Gesondheid

Vetsug het meer om die lyf as net LMI

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Ter illustrasie.  Foto: Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Getty Images

Dokters wêreldwyd moet vetsug anders diagnoseer, staatmaak op breër kriteria en in ag neem wanneer dit siektetoestande veroorsaak, volgens 'n nuwe raamwerk wat deur kenners opgestel is en deur 76 internasionale mediese organisasies ondersteun word.

Tans gebruik klinici liggaamsmassa-indeks (LMI) om vetsug te diagnoseer - 'n berekening gegrond op 'n persoon se gewig en lengte. Hierdie hulpmiddel is egter nie akkuraat genoeg nie en hulle moet ook ander metings neem, soos middellyfomtrek, om wanvoorstelling te voorkom, sê die 56 kenners wat in die wêreldwye kommissie gedien het.

Volgens AFP het die kenners ook die inagneming van die verhouding tussen die middellyf en heup en selfs skanderings van beendigtheid voorgestel.

Luidens 'n artikel wat Dinsdag in die vaktydskrif The Lancet: Diabetes and Endocrinology gepubliseer is, sê die kommissie vetsug moet ook in twee kategorieë verdeel word: "kliniese vetsug" en "voor-kliniese vetsug".

Kliniese vetsug behels oormatige liggaamsvet sowel as simptome van verminderde orgaanfunksie, soos kortaseheid of hartversaking, of probleme om met die daaglikse lewe aan te gaan. Dit moet as 'n chroniese siekte beskou en dienooreenkomstig behandel word, stel die kenners voor.

Voor-kliniese vetsug is vetsug of oormatige liggaamsvet, maar met normale orgaanfunksie en sonder enige tekens van deurlopende siekte. Dit moet as 'n risikofaktor beskou word, vir kliniese vetsug en anverwante siektes soos diabetes, en pasiënte moet ondersteun word om daardie risiko te verminder, hetsy deur middel van monitering of aktiewe behandeling, sê die kommissie.

"Vetsug is 'n spektrum," het Francesco Rubino, voorsitter van die kommissie en 'n professor aan King's College Londen, op 'n mediakonferensie gesê.

Daar word geskat meer as 1 miljard mense oor die wêreld heen het vetsug. Die kenners sê hulle het ten doel om die diagnose meer presies te maak, wat kan help om gesondheidsorgbronne beter te gebruik.

Hulle sê dit is nog onduidelik of dit daartoe sal lei dat meer of minder mense gediagnoseer sal word, maar hulle hoop dit sal die polariserende debat binne die mediese instelling beslis oor of vetsug 'n siekte is of nie.

"Ons kan dit nie bekostig om 'n vae prentjie van vetsug te hê nie," sê Rubino.

Die kommissie hoop sy aanbevelings help om verby die skuld en diskriminasie te beweeg wat dikwels met debatte oor vetsug verband hou.

"Die idee van vetsug as 'n siekte is die middelpunt van een van die mees omstrede en polariserende debatte in moderne medisyne," lui die artikel.

Aan die een kant is dit bekend dat vetsug tot 'n verhoogde risiko van tipe 2-diabetes, hartsiektes, sommige kankers en ander gesondheidsprobleme lei. Dit is hoekom onder andere die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) dit as 'n "chroniese komplekse siekte" beskou.

Aan die ander kant is daar ook baie mense wat as vetsugtig geag word terwyl hulle min of geen onderliggende gesondheidsprobleme het en aktiewe, gesonde lewens lei. Aktiviste wat veldtogte teen vetvernedering voer, wil byvoorbeeld nie hê dat mense met vetsug outomaties as siek beskou word nie.

Ander pasiënte en dokters glo weer dat vetsug wel as 'n siekte beskou moet word sodat dit die aandag en beleid kry wat nodig is vir so 'n groot openbaregesondheidskwessie.

Die riglyne is ondersteun deur organisasies waaronder die American Heart Association en die Chinese Diabetes Society, sowel as die World Obesity Federation.

Kundiges van die WGO het gedien in die kommissie, wat in 2019 begin werk het.

Ons hoop dit lei tot 'n verandering in praktyk en miskien selfs voor dit, 'n verandering in denke.

—  Prof. Francesco Rubino

Die opkoms van 'n klas medikasie bekend as GLP-1-reseptor-agoniste, insluitend Ozempic, het sedertdien die landskap verander, maar die gebruik van die medisyne was nie die kommissie se fokus nie, sê Rubino.

Hy sê egter duideliker diagnosering, indien dit wêreldwyd deur gesondheidstelsels aanvaar word, kan help om dokters op grond van individuele risiko te laat besluit wanneer om dit ten beste voor te skryf.

Die kommissie sê verder dit kan beteken dat gesondheidsversekeraars kan oorweeg om die medisyne vir kliniese vetsug as 'n selfstandige siekte te dek. Baie vereis tans dat 'n ander verwante toestand, soos diabetes, teenwoordig is.

"Ons hoop dit lei tot 'n verandering in praktyk en miskien selfs voor dit, 'n verandering in denke," sê Rubino.

Sommige navorsers wat nie by die kommissie betrokke was nie, het die aanbevelings verwelkom terwyl ander nie so optimisties daaroor is nie.

Sylvie Benkemoun, 'n sielkundige wat die Franse groep Reflection on Obesity and Being Overweight lei, het aan AFP gesê die aanbevelings "is nie genoeg nie, selfs al het hulle die meriete om 'n bespreking te begin".

Sy het kommer uitgespreek dat die kenners min gesê het oor die sorg wat aan pasiënte met vetsug gegee word en dat dit onwaarskynlik is dat die aanbevelings veel aan die houding van versorgers sou verander. - Reuters, AFP

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM