Covid-19

‘Ramptoestand is nie meer nodig’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Dit is tyd om die ramptoestand van bykans twee jaar op te hef, Kapenaars te laat swem en krieket kyk en kinders voltyds terug te stuur skool toe, meen politici, burgerregtegroepe en onderwysvakbonde. As dit nie spoedig gebeur nie, dreig hulle om die regering te dagvaar.

Die DA het Woensdag reeds begin met regstappe weens die "verregaande" rotasiestelsel in skole.

John Steenhuisen, DA-leier, het in 'n verklaring gesê die beleid oor die handhawing van 'n afstand van minstens een meter tussen leerlinge beteken die meeste skole moet op 'n rotasie-grondslag funksioneer. Dit bepaal elke kind mag slegs 50% van die tyd fisiek by die skool wees.

"Die beleid is irrasioneel, onregverdigbaar, onregverdig en doodeenvoudig verregaande," sê Steenhuisen.

LEES OOK: Druk laai op om rotasiemodel in skole te laat vaar

Basil Manuel, Chris Klopper en dr. Jaco Deacon, die onderskeie uitvoerende hoofde van die die onderwysvakbond Naptosa, die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie en die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole, het by navraag almal die heropening van skole tot hulle volle kapasiteit ondersteun.

Prof. Shabir Madhi, dekaan van die fakulteit gesondheidswetenskappe van die Universiteit van die Witwatersrand, het ook reeds vroeër op sosiale media gesê skole moet na sy mening ten volle heropen.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het op 11 Januarie in 'n verklaring gesê die rotasiestelsel gaan voort omdat "Covid-19 nog met ons is".

Steenhuisen sê dié beleid is egter nie meer nodig nie omdat die doel daarvan was om druk te verlig op die gesondheidsorgstelsel en hospitale, wat tans nie meer onder druk is nie.

Volgens hom ontneem dit kinders van hulle grondwetlike reg op basiese onderrig.

"Daar is bewyse dat skoolkinders 57% tot 81% van hul leesvermoë weens die rotasiestelsel verloor. Die meeste kinders het meer as 50% van hul skooldae in 2020 en 2021 verloor. Honderdduisende het ophou skoolgaan weens die onregstreekse uitwerking van Covid-19-regulasies," sê Steenhuisen.

Pres. Cyril Ramaphosa het intussen Woensdag gesê die nasionale koronavirus-bevelsraad oorweeg dit wel om die ramptoestand te beëindig.

Ramaphosa en dr. Patrick Soon-Shiong, Amerikaanse miljardêr en stigter van die internasionale konglomeraat NantWorks, het die NantSA-aanleg vir die vervaardiging van entstowwe in Brackengate, Kaapstad, sowel as die Afrika Toegang tot Gevorderde Gesondheidsorg-koalisie bekend gestel. Dié inisiatiewe het ten doel om onder meer 'n miljard Covid-19-entstofdosisse teen 2025 te vervaardig.

Ramaphosa het in antwoord op 'n vraag van die media gesê hoewel Suid-Afrika die pandemie tot dusver "taamlik goed" deur middel van die ramptoestand bestuur het, is daar wel 'n sterk saak daarvoor te maak dat ander "instrumente" voorts gebruik kan word.

Indien die bevelsraad besluit om die ramptoestand te skrap, sal die kabinet so 'n aanbeveling moet goedkeur. Andersins sal hulle 'n "baie rasionele verduideliking gee waarom ons met die ramptoestand moet volhou", het Ramaphosa gesê.

AfriForum en Solidariteit het Dinsdag aangekondig hulle wil die hof nader om die ramptoestand, wat sedert Maart 2020 van krag is, te beëindig omdat daar tans "geen ramp is nie".

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, het ook verlede week gevra om die ramptoestand op te hef. Die burgemeester van die Kaapstad-metro, Geordin Hill-Lewis, het insgelyks 'n pleidooi aan Ramaphosa gerig om die 50%-besettingskoers vir sportstadions en openbare swembaddens onmiddellik te skrap.

Hy skryf in 'n brief aan die president dit is belangrik ten einde die ekonomie te herbou.

Die stad sal ook voordeel trek uit vol stadions by sportgeleenthede soos die afgelope kriekettoets tussen Suid-Afrika en Indië op Nuweland en toekomstige rugby- en sokker-wedstryde.

"Meneer die president, ons is gereed om ons openbare buiteluggeriewe tot volle kapasiteit oop te stel en toeskouers te verwelkom. Ons vra dat hierdie regulasies sonder vertraging opgehef word, en ons sien uit na u ondersteuning," skryf Hill-Lewis.

Christiaan du Plessis en Jana Breytenbach

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM