Die departement van gesondheid in Limpopo waarsku die publiek om waaksaam te wees teen malaria ná die onlangse swaar reën in groot dele van die provinsie.
Neil Shikwambana, woordvoerder van die provinsiale gesondheidsdepartement, sê die reën het 'n teelaarde vir die uitbroei van muskiete geskep.
Malaria is endemies in die noorde en die ooste van Limpopo, die Laeveld in Mpumalanga, die Krugerwildtuin en in dele van KwaZulu-Natal.
Die siekte, wat dodelik kan wees indien daar nie vinnig genoeg mediese hulp gekry word nie, is voorkombaar.
Malaria word veroorsaak deur 'n parasiet wat oorgedra word wanneer 'n wyfie anofelesmuskiet 'n mens byt.
Shikwambana sê in die 2024-'25-boekjaar is 557 malariagevalle en drie sterftes weens malaria in Limpopo aangemeld.
Die gesondheidsdepartement is soos vorige jare weer besig om geboue in veral die Vhembe- en die Mopani-distrik met gifstowwe te bespuit.
"Dit is 'n belangrike hulpmiddel om muskiete te verminder en sodoende die oordrag van malaria te voorkom," sê Shikwambana.

Die departement steun op gemeenskappe in die Vhembe- en die Mopani-distrik om as seisoenale werkers te help met die besproeiing van huise.
In die 2024-'25-boekjaar het 355 gemeenskapslede die departement gehelp om 1,16 miljoen huise met gifstowwe te bespuit.
Shikwambana sê die departement van gesondheid beplan om in die 2025-'26-boekjaar 'n bykomende 400 mense in diens te neem om te help met die bespuiting van huise. "Die vermeerdering van werkers sal help om meer geboue te bespuit, veral in gebiede waar inwoners die kwesbaarste is teen malaria."
Die simptome van malaria sluit in hoofpyn, lyfseer, koors, gewrigspyne, naarheid, diarree en moegheid. Dit word dikwels met griepsimptome verwar.
Die simptome kan tot 14 dae of selfs langer nadat 'n mens deur 'n muskiet gebyt is, begin wys.
Shikwambana raai mense aan om mediese hulp te kry indien hulle in 'n malariagebied was en daarna die simptome ervaar.
"Ons doen ook 'n beroep op mense om werkers van die departement van gesondheid toe te laat om hul huise en ander geboue met gif te bespuit."
Mense moet veral in die aand klere dra wat die vel bedek, onder muskietnette slaap en insekweerder gebruik, veral in die hoërisikogebiede, is van die departement se raad om muskietbyte te voorkom.
Diegene wat na gebiede reis waar malaria endemies is, moet voorkomende medisyne gebruik.




















