Stel jou voor jy lê in jou siekbed en daar rol 'n groot skerm op wiele by die deur in wat plegtig groet. Ja, jy het reg gesien: Jou dokter is 'n "masjien"!

By die Donald Gordon- akademiese hospitaal in Johannesburg is dit nie 'n toneel uit wetenskapsfiksie nie, maar 'n hedendaagse verskynsel.
Dr. John Tilley en sy teleteenwoordigheidsrobot maak 'n gedugte span. Dié longspesialis het in 2018 die eerste keer sy robotassistent se hulp ingeroep.
Die teleteenwoordigheid-toestel, wat nie 'n naam het nie en bloot na verwys word as "die robot", is in wese 'n mobiele skerm wat toegerus is met 'n kamera, mikrofoon en internetverbinding, wat Tilley in staat stel om van 'n afstand af met pasiënte te kommunikeer. "Dit is steeds 'n nuwe konsep hier, maar in die Verenigde State is dit taamlik algemeen," verduidelik hy. "Dit is ideaal vir 'n hospitaal soos ons s'n waar ons baie personeel het en dinge vinnig nagegaan moet word, veral snags."
Die robot is nie net 'n nuwigheid nie; dit is 'n noodsaaklikheid. "Ons doen baie rondtes, veral in die intensiewe eenheid. Dit raak moeilik om in die middernagtelike ure na die hospitaal te ry. Ons het dokters aan diens, maar soms wil jy net self die pasiënt sien."

Pasiënte ontvang die robot meestal goed, maar dit jaag sommige soms die skrik op die lyf.
"Die meeste mense reageer goed, maar jy het altyd een of twee wat nie juis opgewonde is nie," merk Tilley op. "Ons het altyd 'n ander personeellid wat die robot bekend stel om enige bekommernisse te verlig. Dit is nie asof die pasiënte my vir die eerste keer op hierdie manier ontmoet nie; dit is net 'n besoek."
Hy sê tegnologie vergemaklik sy werk, maar hoflikheid is ononderhandelbaar. Hy sal ten minste pasiënte persoonlik ontmoet en eers later sy robo-dok betrek. Slegte nuus en diagnoses word ook met die nodige menslikheid hanteer, beloof hy.
Tilley se eerste assistent, 'n intreevlak-model, het 'n paar jaar gelede die gees gegee en plek gemaak vir 'n meer gevorderde model wat dokters wêreldwyd "aanstel".
"Die nuwe een is baie groter en langer met 'n groter skerm," sê Tilley, en wys op die opgraderings. "Dit het ook beter sensors om te verhoed dat dit teen mense bots of by trappe val - hoewel dit dalk aanloklik sal wees om die robot te blameer as dit wel gebeur!" skerts hy.

Om die robot in te span was nie sonder uitdagings nie. Die hospitaal se internetverbinding is nie konstant of sterk genoeg vir die robot nie, maar Tilley het sommer self plan gemaak.
Hy het aanvanklik 'n 5G-roeteerder aan die agterkant van die robot vasgeplak, maar dit het databondels gesuip asof daar geen môre was nie. Tilley het dit mettertyd met 'n 4G-roeteerder met 'n meer beperkte internetsnelheid vervang.
Die koste van hierdie robotte is nog 'n struikelblok. "Die klein een was relatief goedkoop teen sowat R30 000. Maar die groter, meer gevorderde model uit Europa was aansienlik duurder."
Om dit in te voer was 'n stryd weens beperkings op die versending van litiumbatterye. Reëls en regulasies geld oor hoe, watter tipe en grootte litiumbattery versend mag word. Tilley het 'n koerierdiens gevra om die battery te verwyder, maar hulle het volstrek geweier. Wat van daardie robot duskant die waters geword het, weet nugter alleen.

Ten spyte van hierdie uitdagings glo Tilley dat dit die moeite werd is. Hy is ook nie gekant teen die gebruik van kunsmatige intelligensie (KI) nie. Hy glo nie KI bedreig sy werk nie, maar kan dit eerder verryk.
"Dit gaan nie daaroor om persoonlike besoeke te vervang nie, maar eerder om medici te help om diagnoses te maak en beter besluite vir ons pasiënte te neem."
Hoewel Tilley se robo-dok nie selfstandig is nie, maak dit 'n groot verskil. Dit is soos om 'n ekstra paar oë - en wiele - in die hospitaal te hê, al is Tilley tuis. Die robot kan selfs vanaf 'n slimfoon beheer word.
Personeel skerts in die gange oor pasiënte wat hul boeglam skrik wanneer die robo-dok groet. "Sommige dink hulle hallusineer!" sê 'n suster.
Volgende keer as jy by die Donald Gordon- akademiese hospitaal is en jy sien 'n skerm na jou rol, wees gerus: Dit is nie 'n hallusinasie nie. Dis net jou longspesialis wat aanmeld.

















