Sedert hy aan die bewind gekom het, het pres. Jacob Zuma Suid-Afrika se demokratiese en grondwetlike erflating enorme skade berokken. Dit is in die donker skadu van hierdie vyf kenmerke van die Zumakrasie dat die ANC se nasionale konferensie volgende naweek begin, skryf Willem Jordaan.

1. Toesigfunksie van die parlement ondermyn
Net ná die Polokwane-konferensie in 2007 het die parlement 'n paar maande ietwat van 'n "Praagse Lente" beleef wat betref die bereidwilligheid van die ANC-koukus om nie net as skoothondjies op te tree nie, maar as waghonde wat die regerende gesag tot verantwoording roep.
Die Zumaïete het dit indertyd toegeskryf aan sulke mooi dinge soos die suurdeegeffek van Zuma, toe die nuutverkose ANC-leier, se diepe verbintenis tot die grondwetlike demokrasie. Dis toegeskryf aan sy geloof dat die regering in die eerste plek daar is om die land en sy mense te dien.
Watter twak was dit nie. Die enigste rede waarom die ANC-koukus strenger begin optree het teen die regering, was omdat oudpres. Thabo Mbeki ná die Polokwane-konferensie vir alle praktiese doeleindes 'n flou makou was, en dieselfde het sy kabinet gegeld.
Die ANC-koukus en die parlement is allermins beskou as werktuie van demokrasie, maar wel as handige politieke wapens teen Mbeki en sy kabinet.
Die "Praagse Lente" was dus maar 'n neweproduk van siniese magspolitiek en daarom van baie korte duur.
Toe Zuma eers die presidentstoel in 2009 in die Uniegebou inneem, het die skoothond-rol van die ANC-koukus vinnig nuwe vlakke van gedienstigheid bereik, wat later verpersoonlik is in die rol van die erg gekompromitteerde speaker en ANC-voorsitter, Baleka Mbete.
Sy was feitlik deurentyd bereid om haar rokspante so wyd as moontlik te span sodat Nommer Een telkens daaragter kon skuil.
Dít is vroeër vanjaar nogmaals by implikasie bevestig deur die uitspraak van die konstitusionele hof waarluidens Mbete gedwaal het in haar standpunt dat 'n geheime stemming nie toelaatbaar is nie in 'n mosie van wantroue in die president.
Dit sou die derde keer in sowat twee jaar wees dat Mbete se begrip van en verbintenis tot die Grondwet ná hofbevindings onder verdenking gekom het.
In Mei 2015 het die hooggeregshof in Kaapstad ook bevind dat die "withemde" nie weer die parlement mag inkom om LP's te keer om hul vryheid van spraak uit te oefen nie.
Al word dit nie pertinent so gestel nie, moet die uitspraak Mbete se oordeel en onafhanklikheid in die weegskaal plaas. Dit is immers sý wat die gewapende uitsmyters (wat sy "veiligheidsmagte" genoem het) op lede van die opposisie losgelaat het. Op daardie oomblik het Mbete - wat ook een van die ANC se hoogste ampsdraers is - haar rol as speaker en talle grondwetlike beginsels vertrap om die sogenaamde "waardigheid" van háár giggelende politieke hoof te beskerm.
En in die verwoestende uitspraak van die konstitusionele hof oor die hantering van die openbare beskermer se Nkandla-verslag, het Mbete ook kwaai pak gekry. Die hof het op 31 Maart verlede jaar bevind die Nasionale Vergadering, onder voorsitterskap van Mbete, het nie sy grondwetlike plig uitgevoer om Zuma verantwoordbaar te hou vir Nkandla nie.
Suid-Afrika verdien 'n parlement wat landsbelang dien en 'n speaker wat op neutrale wyse optree en bo politieke en morele verdenking is - nie 'n skoothondjie aan die leiband van 'n apparatsjik nie.
2. Die tirannie van die meerderheid
In die logika van die Zumakrasie kan die president maak en breek soos hy wil, bloot omdat die meerderheid kiesers in die land vir die ANC gestem het. 'n Tirannie van die meerderheid, dus.
Die probleem is dat Zuma en van sy kollegas hul eie, pasgemaakte begrip van 'n regstaat en die skeiding van magte het. In dié erg verwaterde vorm van demokrasie is die howe en regters byvoorbeeld bloot lastige lawaaimakers omdat hulle aangestel word - en nie deur die meerderheid van die mense in die land verkies is nie. Hierteenoor is die ANC-regering wel deur die meerderheid verkies.
Vir Nommer Een bly die belange van Nommer Een altyd nommer een.
Hoe kan 'n onverkose regter dan aan Zuma en sy regering voorskryf?
