Die ouditeur-generaal het druk op die Oos-Kaapse regering uitgeoefen nadat die provinsiale departement van gesondheid en van onderwys weer gekwalifiseerde ouditmenings gekry het.
Die provinsiale tesourie sal nou met dié twee beleërde departemente moet saamwerk om hul prestasie te verbeter, het Khuselwa Rantjie, woordvoerder van die provinsiale regering, gesê.
Tsakani Maluleke, die ouditeur-generaal, het onlangs die 2023-'24-oudituitkomste vir nasionale en provinsiale departemente bekend gemaak.
Luidens Maluleke se verslag het die kantoor van die Oos-Kaapse premier van 'n skoon oudit in 2022-'23 na 'n ongekwalifiseerde oudit met bevindings verswak.

Die provinsiale wetgewer, wat in Bhisho gesetel is, en die departement van sport, ontspanning, kuns en kultuur (DSRAC), het ook in 2023-'24 'n ongekwalifiseerde ouditmenings met bevindings gekry nadat hulle skoon oudits die vorige jaar gekry het.
Maluleke sê die wetgewer het versuim om sy verskaffers binne die vereiste 30 dae te betaal weens 'n beleid wat nie in pas is met wetlike vereistes nie.
Vyf provinsiale departemente het skoon oudits in die 2023-'24-evaluering behaal. Sewe het ongekwalifiseerde oudits met bevindings gekry.
Die departemente van gemeenskapsveiligheid, finansies, samewerkende regering en tradisionele sake, ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme en landelike ontwikkeling en landbouhervorming het skoon oudits ontvang.
Ander departemente wat ongekwalifiseerde oudits met ouditmening ontvang het, is openbare werke en infrastruktuur, maatskaplike ontwikkeling en menslike nedersettings.
Luidens Maluleke se verslag het eise vir mediese nalatigheid met R2,59 miljard afgeneem vanaf die vorige jaar, hoewel die impak daarvan beduidend bly aangesien die gesondheidsdepartement nie ten volle daarvoor kan begroot nie.
In 2023-24 is eise van R339,93 miljoen hiervoor betaal uit geld wat vir dienslewering begroot was.
Rantjie het die uitkomste as 'n "mengelmoes" beskryf.
Hulle moet hul hantering van dokumente verbeter en verslagdoeningstelsels implementeer. Die kan gedoen word deur tegnologie en databestuur te gebruik.
"Die provinsiale regering bly bekommerd oor die onderpresterende departemente, wat die departement van onderwys en gesondheid insluit. Ondersteuning sal van die premier se kantoor en die provinsiale tesourie aan dié departemente verleen word."
Maluleke sê die sewende politieke en administratiewe leierskap se verantwoordelikhede moet duidelik uiteengesit word en daar moet streng toesig oor finansiële bestuur afgedwing word. Sodoende sal die provinsiale regering sy deursigtigheid en aanspreeklikheid verbeter.
"Hulle moet hul hantering van dokumente verbeter en verslagdoeningstelsels implementeer. Die kan gedoen word deur tegnologie en databestuur te gebruik," sê sy.
- kyran.blaauw@media24.com


















