandeling van kanker is 'n traumatiese ervaring. Op 'n fisiologiese vlak kan trauma simptome van depressie en angs veroorsaak en in sommige gevalle selfs post-traumatiese stresversteuring. Angs en depressie kan ontwikkel uit die skok van 'n kankerdiagnose en die feit dat kanker 'n potensieel lewensgevaarlike siekte is, maar kan ook 'n newe-effek van die behandeling van kanker wees, soos van chemoterapie en sekere medikasie. Die langdurigheid van die behandeling en die verskillende behandelingsmodaliteite, soos chemoterapie, bestraling en chirurgie kan gevoelens van angs en depressie veroorsaak. Onsekerheid en die onvoorspelbaarheid van die hele proses kan ook depressie en afwagtingsangs veroorsaak. Met hospitalisasie word 'n persoon uit sy huishouding gehaal wat ook tot ongemak en onsekerheid lei en gevoelens dat hy nie betrokke is by sy gesin nie.
• Omdat die wêreld van kanker (veral 'n eerste kankerdiagnose) so onbekend is met fisieke prosedures wat vreemd mag wees, is dit voordelig vir die pasiënt en ook vir sy gesin om met iemand te praat soos 'n kliniese sielkundige met onkologiese kennis om hierdie "reis" vir hom te vergemaklik. Die feit dat hy met iemand kan praat oor sy vrese sonder om skuldig te voel, maak 'n groot deel van 'n terapeutiese proses uit en keer dat hy nie onnodige energie gebruik om sy emosies self te probeer verstaan nie. Dit gee ook die gesin kans om hul emosies, vrae en vrese te deel en te verstaan. Psigoterapie (as deel van die kankerbehandeling) verduidelik ook die psigiese newe-effekte van al die behandelingsmodaliteite en gee die pasiënt die geleentheid om met inligting en kennis sy psigiese toestand te bestuur onder hierdie moeilike omstandighede.
Spreek hierdie mense
Greeff meen psigo-sosiale berading of terapie is 'n noodsaaklike deel van jou reis met kanker. "Praat met 'n onkologie- maatskaplike werker, sielkundige of pastorale terapeut, sien 'n dieetkundige en kry hulp met die regte oefening van 'n biokinetikus of fisioterapeut.
"Leer ook streshanteringsvaardighede aan (mindfulness), en hou aan oefen en pas jou dieet aan (dit is natuurlik na gelang van die siekte se graad van erns)."
Bly positief
Dr. Marais meen manspasiënte kan die volgende toepas:
• Jy kan positief bly ná jou kankerdiagnose as jy jou emosies soos angs, vrees en depressie kan erken en jouself toelaat om dit te hanteer en te deel met jou onkologiespan, waarvan 'n kliniese sielkundige deel is, of met jou familie. Jy moet onthou dat angs en vrees realistiese emosies is met 'n kankerdiagnose en tydens moeilike en langdurige behandeling. Die voortdurende wag vir toetse en uitslae behandelingsessies en newe-effekte kan ook lei tot angs en depressie wat nie tel as "negatiewe" emosies nie, maar eerder as realistiese verwagtings wat hanteer moet word deur 'n professionele persoon.
• Daar is heelwat internasionale statistieke wat dui op 'n sterk korrelasie tussen psigo-terapie en goeie lewensgehalte tydens en ná kankerbehandeling.
GEBORG
Vacuhealth

Prostaatkanker is die algemeenste soort kanker onder mans. 'nRadikale prostatektomie is gewoonlik die eerste behandelingsroete, maar kanskade aan die senuwees en verswakte bloedvloei na die penis veroorsaak. Die doel van penisrehabilitasie is om die skade wattydens 'n radikale prostatektomie en diabetes kan ontstaan, te verminder enpenisweefsel te behou deur voldoende bloedvloei na die orgaan te verbeter.
Die Vacurect word virpenisrehabilitasie aanbeveel, aangesien dit min newe-effekte het en dit diemins ingrypende behandeling beskikbaar is. Vacurect is 'n trots Suid-Afrikaanseproduk. Probeer dit gerus! Vir meer inligting, skakel 072 688 0795.
















