2025-08-28 08:30:10
Uitspraak vandag verwag
Amber Lee Hughes, die voormalige kleuterskooljuffrou wat uiteindelik beken het dat sy Nada-Jane Challita in ’n bad verdrink het, sal vandag hoor of die hof haar weergawe glo dat die moord nié vooraf beplan was nie.
Die saak is vroeër uitgestel vir uitspraak, waar regter Richard Mkhabela moet bevind of die moord van die vierjarige dogtertjie met voorbedagte rade gepleeg is, of nie.
Dié beslissing sal die verskil beteken of die voorgeskrewe minimum vonnis van lewenslange tronkstraf vir moord met voorbedagte rade opgelê word, of ’n ligter vonnis vir moord wat “impulsief” gepleeg is, soos wat Hughes beweer.
Voorts moet die hof uitspraak gee of Hughes ook skuldig is aan verkragting, waar die staat beweer dat ’n voorwerp – soos ’n vinger – gebruik is om die kind te penetreer. Die partye het vroeër almal saamgestem dat die tweede aanklag van anale verkragting nie bewys is nie. Hughes het oorspronklik ontken dat sy op 23 Januarie 2023 haar destydse kêrel, Eli Challita, se kind in ’n bad vol water verdrink het. Nadat sy lank – ook toe sy self getuig het – met dié weergawe volgehou het, het sy in Julie vanjaar, kort nadat sy/haar pa ’n nuwe private regsverteenwoordiger aangestel het, erken dat sy daardie dag so woedend en “seer” was oor Challita se beweerde “ontrou”, dat sy bo-op Nada-Jane in die bad gaan sit het om te sorg dat die lyfie heeltemal onderdompel is.
Sy het só bly sit in die water totdat Nada-Jane ophou spartel het.
’n Patoloog het destyds getuig dat daar vingermerke op die dogtertjie se gesiggie was, soortgelyk aan dié van iemand wat daar gedruk het om haar kop onder water hou.
Hughes ontken egter steeds die beweerde verkragting.
Die staat voer aan dat die beskuldigde daardie dag die enigste persoon saam met die slagoffertjie was aangesien Challita vroeg die oggend al na Polokwane vertrek het.
Hughes se nuwe regspan het betoog dat ander mense wel voor en ná die moord by Nada-Jane was, met die insinuasie dat iemand anders ook die geleentheid kon hê om die dogtertjie te verkrag.
Die beskuldigde is sedert die dag van die voorval in aanhouding.
2025-08-28 09:38:59
Skuldig aan moord met voorbedagte rade
Amber Lee Hughes is Donderdag skuldig bevind op 'n aanklag van moord met voorbedagte rade. Regter Richard Mkhabela het in sy uitspraak in die hooggeregshof in Johannesburg gesê dit is die enigste afleiding wat gemaak kan word op grond van die getuienis. Hughes is ook skuldig bevind op een aanklag van verkragting.
2025-08-28 09:50:59
Hughes 'was nie geloofwaardige getuie'

Regter Richard Mkhabela het Donderdag in sy uitspraak gesê Amber Lee Hughes was nie 'n geloofwaardige getuie nie. As die hof kyk na die ander getuienis van onder andere Elie Challita en die forensiese patoloog, is die enigste afleiding dat Hughes wel vir Nada-Jane wou seermaak, die bad voller as nodig getap het, en Nada-Jane verdrink het om haar pa se hart "te brand".Dit was vermoedelik om dieselfde rede wat sy die dogtertjie vaginaal verkrag het. Hughes is onskuldig bevind op die aanklag van anale verkragting. Die saak word uitgestel vir voorvonnisverslae en -getuienis.Foto: Melinda Stuurman
















