Gesondheid

Suster abba pasiënte uit brandende Bfn-hospitaal

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Soos 'n ware heldin het suster Cynthia Jantjies (45) Sondag vier keer die trappe in die brandende Nasionale Distrikshospitaal in Bloemfontein opgehardloop, en elke keer nóg 'n pasiënt op haar rug uit die hospitaal gedra.

"Ek het drie vroue en een man, 'n TB-lyer wat in isolasie was, een vir een uit die saal met die trappe af op my rug geabba, terwyl die trane oor my gesig gebiggel het.

Suster Cynthia Jantjies (45), wat Maandag 'n bietjie kon rus ná Sondag se drama. Foto: Mlungisi Louw
Suster Cynthia Jantjies (45), wat Maandag 'n bietjie kon rus ná Sondag se drama. Foto: Mlungisi Louw

"Pasiënte in saal 5 het op die vloer in dik wolke rook gekruip waaraan hulle gestik het. Ander het uit hul beddens om hulp geskree en gehoes.

"Almal het gelyk om hulp geroep nadat hulle die verterende vlamme voor die venster gesien het wat die ruit aan skerwe laat spat het.

"Ek het met my asmapompie probeer help waar ek kon," sê Jantjies.

"Vandag sê ek net dankie, Here, dat ons al die pasiënte na veiligheid kon bring met hul suurstofmaskers en -silinders, kateters en binneaarse drup. Dat niemand gesterf het nie."

Jantjies was Maandagoggend by haar huis in Peter Swart in Bloemfontein, waar sy 'n bietjie rus en tot verhaal kom.

Jantjies sê sy sal die branddrama van Sondag nooit vergeet nie. Foto: Mlungisi Louw
Jantjies sê sy sal die branddrama van Sondag nooit vergeet nie. Foto: Mlungisi Louw

Haar spiere is nog styf en sy moes 'n Panado vir 'n hoofpyn drink.

Dis 'n dag ná die branddrama by die Nasionale Distrikshospitaal waarin 83 pasiënte blitsig gered moes word.

"Ek kon gisternag nie 'n oog toemaak nie, nadat ek Sondagaand nog tot agtuur by die hospitaal was."

Jantjies sê uit die kraamsaal, ook op die eerste verdieping, is 24 vroue gered, van wie party al hul babas by hulle gehad het en ander nog gewag het om te kraam.

Een vrou het van die skok Sondag buite in die snerpende koue gekraam. "Ons het 'n kombers om haar gehou sodat sy geboorte kon gee. Daarna is die 28-jarige ma en haar babatjie per ambulans na die Universitas- akademiese hospitaal geneem."

'n 82-jarige ouma in saal 5 is 'n uur voor die brand dood. "Ons het nog gewag dat hulle haar lyk kom haal, maar is bly dat ons haar lyk ook ongedeerd uit die hospitaal kon kry."

Ek het 'n superma, al dra nie alle helde mantels soos Superman nie.

Jantjies sê toe sy en ander verpleegkundiges Sondag ná 15:00 die groot vlamme buite die hospitaal gewaar en die bome wat brand, is sy dadelik na die grondvloer om die matrone te bel, wat die nooddienste ontbied het terwyl die hospitaal se noodplanne ook geaktiveer is.

Hulle het toe blitsig begin om pasiënte in hul beddens na buite te neem.

"Daar is kamers in die hospitaal wat deur die brand verwoes is," sê Jantjies. Ander sale het erge rookskade.

"My man, Mondé, 'n sersant by 44 Valskermbataljon, en drie kinders, Siphosethu (25), Anam (19) en Asami (10), het bekommerd op my gewag, want ek het nie gehoor toe hulle my bel om te hoor waar ek is nie," sê sy.

"Ek het 'n superma, al dra nie alle helde mantels soos Superman nie," sê Anam.

"Ek kan my nie 'n lewe sonder my ma voorstel nie. Wat sy gedoen het, dui op die aard van haar karakter en wie sy as persoon is."

• Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, sê daar kan rekenskap van al die pasiënte gegee word en almal is veilig. Hulle is uitgeplaas na hospitale, soos 3 Militêre Hospitaal in Tempe, die Pelonomi- tersiêre hospitaal, die dr. J.S. Moroka-distrikshospitaal, die Universitas-hospitaal, die Botshabelo-distrikshospitaal en die MUCPP-gesondheidskliniek.

Enigiemand met navrae oor waar pasiënte is, kan 051 403 9869 skakel.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM