2025-10-06 03:17:00
Dodetal nou minstens 50 ná ineenstorting van skool
Die dodetal ná die ineenstorting van ’n skool in Indonesië verlede week het tot minstens 50 gestyg.
Dit volg nadat reddingswerkers byna al die puin verwyder het, het reddingsowerhede Maandag gesê.
Hope beton het op honderde leerlinge, meestal tienerseuns, geval toe die Al Khoziny- Islamitiese kosskool in die dorp Sidoarjo in die Oos-Java-provinsie ineengestort het.
Reddingswerkers het Sondag laat 80% van die puin opgeruim en lyke en liggaamsdele gevind.
Na raming is 13 slagoffers nog onder die puin. – Reuters
2025-10-06 03:27:40
Meer as 200 nog op Everest vasgekeer weens sneeustorm
Honderde klimmers wat weens ’n sneeustorm naby die oostelike kant van Everest in Tibet gestrand was, is deur reddingswerkers na veiligheid gelei, het die Chinese staatsmedia Sondag berig.
Dit kom terwyl buitengewoon swaar sneeu- en reënval die Himalajas getref het.
Teen Sondag het 350 klimmers die klein dorpie Qudang bereik, terwyl kontak met meer as 200 oorblywende klimmers gemaak is.
Honderde plaaslike dorpenaars en reddingspanne is ontplooi om te help om sneeu te verwyder wat toegang tot die gebied versper. – Reuters

’n Skermgreep van ’n video wys stappers wat Sondag hul kampplek verlaat terwyl buitengewoon swaar sneeu- en reënval die Himalajas in die Tibet-streek in China getref het. Foto: Reuters/Geshuang Chen/Handout
2025-10-06 03:36:54
Vredesplan vir Gasastrook: Onderhandelinge oor gyselaars begin Maandag
Hamas-amptenare het Sondag in Egipte aangekom voor gesprekke met Israel.
Israeliese onderhandelaars sal na verwagting Maandag na Egipte reis vir onderhandelinge oor die vrylating van gyselaars, wat deel is van pres. Donald Trump se vredesplan vir die Gasastrook.
“Ons sal baie vinnig weet of Hamas ernstig is of nie deur te kyk hoe hierdie tegniese gesprekke verloop ten opsigte van die logistiek,” het Marco Rubio, Amerikaanse minister van buitelandse sake, gesê oor die vrylating van die oorblywende gyselaars. – Reuters
2025-10-06 04:01:19
Regter verhoed Trump-administrasie om troepe in Portland te ontplooi
’n Federale regter in Oregon het Sondag pres. Donald Trump se administrasie tydelik verhoed om enige troepe van die nasionale garde na Portland, Oregon, te stuur.
Die uitspraak deur Karin Immergut, distriksregter, volg op die Trump-administrasie se besluit om troepe uit Kalifornië en Texas in te roep net een dag nadat sy Trump tydelik verhoed het om 200 troepe na Portland te ontplooi.
Immergut sê daar is geen bewyse dat onlangse betogings die teenwoordigheid van troepe noodsaak nie, ongeag waar hulle vandaan kom. – Reuters
2025-10-06 04:18:32
Man wat lukraak skiet, wond 1 in Sydney
’n 60-jarige man is Maandag in Australië in hegtenis geneem nadat hy na bewering tot 50 skote in ’n besige straat in Sydney afgevuur het. Minstens een persoon is gewond.
Die polisie is Sondagaand na Inner West in die stad ontbied, waar die gewapende man lukraak vanaf sy eiendom op verbygaande motors en polisiebeamptes geskiet het.
Die man is hospitaal toe geneem en behandel vir geringe beserings wat hy gedurende sy inhegtenisneming opgedoen het.
Geen klagte is nog teen die man aanhangig gemaak nie. – AFP
2025-10-06 04:26:06
Afdankings op hande terwyl Amerikaanse regeringsluiting voortduur
Amptenare van die Trump-administrasie en top-Republikeine het Sondag gewaarsku dat Amerikaners toenemend die pyn van ’n voortdurende Amerikaanse regeringsluiting sal voel, omdat die meeste federale bedrywighede steeds gesluit bly.
Met die Demokrate wat weier om afstand te doen van hul eise vir voortgesette staatsgesondheidsubsidies in die begroting, sê die Withuis dat planne vir die afdanking van duisende federale werkers gefinaliseer word. – AFP
2025-10-06 05:04:37
6 sterf in brand by hospitaal in Indië
Minstens ses pasiënte is laat Sondag dood nadat ’n brand in die traumasentrum van die hoofstaatshospitaal in Jaipur, Indië, uitgebreek het.
Die brand, wat vermoedelik deur ’n kortsluiting veroorsaak is, het in die waakeenheid van die Sawai Man Singh-hospitaal begin en vinnig na ’n nabygeleë saal in die uitgestrekte mediese kompleks versprei, waar “giftige gasse vrygestel is”, sê ’n amptenaar van die hospitaal.
Vyf pasiënte is steeds in ’n kritieke toestand. – Reuters
2025-10-06 05:38:47
Hommeltuie glo by lughawe in Noorweë waargeneem
Noorweë se Oslo-lughawe het landings vroeg Maandag tydelik opgeskort nadat hommeltuie glo naby die lughawe waargeneem is.
Verskeie aankomende vlugte is vertraag of herlei nadat die polisie omstreeks middernag inligting ontvang het dat ’n vlieënier van Norwegian Air gedink het dat hy drie tot vyf hommeltuie gesien het toe hy die lughawe genader het.
Die nuusagentskap NTB het berig dat die waarneming nog nie bevestig is nie en dat alle bedrywighede by die lughawe hervat het. – Reuters
2025-10-06 06:06:54
Man beseer in nog ’n beeraanval in Japan
’n Beer het ’n Spaanse toeris (44) in ’n Japanse dorpie aangeval, het ’n plaaslike amptenaar Maandag gesê.
Dit volg dae nadat nog ’n aanval een vrou dood en ’n ander vermis gelaat het.
Die toeris is Sondag van agter aangeval terwyl hy na ’n bushalte gestap het. Die man het ’n besering aan sy regterarm opgedoen.
Hy is in die hospitaal opgeneem en dieselfde dag ontslaan.
Al hoe meer wilde bere is oor die afgelope paar jaar in Japan waargeneem. – AFP
2025-10-06 06:28:05
Laaste skuldige appelleer teen vonnis vir verkragting van Gisèle Pelicot
Husamettin Dogan (44), die enigste man wat oorbly om teen sy skuldigbevinding aan die verkragting van Gisèle Pelicot te appelleer, verskyn Maandag in die hof in Frankryk.
Dogan is verlede jaar tot nege jaar tronkstraf gevonnis vir die verkragting van Pelicot nadat haar destydse man, Dominique Pelicot, hom aanlyn genooi het om haar te misbruik.
Dogan voer aan dat hy mislei is om te glo dat sy ingestem het.
Dogan is een van 51 mans wat skuldig bevind is aan seksuele misbruik in ’n verhoor wat die wêreld geskok het. – AFP

Gisèle Pelicot met haar aankoms by ’n hof in Avignon, Frankryk, op 10 Desember 2024. Foto: AFP
2025-10-06 06:38:10
Eswatini ontvang nog 11 immigrante uit VSA
Eswatini sal vandeesmaand nog 11 immigrante ontvang wat uit Amerika gedeporteer is.
Dit volg nadat die land in Julie vyf gedeporteerdes aanvaar het.
“Die individue sal in ’n beveiligde gebied apart van die publiek gehou word, terwyl reëlings getref word vir hul terugkeer na hul lande van oorsprong,” lui ’n verklaring van Eswatini se regering wat Sondagaand uitgereik is.
Dit het nie die datum van hul aankoms aangedui nie.
Die immigrante word na lande gedeporteer waarvan hulle nie afkomstig is nie. – Reuters
2025-10-06 07:21:24
18 dood weens uiterste reën in Indië
Minstens 18 mense is dood weens vloede en grondstortings wat deur onophoudelike reën in Darjeelin, in die ooste van Indië, veroorsaak is.
Huise, paaie en brûe het weggespoel, het owerhede gesê. Verskeie mense word steeds vermis.
Owerhede in die deelstaat Wes-Bengale het gewaarsku die dodetal sal waarskynlik styg namate besonderhede uit afgeleë gebiede instroom.
“Twee ysterbrûe het ineengestort, verskeie paaie is beskadig en oorstroom, groot stukke grond... is oorstroom,” het ’n regeringsamptenaar gesê. – Reuters
2025-10-06 07:42:33
Rusland sê hommeltuie is ‘herinnering aan gevare van oorlog’
Oudpres. Dmitri Medwedef van Rusland sê dit bly ’n raaisel wie agter ’n vlaag van ontwrigtings met hommeltuie in verskeie Europese lande sit, maar dat die voorvalle as ’n nuttige herinnering vir Europeërs aan die gevare van oorlog dien.
Medwedef, nou adjunkvoorsitter van Rusland se veiligheidsraad, het ontken dat Rusland of magte wat hom simpatiekgesind is, daarvoor verantwoordelik is.
“Mense (in Europa) wat met ons land simpatiseer, sal nie hul hulpbronne vermors deur uit hul skuilplek te kom nie. Ons ‘agente en molle’ wag vir ’n aparte bevel,” het Medwedef gesê. – Reuters
2025-10-06 07:56:53
Premier van Frankryk bedank
Pres. Emmanuel Macron van Frankryk het Maandag Sébastien Lecornu, die premier, se bedanking aanvaar, het die presidensie gesê, wat die Europese land verder in ’n politieke dooiepunt gedompel het.
Macron het Lecornu verlede maand in die pos aangestel, maar die grootliks onveranderde kabinet wat hy laat Sondag onthul het, is met heftige kritiek oor die hele politieke spektrum heen begroet. – AFP

Sebastien Lecornu, premier van Frankryk. Foto: AFP/Pool
2025-10-06 08:33:39
Kragonderbrekings in Rusland ná reeks Oekraïense hommeltuigaanvalle
Rusland sê ’n reeks Oekraïense hommeltuigaanvalle het kragonderbrekings in een van sy grensstreke veroorsaak.
Oekraïne het belowe om sy aanvalle op Russiese grondgebied te verskerp, veral op Rusland se olie-infrastruktuur.
Dit is in reaksie op Moskou se daaglikse aanvalle op Oekraïense stede en sy energienetwerk.
Rusland sê hy het oornag 251 Oekraïense hommeltuie neergeskiet, een van die hoogste daaglikse getalle sedert Rusland sy oorlog in Februarie 2022 van stapel gestuur het. – AFP
2025-10-06 08:53:15
Sampioen-moorde: Staat gaan teen vonnis appelleer
Staatsaanklaers in Victoria, Australië, gaan teen die vonnis van die veroordeelde moordenaar Erin Patterson appelleer, het Australië se nasionale uitsaaier Maandag berig.
Patterson (51) is ’n minimum vonnis van 33 jaar opgelê. Sy het tereggestaan weens die moord op haar skoonma, Gail Patterson, haar skoonpa, Donald Patterson, en Heather Wilkinson, Gail se suster, asook weens poging tot moord op Ian Wilkinson, Heather se man.
Die kantoor van die openbare aanklaer het die vonnis as “klaarblyklik onvoldoende” beskryf.
Patterson het hulle met giftige sampioene in bief-Wellington vermoor. – Reuters
2025-10-06 09:14:42
Switsers van hulp-flottielje sê toestande in aanhouding ‘onmenslik’
Nege aktiviste van die hulp-flottielje na die Gasastrook het Sondag in Switserland aangekom nadat hulle deur Israel gedeporteer is.
Sommige van die lede beweer dat hulle aan onmenslike toestande onderwerp is terwyl hulle in aanhouding was.
’n Woordvoerder van die Israeliese ministerie van buitelandse sake het die bewerings verwerp.
Negentien Switserse burgers was deel van die flottielje van tientalle vaartuie wat probeer het om hulp aan die Gasastrook te lewer.
Die bote is Woensdag deur Israeliese magte onderskep. – Reuters
2025-10-06 09:40:51
Nobelpryswenners vir medisyne aangekondig
Die wetenskaplikes Mary Brunkow van Amerika, Fred Ramsdell van Amerika en Shimon Sakaguchi van Japan het die 2025-Nobelprys vir fisiologie of geneeskunde gewen vir “hul ontdekkings rakende perifere-immuun-toleransie”.
Die wenners vir medisyne word gekies deur die Nobel-vergadering van Swede se Karolinska-instituut.
“Hul ontdekkings het die grondslag gelê vir ’n nuwe navorsingsveld en die ontwikkeling van nuwe behandelings aangespoor, byvoorbeeld vir kanker en outo-immuunsiektes.” – Reuters
2025-10-06 09:48:23
Luiperd veroorsaak paniek in hotel in Indonesië
’n Luiperd is Maandag gevang nadat dit in ’n hotelkompleks in een van Indonesië se gewildste vakansiebestemmings rondgedwaal het, wat paniek onder gaste veroorsaak het.
Die groot kat is Maandagoggend buite ’n gastekamer op die tweede verdieping van ’n hotel in Bandung, die hoofstad van Wes-Java, Indonesië, gesien.
Die plaaslike bewaringsagentskap is ontbied.
“Ons het ’n kalmeermiddel gebruik en die luiperd uit die hotel verwyder,” het ’n amptenaar van die bewaringsagentskap gesê. – AFP

Die luiperd in ’n hok nadat dit met ’n kalmeermiddel ingespuit is. Foto: AFP
2025-10-06 10:22:20
1 stapper dood weens sneeustorm in China
Een stapper is dood en honderde ander is gered ná skielike swaar sneeuval naby die oostelike kant van Everest in Tibet, het staatsmedia Maandag berig.
Vroeër is berig buitengewoon swaar sneeu- en reënval het die Himalajas getref.
Die stapper is dood aan hipotermie en hoogtesiekte, het CCTV Maandag berig.
Teen Sondag het 350 klimmers die klein dorpie Qudang bereik, terwyl kontak met meer as 200 oorblywende klimmers gemaak is. – AFP
2025-10-06 10:39:21
Britse skrywer oorlede
Jilly Cooper, die Britse skrywer van romans soos Rivals en Riders wat ’n mengsel van seks, satire en Britse snobisme gehad het, is oorlede, het haar agent, Curtis Brown, gesê.
Cooper het 11 miljoen eksemplare van haar boeke in Brittanje alleen verkoop.
Haar boeke, wat die romantiese avonture van ’n groep karakters uit die hoër klas in die fiktiewe graafskap Rutshire uitgebeeld het, het toenemend kommersiële sukses behaal.
2025-10-06 10:55:09
Rooi Kruis gereed om in Gasastrook te help
Die Internasionale Komitee van die Rooi Kruis sê hy is gereed om as ’n neutrale humanitêre tussenganger op te tree om Israeliese gyselaars en Palestynse gevangenes terug te bring na hul families.
“Ons is ook bereid om humanitêre hulp na die Gasastrook te bring en dit veilig te versprei aan burgerlikes in nood,” het Mirjana Spoljaric, die president van die komitee, gesê.
Afvaardigings van Hamas, Israel en Amerika sal Maandag in Egipte byeenkom vir vredesgesprekke. – Reuters
2025-10-06 11:10:40
Onderhandelinge vorder oor vrylating van Franse burgers in Iran
Iran en Frankryk het Maandag aangedui dat onderhandelinge oor die moontlike uitruiling van Franse burgers wat in Iran aangehou word, vir 'n Iraniër in Franse aanhouding, vorder.
Cecile Kohler en haar lewensmaat, Jacques Paris, word sedert 2022 in Iran aangehou. ’n 18-jarige Frans-Duitse fietsryer, Lennart Monterlos, is ook sedert Junie in Iran nadat hy gearresteer is.
Frankryk beskuldig Iran daarvan dat Kohler en Paris gemartel word tydens hul aanhouding in die Evin-tronk in Teheran. Hulle het ook geen toegang tot diplomatieke bystand nie. Iran ontken die beskuldigings. – Reuters
2025-10-06 11:31:41
Indiese prokureur wou regter glo met skoen gooi
’n Prokureur is Maandag uit Indië se hooggeregshof weggelei nadat hy glo die hoofregter, B.R. Gavai, met ’n skoen wou gooi.
Dit volg ná Gavai se opmerking oor die Hindoe-god Vishnu. Die hoofregter het glo onlangs opgemerk dat mense die god self moet vra of sy beskadigde standbeeld vervang moet word.
Die prokureur is Maandag deur veiligheidsbeamptes uit die hof weggelei. “Ons sal geen beledigings duld nie,” het die prokureur, wie se naam nie bekend gemaak is, glo geskree.
Gavai, wat volgende maand aftree, het die hof vermaan om voort te gaan met verrigtinge. Regsverenigings het die voorval veroordeel en dissiplinêre optrede teen die prokureur geëis. – Reuters
2025-10-06 11:45:29
Macron moet oor Franse politieke krisis praat, sê Retailleau
Bruno Retailleau, uittredende Franse minister van binnelandse sake, sê 'n nuwe verkiesing is nodig indien Frankryk se politieke situasie onveranderd bly.
Hy het pres. Emmanuel Macron versoek om spoedig standpunt in te neem. “Indien daar ’n dooiepunt is, sal ons na die stembus moet terugkeer. Ek dink egter daar is ander oplossings voordat dit gebeur. Dit is nie ek wat daardie oplossings bepaal nie,” het Retailleau, wat die regse Les Republicains (LR)-party lei, gesê.
Frankryk beleef tans politieke onsekerheid ná die bedanking Maandag van Frankryk se nuwe, premier Sébastien Lecornu, en sy regering, ure nadat Lecornu sy kabinetsamestelling aangekondig het. – Reuters

Die gebou in Parys waar Frankryk se nasionale vergadering gesetel is. 'n Politieke krisis staar Frankryk in die gesig ná die bedanking van die nuwe regering. Foto: Reuters
2025-10-06 12:10:01
Japanner hoop Nobel-prys help om pasiëntsorg te bevorder
Shimon Sakaguchi, 'n Japannese immunoloog, sê hy hoop sy toekenning van vanjaar se Nobelprys vir Geneeskunde sal verdere navorsing en pasiënsorg bevorder.
Sakaguchi deel die prys met die Amerikaanse wetenskaplikes Mary Brunkow en Fred Ramsdell vir hul baanbrekerwerk oor hoe die immuunstelsel beheer word deur sogenaamde “veiligheidswagte”, volgens die Nobel-komitee. Die drie se navorsing lewer groot bydraes tot kennis oor die funksionering van die immuunstelsel, en waarom nie almal outo-immuunsiektes ontwikkel nie.
Hul ontdekkings lei reeds tot nuwe behandelings teen outo-immuunsiektes, kanker en die verwerping van organe wat oorgeplant is. Sakaguchi glo vas daarin dat effektiewe behandeling en voorkomingsmetodes vir selfs moeilike siektes in die toekoms gevind sal word. – AFP
2025-10-06 12:18:03
Nuwe dekreet: Meer vryheid met Vatikaanse beleggings
Pous Leo XIV het Maandag die Vatikaanbank se alleenbeheer oor die stadstaat se beleggings gekanselleer, en só ’n finansiële hervorming van sy voorganger, Franciskus, aangepas.
Ingevolge die kort dekreet mag departemente van die Vatikaan voortaan buitelandse banke gebruik, mits dit meer doeltreffend of geriefliker is, hoewel daar aanbeveel word om steeds van die Vatikaanbank gebruik te maak.
Franciskus se 2022-hervorming het bepaal dat alle Vatikaanse beleggings slegs deur die Vatikaanbank behartig word, maar sommige amptenare het gekla dit gee die bank te veel mag. Die nuwe dekreet maak net dié spesifieke hervorming ongeldig, maar vereis steeds dat departemente die Vatikaanse beleggingsbeleid volg.
Die Vatikaan se finansiële beeld is oor die dekades geknou deur korrupsie en ondeursigtige praktyke, hoewel Franciskus verskeie hervormings ingestel het om sake te verbeter. – Reuters

Pous Leo XIV. Foto: Getty Images
2025-10-06 12:27:48
Zelenski bevestig gebruik van eie missiele
Pres. Wolodimir Zelenski sê dat onlangse aanvalle deur die Oekraïense weermag op Russiese infrastruktuur, tuisgemaakte missiele ingesluit het.
“Dit is belangrik om te verstaan dat Oekraïne die afgelope paar dae uitsluitlik Oekraïense produkte gebruik en nie net hommeltuie nie,” het Zelenski Maandag op ’n inligtingsessie in Kijif gesê toe daar gevra is of Oekraïne sy nuwe langafstandmissiele teen Russiese teikens gebruik.
“En as ’n mens kyk na die aanvalle, dink ek dit is duidelik waar hommeltuie gebruik is en waar nie.” Zelenski het bygevoeg dat die verskaffing van Amerikaanse wapentuig aan Oekraïne nie deur die huidige regeringsluiting in Washington DC geraak word nie. – Reuters
2025-10-06 13:01:52
Franse markte tuimel ná Lecornu se bedanking
Frankryk se finansiële markte het Maandag onder druk gekom ná die bedanking van Sébastien Lecornu, die premier.
Die CAC 40-indeks het met 1,3% gedaal, en bankaandele het die ergste gesak weens stygende staatsleningskoste. BNP Paribas het 3,8% laer gesluit, Société Générale sowat 5% en Crédit Agricole 3,8%. Die opbrengs op 10-jaar- Franse staatslenings het tot 3,61% opgeskiet, wat kommer onder beleggers laat toeneem het oor Frankryk se skuld.
Die verskil tussen Franse en Duitse staatslenings – ’n sleutelaanduiding van kredietrisiko – het sy swakste vlak sedert Januarie bereik.
Markontleders meen die politieke onsekerheid skep vrees vir ’n sneeubal-effek op Frankryk se ekonomiese en fiskale beleid.
Pres. Emmanuel Macron het Lecornu verlede maand as premier aangestel, maar hy het bedank weens groot parlementêre verdeeldheid. – AFP
2025-10-06 13:03:23
Rouklaers

Rabbi Daniel Walker lei die begrafnisdiens van Adrian Daulby in Salford, Engeland. Daulby is verlede week doodgeskiet toe die Britse polisie op ’n aanval tydens Jom Kippoer-vieringe buite die Heaton Park- Hebreeuse gemeente in Manchester gereageer het. Foto: Reuters
2025-10-06 13:06:28
WGO waarsku oor toename van e-sigarette onder jeug
Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sê minstens 15 miljoen kinders wêreldwyd tussen 13 en 15 jaar oud gebruik e-sigarette. Jong mense is ook nege keer meer geneig om te damprook (vape) as volwassenes.
Die WGO wys in sy eerste wêreldwye skatting dat meer as 100 miljoen mense e-sigarette rook, onder wie minstens 86 miljoen volwassenes, meestal in welvarende lande.
Daar is tans sowat 1,2 miljard tabakgebruikers teenoor 1,38 miljard in 2000. Die WGO waarsku egter oor ’n “nuwe vlaag van nikotienverslawing” wat onder tieners posvat.
Dit kan dekades se vordering in die wiele ry. Sommige navorsing dui aan dat damprook mense kan help om op te hou rook. Die langtermyngevolge daarvan is egter onseker. – AFP

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sê jong mense is meer geneig om te damprook. Foto: Getty Images
2025-10-06 13:15:09
Ineenstorting van Franse regering dompel land in krisis
Sébastien Lecornu, pas aangestelde Franse premier, en sy regering het Maandag bedank, ure nadat hy sy kabinet aangekondig het. Die bedanking maak dit die kortste administrasie in die hedendaagse Franse geskiedenis.
Die bedanking kom nadat bondgenote en vyande in die politieke arena gedreig het om die nuwe regering omver te werp, met Lecornu wat gesê het dit beteken hy sou nie sy werk kon doen nie.
Die aankondiging het aandeelpryse en die euro skerp laat daal. Opposisiepartye vra nou ook vir die bedanking van pres. Emmanuel Macron of die uitroep van ’n vinnige parlementêre verkiesing. – Reuters
2025-10-06 13:22:31
Herfs in aantog...

’n Vrou stap met ’n hond tussen bome in Baden-Württemberg, Stuttgart, Duitsland. Foto: AFP
2025-10-06 14:00:38
VSA se hooggeregshof verwerp Ghislaine Maxwell se appèl
Die hooggeregshof in Washington DC het Maandag geweier om Ghislaine Maxwell se appèl aan te hoor om haar skuldigbevinding dat sy die veroordeelde seksoortreder Jeffrey Epstein gehelp het om tienermeisies te werf, tersyde te stel.
Maxwell dien tans 20 jaar gevangenisstraf uit nadat sy in 2021 in New York op aanklagte van onder meer mensehandel skuldig bevind is.
Maxwell se prokureurs het aangevoer haar skuldigbevinding is ongeldig omdat ’n nie-vervolgings- en pleitooreenkoms wat federale aanklaers in 2007 met Epstein in Florida aangegaan het, ook sy medewerkers moes beskerm en haar strafregtelike vervolging in New York moes verhinder het. – Reuters

Ghislaine Maxwell (heel regs) poseer in 2000 saam met (die toekomstige Amerikaanse president) Donald Trump, sy vriendin (en toekomstige vrou) Melania Knauss en Jeffrey Epstein (tweede van regs) in die Mar-a-Lago-klub in Palm Beach, Florida. Foto: Davidoff Studios/Getty Images
2025-10-06 14:35:06
Israel sê Greta Thunberg, 170 ander aktiviste gedeporteer
Israel het Maandag gesê hy het nog 171 aktiviste, onder wie die Sweedse aktivis Greta Thunberg, gedeporteer wat aangehou is omdat hulle deel was van ’n hulpflottielje wat na die Gasastrook op pad was.
Israel se minister van buitelandse sake het in ’n plasing op X gesê dat “171 bykomende provokateurs van die Hamas–Sumud-flottielje, insluitend Greta Thunberg, vandag uit Israel na Griekeland en Slowakye gedeporteer is”, en bygevoeg dat die gedeporteerdes burgers is van verskeie lande, insluitend Griekeland, Italië, Frankryk en Amerika. – AFP
2025-10-06 15:04:07
Eerste Darfoer-milisieleier skuldig aan oorlogsmisdade
Die Internasionale Strafhof in Den Haag, Nederland, het Maandag die eerste milisieleier tot nog toe wat verhoor is vir oorlogsmisdade in Soedan se Darfoer-streek meer as 20 jaar gelede, skuldig bevind.
Die hof het Ali Moehammad Ali Abd-Al-Rahman skuldig bevind aan 30 oorlogsmisdade, insluitend verkragting en moord. Sy vonnis sal later bepaal word nadat nuwe verhore gehou is. – Reuters

Ali Moehammad Ali Abd-Al-Rahman, wat Maandag deur die Internasionale Strafhof skuldig bevind is aan 30 oorlogsmisdade, insluitend verkragting en moord. Foto: Reuters
2025-10-06 15:36:55
Dodetal in ineenstorting van Indonesiese skool styg tot 65
Die dodetal in die ineenstorting verlede week van ’n skool in Oos-Java, Indonesië, het tot 65 gestyg, het owerhede Maandag gesê, terwyl reddingswerkers steeds na oorlewendes onder die puin gesoek het, sewe dae ná die ramp.
Die hoof van Indonesië se soek-en-reddingsagentskap sê nog lyke en liggaamsdele is gevind, wat die bevestigde dodetal tot 65 laat styg het.
Dit is onduidelik hoeveel mense steeds vermis word. – Reuters
2025-10-06 16:01:18
Gryp die bul by die . . . leisels!

Jokkies en hul waterbuffels neem Maandag aan die 154ste jaarlikse waterbuffelresiesfees in die Tsjonboeri-provinsie, Thailand, deel. Foto: Reuters
2025-10-06 16:06:32
Albaniese man skiet regter in hofsaal dood
’n Man het Maandag in ’n hofsaal in die Albaniese hoofstad, Tirana, losgebrand en die regter in sy siviele saak doodgeskiet en twee ander gewond.
Die appèlhofregter Astrit Kalaja was besig om die man se saak te hanteer toe hy begin skiet, sê die polisie. Die man is onmiddellik in hegtenis geneem.
"Die regter is dadelik na die hospitaal geneem, maar het onderweg aan sy beserings beswyk."
Die ander party tot die verhoor, ’n pa en seun, is ook geskiet en na die hospitaal geneem. Hul toestand is stabiel.
Voilgens plaaslike mediaberigte het die saak oor ’n eiendomsgeskil gegaan en het die man op die regter geskiet omdat hy geweet het hy gaan verloor. – AFP
2025-10-06 16:32:19
Illinois hof toe oor onplooiing van soldate in Chicago
Die Amerikaanse deelstaat Illinois het Maandag ’n hofaansoek ingedien om te keer dat die Trump-administrasie honderde Nasionale Garde-soldate in die strate van Chicago ontplooi.
Die Demokraties geleide staat het die aansoek ingedien ure nadat ’n federale regter in Oregon Sondag die Trump-administrasie tydelik verbied het om enige Nasionale Garde-soldate te stuur om in Portland, Oregon, polisiepligte te verrig. – Reuters
2025-10-06 17:07:41
Skokkende onthullings: Families mag Harvard dagvaar oor lyke
Die Harvard-Universiteit in Amerika kan nou deur families gedagvaar word nadat die hooggeregshof in die Amerikaanse deelstaat Massachusetts Maandag beslis het hul sake teen die instelling kan voortgaan.
Die families beweer die universiteit het nie na behore omgesien na die lyke van geliefdes wat aan die mediese fakulteit geskenk is nie nadat Cedric Lodge, vorige lykhuisbestuurder, die oorskot op die swartmark verkoop het.
Die hof het bevind dat Harvard tekort geskiet het in sy wetlike plig om betroubare versorging en waardige hantering van die lyke te verseker en die "aaklige en onwaardige behandeling jare lank voortgeduur het”.
Lodge het reeds skuld beken op aanklagte van die vervoer van gesteelde oorskot en wag op sy vonnis. Altesaam 47 familielede kla Harvard in 12 sake van nalatigheid aan en beweer die universiteit het Lodge se optrede jare lank geïgnoreer. – Reuters
2025-10-06 17:18:40
Macron gee premier 2 dae om administrasie te red ná bedanking
Pres. Emmanuel Macron van Frankryk het Sébastien Lecornu Maandag twee dae gegee om sy administrasie te red nadat die Franse premier bedank en die land in ’n politieke krisis gedompel het.
Lecornu het vroeër Maandag bedank, net 14 uur nadat hy sy kabinet aangekondig het. Hy sou sy eerste kabinetsvergadering Maandagmiddag gehou het.
In ’n nuwe wending het Macron egter Maandagaand weer met Lecornu vergader en hom twee dae gegee om ’n plan vir Frankryk se “stabiliteit” voor te lê, sê die president se kantoor. – AFP
2025-10-06 17:31:35
Oë in die lug

’n Oekraïense soldaat lanseer ’n verkenningshommeltuig naby Pokrofsk in die Donetsk-streek, Oekraïne. Foto: Reuters
2025-10-06 17:37:51
Betogers maak weer amok in Madagaskar
Veiligheidsmagte moes Maandag honderde betogers met traangas in Antananarivo, Madagaskar se hoofstad, uiteendryf. Minstens een persoon is beseer.
Pres. Andry Rajoelina sou na verwagting ’n nuwe premier aanwys in ’n poging om die krisis te ontlont.
Protesoptogte het op 25 September begin teen volgehoue water- en kragonderbrekings in die verarmde eiland in die Indiese Oseaan.
Die betogings het gegroei tot ’n antiregeringsbeweging wat eis dat Rajoelina bedank.
Rajoelina het sy regering op 29 September afgedank. Hy sou Maandagaand sy nuwe premier aankondig. – AFP
2025-10-06 18:10:33
Poetin, Netanyahu bespreek Gasa-vrede, Iran en Sirië
Pres. Wladimir Poetin van Rusland en Benjamin Netanyahu, Israeliese premier, het Maandag telefonies oor die situasie in die Midde-Ooste samesprekings gevoer, insluitende pres. Donald Trump se plan om die konflik in die Gasastrook te beëindig.
Die Kremlin het gesê Poetin en Netanyahu het ook hul belangstelling uitgespreek om oor oplossings te onderhandel rondom Iran se kernprogram, asook verdere stabilisering in Sirië.
Die Midde-Ooste verkeer reeds lank onder spanning weens die konflik tussen Israel en Hamas.
Trump se plan poog om vrede te bewerkstellig, hoewel die besonderhede nog betwis word. – Reuters
2025-10-06 18:15:17
Gee pad!

Betogers vlug van traangas wat deur die polisie afgevuur is tydens ’n landwye betoging oor gereelde kragonderbrekings en watertekorte in Antananarivo, Madagaskar. Foto: Reuters
2025-10-06 18:20:35
Antieke Egiptiese kalksteentablet verdwyn
’n Kalksteentablet wat meer as 4 000 jaar oud is, het uit Egipte se Sakkara-nekropolis verdwyn.
Egipte se ministerie van oudhede sê die verdwyning van ’n antieke tablet uit die graf van Chenti Ka in die Sakkara- argeologiese gebied is by die owerheid aangemeld.
“Die saak is na die openbare vervolgingsowerheid verwys vir ondersoek,” sê die ministerie.
Die tablet is gevind in ’n graf uit die sesde dinastie van antieke Egipte (ongeveer 2345-2181 v.C.). Die graf, wat in die 1950’s ontdek is, is gebruik om oudhede te stoor en is sedert 2019 gesluit. – AFP
2025-10-06 18:25:37
Madagaskar se president wys generaal aan as nuwe premier
Pres. Andry Rajoelina van Madagaskar het Maandag Ruphin Fortunat Zafisambo, ’n militêre generaal, as die land se nuwe premier aangewys.
Dit volg ’n week nadat Rajoelina die regering ontbind het ná aanhoudende betogings weens kragonderbrekings en watertekorte.
Madagaskar, ’n eilandnasie aan die ooskus van Afrika, ervaar tans ernstige maatskaplike en ekonomiese druk weens infrastruktuurprobleme soos elektrisiteitsonderbrekings en ’n tekort aan vars water.
Die probleme het tot grootskaalse betogings in die land gelei. – Reuters
2025-10-06 18:34:58
Die maan ... op sy helderste

’n Supermaan verlig die naghemel oor die Lugou-brug in Beijing, China. Foto: Getty Images
2025-10-06 19:01:45
Vrou wat beweer sy is Maddie McCann, in hof oor bekruiping van Maddie se ouers
’n Poolse vrou wat beweer het dat sy die Britse kleuter Madeleine McCann is wat sedert 2007 vermis word, het Maandag in ’n hof in Leicester, Engeland, verskyn op ’n aanklag van die bekruiping van Madeleine se ouers en dat sy hulle met e-pos en oproepe gebombardeer het.
Julia Wandelt (24) ontken aantygings dat sy Kate en Gerry McCann tussen Junie 2022 en Februarie vanjaar bekruip het.
Karen Spragg (61) van Cardiff, Wallis, staan tereg op dieselfde aanklag, wat sy ook ontken.
Madeleine het op 3 Mei 2007 verdwyn uit die woonstel in die Praia da Luz-vakansieoord in Portugal waar die gesin vakansie gehou het. – AFP
2025-10-06 19:13:35
Gedeporteerde Greta toegejuig

Greta Thunberg, Sweedse klimaataktivis, word Maandag toegejuig by haar aankoms op die Athene-lughawe in Griekeland nadat Israel haar en honderde ander aktiviste aangehou en gedeporteer het nadat die Gasa-hulpflottielje verlede week voorgekeer is. 161 aktiviste van 16 Europese lande het Maandag in Athene geland nadat hulle gedeporteer is, sê die Griekse departement van buitelandse sake. Foto: AFP
2025-10-06 19:37:15
Trump se gesprek met Brasilië se president ‘beter as verwag’
Pres. Donald Trump het Maandag ’n "baie goeie" telefoniese gesprek met pres. Luiz Inácio Lula da Silva van Brasilië gehad oor hoofsaaklik die ekonomie en handel.
"Ons sal verdere gesprekke in die nabye toekoms voer, in Brasilië en Amerika," skryf Trump op sy sosialemediaplatform, Truth Social.
Visepres. Geraldo Alckmin van Brasilië sê die oproep tussen die twee presidente was "beter as verwag". – Reuters
2025-10-06 20:02:20
Pelicot-verkragter appelleer

Husamettin D. (44), een van die 51 mans wat skuldig bevind is aan die verkragting van Gisele Pelicot, kom Maandag in die hof in Nîmes, Frankryk, aan op die eerste dag van sy appèlverhoor. Hy is verlede jaar tot nege jaar tronkstraf gevonnis weens die verkragting van Pelicot nadat haar destydse man hom aanlyn genooi het om haar te misbruik. Foto: Reuters
2025-10-06 20:15:32
Marokkaanse feminis moet tronk toe weens godslastering, beslis hof
’n Marokkaanse hof het Maandag ’n vonnis van 30 maande tronkstraf weens godslastering teen die feminis Ibtissame Lachgar gehandhaaf.
Lachgar is in Augustus in hegtenis geneem nadat sy ’n opskudding veroorsaak het deur aanlyn ’n foto van haarself te plaas waar sy ’n T-hemp dra met die woord "Allah" in Arabies, gevolg deur "is ’n lesbiër" daarop.
Die 50-jarige kliniese sielkundige, bekend vir haar aktivisme in Marokko, is verlede maand tot 30 maande tronkstraf en ’n boete van sowat $5 500 (sowat R94 000) gevonnis . – AFP
2025-10-06 20:53:50
Trump 'gereed om opstandwetgewing toe te pas'
Pres. Donald Trump is gereed om opstandwetgewing toe te pas as deel van sy optrede teen stede wat deur Demokrate bestuur word, het hy Maandag gesê.
Dié wetgewing laat die Amerikaanse president toe om federale troepe in te span om ’n gewelddadige opstand te onderdruk.
"Ons het opstandwetgewing vir ’n rede. As ek dit moet toepas, sal ek dit doen," het Trump aan verslaggewers in die Ovaalkantoor gesê.
Dit kom terwyl die Demokraat-geleide deelstate Illinois en Oregon regstappe doen om die Trump-administrasie se ontplooiing van die Nasionale Garde te verhoed.
"As mense vermoor word en howe ons keer, of goewerneurs of burgemeesters keer ons, sal ek dit sekerlik doen." – AFP
2025-10-07 03:36:52
Vasgekeerde bergklimmers op Everest teen Dinsdag na veiligheid geneem
Meer as 200 van die oorblywende bergklimmers wat oor die naweek deur ’n sneeustorm naby die oostelike kant van Everest in Tibet vasgekeer is, word na veiligheid geneem, het ’n bron vertroud met die situasie Dinsdag gesê.
Die operasie het Maandag begin en behoort teen Dinsdag voltooi te wees.
Vroeër is sowat 350 ander bergklimmers wat deur die sneeustorm gestrand gelaat is, deur plaaslike reddingswerkers na veiligheid gelei. – Reuters
2025-10-07 03:43:21
Hoethi’s hou 9 VN-personeellede aan
Nog nege personeellede van die Verenigde Nasies (VN) is deur Jemen se Hoethi-owerhede aangehou.
Dit bring die totale getal arbitrêr aangehoude VN-personeellede sedert 2021 op 53 te staan, het Stephane Dujarric, VN-woordvoerder, gesê.
“Die sekretaris-generaal veroordeel ten sterkste die voortgesette arbitrêre aanhouding van sy personeel en sy vennote, sowel as die voortdurende onwettige besetting van VN-persele en beslaglegging op VN-bates in gebiede onder Hoethi-beheer.”
Dujarric het nie die tydsberekening of omstandighede rondom die jongste aanhoudings gespesifiseer nie. – Reuters
2025-10-07 04:14:48
2de herdenking van Hamas-aanval op Israel
Hamas het twee jaar gelede, aan die einde van die Joodse fees van Soekkot, ’n verrassingsaanval op Israel van stapel gestuur.
Palestynse vegters het die grens tussen die Gasastrook en Israel oorgesteek en Israeliese gemeenskappe en ’n musiekfees met geweervuur, vuurpyle en granate bestorm.
Die aanval het gelei tot die dood van 1 219 mense aan Israeliese kant, meestal burgerlikes.
Militante het ook 251 gyselaars ontvoer. – AFP

