Gesondheid

A-pokke: 5 gevalle in SA, 1 dood

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Vyf gevalle van a-pokke is onlangs in Suid-Afrika aangemeld, waarvan een Maandag in die Tembisa-hospitaal in Gauteng dood is.

Volgens dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, is twee van die gevalle in Gauteng aangemeld en drie in KwaZulu-Natal. "Alle pasiënte is mans tussen die ouderdomme van 30 en 39 sonder enige reisgeskiedenis," het hy Woensdagoggend op 'n mediakonferensie in Pretoria gesê.

Dr. Joe Phaahla Foto: GCIS
Dr. Joe Phaahla Foto: GCIS

Al vyf gevalle is binne 'n maand aangemeld nadat daar verlede jaar landwyd geen gevalle was nie. A-pokke, aanvanklik bekend as aappokke, het in 2022 wêreldwyd uitgebreek. Toe het Suid-Afrika elk vyf gevalle gehad in Gauteng, Limpopo, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap.

Vanjaar op 8 Mei is 'n 35-jarige man van Sedibeng, Gauteng, positief getoets. Byna twee weke later is a-pokke by 'n 39-jarige man in die eThekwini-metro in KwaZulu-Natal gediagnoseer. Tien dae later is nog 'n geval in die kusprovinsie aangemeld, en op 3 Junie weer.

Volgens Phaahla is een man sedertdien uit die hospitaal ontslaan terwyl 'n ander in isolasie tuis is. Twee pasiënte word in hospitale behandel.

Dit blyk dat daar nie 'n verband tussen die pasiënte in die twee provinsies is nie en al vyf gevalle word ingevolge die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se riglyne as "ernstig" beskou.

"Die gevalle het mede-siektetoestande en val onder sleutelgroepe: mans wat seks met mans het."

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) het sedert die begin van die jaar 12 moontlike gevalle getoets. Waar 'n geval bevestig word, spoor Nios die persoon se kontakte op. In KwaZulu-Natal is 38 kontakte geïdentifiseer, waarvan die meeste (16) huishoudelik was. Verder was daar 10 hospitaalkontakte, 7 vriende en 5 bedmaats. In een geval het die man aangedui dat hy met verskeie mans en vroue seks gehad het. Pasiënte se privaatheid moet egter gerespekteer word, wat kontakopsporing kan bemoeilik.

Phaahla sê sy departement reik uit na organisasies met MIV-programme en wat met hoërisikogroepe werk met die hoop om bewustheid oor die virussiekte te bevorder.

Ons land het 'n hoë aantal gevalle van MIV wat dikwels nie behandel word nie, wat a-pokke soveel meer ernstig vir Suid-Afrikaners maak.

Hy waarsku egter teen enige stigma oor die hoërisikogroepe, wat sekswerkers insluit.

Pasiënte is meestal mans wat seksuele kontak met ander mans het, maar vroue is ook kwesbaar, sê hy.

Dit blyk dat dit wêreldwyd 'n tendens onder die gevalle is. "Verreweg die meeste manspasiënte het gesê hulle het met mans seks," sê dr. Jacqueline Weyer, hoof van Nios se Sentrum vir Ontwikkelende Soönotiese en Parasitiese Siektes. Maar Weyers sê "in 'n land soos die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) is daar bykans ewe veel gevalle onder mans en vroue".

Sy beaam dat stigma nie aangevuur moet word of ten koste van iemand se gesondheid moet kom nie.

"Ons land het 'n hoë aantal gevalle van MIV wat dikwels nie behandel word nie, wat a-pokke soveel meer ernstig vir Suid-Afrikaners maak."

Volgens Phaahla verskil die variant wat epidemies in die DRK is van dié wat in ander lande, onder meer Suid-Afrika, versprei. Weyers het bevestig dat a-pokke nie endemies in Suid-Afrika is nie. Dit beteken die virus kan nie van diere na mense oorgedra word nie.

Daar is nog geen planne om enige reisverbod in te stel nie, aangesien a-pokke nie soos griep in die lug versprei nie. Hierdie virussiekte word eerder deur direkte kontak en seks versprei.

Phaahla maan enigiemand wat 'n uitslag of blase opmerk om onmiddellik mediese hulp te kry, selfs al word waterpokkies vermoed. Mense met swak immuunstelsels loop die grootste risiko.

Entstof kom om a-pokke hok te slaan

Daar is tans geen geregistreerde behandeling vir a-pokke in Suid-Afrika nie. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het egter 'n behandelingsprotokol aanbeveel.

Die WGO is 'n voorstander van Tecovirimat, oftewel Tpoxx, vir die behandeling van ernstige gevalle, volgens Phaahla.

'n Beduidende simptoom van die a-pokke-virussiekte is blase op die vel. Foto: Getty Images
'n Beduidende simptoom van die a-pokke-virussiekte is blase op die vel. Foto: Getty Images

Die SA Gesondheidsprodukte-beheerraad (Sahpra) het reeds die groen lig vir 'n beperkte voorraad daarvan gegee, wat die WGO sal skenk. Phaahla hoop dat planne vir die entstof binne die komende dae gefinaliseer sal word.

"Ons voorneme is om 'n voorraad Tecovirimat-behandeling te bekom vir vinnige ontplooiing ingeval die huidige situasie tot 'n wyer uitbreking lei."

Daar sal egter nie massa-inentings soos met Covid-19 wees nie. Hoewel daar nog besin word oor presies watter groepe prioriteit hiervoor sal geniet, val die fokus tans op gesondheidswerkers en sekswerkers.

"Entstowwe sal gestoor en vanaf ons provinsiale depots versprei word."

Die WGO sê hy werk daaraan om a-pokke binne die volgende twee jaar heeltemal uit te wis.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM