Die geleentheid om aan die hoof te staan van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se span wat moet vasstel waar die Covid-19-pandemie vandaan kom en hoe om toekomstige pandemies te keer, is vir haar die hoogtepunt van haar loopbaan, sê prof. Marietjie Venter van die Universiteit van Pretoria (UP), wat pas in dié rol aangestel is.
Sy lei 'n groep van meer as 25 internasionale kenners in die WGO se wetenskaplike raadgewersgroep oor die oorsprong van nuwe patogene (Sago).
Dié viroloog het omvattende ervaring in molekulêre epidemiologie, uitbreke onder mense en diere, laboratoriumveiligheid, virale diagnostiek en ontdekking asook openbare gesondheid.
"Die oorsprong van Covid-19 is nie bekend nie, maar die spoed waarteen die nuwe virus geïdentifiseer is, die vinnige ontwikkeling van toetse, die vermoë om variante deur genoomwaarneming te vind en die ontwikkeling van entstowwe deur internasionale samewerking is wesenlike vordering."
Intussen het Britse LP's vroeër in Desember gehoor die virus kom waarskynlik uit 'n laboratorium.
Die WGO het reeds vroeg verlede jaar 'n span na Wuhan gestuur om die oorsprong van die virus na te speur, maar hulle kon nie veel uitrig nie. Met hul terugkeer het die WGO-span gesê die Chinese regering het inligting weerhou en dat hulle nie met sekerheid kan sê dat die virus nie van 'n laboratorium af kom nie.
"Ons moet aanhou (ondersoek) totdat ons weet waar die virus vandaan kom," het dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die WGO, rondom Kersfees op 'n mediakonferensie gesê. "Ons moet leer uit wat gebeur het sodat ons dit (uitbreke) in die toekoms beter kan bestuur." Hy het ook 'n beroep op Beijing gedoen om meer geredelik inligting oor die virus te deel.
Intussen het Britse LP's vroeër in Desember gehoor die virus kom waarskynlik uit 'n laboratorium.
Dr. Alina Chan, 'n wetenskaplike by die Universiteit van Harvard, het aan die Britse portefeuljekomitee oor wetenskap gesê die virus is hoogs waarskynlik die produk van genetiese manipulasie in 'n Chinese laboratorium.
Chan meen die virus het uit 'n laboratorium ontsnap juis omdat die Chinese regering die WGO-ondersoek probeer kortwiek en omdat hulle aanvanklik nie oop kaarte oor die uitbreek in Wuhan gespeel het nie.
Die Britse wetenskaplike en voormalige LP van die Konserwatiewe Party Matt Ridley het saam met Chan 'n voorlegging aan Britse LP's gedoen.
Ridley glo die feit dat daar twee jaar ná die uitbreek van die pandemie nog nie 'n dier gevind is waarin die virus ontstaan het nie, maak die natuurlike ontstaan daarvan onwaarskynlik.
Gerugte dat die virus van 'n laboratorium gelek het, is aanvanklik as 'n samesweringsteorie verwerp - veral ook omdat oudpres. Donald Trump van Amerika 'n voorstander van die teorie was. Dit het vroeër ook bekend geword dat die Amerikaanse National Institutes of Health (NIH) tussen 2014 en 2019 $3,4 miljoen aan 'n Wuhan-laboratorium gegee het vir navorsing oor koronavirusse.
So ons het wetenskaplikes wat in 2018 sê hulle gaan horings op perde sit, en in 2019 daag daar eenhoringperde op in Wuhan.
"Ek dink die laboratorium-teorie is meer waarskynlik. Tans is dit nog nie veilig vir mense wat iets weet van die ontstaan van hierdie virus om na vore te kom nie, maar ons bly gelukkig in 'n era waar so baie inligting gestoor word dat dit eindelik sal uitkom.
"Ons weet die virus het 'n unieke kenmerk, genaamd die furin cleavage," het Chan verduidelik.
"Voorleggings is gelek wat wys dat die Wuhan-instituut vir virologie meganismes om die furin cleavage aan 'n virus te heg, ontwerp het. So ons het wetenskaplikes wat in 2018 sê hulle gaan horings op perde sit, en in 2019 daag daar eenhoringperde op in Wuhan."
The Wall Street Journal het in Mei 'n intelligensieverslag blootgelê met inligting dat drie wetenskaplikes by die Wuhan-instituut al in November 2019 mediese hulp gesoek het vir soortgelyke simptome as Covid-19, sowat twee maande voordat inligting oor die virus en sy verspreiding openbaar gemaak is.
















