Dit is belangrik dat alle Suid-Afrikaners wat met MIV/vigs leef, toegang het tot uitstekende mediese sorg, behandeling en ondersteuningsprogramme, sê adj.pres. Paul Mashatile.
Mashatile, wat ook voorsitter is van die Suid-Afrikaanse Nasionale Vigsraad (Sanac), het Sondag met die herdenking van Wêreldvigsdag mense by die Sisa Dukashe-stadion in Mdantsane in die Oos-Kaap toegespreek.
"Die tema van vanjaar se herdenking is ‘Gelyke Regte, Gelyke Sorg', waartydens 'n beroep gedoen word op billike, waardige en gelyke toegang tot gesondheidsorg vir alle Suid-Afrikaners, ongeag hul ekonomiese status, geslag, etnisiteit of seksuele oriëntasie," het Mashatile gesê.
"Daarbenewens beklemtoon die tema die intrinsieke waardigheid en waarde van elke individu wat deur MIV/vigs geraak word."

Volgens Mashatile is die regering vasbeslote om die beskerming van alle Suid-Afrikaners se regte te verseker deur toegang tot dieselfde vlak van sorg te verseker in ooreenstemming met die beginsels met die model van Nasionale Gesondheidsversekering (NGV).
Hoewel Suid-Afrika die afgelope paar jaar aansienlike vordering maak om die MIV/vigs-epidemie te bekamp, bly die land die episentrum daarvan.
"Daar is byna 8 miljoen mense wat met MIV leef, en TB bly die grootste oorsaak van sterftes, wat ongeveer 56 000 lewens per jaar eis. Ons moet altyd bewus wees van die feit dat MIV nie net 'n openbare gesondheidskrisis is nie, maar ook 'n ontwikkelingsuitdaging en 'n menseregtekwessie. Ons benaderings moet omvattend, gerig, inklusief en geo-spesifiek wees."
Hy het gesê die MI-virus kom wyd voor onder jong mense, veral tienermeisies en jong vroue tussen die ouderdomme van 15 en 24. Daar word weekliks 1 300 nuwe gevalle in hierdie groep aangemeld.
"Die infeksiekoers onder seuns en jong mans in dieselfde ouderdomsgroep is amper drie keer minder, wat beteken dat meisies meer kwesbaar is vir MIV-infeksie."
Groter ingryping is dus nodig om meisies en jong vroue te help.
"Ons het boodskappe nodig wat by jong mense aanklank vind. Ons kan nie die een-grootte-pas-almal-benadering gebruik nie, want jong mense moet verstaan word, na geluister word, hul eie ruimte hê en die boodskap kry in die taal wat hulle verstaan.
"In plaas daarvan om hulle weg te stoot, kom ons bring hulle nader, wat dit vir hulle makliker maak om mediese sorg te soek en medikasie te neem wanneer nodig," het Mashatile gesê.



















