Covid-19

Omikron kan help om virus endemies te maak

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Ons weet nie of 2022 die jaar is waarin SARS-CoV-2 endemies sal word en of die Omikron-variant van dié koronavirus hierdie proses sal versnel nie.

So het dr. Anthony Fauci, hoof- mediese raadgewer van pres. Joe Biden van Amerika, Maandag op 'n Bloomberg-paneelgesprek van die Wêreld- Ekonomiese Forum gesê oor die toekoms van die pandemie.

Fauci sê baie mense meen "endemies" beteken wanneer 'n virus soos SARS-CoV-2 nie langer die samelewing sal ontwrig nie en ingeburger raak tussen ander virusse soos griepvirusse.

"Mense sal steeds siek word. Ons kan die virus nie uitwis nie, maar hopelik sal ons ons normale ekonomiese en sosiale interaksies kan hervat wanneer dit endemies word."

Dr. Anthony Fauci
Dr. Anthony Fauci (Reuters)

Hy hoop die Omikron-variant, wat hoogs oordraagbaar, maar blykbaar nie so dodelik soos die Delta-variant is nie, sal help om SARS-CoV-2 endemies te maak deur groter immuniteit te bewerkstellig.

"Dit sal egter net gebeur as daar nie nog 'n variant is wat die immuunrespons ontglip wat deur vroeëre variante opgewek is nie," sê Fauci.

Volgens hom is nog variante baie waarskynlik gegewe die feit dat die koronavirus nog op groot skaal in bevolkings versprei.

Prof. Annelies Wilder-Smith van die Londen School of Higiene and Tropical Medicine benadruk dat die wêreld op 'n baie beter plek is as twee jaar gelede.

"Twee jaar gelede het ons 'n bevolking van 7,7 miljard mense gehad met geen immuniteit teen die virus nie. Nou het 50% van die wêreldbevolking al minstens twee dosisse van die entstof ontvang. Dit is verder versterk deur immuniteit wat deur natuurlike infeksie opgedoen is."

Omdat die situasie soveel anders is, moet die benadering tot die pandemie heroorweeg word.

Wilder-Smith sê hoewel dit onwaarskynlik is dat 'n erger variant as Omikron sal verskyn, moet die wêreld hom nogtans op die slegste scenario voorberei.

Daar is baie lesse uit die Covid-19-pandemie geleer oor hoe daar vir die volgende pandemie voorberei moet word.

—  Richard Hatchett

Sy sê egter selfs al verskyn daar 'n nuwe variant wat erger as Omikron is, sal die immuniteit wat nou opgedoen is, steeds beskerming teen ernstige siekte bied.

Stephane Bancel, uitvoerende hoof van Moderna, sê prosesse is wel aan die gang in die soeke na 'n entstof wat breër beskerming teen verskeie variante sal bied.

"Ons is ongelukkig nog nie daar nie, maar hopelik maak ons vordering," sê Bancel.

Wilder-Smith sê sy is optimisties dat internasionale reise in 2022 sal hervat. Volgens haar moet die benadering tot reisbeperkings verander weens die Omikron-variant en lande moet hul beleid heroorweeg.

Richard Hatchett, uitvoerende hoof van die Coalition for Epidemic Preparedness Innovation, sê daar is baie lesse uit die Covid-19-pandemie geleer oor hoe daar vir die volgende pandemie voorberei moet word.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM