Covid-19

COVID-19 | So lyk die jongste syfers

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Hier is die jongste syfers in grafika:

2022-06-15 21:27:36

1 903 nuwe gevalle, nog 26 sterftes

Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes se jongste verklaring wat pas uitgereik is, is 1 903 nuwe Covid-19-gevalle Woensdag in Suid-Afrika aangemeld.

22 417 toetse is vandag gedoen, dus is die positiwiteitskoers 8,5%.

Nog 26 sterftes is aangemeld, waarvan tien in die laaste 24 tot 48 uur voorgekom het.

Kumulatiewe gevalle: 3 981 739

Dodetal: 101 576

2022-06-15 18:22:23

Verpligte inenting: Petisie begin teen Curro

’n Aanlyn petisie teen ’n beleid van verpligte koronavirus-inenting deur die private skolegroep Curro het teen Woensdagmiddag meer as 1 000 handtekeninge gehad.

Anca, een van die ondertekenaars, skryf langs haar handtekening: “Jou lewe, jou keuse! Curro is ’n boelie!”

’n Ander ondertekenaar van die petisie, Nishaat, sê personeel by Curro kan nie hul werk verloor omdat hulle nie saamstem nie. “Waar is die vryheid van keuse?”

Lees die hele berig hier.2022-06-15 17:53:16

Asma, allergieë verhoog nie risiko vir Covid-19

Health24 berig nuwe navorsing wys asma verhoog nie die risiko vir ‘n koronavirus-infeksie nie en kosallergieë word verbind met ‘n laer risiko vir infeksie, terwyl ‘n hoër liggaamsmassa-indeks ‘n hoër risiko het.

Die navorsing is in die Journal of Allergy and Clinical Immunology gepubliseer en het ondersoek of mense met asma en allergieë ‘n groter risiko het om Covid-19 op te doen.

Navorsers in Amerika het van Mei 2020 tot Februarie 2021 minstens 4 000 mense in 1 400 huishoudings gemonitor.

Sowat die helfte van die mense het óf ’n allergie vir sekere kosse, asma, ekseem óf kry hooikoors. – Health24

2022-06-15 17:10:28

Geen styging in selfdoodkoers tydens pandemie, wys studie

Daar was tydens die Covid-19-pandemie geen styging in die selfdoodkoers in lae- en middelinkomstelande nie, is in internasionale navorsing bevind.

Daar was egter ’n gebrek aan betroubare data vir Afrika.

Dié navorsing onder leiding van dr. Duleeka Knipe van die Instituut vir Bevolkingsgesondheidswetenskappe aan die Universiteit van Bristol het vandeesmaand in die vaktydskrif PLOS Global Public Health verskyn.

Lees die hele berig hier.2022-06-15 15:20:30

Omikron-infeksie versterk nie immuniteit nie – studie

Die immuunreaksie van mense wat in die eerste vlaag Covid-19 opgedoen het, word nie versterk nadat hulle daarna die Omikron-variant van die koronavirus opgedoen het nie.

Dit is bevind in 'n studie wat gedoen is onder mense wat drie inentings teen die virussiekte ontvang het. Kenners sê terwyl drie dosisse van 'n koronavirus-entstof mense teen ernstige gevolge van Omikron beskerm, kan vorige infeksies hul immuunreaksie beïnvloed.

"As jy in die eerste vlaag geïnfekteer is, word jou immuunreaksie nie versterk wanneer jy 'n Omikron-infeksie opdoen nie," sê prof. Rosemary Boyton van die Imperial College London, wat 'n medeskrywer van die studie is.

Die span het ook bevind dat 'n Omikron-infeksie min beskerming daarteen bied om die virus weer op te doen. "Toe Omikron begin versprei het, het mense volgehou dat dit oukei is omdat dit mense se immuunreaksies sal verhoog," sê Boyton. "Wat ons sê, is dat dit nie 'n goeie manier is om immuniteit te versterk nie." – The Guardian

2022-06-15 13:41:00

Boekhouer skuldig ná diefstal van Covid-19-hulpgeld

’n Voormalige boekhouer is skuldig bevind aan diefstal nadat die Werkloosheidversekeringsfonds se Ters-hulpskema uit nagenoeg R11 miljoen bedrieg is.

Die 39-jarige is in die handelshof skuldig bevind op 32 aanklagte van bedrog.

Die Ters-hulpskema het bedrywe aan die begin van die Covid-19-pandemie gehelp wat hul deure weens die inperkings moes sluit. – News24

Lees die hele berig hier.2022-06-15 12:24:59

Só toets Shanghai nou

Shanghai vereis dat al 16 gebiede in die stad elke naweek tot einde Julie massa-toetse vir Covid-19 vir inwoners organiseer.

Zhao Dandan, ’n amptenaar, sê indien ’n gebied enige oordrag in ’n week vind, sal al die inwoners getoets word en beweging sal ingeperk word totdat die toetse verby is. – Reuters

2022-06-15 11:06:29

Onwettige tabakverbod van 2020: ‘Nou moet stryd teen sluikhandel begin’

Die regering moet nou die euwel wat hy help vererger het, help bestry.

So het die sigaretvervaardiger British American Tobacco South Africa (Batsa) Woensdag gereageer nadat die appèlhof in Bloemfontein bevind het die verbod op sigaretverkope aan die begin van die Covid-19-pandemie was onwettig. Die uitspraak is Dinsdag laat bekend gemaak.

Johnny Moloto, hoofbestuurder van Batsa, sê die verbod van amper vyf maande – van 23 Maart tot 17 Augustus 2020, het die reeds bestaande sluikhandel in sigarette baie vererger en dit het nie ná die pandemie beduidend verbeter nie. – Liana Mocke

Lees die hele berig hier.2022-06-15 11:05:12

BAT rook die pyp in appélsaak oor Covid-tabakverbod

Die appèlhof het Dinsdag bevind dat die beperking van die reg op waardigheid, op liggaamlike en sielkundige integriteit, op vryheid van handel en die ontneming van eiendom tydens die verbod op tabakprodukte nie geregverdig was nie.

Daarbenewens het inperkingsregulasie 45 – die tabakverbod – die outonomie van persone onregverdig beperk om hul eie sake te reguleer en om beheer oor hul liggaamlike en sielkundige integriteit uit te oefen.

Dit het hul reg op vryheid van handel geskend deurdat niemand tabak kon verkoop of koop nie.

Lees die hele berig hier.2022-06-15 11:04:12

Meer mans laat hulle steriliseer in pandemie

Sterilisasie onder mans en mammogramme onder vroue het in die pandemie toegeneem vergeleke met wat dit in 2019 was, toon die mediesefondsadministrateur Momentum Health Solutions se inligting oor die eise van mediese fondse.

Margot Brews, hoof van gesondheidsrisikobestuur van Momentum Health Solutions, sê dit is van die operasies waarvoor hospitaalopnames beduidend toegeneem het teenoor wat dit in 2019 was.

Brews het op ’n konferensie van die maatskappy uitgewei oor die tendense met die eise van die verskillende mediese fondse wat hulle administreer. – Nellie Brand-Jonker

Lees die hele berig hier.2022-06-15 11:02:53

Baie mense spaar nou meer vir aftrede as voor pandemie

Baie werkende Suid-Afrikaners wat tot ’n pensioenfonds behoort, spaar nou ’n effens groter persentasie van hul salaris vir hul aftrede as in 2019, die laaste jaar voor die pandemie.

Vir mense met groot werkgewers wat alleenstaande pensioenfondse het, beteken dit die gekombineerde bydrae van werkgewers en werknemers is nou aansienlik meer as voor die pandemie.

Kleiner werkgewers se gemiddelde bydrae tot werknemers se pensioenfonds het egter skerp gedaal, wat die totale bydrae vir dié werknemers as ’n persentasie van hul pensioengewende salaris op die laagste in minstens sewe jaar te staan bring. – Hanlie Stadler

Lees die hele berig hier.2022-06-15 05:52:41

2022-06-15 05:52:38

Aktiewe gevalle

Daar is altesame 19 337 aktiewe gevalle landwyd.

So lyk die syfers per provinsie:

Gauteng: 2 438

KwaZulu-Natal: 5 609

Limpopo:101

Mpumalanga: 587

Noord-Kaap: 1 808

Noordwes: 583

Oos-Kaap: 854

Vrystaat: 2 524

Wes-Kaap: 4 833

2022-06-15 05:52:35

2022-06-15 05:52:31

Jongste syfers

Nuwe gevalle

Altesame 710 nuwe gevalle is in die afgelope 24 uur aangemeld wat die kumulatiewe syfer tot 3 979 836 laat styg het.

Sterftesyfer

Nog 41 sterftes is aangemeld waarvan tien in die afgelope 24 tot 48 uur, is Dinsdagaand in die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) se verklaring bekend gemaak. Dit bring die sterftesyfer op 101 550 te staan.

Herstelsyfer

Uit die 3 979 836 gevalle het 3 858 949 mense al herstel. Dit verteenwoordig 'n herstelkoers van 97%.

Inentings

Altesame 36 522 914 dosisse entstof is reeds toegedien.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM