Welstand

Weet jy wat ortoreksie is?

Ons almal ken anoreksie en bulimie omdat soveel al oor dié dieetsiektes geskryf is. Maar weet jy wat ortoreksie is? En ly jy nie dalk daaraan nie?

Ortoreksie is wanneer jy ’n obsessie daarmee het om net goed te eet wat jy glo gesond is. Jy vermy sekere soorte kos omdat jy glo dis skadelik.

Kos moet nie jou vyand wees nie, skryf Jessica Sepel, Australiese blogger, skrywer en voedingskundige in haar boek, Living the healthy life (Bluebird: Books for Life). Dit was ook haar boodskap toe sy dié boek onlangs in Suid-Afrika kom bekend stel het.

Sy sê in haar praktyk kom sy al hoe meer in aanraking met mense wat ortoreksiese neigings toon. Dis goed om gesondheidsbewus te wees, veral oor wat jy eet, maar ’n obsessie daarmee kan jou lewe oorneem, verduidelik sy.

Sy was self daar, erken sy. “Dis maklik om in die strik te trap om obsessief te wees oor kos, om oorversigtig te wees, letterlik te bang om ongesonde kos te eet. Ons moet aan kos dink as brandstof en voedingskrag – dis al.”

Makliker gesê as gedaan! In haar boek neem sy jou stap vir stap deur die verskillende verhoudings wat jy met kos kan hê, van ortoreksie, emosionele eet, bingeing en ander negatiewe gewoontes. In die daaropvolgende hoofstukke bespreek sy hoe jy jou verhouding met kos “gesond” kan maak. Sy verduidelik hoe jy stres moet benader, wat jy van jou skildklier, spysverteringstelsel, lewer en ander organe moet weet, en hoe dit jou dieet raak. Slaap kry ’n aparte hoofstuk, want selfs dit het ’n groot impak op jou gewig. As jy deur al hierdie toeganklike inligting gewerk het, gee sy jou ’n 8-week-plan waarmee jy jou ongesonde eetgewoontes kan omkeer. En om jou verder te help bestaan die laaste deel van die boek uit resepte vir gesonde geregte. Alles wat jy nodig het, is tussen die blaaie van hierdie boek. Jy moet dit net toepas.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM