Die vakbond Solidariteit het Dinsdag 'n saak van minagting sowel as 'n aansoek vir lasbriewe van eksekusie teen Black First Land First (BLF) ingedien nadat die politieke beweging versuim het om om verskoning te vra en kompensasie aan slagoffers van die Hoërskool Driehoek-tragedie te betaal.
Dit volg nadat Lindsay Maasdorp, oud-woordvoerder van die BLF, onder meer in Maart deur die gelykheidshof in Johannesburg skuldig bevind is aan haatspraak.

Maasdorp het uitlatings gemaak op sosiale media oor die ramp wat op 1 Februarie 2019 by Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark afgespeel het toe 'n loopbrug in duie gestort het. Vier leerlinge is dood en talle ander is ernstig beseer. BLF-lede het onder meer gesê het die dood van vier leerlinge van die skool was " 'n goddelike ingryping om van toekomstige probleme ontslae te raak".
Maasdorp en die BLF is beveel om R50 000 aan die ouers van elkeen van die slagoffers in die saak te betaal en hulle moes die ouers om verskoning vra vir hul uitlatings. Tot dusver het hulle nie een van die bevele nagekom nie.
"Die uitsprake van Maasdorp en die BLF was skreiend en die lyding van die ouers wat hul kinders op daardie dag verloor het, is ondenkbaar," sê Anton van der Bijl, hoof van regsake by Solidariteit.
"Sulke walglike gedrag kan hoegenaamd nie verskoon word nie. Deur die hofbevel te minag, ondermyn die BLF nie net die gesag van die regsbank nie, hulle toon geen respek vir die kinders wat hul lewens verloor het nie en hulle vererger die ouers se leed," sê Van der Bijl.
Andile Mngxitama, BLF-leier, sê dat die BLF nie die blaam kan dra vir die uitlatings van voormalige lede van die organisasie ná die dood van die leerlinge in die brugtragedie nie.
"Die BLF maak nie deel uit daarvan nie," sê hy.



















