Koningin Margrethe van Denemarke, wat Maandag koningin Elizabeth van Brittanje se begrafnis in Londen bygewoon het, is vir die tweede keer vanjaar positief vir die koronavirus getoets.
Die 82-jarige staatshoof, wat ná Elizabeth se afsterwe nou die langs dienende Europese monarg is met 'n halfeeu op die troon, het al haar afsprake vir die week gekanselleer, berig Reuters.
Margrethe, wat teen die koronavirus ingeënt is, is ook in Februarie vanjaar positief getoets en het toe matige Covid-19-simptome ervaar.
Sy was in die dae voor die begrafnis by verskeie geleenthede in Londen te sien, berig die BBC.
Sy het Sondag saam met ander koninklikes haar respek aan Elizabeth gaan betoon waar sy in die saal van Westminster in staatsie gelê het.
Maandag, op die begrafnis, het sy in die Westminster-abdy gesit saam met ander Europese monarge, waaronder koning Carl Gustaf van Swede, prins Albert van Monaco en koning Philippe van België.
The Mirror berig Margrethe het uitgevind sy het die virus onder lede nadat sy Dinsdag na Denemarke teruggekeer het.
Verlede week was die 50ste herdenking van haar kroning. Sy het in 1972 op 32-jarige ouderdom die koningin geword ná die dood van haar pa, koning Frederick IX.
Vlae by die vier paleise in Kopenhagen het ná Elizabeth se dood halfstok gehang. Margrethe se goue jubilee-vieringe is ook uit respek afgeskaal.
Die viering sou aanvanklik in Januarie gehou word, maar is weens 'n toename in koronavirusgevalle uitgestel.
Margrethe en Elizabeth was agterkleinniggies en is albei afstammelinge van koningin Victoria.





