Maar uiteraard het die demokratiese ideaal nie net te make met die vraag wie moet regeer nie, maar ook hóé geregeer word. Onder watter wigte en teenwigte moet geregeer word? Hoe word die burgery teen arbitrêre magsuitoefening beskerm? Hoe voorkom jy 'n tirannie van die meerderheid? Sulke komplekse vrae, waaroor die Grondwet rigting gee en wat ten diepste met die gehalte van die demokrasie te make het, is vir Zuma en sy binnekring van min belang.
Die ironie is dat selfs nie eens die belange van die ANC-meerderheid vir Zuma tel in sy besluitneming nie. Vir Nommer Een bly die belange van Nommer Een altyd nommer een.
3. Koop 'n minister en kry een gratis
Die uitruilbaarheid van konsepte soos staat en party in die bewussyn van die ANC, het 'n vrugbare teelaarde geskep waarin die Zumakrasie 'n nuwe soort uitruilbaarheid (of dalk eerder ruilhandel?) kon vestig.
Die uitruilbaarheid van die staat se bates met dié van die ANC en Zuma het die weg gebaan vir volskaalse staatskaping. Want omdat Zuma die staat se bates as sy eie beskou het, kon hy daarmee handel om sy eie belange en dié van mense soos die Guptas te dien.
Dat dit sou gebeur, was seker voorspelbaar, want dit was immers Zuma wat ons nasionale bates op die ANC se eie Gumtree geadverteer het met aanloklike verkoopsklingels soos dat "sakelui wat geld aan die ANC gee die vrugte van hul beleggings sal pluk".
Die uitruilbaarheid van die staat se bates met dié van die ANC en Zuma het die weg gebaan vir volskaalse staatskaping.
En onthou nou, die verkoopsman hier aan die woord het talle aanklagte van korrupsie teen hom gehad wat later onder bedenklike omstandighede laat vaar is. Dis 'n man oor wie 'n ouditverslag gelui het dat hy by tye skuld aangegaan het wat hy, op grond van sy terugbetalingsgeskiedenis, nie kon betaal met die middele tot sy beskikking nie.
Die uiteinde is 'n patroon van optrede waarmee Nommer Een gewys het hoe volledig bereid hy is om die toekoms van sy party en dié van die land op die altaar van eiebelang te offer.
Met die afdanking van Pravin Gordhan ten gunste van Malusi Gigaba as minister van finansies, en verskeie ander onbesonne skuiwe in die kabinet, het Nommer Een, byna met die ywer van 'n gebruiktemotor-verkoopsman, Suid-Afrika aan die Guptas verkwansel.
Net soos met 9/12 - daardie rampspoedige dag in 2015 toe Zuma die finansminister, Nhlanhla Nene, met Des van Rooyen vervang het - is die Suid-Afrikaanse ekonomie oor en oor in puin gelê.
Laat daar geen twyfel wees nie: Of dit 'n militêre lugmagbasis soos Waterkloof of die tesourie is, die Guptas en ander soos hulle kan maak en breek soos hulle wil met ons regering en ons staatsbates. En terwyl daar aanvanklik kommer in en buite die ANC was dat die demokrasie in 'n Zumakrasie omskep gaan word, neig sake al hoe meer in die rigting van 'n Guptakrasie.
4. Geen sin van verantwoordbaarheid
In die laat 1940's en vroeë 1950's het 'n insiggewende bordjie op Harry Truman se lessenaar in die Withuis gestaan met die teks: "The buck stops here." Hy het daarmee erken hy is soos die kaptein van 'n skip - alles wat op die skip verkeerd loop, is sý verantwoordelikheid, al is hy nie regstreeks verantwoordelik vir wat skeefgeloop het nie.

Níks van dié soort verantwoordelikheidsbesef (en gepaardgaande verantwoordbaarheid) is in die Zumakrasie te bespeur nie. Daar is die hoofdoelwit eerder die verplasing van blaam - iets wat teen dié tyd ook al tot 'n fyn kuns vervolmaak is.
Dit kon vroeër vanjaar gesien word toe 'n gewone amptenaar oor beweerde Gupta-ongerymdhede die trekpas gekry het. Die kop van Kim Davids, persoonlike assistent van Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, het weens die sogenaamde #GuptaLeaks-e-posse gerol.
Natuurlik moet haar kop rol as sy by ongerymdhede betrokke was, maar waarom sit verskeie ministers en ander hoë amptenare wat van die Gupta-familie se gunste en gawes gebruik gemaak het steeds knus in hul poste?
Ook met die landing van die Guptas se gaste op die Waterkloof-lugmagbasis is gekoöpteerde napraters ingespan om Zuma se spore dood te vee en moes amptenare laer af in die voedselketting die skuld kry. Zuma-hulle wou hê Suid-Afrikaners moet glo dat hy niks van die landing van sy gunstelingfamilie geweet het nie.
Net soos hy ook verwag Suid-Afrika moet glo dat hy niks geweet het van miljoene rande wat onder sy neus - ja, by sy persoonlike woning - op Nkandla vermors is nie. Ook dit was alles laer amptenare se skuld, want hoe kan daar tog van die president verwag word om te vra waar die paleisagtige woning wat in sy agterplaas verrys vandaan kom en wie nou eintlik daarvoor betaal.
Hieroor was die bevindings van adv. Thuli Madonsela, indertyd die openbare beskermer, deeglik en deurdag; haar aanbevelings in 'n verslag van meer as 400 bladsye helder.
Maar toe begin die Zuma-kliek se jakkalsdraaie en die doen van allerhande parallelle ondersoeke en verslae. Die polities gedienstige spesiale ondersoekeenheid, 'n parlementêre komitee gelaai met apparatsjiks en selfs 'n verslag gelewer deur 'n swetende kameraad op die maat van "O Sole Mio" is nader gehark om verantwoordbaarheid te ontduik.
5. Staatsinstellings gerysmier
Zuma se bereidwilligheid om staatsinstellings te misbruik as die slagvelde waarop hy sy interne magspeletjies probeer besleg, loop telkens daarop uit dat die krag van dié instellings van binne gerysmier word.
Daar is talle gevalle, maar wat tans gebeur by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) is 'n handboekvoorbeeld.
Die SAID was een van postapartheid-Suid-Afrika se grootste suksesverhale. Veral in die dekade van 1999 tot 2009 toe Gordhan hoof van die inkomstediens was, is die SAID uitgebou tot 'n hoogs doeltreffende organisasie. Uiters vaardige werknemers is in kernposte aangestel en die land se belastingbasis is beduidend uitgebrei.

Een van die belangrikste redes waarom die SAID 'n wêreldklas-inkomstediens geword het, was juis die niepolitieke wyse waarop hy sy mandaat uitgevoer het. Die onafhanklikheid waarmee die Wet op die Suid-Afrikaanse Inkomstediens die SAID beklee, is verder aangevul deur Gordhan se leierskap en bestuurstyl. Hy was nie lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee nie en het nie ingesuig geraak in die toenemende faksievorming in die regerende party nie. As uitstekende tegnokraat het hy eerder sy aandag daarop bepaal om 'n puik diens te lewer.
Sedert Zuma vir Tom Moyane aangestel het as die nuwe SAID-kommissaris, is die SAID die volgende slagoffer van die ANC se interne magstryd. Senior amptenare wat puik werk onder Gordhan gedoen het, word geteiken in wat lyk na 'n grootskaalse suiwering.
In die proses sal die vertroue wat die SAID oor jare onder Suid-Afrikaners opgebou het, bitter vinnig in die hek duik.
Maar nog belangriker: As jy in ag neem watter skade op soortgelyke wyse aangerig is by die polisie en die nasionale vervolgingsgesag, dreig daar 'n ramp by die SAID. Die soort kundigheid waaroor die SAID beskik, is moeilik om te werf, en niks skrik ware kundigheid af soos 'n politieke faksieoorlog nie. As die SAID só verswak word in dié knellende ekonomie, gaan mense op grondvlak nog swaarder kry namate sy vermoë om belastinggeld in te samel, ondergrawe word.
Nog 'n voorbeeld: Gestroop van alle geloofwaardigheid het adv. Shaun Abrahams, nasionale direkteur van openbare vervolging, aan die voorpunt gestaan van die politieke heksejag op Gordhan. Hy het politieke kant gekies en is die subjektiewe werktuig van die Zuma-kamp, waar sy ywer om Gordhan te vervolg slegs oortref is deur sy traagheid om Zuma te vervolg.
Suid-Afrika kort 'n dringende herstel van die integriteit van sy openbare instellings.
En wat sê dit alles?
Hierdie kenmerke verteenwoordig iets veel groter as net Nommer Een se omvangryke persoonlike tekortkominge wat telkens nasionale verleenthede word. Ter sprake is iets meer as die verleentheid wat byvoorbeeld die Nkandla-skandaal die land besorg het. Dié kenmerke van die Zumakrasie wat hier bo genoem is, het een ding gemeen - dit is almal reeds ingeënt op ons politieke bestel en verteenwoordig 'n fundamentele afwatering van ons demokrasie. Talle elemente kom neer op die vertrapping van die einste Grondwet waarvoor die ANC geveg het en lewens voor opgeoffer is.
Hoe lank sien julle nog hiervoor kans? Hoe lank kan julle nog sê dié man is die beste wat julle het?
In die aanloop tot die ANC-konferensie kristalliseer 'n belangrike vraag: Hoe lank sien julle nog hiervoor kans? Hoe lank kan julle nog sê dié man is die beste wat julle het?
Daarom gaan 'n beweging uit die ANC-konferensie moet kom om seker te maak hierdie vurk in die pad is die begin van die einde van 'n era, eerder as die voortsetting daarvan. Dat die beëindiging van Zuma se tweede termyn spoedig sal volg, eerder as die voortsetting daarvan tot 2019.
Waarna die lang pad na herstel hopelik kan begin.














