Covid-19

Net so belangrik dat jong mense inent, sê W-Kaapse regering

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Mense jonger as 20 jaar word aangemoedig om teen die koronavirus ingeënt te word om veral die gevaar te verminder dat hulle Covid-19 ontwikkel en die virus oordra.

Die Wes-Kaapse departement van gesondheid het Maandag gesê hoewel die jeug Covid-19 grootliks met matiger simptome kry vergeleke met volwassenes, kan sommige jong mense met die virussiekte ernstige longinfeksie opdoen en in die hospitaal beland.

Die jeug kan ook langtermyngesondheidsprobleme ontwikkel, soos inflammatoriese multistelsel-sindroom, wat intensiewe sorg kan vereis, luidens 'n verklaring van die departement.

Dié statistieke weerspieël nie die ware uitwerking van 'n besmetting met die koronavirus op 'n mens nie. As jy simptome het, moet jy isoleer, wat beteken dat jy tyd saam met familie, vriende en vir die spesiale oomblikke in die lewe afstaan. Entstowwe help jou lyf om dit te bestry en beter te hanteer.

Data van die provinsiale regering van 28 November 2021 tot 28 Januarie 2022 wys dat mense jonger as 20 jaar 12 546 positiewe koronavirusgevalle in die vierde vlaag opgelewer het, wat op 10% van die gevalle neerkom.

Dié ouderdomsgroep het ook 1 135 hospitalisasies (12%) gehad, wat insluit mense wat positief getoets is terwyl hulle vir ander redes opgeneem is.

Onder dié groep was daar 21 sterftes aan Covid-19 of met simptome van Covid-19, oftewel 1,7% van sterftes.

"Dié statistieke weerspieël nie die ware uitwerking van 'n besmetting met die koronavirus op 'n mens nie. As jy simptome het, moet jy isoleer, wat beteken dat jy tyd saam met familie, vriende en vir die spesiale oomblikke in die lewe afstaan. Entstowwe help jou lyf om dit te bestry en beter te hanteer."

Volgens die provinsiale departement is dit daarom net so belangrik vir jong mense om ingeënt te word as vir die kwesbare lede van die samelewing.

Deskundiges het ook "eenstemmigheid" dat die voordele van inentings die risiko's vir almal oorskry, lui die verklaring.

"Inentings help om die verspreiding van (die koronavirus) te verhoed of verminder. Die gevaar van besmetting en veral ernstige siekte is veel hoër onder oningeënte mense vergeleke met dié wat ingeënt is."

Selfs met die Omikron-variant was die risiko om te sterf in "deurbraak"-gevalle byna vier keer minder as in gevalle waar mense nie ingeënt is nie, terwyl die risiko om in die hospitaal opgeneem te word dubbeld soveel is onder dié wat nie ingeënt is nie.

"Om die (koronavirus-)entstof te kry beskerm almal - insluitend jonger mense, met die kans wat verminder dat hulle die virus oordra aan familielede en vriende wat meer kwesbaar is."

Die departement sê jong mense besef nie altyd dat inentings help om "lang-Covid" te vermy nie, met simptome soos moegheid, chroniese longsiekte of chroniese verlies aan smaak en reuk.

Dit kan voorkom onder jong en gesonde mense met matige of asimptomatiese gevalle, terwyl sommige kinders outo-immuunsiektes soos artritis kry.

Oordrag van die virus gee dit ook die kans om verder te muteer en nuwe variante te skep wat meer weerstandig kan wees, luidens die verklaring.

"Die risiko om (die koronavirus) op te doen is ver groter as die risiko van inentings onder tieners. So, of jy wil terugkeer na normaal, jou familie wil beskerm, sosialiseer en vertonings wil bywoon, inentings is die weg om saam daar uit te kom."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM