Die Biden-administrasie gaan die reisbeperkings op agt lande in Suider-Afrika wat verlede maand weens die Omikron-variant ingestel is, ophef.
Buitelanders wat ingevolge hierdie beperkings verbied is om die VSA binne te kom as hulle in die voorafgaande 14 dae in Suider-Afrika was, mag weer van 31 Desember af na die VSA vlieg, sê 'n senior amptenaar.
Die VSA het op 29 November bykans alle nie-Amerikaanse burgers verbied wat onlangs in Suid-Afrika, Botswana, Zimbabwe, Namibië, Lesotho, Eswatini, Mosambiek en Malawi was "uit oormatige versigtigheid" oor die variant wat Suid-Afrikaanse wetenskaplikes geïdentifiseer het.
Die beperkings was nie van toepassing op Amerikaanse burgers wat na die VSA terugkeer nie.
Dr. Anthony Fauci, die VSA se topkenner van aansteeklike siektes, het Maandag gesê die beperkings sal waarskynlik gelig word "omdat ons genoeg infeksies van ons eie in die land het . . . Ons laat mense in die land toe uit lande wat baie meer gevalle as die lande in Suider-Afrika het."
Pres. Joe Biden het Dinsdag gesê hy oorweeg dit om die reisverbod op te hef.
"Die reisverbod gaan nie 'n verskil maak aan die getal infeksies weens die Omikron-variant nie."
Kevin Munoz, woordvoerder van die Withuis, het die berig deur Reuters getwiet dat Biden "die tydelike reisbeperkings op lande in Suider-Afrika sal ophef".
Die besluit moet nog amptelik aangekondig word. - Reuters
https://twitter.com/KMunoz46/status/1474373042000195587?s=20















