Buitelandse reisigers wat volledig teen Covid-19 ingeënt is, sal eersdaags weer in Australië welkom wees.
Die Australiese regering het Maandag aangekondig hy beoog om die land se grense later vandeesmaand te heropen.
Sekere beperkings is reeds in die laaste maande verslap met onder meer "reisborrels" tussen uitgesoekte lande. Dit sal egter die eerste keer sedert Maart 2020 wees dat reisigers uit enige land toegelaat word om Australië te besoek, mits hulle ingeënt is.
Dit bring feitlik 'n einde aan die laaste hoof-element van Australië se maatreëls om die pandemie te beveg. Die land se lae infeksiekoers en sterftesyfer word grotendeels toegeskryf aan dié streng maatreëls. Die ander hoofmaatreël - inperkings met rukke en stote - is reeds in Desember heeltyds opgeskort.
"As jy reeds twee inentings ontvang het, sien ons uit daarna om jou in Australië te verwelkom," het Scott Morrison, premier, op 'n nuuskonferensie in Canberra gesê.

Australië se toerismebedryf, wat noustrop getrek het onder die Covid-19 maatreëls en op die plaaslike mark aangewese was, het Morrison se aankondiging - twee maande voor die land se algemene verkiesing - verwelkom.
"Oor die afgelope twee jaar sedert die grense gesluit is, was die bedryf op sy knieë," het Peter Shelley, besturende direkteur van die Australiese toerisme-en-uitvoerraad, gesê.
Die land se inkomste uit buitelandse toerisme het van sowat R490miljard in die 2018-'19-boekjaar afgeneem tot slegs sowat R14,5miljard in die afgelope boekjaar, sê hy.
Aandeelpryse van sommige toerismeverwante maatskappye het met tussen 5% en 8% gestyg ná Morrison se aankondiging en die land se grootste lugdiens, Qantas, het gesê hy sal binnekort weer vlugte vanaf die buiteland hervat.
Australië se Covid-19-infeksiekoers het ook soos dié van ander lande gestyg weens die meer aansteeklike maar minder dodelike Omikron-variant, maar die aantal nuwe gevalle was Maandag slegs 13% soveel as 'n maand gelede.
Daarbenewens is sowat 90% van die land se bevolking ouer as 16jaar reeds teen die virus ingeënt. Beduidend minder mense word ook in hospitale opgeneem, sê die owerhede. - Reuters














