’n Veerboot, die MV Trisha Kerstin 3, met meer as 340 mense aan boord, het vroeg Maandagoggend naby die suide van die Filippyne gesink. Minstens 18 mense is dood en 10 word steeds vermis.
Die veerboot het omstreeks 01:50 ’n noodsein uitgestuur, ongeveer vier uur nadat dit uit die stad Zamboanga vertrek het. Die 44 meter lange veerboot het 5 km oos van die Baluk-Baluk-eiland in die Basilan-provinsie gesink.
Soek-en-reddingswerkers het dwarsdeur die nag gewerk. Video’s wys oorlewendes toegedraai in komberse terwyl slagoffers in lyksakke verby gedra word.
Die driedekboot het op byna dieselfde roete gesink waar 31 mense in 2023 gesterf het ná ’n brand aan boord van die veerboot Lady Mary Joy 3. Albei skepe het aan die skeepsredery Aleson behoort.
“Gegrond op die weergawe van sommige oorlewendes was die water in die gebied onstuimig,” sê Noemie Cayabyab, woordvoerder van die Filippynse kuswag.
Minstens twee oorlewendes het dié weergawe betwis en gesê die see was kalm toe die vaartuig omgeslaan het.
“Ek hoop hulle ondersoek dit, want ons het nie slegte weer gehad nie. Hoekom het (die vaartuig) gesink as daar nie ’n storm was nie?” het Jun Guro, ’n prokureur met wie die regering van die stad Isabela in Basilan ’n onderhoud gevoer het, gesê.
Die kuswag het gesê die veerboot was nie oorlaai nie en dat hy die oorsaak van die ongeluk ondersoek.
















