In-diepte

Supra: ‘Die skroewe ál stywer gedraai’

Theo VenterFoto: Nico Gous
Theo VenterFoto: Nico Gous

Die politieke skroewe is besig om stywer te draai teen die eens magtige "premierliga".

Dit was die reaksie van die politieke ontleder Theo Venter van die Noordwes-Universiteit se Sakeskool in Potchefstroom op die nuus dat die kantoor van Supra Mahumapelo, Noordwes se premier, in Mahikeng deur die Valke deurgesoek is.

Die Valke het op dokumente beslag gelê.

Volgens Brian Setwambung, die premier se woordvoerder, hou die ondersoek verband met 'n kontrak van drie jaar wat die Noordwes-regering aangegaan het met Nepo Data Dynamics, 'n maatskappy wat onder meer help met die internet- en bemarkingstelsels in sowel die premier se kantoor as ander regeringskantore in Noordwes.

Onlangs het die Valke ook die kantoor van Ace Magashule, die Vrystaat se premier en sekretaris-generaal van die ANC, deurgesoek.

Magashule, Mahumapelo en adj.pres. David Mabuza (as premier van Mpumalanga), het tydens die presidentskap van oudpres. Jacob Zuma bekend gestaan as die "premierliga". Hulle was al drie groot ondersteuners van Zuma.

Venter meen die klopjagte "is 'n poging uit die kamp van (pres.) Cyril Ramaphosa om sy (Ramaphosa se) mag te konsolideer en die lewe moeilik te maak vir die ‘premierliga' ".

Hy sê die groot vraag is nou of Mabuza hom verskans het deur kort voor die ANC se leierskapsverkiesing in Desember verlede jaar sy steun aan Ramaphosa toe te sê.

Onthou net, die politici is nie die ouens wat die tjeks teken nie, maar hulle kan invloed uitoefen op amptenare om dit te doen.

"Die versoeking is baie groot om die Valke se optrede te verbind met Mahumapelo se arrogante en uitdagende houding verlede Vrydag teenoor dr. Aaron Motsoaledi (minister van gesondheid)," sê Venter.

Die Noordwes-premier en Motsoaledi het swaarde gekruis oor Noordwes se hantering van sy kontrak met 'n private maatskappy met beweerde Gupta-bande.

Die maatskappy Mediosa verskaf mobiele kliniekdienste in Noordwes.

Die minister het die provinsie besoek en uitlatings gemaak wat Mahumapelo ontstel het.

"Myns insiens het Mahumapelo die ‘politieke grense' oorskry met sy aanval op Motsoaledi."

Motsoaledi is 'n vertroueling van Ramaphosa.

Venter sê egter hy glo "die kans is baie skraal" dat mense soos Mahumapelo en Magashule aan die pen sal ry.

"Ek dink hulle sal hul posisies (as premier) gebruik om amptenare, en selfs lede van hul uitvoerende komitees, voor die spreekwoordelike bus te gooi en te laat opdok vir enige moontlike oortreding wat begaan is.

"Onthou net, die politici is nie die ouens wat die tjeks teken nie, maar hulle kan invloed uitoefen op amptenare om dit te doen."

Venter glo die Valke sal nie veel wys word uit die dokumente waarop hulle in Mahumapelo se kantoor beslag gelê het nie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM