Anc Kongres

Gronddebat ‘vurig en rumoerig’

'n Vurige en rumoerige debat oor die onteiening van grond sonder vergoeding het byna die ANC se konferensie Woensdagaand op die nippertjie laat ontspoor.

Enoch Godongwana, uittredende voorsitter van die ANC se ekonomiese beleidskommissie, het laat op die vyfde en laaste dag van die konferensie gesê die vuiste het egter nie geklap nie. Dit was ook nie vir Gwede Mantashe, die ANC se nuwe voorsitter, nodig om veiligheidswagte in te roep nie.

Enoch Godongwana.
Enoch Godongwana.

Die kwessie van grondhervorming en die nasionalisering van die Reserwebank was die belangrikste besprekingspunte.

Godongwana het ontken dat die Reserwebank genasionaliseer gaan word, omdat die regering nie geld het om dit te koop nie.

"Die bank se mandaat is in 2011 reeds verbreed en daar gaan nie nou aan sy grondwet getorring word nie."

Godongwana het gesê 'n voorstel is gedoen om die Grondwet te verander sodat onteiening van grond sonder vergoeding moontlik kan wees. Dit sal in Januarie op die regering se lekgotla bespreek word.

"Onteiening sonder vergoeding moet lewensvatbaar wees voordat dit toegepas word. Dit mag nie 'n impak op voedselsekerheid en ander sektore in die ekonomie hê nie."

Godongwana het veral verwys na die finansiële sektor.

Daar sal wel gekyk word na die geskiedenis van hoe grond in die hande gekry is. "Daar is 'n groot woede onder mense oor die gebrek aan grondhervorming."

Onteiening sal grond in landelike, stedelike en dorpsgebiede raak.

"Daar is mense in townships wat kla dat hulle nie eens grond het om hul dooies te begrawe nie."

Daar is mense in townships wat kla dat hulle nie eens grond het om hul dooies te begrawe nie.

—  Enoch Godongwana

Grond wat aan die staat en munisipaliteite behoort, sal ook onder die loep geneem word, het Godongwana gesê. Miljoene hektaar grond is in staatsbesit.

Die beskikbaarheid van grond behoort nie ‘n probleem te wees nie.

Hy het dit duidelik gemaak dat geen onwettige grondbesettings geduld sal word nie. Godongwana het gewaarsku mense sal in hegtenis geneem word as hulle grond onregmatig beset.

Hy het gesê geen afsnydatum vir grondeise en -onteiening is bepaal nie. Vroeër was 1913 die afsnypunt omdat dit die jaar was waarin swartmense se grond volgens wet onteien is.

Hy wou hom ook nie verbind tot 'n teiken van hoeveel grond nog onteien moet word nie. Godongwana het wel gesê as die ANC sy beleidsbesluite van 1992 gevolg het, sou daar nie nou 'n krisis oor grondhervorming gewees het nie.

Die politieke ontleder Theo Venter sê die kommissie se planne is onderhewig aan soveel voorwaardes, dat dit die uitvoering daarvan byna onmoontlik sal maak.

Daar is reeds ‘n klousule in die Grondwet wat voorsiening maak vir die onteiening van grond sonder vergoeding. Dit gebeur byvoorbeeld wanneer grond gekoop word met die opbrens van misdaad.

Godongwane het juis die voorbeeld genoem van 'n munisipalieteit wat onlangs twee plase sonder enige bohaai onteien het.

Gert van der Westhuizen en Sarel van der Walt