In-diepte

Oudregter ‘duld g’n inmenging by Valke’

Oudregter Frans Kgomo, hoof van die regterlike klagtekantoor van die Valke, sê "dit maak nie saak wie inmeng" by die Valke se ondersoeke nie, hy sal dit hanteer.

"Al is die inmenging van polisielede, lede van die Valke, 'n kabinetsminister of die president, ek sal dit onpartydig hanteer," het Kgomo Dinsdagmiddag tydens 'n werksessie met rolspelers in Bloemfontein gesê.

Volgens hom is dít wat die kantoor van die regter by die Valke doen. Die kantoor, wat 'n soortgelyke funksie as die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat verrig, sal alle klagte teen die Valke ondersoek.

Oudregter Frans Kgomo, ombudsman van die Valke, praat tydens 'n werksessie in Bloemfontein met rolspelers. Foto: André Damons
Oudregter Frans Kgomo, ombudsman van die Valke, praat tydens 'n werksessie in Bloemfontein met rolspelers. Foto: André Damons

Die publiek kan by Kgomo se kantoor klagte indien as hulle bewyse het van 'n Valke-ondersoek waar daar ernstige oortredings van hul regte was. 'n Lid van die Valke kan self beswaar maak as daar bewyse van enige onbehoorlike invloed of inmenging is - van politieke of enige ander aard - ten opsigte van 'n ondersoek.

Kgomo, voormalige regterpresident van die Noord-Kaap, is in Oktober verlede jaar in die pos aangestel en ná die dood van regter Essa Moosa.

Hy sê 'n mens is nie geskik om 'n polisielid of 'n lid van die Valke te wees as hy by ondersoeke inmeng nie. Dit is regsverydeling en teen die wet.

Kgomo sê die meeste klagtes wat hy oor die Valke kry is dat mense nie ingelig word oor die vordering met ondersoeke nie. "Dit is pateties. Ek kan nie sien hoe 'n ondersoek drie, vier jaar kan duur sonder enige terugvoering aan die klaer nie.

"Miskien doen die Valke hul werk, maar dit help nie as hulle nie die klaer daarby betrek nie," sê hy.

Kgomo het ook verwys na hoofregter Mogoeng Mogoeng se boodskap by die beëdiging van die nuwe ministers en adjunkpresident toe hy hulle gewaarsku het dat hulle "in 'n formele kontrak met die mense van Suid-Afrika ingetree het".

Hy sê lede van die Valke moet weet hulle is lid van 'n spesiale eenheid of direktoraat.

André Damons

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM