Dit is 'n skande dat die Oos-Kaapse gesondheidsdepartement se telefoonlyne al meer as 'n week buite werking is.
Dit was Jane Cowley, DA-LPW en die party se provinsiale woordvoerder oor gesondheid, se reaksie op die nuus dat die departement se noodtelefone sedert verlede Dinsdag buite werking is.
Mkhululi Ndamase, woordvoerder van die departement, het vandeesweek in 'n verklaring bevestig dat die telefoonlyne afgesny is weens uitstaande skuld aan die diensverskaffer. Die departement wil nie bekend maak hoeveel hy die diensverskaffer skuld nie.
Ndamase sê hulle het egter nou hul diensverskaffer genader om die telefoonlyne weer te koppel.
"Die departement het die diensverskaffer ook verseker dat hy enige uitstaande skuld aan die begin van die 2024-'25-boekjaar sal vereffen. Ons hoop dat die departement se verbintenis om die skuld teen April te vereffen 'n gunstige reaksie van die diensverskaffer sal kry."
Cowley het Dinsdag aan Netwerk24 gesê die departement kon die probleem sien kom het en kon maklik gereël het om geld uit nie-kritieke programme te onttrek om die skuld aan die diensverskaffer te vereffen.
Sy sê die departement moet meer proaktief optree. "Die feit dat hulle nie planne in plek gestel het nie, spreek boekdele oor die bestuur, gebrek aan beplanning en deurlopende wanadministrasie in die departement."
Mlungisi Mvoko, LUR vir finansies, het R30,1 miljard aan die gesondheidsdepartement vir die 2024-'25-boekjaar toegeken. Dit is die meeste naas die onderwysdepartement.
Oscar Mabuyane, Oos-Kaapse premier, het in sy provinsiale rede in Februarie gesê " 'n funksionele gesondheidsorgstelsel vereis betroubare infrastruktuur".
Die departement is gereeld in die kollig weens enorme eise vir mediese nalatigheid, wat oënskynlik voortdurend druk op die departement se begroting plaas.
Volgens Mabuyane was daar egter 'n aansienlike afname in hierdie eise. Hy sê die departement het in 2023 altesaam 200 eise gehad vergeleke met 2019 se 600 eise. "Ons het ook 'n afname van R2 miljard in mediese litigasiekoste gesien."
LEES OOK | Baba sterf in hospitaal: 'Hy het geskree, toe is dit skielik stil'















