Gesondheid

EFF, Outa verwerp ook NGV-wet

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die EFF en die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) het ook Woensdag uitgevaar teen die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) wat die middag deur die president bekragtig is.

Die EFF het gesê hy verwerp die wetgewing wat pres. Cyril Ramaphosa onderteken het en sal voortgaan om te veg vir universele gesondheidsdekking, wat nie gemik is op die maksimalisering van winste "aangedryf deur hebsug" nie.

"Die private sektor is nie 'n oplossing om gebroke openbare gesondheidsorg te herstel nie," luidens 'n verklaring wat die party die aand uitgereik het.

Pres. Cyril Ramaphosa onderteken Woensdag die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering. Foto: Gallo Images
Pres. Cyril Ramaphosa onderteken Woensdag die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering. Foto: Gallo Images

"As wetgewing het NGV te veel gapings en onbeantwoorde vrae en die ANC het versuim om talle voorleggings wat deur verskeie belanghebbers ingedien is, te aanvaar."

Die EFF het benadruk dat hy die land oor die deurvoer van die wetgewing gewaarsku het en dat dit sistemiese uitdagings in die staat se gesondheidsdienste ignoreer.

Dit word ook beskryf as 'n erkenning dat die ANC-regering misluk het om 'n nasionale gesondheidstelsel te bou wat inklusief en gratis is met 'n fokus op voorkoming, opvoeding en sorg.

Hy beskuldig die regering daarvan dat hy eerder probeer om gesondheidsorg aan die private sektor uit te kontrakteer om aan mag te klou.

"Die uitgaande regerende party gebruik so 'n belangrike ingryping, wat veronderstel is om ons mense waardige openbare gesondheidsorg te gee, vir politieke gewin."

Intussen hou die EFF vol dat die staat se gesondheidsorgstelsel heeltemal in duie gestort het.

Geriewe is in vervalle geboue en in die apartheidsera gebou, terwyl die regering sedertdien slegs om dit heen aangebou het, aldus die EFF.

Daarby loop gesondheidsgeriewe deur sonder betroubare watervoorrade en met personeeltekorte, terwyl korrupsie en wanbestuur die stand van sake vererger.

Outa het op sy beurt gesê hoewel universele gesondheidsorg noodsaaklik is, gaan NGV dit nie behaal nie en die regering skep valse hoop slegs weke voor die verkiesing.

Die organisasie het benadruk hy ondersteun die grondwetlike reg van alle Suid-Afrikaners om behoorlike sorg te ontvang ten volle.

Adv. Stefanie Fick, hoof van Outa se afdeling vir verantwoordbaarheid, sê daar is groot onsamehangendheid tussen die universele sorg wat die wetgewing nastreef en die werklikheid om dit in werking te stel.

Adv. Stefanie Fick Foto: Deaan Vivier
Adv. Stefanie Fick Foto: Deaan Vivier

"Ons land is op soveel vlakke in 'n krisis. Vir 'n stelsel van universele gesondheidsorg benodig jy voldoende finansiering en behoorlike bestuur, iets wat gebrekkig in dié stadium van die land se geskiedenis is."

Finansiering en bestuur is van die grootste bekommernisse van Outa nadat hy die wetsontwerp voorheen bestudeer het.

Volgens Fick is daar eenvoudig nie genoeg geld om dit wat die wetgewing voorstel, te bewerkstellig nie en daar is reeds 'n nasionale stelsel van gesondheidsorg wat deur wanbestuur en korrupsie uitgehol word.

"Wat gaan verhinder dat dit met NGV gebeur?"

Nog 'n bekommernis is die moontlike uittog van mediese beroepslui, wat die sukses van die skema op lang termyn kan kniehalter.

'n Beroep is op Ramaphosa gedoen om eerder met die hulp van verskeie kundiges in die sektor saam te werk om 'n haalbare model te ontwerp.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM