Die minister van gesondheid het Donderdag 'n nuwe geval van a-pokke, 'n virussiekte wat wêreldwyd groot kommer wek, bevestig.

Volgens dr. Joe Phaahla is dit die sesde geval en tweede sterfte in die land binne vyf weke.
'n 38-jarige man van Brakpan aan die Oos-Rand is Woensdag aan a-pokke dood nadat hy vroeër die dag positief getoets is. Hy is in 'n plaaslike hospitaal in die uMgungundlovu-streek, waar onder meer Mooirivier en Pietermaritzburg geleë is, in KwaZulu-Natal behandel.
Die departement werk met die provinsiale gesondheidsdepartemente van Gauteng en KwaZulu-Natal saam om verdere ondersoek in te stel.
Die pasiënt, wat ook MIV onder lede gehad het, het simptome van uitgebreide letsels, hoofpyn, moegheid, mondsere, spierpyn en 'n seer keel ervaar.
Phaahla beklemtoon die dringendheid van vroeë diagnose en behandeling. Hy het by monde van die departement se woordvoerder, Foster Mohale, gesê: "A-pokke is 'n voorkombare en behandelbare siekte as dit vroeg gediagnoseer word. Mense word versoek om fisieke kontak met iemand wat a-pokke het, te vermy en goeie handhigiëne en respiratoriese etiket te handhaaf."
A-pokke, aanvanklik bekend as aappokke, het sedert 2022 na minstens 100 lande versprei. In daardie jaar het Suid-Afrika vyf gevalle gehad, maar geen gevalle is verlede jaar aangemeld nie.
Netwerk24 het vroeër berig die variant wat in Suid-Afrika en oor die wêreld heen versprei verskil van dié in die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK). Die DRK, waar dit endemies is, loop straf onder a-pokke deur. Die virussiekte kan in dié land van diere na mense oorgedra word. Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siekte (Nios) het bevestig dat dit nie die geval in Suid-Afrika is nie.

Dr. Jacqueline Weyer, hoof van Nios se Sentrum vir Ontwikkelende Soönotiese en Parasitiese Siektes, het bygevoeg dat dit noodsaaklik is om nie stigma rakende hoërisikogroepe aan te vuur nie. "Ons land het 'n groot aantal MIV-gevalle wat dikwels nie behandel word nie, wat die siekte soveel ernstiger vir Suid-Afrikaners maak," het sy opgemerk.
Pogings om 'n a-pokke-uitbreking te beperk, sluit in kontakopsporing en bewusmaking onder hoërisikogroepe, het Phaahla Woensdag gesê. Hoewel daar tans geen geregistreerde behandeling vir a-pokke in Suid-Afrika is nie, het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) 'n behandelingsprotokol aanbeveel wat Tecovirimat betrek. Volgens Phaahla sou voorraad daarvan binnekort bekom word. Gesondheidswerkers en sekswerkers sal na verwagting voorkeur geniet met die entstof, wat die WGO aan Suid-Afrika sal skenk.
Dís hoe a-pokke oorgedra word, sê WGO
Volgens die WGO word a-pokke van een persoon na 'n ander oorgedra deur direkte kontak met aansteeklike vel of ander letsels, soos onder meer op geslagsdele of in die mond.

Verdere voorbeelde van die direkte kontak waarna die WGO verwys, sluit in:
• Om van aangesig tot aangesig te praat;
• Vel tot vel;
• Mond-tot-mond-soen;
• Orale seks of soen op enige plek op die lyf; of
• Respiratoriese druppels gedurende langdurige nabye kontak.
Die virus dring die liggaam binne deur brose of beskadigde vel, slymvliesoppervlaktes of die respiratoriese kanaal.
Dit kan veral maklik onder die lede van 'n huishouding versprei en diegene met verskeie bedmaats loop 'n groter risiko. Daarbenewens kan a-pokke opgedoen word van besmette voorwerpe soos linne of selfs die naald wat vir tatoeëermerke gebruik word, sê die WGO.
A-pokke is moeilik identifiseerbaar omrede dit soortgelyk aan ander infeksies en toestande lyk. Daarom is dit belangrik om so gou moontlik mediese hulp te kry al word waterpokkies, masels, sifilis, herpes of enige velinfeksies en -allergieë vermoed.
Apokke word volgens die WGO deur polimerasekettingreaksie-toetse by 'n laboratorium opgespoor.
Inentings kan help om infeksie te voorkom. Dit moet binne vier dae ná kontak, of 14 dae indien daar geen simptome is nie, toegedien word.
Entstowwe word ten sterkste aanbeveel vir diegene in hoërisikogroepe, soos gesondheidswerkers, sekswerkers en mans wat met mans seks het, mense met verskeie bedmaats, of mense met 'n kwesbare immuunstelsel.
Die virus is in 1959 in Denemarke by ape ontdek. Die eerste aangemelde menslike geval was in 1970 by 'n nege maande oue seuntjie in die DRK.
Volgens die WGO was dit teen 1980 uitgeroei en is inentings gestaak, waarna dit geleidelik weer in Sentraal-, Oos- en Wes-Afrika kop uitgesteek het. Toe volg 'n uitbreking oor die wêreld heen in 2022 en 2023.














