Mense wat by munisipaliteite krag kry, gaan voortaan baie meer daarvoor betaal omdat die huidige tariewe nie die werklike koste daarvan weerspieël nie.
As die 178 munisipale kragverspreiders 'n behoorlike kostestudie doen, sal tot 70% van hulle agterkom hul tariewe is heeltemal te laag, sê Hendrik Barnard, wat in kostestudie en die berekening van kragtariewe namens munisipaliteite spesialiseer.
Van die sowat 66 wat dit reeds gedoen het, het in hul jongste tariefaansoeke by die energiereguleerder (Nersa) aangedui skerp verhogings is nodig, maar hulle besef verbruikers sal dit nie kan bekostig nie. Nersa het meestal verhogings van sowat 12% toegestaan, wat môre in werking tree.
Die reguleerder het die betrokke munisipaliteite opdrag gegee om 'n plan op te stel om die verhoging waarop die kostestudie dui, in te stel.
Dit kan behels dat dit oor 'n paar jaar ingefaseer word.

Om die koste te weerspieël sou die tarief van die Ba-Phalaborwa-munisipaliteit in Limpopo met 61% moes styg, dié van Mbombela in Mpumalanga met 31%, Kouga s'n in die Oos-Kaap met 30% en dié van Mosselbaai en Matzikama in die Wes-Kaap met onderskeidelik 19% en 18%.
Die Tshwane-metroraad se huidige tariewe is nader aan die kol en sou 'n verhoging van 12,7% verg, maar die munisipaliteit het by 12% volstaan nadat hy erken het te veel van sy elektrisiteit gaan verlore weens tegniese verliese en diefstal.
In Johannesburg gebruik die nutsmaatskappy City Power sy kostestudie om die nuwe vaste heffing van R200 vir huishoudings met voorafbetaalde krag te regverdig. Dit beteken iemand wat aan die begin van die maand R500 se krag koop, sal net vir R300 eenhede kry.
City Power probeer al jare lank om dié heffing, wat vir die gebruik van die netwerk betaal, in werking gestel te kry om die voorafbetaalde tariewe op dieselfde vlak te kry as dié van verbruikers wat op rekening koop. Nersa het dit egter tot nou toe telkens afgekeur.
In 2022 is die wyse waarop Nersa kragtariewe vasgestel het, in 'n hofuitspraak onwettig verklaar. Die hof het Nersa 'n jaar gegee om stelsels in werking te stel om tariewe, soos die wet voorskryf, te grond op die ware koste van dienslewering plus 'n redelike marge.
Nersa en die meeste munisipaliteite het nog gesloer en is weer voor die hof gedaag omdat hulle nie aan die aanvanklike hofbevel gehoor gegee het nie (sien kassie). Daar sal dus vorentoe geen verdere uitkomkans wees nie.
Sonder studie g'n verhoging
Die hooggeregshof in Pretoria het Vrydagmiddag beveel Nersa mag van môre af net tariefverhogings vir munisipaliteite goedkeur wat op kostestudies gegrond is.
Munisipaliteite wie se aansoeke nie op so 'n studie gegrond is nie, het 60 dae om dit in te dien en dan het Nersa 30 dae om dit te oorweeg. Dit beteken waarskynlik meer as 100 munisipaliteite mag hul tariewe nie môre verhoog nie. Dié wat kostestudies nie betyds kan laat doen nie, sal hul kragtariewe waarskynlik nie vanjaar kan verhoog nie.
Morné Mostert van AfriForum, wat die hofaansoek teen Nersa ingedien het, sê daar lê nou harde werk voor vir belangegroepe om die kostestudies wat munisipaliteite wel doen, na te gaan en te verseker dat hulle niemand 'n rat voor die oë draai nie.




















