'n Skerp toename in nuwe koronavirusgevalle is Donderdag in Suid-Afrika aangemeld. Daar is 4 406 nuwe gevalle aangemeld teenoor Woensdag se 2 846 nuwe gevalle.
Die positiwiteitskoers het van 13,4% tot 15,8% gestyg, sê die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) in 'n verklaring.
Prof. Adrian Puren, uitvoerende direkteur van Nios, sê 'n vroeë aanduiding toon 'n toename in gevalle in Gauteng.
Daar is egter geen bewyse dat die Omikron-variant as die dominante variant met 'n ander een vervang word nie.
Van die 4 406 nuwe gevalle is die meeste in Gauteng (49%) aangemeld, gevolg deur KwaZulu-Natal (22%) en die Wes-Kaap (15%). Daar is ook 66 mense met Covid-19 in die hospitaal opgeneem.
"Daar is geen toenames in Covid-19-sterftes in hospitale aangemeld nie," sê dr. Waasila Jassat van Nios, wat die infeksiekoers en hospitalisasies monitor.
Die nasionale gesondheidsdepartement het Donderdag wel 65 Covid-19-sterftes aangemeld, maar slegs vyf hiervan het in die voorafgaande 24 uur tot 48 uur voorgekom. Suid-Afrika se Covid-19-sterftesyfer is nou 100 276. Die land het einde Maart die 100 000-kerf van Covid-19-sterftes oorskry.
Volgens die jongste statistieke het die land Donderdag 19 472 aktiewe gevalle aangemeld, wat 5 515 meer is as Maandag se aktiewe gevalle. Die positiwiteitskoers het ook sedert Maandag se 9,6% met 6,2 persentasiepunte gestyg.
Jongste aktiewe gevalle (Maandag se aktiewe gevalle in hakies)
Gauteng: 6 205 (4 494)
KwaZulu-Natal: 5 980 (4 268)
Wes-Kaap: 3 792 (2 451)
Limpopo: 105 (147)
Mpumalanga: 407 (255)
Noord-Kaap: 330 (289)
Noordwes: 375 (215)
Oos-Kaap: 898 (599)
Vrystaat: 1 380 (1 239)























