Covid-19

GRAFIKA | Covid-19: 4de vlaag kortste van almal

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Omikron-variant was dominant in die vierde vlaag.  Foto: Stock Image/Unsplash/Argief
Die Omikron-variant was dominant in die vierde vlaag. Foto: Stock Image/Unsplash/Argief

Die vierde vlaag van die koronaviruspandemie woed steeds in Suid-Afrika en hoewel heelparty meer mense dié keer positief getoets het vir die virus, gaan die land korter in die greep van dié vlaag wees as vorige kere.

Die vlaag neem af en sal minder as 100 dae duur terwyl die derde vlaag langer as 200 dae gewoed het.

Saterdag is 7 759 nuwe gevalle aangeteken, waar daar twee weke terug, op 25 Desember, 14 828 nuwe gevalle was.

Daar is tans 147 754 bevestigde aktiewe gevalle.

Vergelyking van die vier vlae.
Vergelyking van die vier vlae.

Dr. Jo Barnes, 'n epidemioloog verbonde aan die Universiteit Stellenbosch, sê daar is geen amptelike definisie vir die einde van 'n vlaag nie, maar dit is gewoonlik wanneer getalle daal tot waar dit was voordat die vlaag begin het.

Sy sê dit is belangrik om in ag te neem dat die amptelike getalle 'n onderskatting is en dat die ware getalle eintlik drie keer meer kan wees.

Die vierde vlaag is gedryf deur die Omikron-variant wat vinniger versprei het, maar tot minder ernstige siekte gelei het.

"Hospitale en veral die waakeenhede kon dus die gevalle hanteer," sê Barnes.

Sy sê dit is onseker hoe dinge in die toekoms gaan lyk.

"Daar is mense wat dink omdat die Omikron-variant matiger was, sal die daaropvolgende variante ook al hoe matiger word.

"Die hoop is natuurlik dat dit uiteindelik sal verdwyn, maar ek dink dit is heeltemal te vroeg vir die soort voorspellings.

"Dit is ook gevaarlik omdat dit kan lei tot laksheid (wat betref die nakoming van Covid-19 maatreëls) onder die publiek," sê Barnes.

Arisa Janse Van Rensburg

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM