Die Valke en die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het die hoofsaaklik verwerpte beweringe oor die sogenaamde "rogue unit" in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) weer laat herleef deur drie voormalige betrokkenes strafregtelik aan te kla.
Die drie destydse hoës van die SAID wat betrokke was by die hoërisiko-ondersoekeenheid is Vrydag gedagvaar om op 8 April in die streekhof in Pretoria te verskyn weens oortredings van die sg. Rica-wet, oftewel die Wet op die Reëling van Onderskepping van Kommunikasies en Kommunikasie-verwante inligting.
Die drie is Ivan Pillay, destydse adjunkkommissaris van die SAID, Johann van Loggerenberg, toe hoof van ondersoeke en leier van die "rogue unit", en Andries Janse van Rensburg, ook bekend as Skollie en Van Loggerenberg se voorganger as hoof van die eenheid.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het bevestig dat die drie Vrydag gedagvaar is vir dié hofverskyning.
"Ja, hulle is vandag gedagvaar oor bewerings van oortredings van die Rica-wet en bewerings van korrupsie," het Mulaudzi gesê.
Hy het bevestig dat die dagvaardings verband hou met die SAID-intelligensiesending genaamd Project Sundays.
Mulaudzi het gesê dat twee van die dagvaardings in Pretoria bedien is en die ander in Kaapstad op die regsverteenwoordiger van die derde persoon, omdat dié op reis is.
Op 'n vraag of Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings en 'n vorige kommissaris van die SAID, ook gedagvaar gaan word soos gerugte dit wil hê, het Mulaudzi gesê dat "daar nie so iets is nie".
Dit is welbekend dat die Valke die voormalige eenheid sowel as Gordhan ondersoek het vir spioenasie en die beweerde onwettige onderskepping van inligting. Die ondersoek is erg gekritiseer as sou dit as politieke wapen teen Gordhan gebruik word.
Met die dat Pillay en Van Loggerenberg aangekla is, wonder talle of die NVG se volgende teiken Gordhan gaan wees.
Die Valke se ondersoek na Gordhan se beweerde rol in die intelligensie-eenheid wentel rondom Project Sunday Evenings.
In die vraelys wat die Valke in 2016 aan Gordhan gestuur het, was 'n spesifieke vraag oor dié beweerde onwettige spioenasie-operasie.
News24 het verneem dat Tom Moyane, kommissaris van inkomste, en sy adjunk, Jonas Makwakwa, twee van die staat se getuies in die saak is.
Onder die reeks artikels wat die Sunday Times in 2014 oor die eenheid gepubliseer het, was daar berigte oor Project Sunday Evenings, 'n beweerde spioenasie-sending waartydens lede van die eenheid glo meeluistertoerusting in die kantore van die NVG in Pretoria geplant het. Die berigte is later deur die Persombud verwerp en die koerant het van die berigte teruggetrek.
Die beweerde meeluistering het volgens die koerant in 2007 plaasgevind en is na bewering deur Pillay goedgekeur.
Project Sunday Evenings is na bewering deur Janse van Rensburg bedryf, 'n voormalige spioen wat die eerste hoof van die sogenaamde "rogue unit" was.
Die dagvaardings stel dit duidelik dat Pillay en Van Rensburg aangekla word van meeluistering deurdat hulle Helgaard Lombard gekry het om tussen Junie en November 2007 kommunikasie in die kantore van die direktoraat van spesiale operasies en die NVG te onderskep sonder dat dit deur 'n regter ingevolge die nodige wetgewing goedgekeur is.
Die twee word ook van korrupsie aangekla.
Volgens die klagstaat het hulle in Augustus of September 2008 onwettig R100 000 aan Lombard vir sy werk betaal.
Volgens die Sunday Times se aanvanklike berigte was die motief van die meeluistering op die NVG om uit te vind hoe vorder die ondersoek en vervolging van die destydse polisiekommissaris, Jackie Selebi, wat later skuldig bevind is aan korrupsie wat verband gehou het met die betaling van geld deur die gevonniste dwelmhandelaar Glenn Agliotti.
Ander teorieë vir die motief was dat die SAID-ondersoekeenheid inligting wou bekom oor die NVG en die destydse Skerpioene se ondersoek na Jacob Zuma, toe dié nog adjunkpresident was.
Selfs die vorige NVG-aanklaer, adv. Gerrie Nel, se naam is destyds by Project Sunday Evenings-gerugte betrek as sou hy 'n lid vir die eenheid gewerf het om meeluistertoerusting in die NVG se kantore in Pretoria te plant.
Gordhan was kommissaris van die SAID toe die eenheid gestig is.
Trevor Manuel, wat die groen lig vir die stigting van die eenheid gegee het, is ook verlede jaar gevra om 'n eedsverklaring aan die Valke te verskaf oor die kwessie.
Die breër "rogue unit"-narratief, insluitende Project Sunday Evenings, is verwerp as 'n smeerveldtog waarvan die doel was om uiteindelik van die hoëriskiko-eenheid ontslae te raak.
Die eenheid is in SAID tot stand gebring en het verskeie hoëprofiel belastingontduikers ondersoek en vasgevat.
Van Loggerenberg het Van Rensburg as die eenheid se leier opgevolg ná die beweerde meeluistering by die NVG se kantore in 2007.




















