Die persentasie volwassenes oor die wêreld heen wat aan diabetes ly, het die afgelope drie dekades verdubbel, is in 'n studie bevind wat Woensdag gepubliseer is.
Die grootste stygings is in ontwikkelende lande.
Ongeveer 14% van alle volwassenes wêreldwyd is in 2022 deur dié ernstige gesondheidstoestand geraak, in vergelyking met 7% in 1990, volgens die nuwe ontleding in die mediese vaktydskrif The Lancet.
Met inagneming van die groeiende wêreldbevolking, het die span navorsers beraam dat meer as 800 miljoen mense nou diabetes het in vergelyking met minder as 200 miljoen in 1990.
Die syfers sluit beide die hooftipes diabetes in. Tipe 1 raak pasiënte van 'n jong ouderdom af en is moeiliker om te behandel omdat dit deur 'n insulientekort veroorsaak word. Tipe 2 raak hoofsaaklik middeljarige of ouer mense wat hul sensitiwiteit vir insulien verloor.
Verskillende lande se syfers is wisselvallig.
Die koers van diabetes het dieselfde gebly of selfs gedaal in sommige ryker lande, soos Japan, Kanada en Wes-Europese lande soos Frankryk en Denemarke, luidens die studie.
Volgens die navorsers word die las van diabetes en onbehandelde diabetes toenemend gedra deur lae- en middelinkomstelande. Een voorbeeld is dat 'n derde van vroue in Pakistan nou diabetes het in vergelyking met minder as 'n 10de in 1990.
Die navorsers het beklemtoon vetsug is 'n "belangrike drywer" van tipe 2-diabetes, net soos 'n ongesonde dieet.
Die gaping tussen hoe diabetes in ryker en armer lande behandel word, word ook groter.
Drie uit vyf mense ouer as 30 met diabetes, dus 445 miljoen volwassenes, het nie behandeling vir diabetes in 2022 ontvang nie, het die navorsers beraam.
'n Derde van diegene wat nie behandeling ontvang nie, woon in Indië.
In Afrika suid van die Sahara het slegs 5% tot 10% van volwassenes met diabetes in 2022 behandeling ontvang.
Sommige ontwikkelende lande soos Mexiko vaar goed wat behandeling betref, maar oor die algemeen word die globale gaping groter, sê die navorsers.
"Dit is veral kommerwekkend omdat mense met diabetes geneig is om jonger te wees in lae-inkomstelande en in die afwesigheid van effektiewe behandeling, loop hulle die gevaar van lewenslange komplikasies," sê Majid Ezzati van Imperial College London, wat 'n senior outeur van die studie is.
Dié komplikasies sluit in "amputasie, hartsiektes, nierskade, sigverlies of in sommige gevalle voortydige dood", het hy in 'n verklaring gesê. - AFP




















