Byna drie jaar nadat twee maatskappye 'n lonende tender van meer as R24 miljoen losgeslaan het om 19 roltrappe by die O.R. Tambo-lughawe aan die Oos-Rand op te knap, eis hulle meer as R5 miljoen van die staat - al is daar glo nie 'n steek werk gedoen nie.
Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) het dié gesamentlike bod in November 2019 toegeken aan die maatskappy van Thuli Setlhake (44), 'n beweerde vertroueling van adj.pres. Paul Mashatile. Volgens Acsa was haar vennootskap die enigste bieër wat aan die vereistes voldoen het.

'n Bron in die ANC se binnekring beweer Mashatile en dié Johannesburgse sakevrou het al langer as agt jaar 'n nabye verhouding en beskryf haar as 'n "briljante jong vrou met 'n kop vir sake".
Setlhake was glo gereeld by wanneer Mashatile en sy vennote by The Winebank in Melrose Arch bymekaargekom het, beweer dié bron verder. "Wanneer ons ernstige sakevergaderings gehad het, was sy by."
Die eksklusiewe restaurant het intussen gesluit, maar News24 berig dit was eens die adjunkpresident se gunsteling-uithangplek. Lidmaatskap hier kon jou destyds glo tot R300 000 per jaar uit die sak jaag.

'n Ander prominente sakeman in die roltrap- en hysbakbedryf het by navraag aan Netwerk24 bevestig Setlhake het hom in 2019 by die einste bymekaarkomplek voorgestel aan Mashatile, wat toe nog die ANC se tesourier-generaal was.
Sedert Mashatile in Maart vanjaar as Suid-Afrika se adjunkpresident ingehuldig is, het die openbare soeklig op sy beweerde rykmanslewe verskerp.
Netwerk24 het onlangs die luukse lewe van die sakevennote van Mashatile se kinders onthul. News24 het berig Mashatile woon in 'n peperduur huis van R37 miljoen wat geregistreer is in die naam van 'n maatskappy waarvan sy seun en skoonseun die direkteure is.
LEES OOK | Die luukse lewe van Mashatile-seuns se sakevennote
Die R24 miljoen-bod
Oor die toeken van die Acsa-opknappingskontrak aan 'n vermeende vertroueling van Mashatile, sê 'n woordvoerder dat hy nie op bewerings deur derde partye kommentaar gaan lewer nie en dat die gekose vennootskap die enigste bieër was wat aan die nodige vereistes voldoen het.
Vukani Mde, Mashatile se woordvoerder, het nie op Netwerk24 se versoek om kommentaar oor Mashatile se beweerde nabye verhouding met Setlhake kommentaar gelewer nie.
Die tender is in November 2019 aan K Elevators Installations and Maintenance, waarvan Setlhake die enigste direkteur is, in vennootskap met Geco Lifts toegeken.
K Elevators kon nie alleen bie nie omdat hy nie die nodige gradering van die ontwikkelingsraad van die konstruksiebedryf (CIDB) vir dié omvangryke projek gehad het nie, vertel nog 'n bron. Dit is hoekom K Elevators die meer ervare Geco Lifts as vennoot genader het.
Dit is so dat Setlhake hom genader het omdat K Elevators nie die nodige "papierwerk" gehad het nie, het Basil Chetty, grootbaas van Geco Lifts, telefonies in die eerste van twee telefoniese gesprekke aan Netwerk24 bevestig.

In 'n brief in Netwerk24 se besit, skryf Chetty dat hy K Elevators aangestel het om die voortou te neem met die roltrappe se opknapping. Chetty het egter aan Netwerk24 gesê hy onthou nie die brief of die datum waarop hy dit gestuur het nie.
'n Acsa-woordvoerder het per e-pos geskryf die lughawensmaatskappy het sover sy kennis strek nooit die brief onder oë gehad nie en dat hulle nie kan kommentaar lewer op Geco Lifts se beplande deelname aan die konstruksie nie.
In die eerste oproep met Chetty sê hy daar was nooit 'n begindatum vir die projek nie en dat dit nooit die plan was dat Geco Lifts enige werk by die O.R. Tambo-lughawe sou doen nie.
"Nee, ons het nooit die projek gedoen nie. Ek dink K Elevators sal baie beter kan verduidelik hoekom, maar die Covid-pandemie het veroorsaak dat die werk gestaak is," het Chetty gesê.
Setlhake het nie haar telefoon geantwoord toe Netwerk24 haar probeer bel het nie. 'n WhatsApp-boodskap met uitgebreide vrae is gelees, maar nie op gereageer nie.
Voorgestelde R5 miljoen-skikking
Volgens Acsa is die werk aan die roltrappe vertraag weens die vennootskap se aanvanklike onvermoë om die nodige prestasieversekering te kry asook die bouersvakansie wat tot in Januarie 2020 gestrek het.
Die woordvoerder skryf verder dat die Covid-19-pandemie die lugvaartbedryf swaar getref het en dat dit beduidende finansiële en bedryfsimplikasies gehad het. Acsa het bestaande projekte herbeding om seker te maak dat hy kop bo water kan hou.
Volgens Acsa het hy K Elevators en Geco Lifts in Maart 2021 gevra om aan die projek te begin werk, maar dié maatskappye het toe gesê die koste het intussen só gestyg dat hulle om 'n groter bedrag moes beding.
Acsa was in dié tyd ook genoodsaak om weens finansiële druk verskeie kontrakte met diensverskaffers te beëindig. Toe onderhandelinge met die vennootskap 'n dooiepunt bereik, het hulle 'n dagvaarding uitgereik om die koste, wat hulle na bewering reeds aangegaan het, van Acsa te verhaal.

In die eerste telefoongesprek met Chetty het hy ontken dat hy kennis dra van 'n e-pos waarin Acsa 'n skikkingsbedrag van meer as R5 miljoen voorstel. In die tweede telefoongesprek het hy bevestig Geco Lifts neem aan die hofgeding deel en het hy onderneem om die lys van die beweerde koste wat die maatskappye reeds vir die lughaweprojek aangegaan het, vir Netwerk24 te stuur.
Dit is egter nooit gedoen nie.
In 'n opvolgboodskap om weer vir die lys beweerde uitgawes te vra, het Chetty via WhatsApp geskryf: "Ongelukkig kan ons nie met jou skakel nie, net met Acsa."
Netwerk24 verneem 'n deel van dié uitgawes wat die vennootskap aanvoer reeds aangegaan is, is 'n betaling van sowat $477 000 (in 2021 was dit sowat R7 miljoen) aan 'n Chinese vervaardiger, Suzhou Towards Elevators Co Ltd., wat glo al in Desember 2021 die 19 roltrappe gemaak het.
Netwerk24 het Crystal Li Xin van dié maatskappy in China gebel en haar kommentaar gevra oor die bewering dat sy 'n brief geskryf het waarin sy aanvoer dat die roltrappe reeds vervaardig is sodat Acsa die vennootskap sou moes vergoed vir die koste wat aangegaan is.
"Ja, ons het 'n vervaardigingsbrief vir hulle geskryf, maar die toerusting is nog nie afgelewer nie."
Toe Netwerk24 haar verder pols vir duidelikheid oor die status van dié projek, het Crystal gesê dis 'n saak tussen haar en K Elevators, haastig totsiens gesê en die foon neergesit.
In 'n opvolgboodskap om die kwessie uit te klaar, het Netwerk24 per WhatsApp gevra of die roltrappe reeds vervaardig is en hoekom dit nog nie in Suid-Afrika afgelewer is nie.
Crystal wou eers weet wie haar kontakbesonderhede aan Netwerk24 verskaf het en het toe aangedui sy gaan nie kommentaar hierop lewer nie.
• Hierdie ondersoekende artikel is gedoen in samewerking met Waarheid Eerste, 'n maatskappy sonder winsbejag wat ondersoekende joernalistiek bevorder.













