Die departement van vervoer het bevestig dat 49 "Afrikaner-vlugtelinge" Sondagaand op 'n huurvlug vanaf die O.R. Tambo-lughawe in Johannesburg na Amerika sou vertrek.
Dit is die eerste groep Suid-Afrikaners wat deur die Trump-administrasie gekies is vir hervestiging in Amerika.
"Die aansoek vir die permit lui dit is Afrikaners wat as vlugtelinge in Amerika hervestig gaan word," sê Collen Msibi, woordvoerder van die departement van vervoer.
Die vlug was op pad na Washington se Dulles-lughawe en dan na Texas, sê hy.
Volgens Msibi het die departement geen ander aansoeke vir verdere vlugte vir hervestiging ontvang nie.
Pres. Donald Trump het in Maart gesê dat enige Suid-Afrikaanse boer wat wil "vlug" 'n "vinnige pad" na Amerikaanse burgerskap sou hê, ondanks die feit dat hy alle ander vlugteling-aankomste na Amerika onmiddellik ná sy ampsaanvaarding in Januarie stopgesit het.
Suid-Afrika se departement van buitelandse sake het Vrydag gesê die hervestiging van Afrikaners "onder die dekmantel van ‘vlugtelingskap' is polities gemotiveerd en ontwerp om Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie in twyfel te trek".
Die departement sou egter "nie burgers wat die land wil verlaat, verhinder om dit te doen nie". - AFP





















