Gesondheid

TB-gevalle neem toe in die Vrystaat

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Ná 'n toename in tuberkulose- (TB) gevalle in die Vrystaat die afgelope twee weke, het die provinsiale departement van gesondheid met 'n waarnemings- en gevallebestuurproses begin om die verspreiding daarvan in skole en 'n myn van AngloGold Ashanti in bedwang te hou.

In die Fezile Dabi-distrik in die Noord-Vrystaat was daar die afgelope twee weke 'n styging in twee subdistrikte, naamlik Ngwathe (Parys) en Moqhaka (Kroonstad), sê Mondli Mvambi, woordvoerder van die departement, in 'n verklaring.

Die meeste van die bevestigde gevalle is in Moqhaka by die Kopanong-goudmyn (13 gevalle) en die Reaitumela Primary School (39) in Kroonstad.

Dié getalle kan verander namate die uitslag van meer laboratoriumtoetse ontvang word, sê Mvambi.

In Ngwathe is agt gevalle in drie skole in Parys aangemeld - die Yakhisizwe Secondary School, die Botjhabatsatsi Primary School en die Lister Skhosana Primary School.

Al die gevalle wat by die skole opgespoor is, is op behandeling geplaas en hul kontakte is op TB-voorkomende medikasie.

Foto ter illustrasie. Foto: Getty Images
Foto ter illustrasie. Foto: Getty Images

Die situasie word daagliks gemonitor.

Al 13 bevestigde gevalle by die myn is op behandeling, kontakte is getoets en die Dr. Kenneth Kaunda-streek in Noordwes is gevra om die kontakte op te spoor van die vier mynwerkers wat hier woon.

"Dit is belangrik om nie paniek onder die gemeenskap aan te blaas nie, maar om mense eerder bewus te maak en op te voed oor wat TB is en wat gedoen kan word om die verspreiding daarvan aan bande te lê; en ook oor wat om te doen wanneer iemand dit opgedoen het.

"TB is geneesbaar as die geïnfekteerde persoon hul behandeling van begin tot einde neem," sê Mvambi.

Die simptome sluit die volgende in:

• 'n hardnekkige gehoes waarvoor medikasie nie help nie; • onverklaarbare moegheid;

• borspyne;

• verlies van aptyt;

• skielike gewigsverlies; en

• sweet of koorsigheid deur die nag, selfs al is dit koud.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM