
Meer as 67 kinders wat met onder meer 'n gesplete verhemelte gebore is, ontvang vandeesweek operasies ter viering van Mandela-maand.
Die Smile-stigting, Operation Smile South Africa en die Nelson Mandela-kinderhospitaal snoer tot Sondag kragte saam om kinders te laat opereer en hulle weer te laat glimlag.
Madiba het geglo die toekoms van die land is in kinders se hande en dit is die dryfveer agter die Smile-stigting wat al meer as 5 800 kinders gehelp het.
Onder hulle is Jessica du Plessis (14) van Pretoria, by wie Moebius-sindroom gediagnoseer is. Dié seldsame sindroom lei tot die verlamming van die gesigsenuwees.
Kinders met hierdie sindroom kan nie glimlag of hul oë knip nie en dit maak dit baie moeilik om te kommunikeer.
Jessica is ook met misvormde voete gebore. Sy is daarvoor geopereer en was die eerste 18 maande van haar lewe dikwels in die hospitaal weens 'n swak immuunsisteem.
Sy is in 2016 aan haar gesig geopereer en het vanjaar teruggekeer vir 'n operasie om haar glimlag meer simmetries te maak.
Tarri Parfitt, uitvoerende hoof van die Smile-stigting, sê mense kry elke jaar die geleentheid om Mandela deur positiewe dade te vier.
Kinders met langtermyngesondheidsprobleme is dikwels die teiken van boelies, wat tot isolasie lei. Die stigting en sy vennote werk saam om dié kinders se lewe te verbeter.
Die operasies word ook in die Charlotte Maxeke-hospitaal gedoen.















