Hy praat uit ervaring as hy sê mense wat teen die koronavirus ingeënt is, oorleef Covid-19 makliker as dié wat nie is nie, sê pres. Cyril Ramaphosa.
Die ANC-leier het Saterdagmiddag in Polokwane by die vieringe van sy party se 110de verjaardag gesê dokters het aan hom gesê omdat hy ingeënt was, het hy oorleef.
Ramaphosa sê toe hy onlangs die virus opgedoen het, het hy heelwat negatiewe effekte gehad.
"Dokters het vir my gesê as hulle luister na die simptome wat ek en my vrou (dr. Tshepo Motsepe) gehad het, het ons hoofsaaklik oorleef danksy die inentings.
"Dr. Phophi Ramathuba, die LUR vir gesondheid hier in Limpopo, het vir my gesê: ‘President, die feit dat jy ingeënt is, was tot jou voordeel. As ek so luister na u simptome, kon ons u verloor het as u nie ingeënt was nie,' " het Ramaphosa gesê.
"Daarom doen ek 'n beroep op dié Suid-Afrikaners wat nog nie ingeënt is nie, om dit so gou moontlik te laat doen."
Meer as 92 000 Suid-Afrikaners is in minder as twee jaar aan Covid-19 oorlede.
Ramaphosa sê die NUK het 'n beroep op die regering gedoen om beleid te finaliseer oor die instelling van verpligte inentings vir spesifieke aktiwiteite en plekke, omdat dit 'n groot rol kan speel om die Covid-19-pandemie te beperk en te bestuur.
















