Met al hoe meer druk op pres. Cyril Ramaphosa om die ramptoestand op te hef, is daar steeds ontwrigtende maatreëls wat geld sedert die vlak 1-regulasies op 30 Desember aangepas is.
Hier is die regulasies wat steeds geld:
Maskers
Mense moet in die openbaar 'n masker dra en dit is 'n strafbare oortreding indien 'n persoon nie hieraan gehoor gee nie.
Kinders onder ses jaar oud is nie verplig om 'n masker te dra nie.
Byeenkomste
Byeenkomste is beperk tot nie meer as 1 000 mense binnenshuis en nie meer as 2 000 mense by 'n buitelugbyeenkoms nie.
Waar plekke te klein is om soveel mense te kan huisves, kan 50% van die kapasiteit van die ruimte gebruik word.
Drankverkope
Besighede wat alkohol verkoop, kan dit doen ingevolge die beperkings van hul individuele dranklisensies.
Begrafnisse en verassings
Die getal mense by begrafnisse is beperk tot 100 en waar 'n bymekaarkomplek te klein is, mag nie meer as 50% van die kapasiteit gebruik word nie. Mense moet 'n gesonde afstand van 1,5 m handhaaf.
Nagwake en byeenkomste ná begrafnisdienste word nie toegelaat nie.
Dienste mag nie langer as twee ure duur nie.
Ander byeenkomste
Die getal mense by kerkdienste, sosiale, politieke en kulturele byeenkomste is beperk tot 1 000 binnenshuis en 2 000 in die buitelug.
Ook konferensies, uitstallings, eetplekke, gimnasiums, casino's en plekke wat vermaak aanbied, is beperk tot 1 000 mense binnenshuis en 2 000 mense in die buitelug, met 'n afstand van 1,5 m wat tussen mense gehandhaaf moet word.
By sportbyeenkomste is die getal toeskouers ook tot 1 000 by binnenshuise en 2 000 by buitelugbyeenkomste beperk.
Nagklubs is steeds gesluit.
Uitsettings
Geen uitsettings word toegelaat nie en geen blyplek mag afgebreek word tensy daar 'n hofbevel hiervoor uitgereik is nie. Howe kan uitsettings en die afbreek van woonstrukture verbied tot nadat die nasionale ramptoestand opgehef is.
Sluiting van grensposte
Slegs 21 grensposte is oop. Die ander 32 wat weens die ramptoestand gesluit is, is steeds gesluit, buiten die Tellebrug-grenspos na Lesotho, wat eers gesluit was en toe in Desember oopgestel is.
Internasionale vlugte is beperk tot die O.R. Tambo-, King Shaka-, Kaapstad-, Lanseria- en Krugerwildtuin-lughawe.
Skole
Volgens die regulasies wat sedert 30 Desember geld, is die enigste verandering by skole dat getal toeskouers by skolesportbyeenkomste soos met dié by ander byeenkomste aangepas is.
Skole moet steeds die rotasiestelsel gebruik wat einde 2021 gegeld het.


















