Nuus

2 van NWU verongeluk op Lentedag

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Só is hulde gebring aan Ditebogo Nkosi. 
Só is hulde gebring aan Ditebogo Nkosi.  (Foto: Facebook/EFFYC NWU Mahikeng Campus)

’n Personeellid en studenteleier van die Noordwes-Universiteit (NWU) is op Lentedag in ’n motorongeluk dood.

Luidens ’n mediaverklaring wat die universiteit uitgereik het, het die ongeluk tussen Potchefstroom en Vanderbijlpark gebeur.

The Screenshot Association berig die voertuig waarin Frans Madike en Ditebogo Nkosi was, was die enigste wat in die ongeluk betrokke was.

Die ongeluk het in die vroeë oggendure in die Little Egypt-omgewing gebeur. Die bestuurder van die voertuig het blykbaar om ’n draai beheer verloor, waarna die voertuig ’n paal getref het. Sover bekend was daar nie ander mense in die voertuig nie.

Madike was ’n senior administrateur van studentelewe op die Mahikeng-kampus.

“Hy was bekend om sy verbintenis tot studente-ontwikkeling en sy warm, kollegiale persoonlikheid. Sy toewyding om studente te ondersteun en sy positiewe teenwoordigheid sal met respek onthou word,” lui die verklaring.

Nkosi het as gemeenskaps- en skakelbeampte in die kampusstudenteraad in Mahikeng gedien. Sy word beskryf as ’n energieke studenteleier wat daartoe verbind was om die gemeenskap op te hef en met oorgawe as studente-aktivis betrokke was.

“Haar leierskap, energie en omgee het baie lewens op kampus en die groter omgewing geraak.”

Die NWU het beradingsdienste beskikbaar gestel vir diegene wat daarvan gebruik wil maak.

Dis nog nie bekend wanneer Madike en Nkosi ter ruste gelê word nie.

– susan.cilliers@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM