Gesondheid

Gerugte oor nuwe Covid-19-variant vals

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die departement van gesondheid het gerugte dat daar 'n nuwe Covid-19-variant kop uitgesteek het, in die kiem gesmoor.

Volgens Foster Mohale, woordvoerder van die departement, is die berigte wat op sosialemediaplatforms sirkuleer dat daar 'n nuwe Covid-19-Omicron-XBB-stam in die omtrek is, vals.

Luidens die berigte word mense aangeraai om gesigmaskers te dra weens die nuwe stam wat na bewering meer dodelik is en nie maklik in 'n toets bespeur kan word nie.

"Ons doen 'n beroep op lede van die publiek om waaksaam te wees en hierdie kwaadwillige inskrywings op sosiale media te ignoreer. Dit veroorsaak net onnodige paniek en verwarring, veral te midde van die huidige griepseisoen," waarsku Mohale.

"Die feit van die saak is dat Covid-19 steeds op relatief lae vlakke oor die land heen voorkom, net soos in ander dele van die wêreld."

Mohale sê daar is geen rede vir die publiek om paniekerig te raak nie omdat talle burgers 'n mate van immuniteit deur middel van die entstof sowel as die virus ontwikkel het.

Hy sê ook die huidige variant in die land is minder ernstig en minder aansteeklik.

"Die publiek moet aanhou om beskermende voorsorgmaatreëls in hul daaglikse lewe te implementeer, insluitend nie-farmaseutiese ingrypings wat hand-higiëne insluit. Dit sal ook help om die verspreiding van ander respiratoriese infeksies, waaronder griep, te voorkom.

"Die departement sal die publiek op hoogte hou soos en wanneer daar 'n toename is in siektegevalle wat veroorsaak word deur enige kommerwekkende virus of die uitbreek van enige siekte."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM