Covid-19

Mediclinic staak vir eers verpligte inenting

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Mediclinic het sy beleid van verpligte inenting teen Covid-19 vir werknemers vir eers gestaak.

Die beleid sou op 1 April in werking tree.

Mediclinic Suider-Afrika het Dinsdag in 'n verklaring gesê alle werknemers, of hulle ingeënt is teen die koronavirus of nie, sal in hul huidige poste kan aanbly. Dié besluit is geneem vanweë die Omikron-variant se verlaagde risiko vir die werkplek, lui die verklaring.

Mediclinic bly egter "onwrikbaar in sy siening dat inenting die beste manier is om ons werknemers, pasiënte en ander gesondheidsorgwerkers teen ernstige infeksie en die dood te beskerm".

"Die inentingsbeleid geld steeds, maar die afdwinging daarvan word verslap in die lig van die huidige beskikbare kliniese bewyse en risiko-evaluasie."

Alle ander Covid-19-maatreëls ingevolge maatskappybeleid om werknemers se veiligheid te verseker, moet steeds gevolg word. Dit sluit in toegangsbeheer, die dra van maskers en beskermende kleredrag en ander risikoverminderingsmaatreëls wat van tyd tot tyd ingestel word.

Luidens die verklaring het Mediclinic sedert die uitbreking van die pandemie byna 74 000 Covid-19-pasiënte in sy verskillende hospitale behandel.

Die hospitaalgroep "sal daarmee volhou om die pandemie noukeurig te monitor, aanpasbaar bly en sy posisie heroorweeg soos en wanneer nodig in die belang van ons pasiënte en belanghebbendes se veiligheid", lui die verklaring.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM