Minder as 5% van die meer as 290 000 oormaatsterftes wat tydens die Covid-19-pandemie in Suid-Afrika aangeteken is, het in die huidige vierde vlaag voorgekom, het prof. Shabir Madhi Maandag gesê. Hy is die dekaan van die fakulteit gesondheidswetenskappe van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits).
Oormaatsterftes is die getal sterftes meer as die getal verwagte sterftes op grond van historiese sterftepatrone.
Die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR) het in sy jongste verslag verlede week bekend gemaak dat hy 290 252 oormaatsterftes weens natuurlike oorsake vanaf 3 Mei 2020 tot 8 Januarie vanjaar gemeet het.
Volgens Madhi het sowat die helfte van dié sterftes verlede jaar voorgekom in die derde vlaag, wat deur die Delta-variant van die virus gedryf is.
Volgens die SAMNR gebruik hy onder meer die sterftes op die nasionale bevolkingsregister en vergelyk dit met die geskiedkundige data van 2014 tot 2019 om te bepaal hoeveel oormaatsterftes plaasgevind het.
Die SAMNR sê omdat die geskatte oormaatsterftes op min of meer dieselfde tyd afneem wanneer die amptelike Covid-19-sterftes van die departement van gesondheid afneem, dui dit sterk daarop dat 'n "beduidende getal" oormaatsterftes aan Covid-19 toegeskryf kan word.
Dr. Cloete van Vuuren, kenner in oordraagbare siektes, sê die punt wat Madhi probeer tuisbring, is dat daar baie minder sterftes in die huidige Omikron-vlaag as in vergelyking met die Delta-vlaag plaasgevind het.
"Dit kan toegeskryf word aan faktore soos dat die gevolge van die Omikron-variant ligter as die voriges is, en omdat baie mense reeds beskerm was, hetsy deur inenting of deur vorige infeksie," sê Van Vuuren.
Madhi het vroeër aan Netwerk24 gesê 'n studie in Gauteng het gewys dat sowat 73% van die inwoners daar 'n mate van immuniteit teen die koronavirus opgedoen het.
Dr. Fareed Abdullah, direkteur van die kantoor vir vigs- en TB-navorsing by die SAMNR, sê in Gauteng - wat amptelik reeds uit die vierde vlaag is - was daar 90% minder sterftes in vergelyking met die vorige vlaag.
Hy wonder egter self waarom daar meer oormaatsterftes in sekere provinsies, soos die Oos-Kaap en Wes-Kaap, in vergelyking met ander voorkom.
"Dit kan wees dat sekere provinsies wat 'n erger Delta-vlaag gehad het, se inwoners beter beskerming teen die Omikron-variant het en daar dus minder sterftes is," sê Abdullah.
Volgens Van Vuuren is dit steeds belangrik dat mense hulle moet laat inent, omdat die Omikron-variant steeds sterftes en "lang-Covid" kan veroorsaak.
"Immuniteit deur inenting is baie beter as immuniteit wat deur natuurlike infeksie opgewek word," sê hy.
Volgens die jongste verslag van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios), is daar reeds amptelik 93 364 sterftes weens Covid-19 in Suid-Afrika aangemeld.
Sondag is daar 25 nuwe sterftes en 2 594 nuwe positiewe gevalle aangemeld, en die positiwiteitskoers was nasionaal sowat 10,6%, sê Nios.















