Troeteldiere soos honde en katte kan Covid-19 by hul eienaars kry.
Dit is die bevinding van 'n wetenskaplike studie in Suid-Afrika oor die oordrag van Sars-CoV-2 van mense na diere.
Die studie oor die oordrag van die virus van mense na diere is gelei deur prof. Marietjie Venter, viroloog by die Universiteit van Pretoria (UP) en hoof van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se internasionale span wat moet vasstel waar Covid-19 vandaan kom en hoe om toekomstige pandemies te keer.
Venter en haar span wetenskaplikes van die UP het onlangs die studie gepubliseer waarin 'n genomiese One Health-benadering (waar die gesondheid van mens en dier in 'n gedeelde omgewing nou verbind is) getoon het die virus is oordraagbaar van mens na dier.
Navorsers het dié soort oordrag begin monitor nadat 'n tier by 'n Amerikaanse dieretuin in April 2020 - aan die begin van die pandemie - die koronavirus opgedoen het.
Hul simptome is in die meeste gevalle matig, sê die viroloog wat die studie lei.
Venter en haar span se studie getiteld "SARS-CoV-2 Reverse Zoonoses to Pumas and Lions, South Africa" kom nadat twee poemas in Julie 2020 en drie Afrika-leeus in Julie 2021 in dieselfde private dieretuin in Johannesburg siek geword het.
Die poemas se simptome was onder meer 'n gebrekkige eetlus, diarree, loopneuse en 'n hoes. Hulle is destyds positief getoets vir Covid-19, maar die betrokke variant kon nie met genoomtoetse sowat 'n jaar later vasgestel word nie.
In Julie 2021 het drie leeus by dieselfde dieretuin soortgelyke simptome gehad. Waarneming het die oordrag van die Delta-variant van 'n asimptomatiese hanteerder na drie leeus getoon.
"Die oordrag van die Delta-variant aan hierdie diere kan lei tot ernstiger siekte," het die studie bevind.
Venter sê troetelkatte is meer sensitief as honde en sy raai troeteldiereienaars wat positief getoets is vir Covid-19 af om hul troeteldiere by hulle te laat slaap.

Sy sê dit is belangrik dat mense saam met hul troeteldiere, as deel van hul gesin, isoleer wanneer hulle simptome by hul honde of katte opmerk.
"Die simptome is in die meeste gevalle baie matig."
Sy sê wanneer troeteldiere simptome toon, moet hul eienaars hulle dophou en hul veearts in kennis stel.
Venter sê die risiko dat jou hond of kat jóú weer kan aansteek, is baie laag.
Een van die drie leeus het herstel nadat die dier behandel is met deksametasoon, 'n goedkoop steroïed wat wêreldwyd suksesvol gebruik word in behandeling van mense met Covid-19, sê Venter.
Luidens die studie is die diere vir tot sewe weke nadat hulle siek geraak het positief getoets vir Covid-19.
Een het longontsteking opgedoen, terwyl die ander 'n ligte infeksie gehad het, het die navorsers bevind.
Ondersoeke na diere se vatbaarheid vir SARS-CoV-2 kan in drie groepe ingedeel word: dié met voorspelde vatbaarheid, dié wat eksperimenteel besmet is en besmette diere, met infeksies wat vermoedelik deur omgekeerde soönotiese gebeure (waar mense diere infekteer eerder as andersom) voorkom.
Diere wat eksperimenteel suksesvol besmet is, sluit in huiskatte, vrugtevlermuise, asook goue Siriese hamsters.
Reuters het vandeesweek berig duisende mense in Hongkong het Woensdag aangebied om hamsters aan te neem nadat owerhede die vorige dag beveel het 2 000 hamsters in dosyne troeteldierwinkels en bergingsgeriewe moet van kant gemaak word.
'n Werker in 'n troeteldierwinkel het Covid-19 gekry en 11 hamsters is daarna positief getoets vir die virus.
Gesondheidswerkers in Hazmat-pakke het Dinsdag met rooi plastieksakke uit troeteldierwinkels in die stad gestap en tot 150 mense is in kwarantyn geplaas.
Hongkong volg 'n baie streng benadering om Covid-19 in die stad te probeer elimineer.
Skole, teaters en gimnasiums is opnuut gesluit, restaurante sluit vroeg en buitelandse reise word nog streng beperk.
























