Die Valke het Woensdag met slegs 'n paar ou hoofstukke van The President's Keepers en 'n rolprentkontrak by sy huis weggestap, sê Jacques Pauw, ondersoekende joernalis en skrywer van die topverkoperboek.
"Die hele ding was absoluut belaglik," het Pauw ná die klopjag gesê.
"Ek het verwag om hulle (die Valke) hier te sien. maar beslis nie in Februarie 2018 nadat die politieke bedeling verander het nie."

Volgens Pauw het Arthur Fraser, direkteur-generaal van die Staatsveiligheidsagentskap (SVA), 'n klag teen hom by die Lyttleton-polisiekantoor aanhangig gemaak.
Fraser, wat in Pauw se boek betrek word by 'n sogenaamde parallele intelligensiediens, het ook vroeër in sy persoonlike hoedanigheid Pauw met regstappe gedreig omdat hy "leuens oor hom versprei".
"Watter rede het die Valke se eenheid vir misdade teen die staat (Cats) om my te ondersoek? Dit is onsinnig," sê Pauw.
"Ek is egter bekommerd dat die Valke steeds die mag het om joernaliste se werkplekke te deursoek. Dit alles sê vir my dat, hoewel daar 'n verandering in die politiek was, dit nie noodwendig na die polisiedienste deurgesypel het nie."
Pauw sê dit bekommer hom dat daar skynbaar steeds hooggeplaaste bevelvoerders by die Valke is wat maak en breek soos hulle wil.
Hulle kan weer en weer en weer en weer terugkom, maar hulle sal steeds niks kry nie.
Pauw sê hy het reguit vir die ondersoekers gevra of hulle werklik dink hy hou geheime dokumente by sy huis. Hulle het glo sonder sukses probeer uitvind waarvandaan hy wel sy werk doen.
"Hulle kan weer en weer en weer en weer terugkom, maar hulle sal steeds niks kry nie," sê Pauw.
Pauw het tevore ook onder skoot gekom van die SVA, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en lt.kol Reuben Govender wat hom probeer dagvaar het om homself by die Durbanse polisiekantoor te gaan aanmeld.
In sy boek beskuldig Pauw die omstrede sakeman Roy Moodley daarvan dat hy gereelde betalings aan sy "vriend" oudpres. Jacob Zuma gemaak het.
Govender het 'n lasbrief bekom nadat Moodley 'n klag teen Pauw ingedien het.
Die Durbanse landdros Irfaan Khallil het egter tydens 'n ongewone laatmiddagverhoor die lasbriewe gekanselleer en die ondersoek aan brig. Andre Holby, hoof van die provinsiale kommersiële misdaadeenheid en waarnemende provinsiale hoof van algemene ondersoeke, oorhandig.
Brig. Hangwani Mulaudzi, Valke-woordvoerder, kon nie dadelik vir kommentaar bereik word nie.



















