Borskanker teiken vroue sowel as mans, maar eersgenoemde is meer geneig om dit te kry. Ongeag wie met borskanker gediagnoseer word, is dit steeds nie maklik om te verwerk en aanvaar nie.
Dr. John Duminy, 'n onkoloog van Hermanus Onkologie, sê dit is noodsaaklik dat kanker deur middel van 'n weefselbiopsie bevestig word en dan behoort jy stadiëringstoetse te ondergaan om die stadium van die siekte te bepaal.
" 'n Multidissiplinêre span behoort dan die betrokke geval te bespreek en die nodige aanbeveling sal hierna gedoen word met betrekking tot die verdere hantering daarvan," verduidelik hy.
"Na gelang van die soort borskanker, die grootte van die letsel, die hormoonprofiel (is dit estrogeen- en/of progesteroon-gevoelig, HER(2)-positief of nie) sal daar op die volgende stap (byvoorbeeld om eers chemoterapie of eerder chirurgie aan te bied) besluit word."
Wie kan jy nader om jou te help om 'n borskankerdiagnose te verwerk?
Linda Greeff, 'n maatskaplike werker in Welgemoed wat spesialiseer in onkologie, sê dit is moeilik om 'n kankerdiagnose te aanvaar.
"Dit is 'n proses en pasiënte het hulp nodig daarmee. Min dokters besef die impak op jou en jou gesin, en fokus net op die fisiese siekte. Hulle verwys jou nie vir berading nie. In werklikheid is die trauma van die diagnose 'n groot skok en jy benodig professionele hulp. Kommer wat met kanker vereenselwig word, word gesien as die sesde lewensteken."
Volgens dr. Duminy het onkologiepraktyke gewoonlik 'n berader wat in die meeste gevalle 'n maatskaplike werker is.
"Hierdie beraders het 'n baie goeie basis van kennis en ervaring om jou deur hierdie aanvanklike mallemeulerit te neem. Sielkundiges het ook baie goeie kennis en ervaring om jou te help om die rouproses deur te werk. Hoewel hulle nie die diagnose kan verander nie, kan hulle help om die bril waardeur jy na jou siekte kyk, te verander.
"Die waarde van ondersteuningsgroepe moet nooit onderskat word nie en in 'n plek soos 'n chemoterapie-toedieningskamer word daar dikwels vriendskappe gesmee wat langdurig is. Pasiënte in sulke omstandighede ondersteun mekaar geweldig goed, aangesien almal in omstandighede is waarin hulle eerder nie sou wou wees nie."
Laastens, meen dr. Duminy, moet die naam van 'n hospies ook hier genoem word, aangesien hulle 'n rol vervul wat van onskatbare waarde is.
"Vroeg, sowel as later in die verloop van die siekte, is hulle deel van die ondersteuningsnetwerk."
Hoe bly jy positief na jou diagnose?
Linda sê kanker raak een uit agt vroue en een uit sewe mans in Suid-Afrika. "Dit is 'n baie behandelbare siekte, mits die diagnose vroeg gemaak word. Borskanker is veral baie behandelbaar, selfs al word dit laat gediagnoseer. Baie nuwe navorsing in die veld help om die oorlewingsyfer van borskanker te verhoog en nuwe behandelings wat die afgelope vyf jaar beskikbaar geraak het, is ongelooflik suksesvol.
"Selfs as die diagnose gevorderde siekte aantoon, is daar baie wat gedoen kan word om jou selfs in die palliatiewe fase van die siekte te help om werklik te leer leef tot jy sterf. Jy benodig fisieke en emosionele ondersteuning dwarsdeur die reis met kanker."
Kan mans en vroue 'n vol lewe lei met borskanker?
Die fase van die kanker, asook die soort behandeling, bepaal die newe-effekte en dít bepaal weer watter lewensgehalte ter sprake is, verduidelik dr. Duminy.
"Sommige behandelings het feitlik geen newe-effekte nie, terwyl ander jou wel olik kan laat voel. Ons het egter vele pasiënte wat met fase 4-borskanker stabiele siekte op behandeling het; hulle lei gewis vol lewens en op sigwaarde sal jy nooit sê dat hulle 'n ongeneeslike siekte het nie."
Linda meen wanneer jy as borskankerpasiënt sukkel, benodig jy die volgende:
- Inligting oor jou diagnose en behandeling, want kennis bemagtig jou en help om vrees te oorkom.
- Neem beheer terug deur kennis en word deel van jou behandelingspan.
- Vra vrae. Dit is jou liggaam.
- Kies 'n span wat jy vertrou en met wie jy kan praat.
- Kry 'n tweede mening, dit is jou reg!
- Berading is nodig vanaf diagnose tot afsterwe vir jou en jou gesin.
- Stel doelwitte vir elke deel van jou lewe (byvoorbeeld werk, verhoudings, eetgewoontes, oefening, beplan vir vreugde en pret, verminder stres, verhoudings, kreatiwiteit, geloof, kinders, studies, en dies meer).
- Fokus op die hier en nou.
- Beplan vir vreugde en leef jou drome.
- Verminder stres.
- Eet gesond.
- Hou aan beweeg (stap) solank as wat jy kan.
- Leer ontspanningstegnieke aan (aandagtigheid).
- Hanteer onverwerkte emosies uit jou verlede.
"Leef totdat jy sterf, en moenie sterf terwyl jy leef nie," is Linda se raad.
GEBORG
SCP Radiology

SCP Radiology beveel aan dat dat 'n mammogram een van die belangrikste afsprake van jou lewe kan wees.
Hulle streef daarna om toepaslike diagnostiese radiologiese prosedures van hoë gehalte aan verwysende dokters en pasiënte te lewer deur gebruik te maak van spesialis radioloë en radiografiste, die nuutste beskikbare tegnologie wat ondersteun word deur navorsing, korrekte prosedures en gehaltebeelding.
SCP glo ook dat jy altyd jouself moet kies. Gesels met jou dokter of skakel SCP by info@scp.co.za.
Creative Wellness

Creative Wellness maak dit hul prioriteit om ondersteuning en versorging aan borskankerpasiënte te bied. Hulle vorm 'n netwerk kundiges in die palliatiewe sorgspektrum en bied ook ondersteunende, sowel as versorgingsdienste aan pasiënte wat dit nodig het in enige fase van die siekte.Hulle bied ook proaktiewe sorgbestuur om spanning te verlig wanneer daar ander uitdagings is om aan aandag te gee.Stuur e-pos na info@creativewellness.co.za vir meer inligting.
