’n Lid van die kibboetsgemeenskap woon ’n diens in die kibboets Kfar Aza in die suide van Israel by vir die tweede herdenking van die dodelike aanval op Israel deur Hamas op 7 Oktober 2023. Foto: Reuters
2025-10-07 04:24:32
Kim prys Noord-Korea se alliansie met Rusland
Kim Jong-oen, leier van Noord-Korea, sê in ’n brief aan pres. Wladimir Poetin, waarin hy hom gelukwens met sy verjaardag, dat die land se alliansie met Rusland voort sal gaan om te ontwikkel.
“Ek twyfel nie dat die betrekkinge tussen die twee lande in die toekoms onvermydelik voortgesit sal word nie, danksy die warm, vriendelike betrekkinge en noue kameraadskaplike bande tussen ons.”
Kim het sy steun vir Rusland se “geregverdigde stryd” vir nasionale soewereiniteit herbevestig, blykbaar ’n verwysing na sy oorlog met Oekraïne. – Reuters
2025-10-07 04:31:40
Trump gaan met departement van justisie praat oor kwytskelding aan Maxwell
Pres. Donald Trump het Maandag die deur oopgelaat vir ’n kwytskelding aan Ghislaine Maxwell, die veroordeelde seksmisdadiger Jeffrey Epstein se medepligtige.
Trump het ook gesê dat Sean (Diddy) Combs, wat Vrydag tot meer as vier jaar tronkstraf gevonnis is weens sy skuldigbevinding aan prostitusieverwante aanklagte, ’n kwytskelding versoek het.
Die hooggeregshof het Maandag geweier om Maxwell se appèl om haar skuldigbevinding tersyde te stel, aan te hoor.
Trump sê hy sal met die departement van justisie praat toe hy gevra is of hy Maxwell self deur ’n kwytskelding sou vrylaat. – Reuters
2025-10-07 05:00:31
Soektog na slagoffers by ineengestorte skool in Indonesië gestaak
Reddingswerkers in Indonesië het Dinsdag die soektog na slagoffers wat onder die puin van ’n ineengestorte Islamitiese kosskool in die provinsie Oos-Java vasgekeer is, gestaak.
Die Al Khoziny-skool het verlede Maandag op honderde mense, meestal tienerseuns, ineengestort terwyl hulle by middaggebede was. Die meeste het ontsnap.
Die lyke van al 61 mense in die gebou is gevind, sowel as sewe liggaamsdele wat die polisie probeer identifiseer. – Reuters
2025-10-07 05:31:18
Projektiel vanaf Gasastrook afgevuur, sê Israel
Die Israeliese weermag sê hy het Dinsdag ’n projektiel bespeur wat vanuit die Gasastrook afgevuur is.
“ ’n Projektiel is geïdentifiseer wat vanuit die Gasastrook die Israeliese gebied oorgesteek het, en het heel waarskynlik in die gebied geval. Tot dusver is geen beserings aangemeld nie,” het die Israeliese weermag in ’n verklaring gesê.
Die weermag het bygevoeg dat sirenes in Netiv Haasara, aan die Gasastrook se noordelike grens, geloei het. – AFP
2025-10-07 05:36:29
Bemanningslid sterf nadat Hoethi’s Nederlandse vragskip aanval
’n Bemanningslid van die Nederlandse vragskip wat verlede week deur Hoethi’s in die Golf van Aden aangeval is, is aan sy beserings dood.
Spliethoff, die skip se operateur, het nie verdere besonderhede oor die oorlede bemanningslid uitgereik nie.
Die skip, Minervagracht, was in internasionale waters in die Golf van Aden toe dit deur ’n ploftoestel getref is wat aansienlike skade aangerig en ’n brand veroorsaak het.
’n Helikopter is gebruik om 19 van sy bemanningslede te red.
Die Hoethi’s het verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar. – Reuters
2025-10-07 06:28:29
3 kritiek nadat helikopter op Kaliforniese snelweg neerstort
Drie mense is in ’n kritieke toestand nadat ’n mediese helikopter Maandag op ’n Kaliforniese snelweg neergestort het.
Die helikopter het net ná 19:00 (plaaslike tyd) op snelweg 50 in Sacramento neergestort, minute nadat dit vanaf die UC Davis- Mediese Sentrum opgestyg het.
’n Vlieënier, verpleegster en paramedikus was aan boord.
Daar was geen pasiënte aan boord ten tyde van die ongeluk nie en geen ander voertuie was betrokke nie. – AFP
2025-10-07 06:34:43
Nederland gaan 71 000 hoenders weens voëlgriep van kant maak
Nederland gaan sowat 71 000 hoenders op ’n pluimveeplaas in die noorde van die land van kant maak ná die bespeuring van voëlgriep, het die regering Dinsdag in ’n verklaring gesê.
Dit is die eerste uitbreking van voëlgriep in Nederland sedert Maart vanjaar.
Die regering het tot dusver nie ’n landwye vereiste ingestel dat pluimvee binnenshuis gehou word nie en sê dat hierdie uitbreking nie so ’n maatreël regverdig nie. – Reuters
2025-10-07 06:40:35
22 dood weens swaar reën in Thailand
Die dodetal weens vloede in Thailand het tot 22 gestyg, het die owerhede Dinsdag gesê.
Die owerhede jaag om verligting te bied aan ongeveer 370 000 mense wat geraak is deur swaar reënval en oorstroomde riviere.
19 provinsies is geraak.
Noodspanne versprei voedsel en voorrade en monitor watervlakke noukeurig namate die moesonseisoen wydverspreide reënval meebring. – Reuters
2025-10-07 07:03:53
Onderhandelings oor oorlog in Gasastrook tot dusver ‘positief’
Indirekte gesprekke in Egipte tussen Israel en Hamas is tot dusver “positief”, het twee bronne na aan Hamas se onderhandelingspan Dinsdag aan AFP gesê.
“Die gesprekke was gisteraand positief, met die eerste ronde wat vier uur geduur het,” het een van die bronne gesê.
“Die indirekte onderhandelinge is geskeduleer om teen die middag te hervat,” het hy bygevoeg.
Nog ’n Palestynse bron het bevestig dat die gesprekke Dinsdag in die Egiptiese oorddorp Sjarm El-Sjeik sal hervat. – AFP

’n Ontheemde Palestynse kind hardloop tussen tente wat as tydelike skuiling gebruik word in Deir el-Balah in die sentrale deel van die Gasastrook. Foto: AFP
2025-10-07 07:34:35
Man vrygelaat ná hy doodstraf kry weens kritiek teen Tunisiese president
’n Hof in Tunisië het Dinsdag ’n man vrygelaat wat verlede week ter dood veroordeel is vir Facebook-inskrywings wat die president kritiseer.
Dit kom ná ’n vlaag van openbare kritiek en bekommernisse oor menseregte oor die saak.
Saber Chouchane (56) is verlede jaar in hegtenis geneem.
Verlede week se uitspraak was ongekend in Tunisië, waar beperkings op vryheid van spraak verskerp is sedert pres. Kais Saied in 2021 byna alle magte oorgeneem het. – Reuters
2025-10-07 08:10:22
Die Gasastrook toe en nou
https://www.youtube.com/watch?v=h2FdztHzLbE
Die skaal van die vernietiging in die Gasastrook. Dinsdag is die tweede herdenking van Hamas se aanval op Israel, wat die oorlog in die Gasastrook ontketen het.
2025-10-07 08:30:26
Starmer vra studente om nie Dinsdag pro-Palestynse betogings te hou
Keir Starmer, premier van Brittanje, het studente aangemoedig om planne vir pro-Palestynse betogings Dinsdag op die tweede herdenking van Hamas se aanval op Israel te staak.
Studente van verskeie Londense universiteite sal na verwagting om 14:00 (plaaslike tyd) uit klasse stap voordat hulle aan 'n optog deur die middestad sal deelneem.
“Dit is nie wie ons as ’n land is nie,” het Starmer oor die beplande betogings gesê.
“Dit is on-Brits om so min respek vir ander te hê.” – AFP
2025-10-07 08:42:16
‘Afgryslikheid van Hamas se aanval sal nooit vergeet word’
Ursula von der Leyen, president van die Europese kommissie, sê die afgryslikheid van Hamas se aanval op Israel op 7 Oktober 2023 sal nooit vergeet word nie.
Die pyn wat die aanvalle by onskuldige slagoffers, hul families en die hele volk van Israel veroorsaak het, sal ook nie vergeet word nie, voeg sy by.
“Ons eer hul nagedagtenis deur onvermoeid vir vrede te werk. Die onmiddellike vrylating van alle gyselaars en ’n skietstilstand is nou binne bereik. Hierdie oomblik moet aangegryp word om die weg te baan vir ’n blywende vrede in die streek, gegrond op die tweestaatoplossing.” – Reuters
2025-10-07 08:48:58
Hoop op einde aan oorlog in Gasastrook ná twee jaar
Israeli's en Palestyne hoop op ’n einde aan die oorlog in die Gasastrook.
“Dis soos ’n oop wond, die gyselaars, ek kan nie glo dit is twee jaar en hulle is steeds nie tuis nie,” sê Hilda Weisthal, ’n Israeliese burger, op die tweede herdenking van Hamas se aanval op Israel.
“Ek hoop regtig dat al die leiers sal druk uitoefen en dat hierdie oorlog sal eindig.”
Mohammed Dib (49), ’n inwoner van die Gasastrook, sê: “Dit is twee jaar dat ons in vrees, afgryse, ontworteling en vernietiging leef. Ons hoop om met hierdie nuwe onderhandelinge ’n skietstilstand en ’n finale einde aan die oorlog te bereik.” – Reuters
2025-10-07 09:27:07
4 dood in Oekraïense aanval op Cherson
Rusland sê vier burgerlikes is in ’n Oekraïense hommeltuigaanval dood in ’n deel van Cherson wat deur Rusland beheer word.
Die vier mense is op ’n hoofweg dood weens ’n geteikende hommeltuigaanval en Rusland beweer Oekraïne het burgerlikes se voertuie geteiken.
Oekraïne het vir die tweede agtereenvolgende dag ’n groot hommeltuigaanval op Rusland geloods, het Moskou Dinsdag gesê.
Rusland het oornag en in die oggend 209 hommeltuie onderskep. – AFP
2025-10-07 09:59:19
Nobelpryswenners in fisika aangekondig
Die wetenskaplikes John Clarke van Brittanje, Michel Devoret van Frankryk en John Martinis van Amerika is vanjaar se Nobelpryswenners in fisika vir “die ontdekking van makroskopiese kwantum-meganiese tonnelvorming en energiekwantisering in ’n elektriese stroombaan”, het die toekenningsliggaam Dinsdag gesê.
Die Nobelprys vir fisika word toegeken deur die Koninklike Sweedse Akademie vir Wetenskappe.
“Vanjaar se Nobelprys vir fisika het geleenthede gebied vir die ontwikkeling van die volgende generasie kwantumtegnologie, insluitend kwantumkriptografie, kwantumrekenaars en kwantumsensors.” – Reuters
2025-10-07 10:13:20
Carney vergader Dinsdag met Trump oor tariewe
Mark Carney, premier van Kanada, besoek Dinsdag die Withuis vir die tweede keer binne vyf maande. Hy is onder toenemende druk om 'n oplossing vir die Amerikaanse handelstariewe te vind.
’n Kanadese regeringsamptenaar en verskeie ontleders het die kanse op ’n naderende handelsooreenkoms met pres. Donald Trump bespreek en gesê die blote feit dat besprekings voortduur, moet as ’n sukses vir Carney beskou word.
Carney het met sy besoek in Mei botweg vir Trump gesê dat Kanada nooit te koop sal wees nie. Dit was in reaksie op Trump se herhaalde opmerkings dat Amerika Kanada moet koop of annekseer. – Reuters
2025-10-07 10:23:52
Israeliese maatskappye nie meer deel van Dubai-lugskou
Israeliese verdedigingsmaatskappye is verbied om aan die komende Dubai-lugskou deel te neem.
Registrasies is teruggetrek vir al ses Israeliese verdedigingsmaatskappye wat sou deelneem, het Tim Hawes, besturende direkteur van Informa Markets, wat die skou organiseer, gesê.
Die maatskappye is verbied ná ’n “tegniese hersiening” van alle maatskappye wat aan die skou deelneem, het Hawes gesê. Hy het nie verdere besonderhede verskaf nie.
Die Verenigde Arabiese Emirate is onder ’n handjievol Arabiese lande met bande met Israel. – Reuters
2025-10-07 10:28:17
4 migrante dood toe boot naby Griekse eiland sink
Vier migrante is dood nadat hul boot naby die Griekse eiland Lesbos gesink het, het die Griekse kuswag Dinsdag gesê.
Dit volg nadat hulle ’n soek-en-reddingsoperasie in die gebied van stapel gestuur het.
Tot dusver is 34 migrante veilig aan wal in die suide van die eiland gevind.
Die vier lyke is in die see gevind.
Aanvanklike verslae het aangedui dat daar altesaam 38 mense op die boot was.
Die omstandighede rondom die voorval is nog nie bekend nie. – Reuters
2025-10-07 11:10:01
Witkoff ook betrokke by gesprekke oor Gasastrook
'n Amerikaanse afvaardiging onder leiding van die presidensiële gesant Steve Witkoff sal hulle Woensdag by gesprekke aansluit wat gemik is om 'n skietstilstand in die Gasastrook te bewerkstellig en ook voort te gaan met die uitruiling van gyselaars en gevangenes, sê Badr Abdelatty, Egipte se minister van buitelandse sake.
Abdelatty het Dinsdag op 'n gesamentlike mediakonferensie met sy Duitse ampsgenoot, Johann Wadephul, gesê dat hy en Wadephul “ ‘n lang gesprek met Steve Witkoff gehad het, wat binne die volgende paar uur in Egipte verwag word”.
Die aankoms van die Amerikaanse afvaardiging dui daarop dat Amerika aktief by die proses betrokke is om ‘n politieke oplossing te vind. – AFP
2025-10-07 11:16:46
Húlle wen Nobelprys vir fisika

John Clarke (Brittanje), Michel H. Devoret (Frankryk) en John M. Martinis (VSA) is as vanjaar se Nobelpryswenners vir fisika aangekondig deur die Koninklike Sweedse Akademie vir Wetenskappe in Stockholm, Swede. Foto: Reuters
2025-10-07 11:31:32
Katar sê Israel moes reeds met offensief opgehou het
Katar sê dat Israel reeds sy operasies in die Gasastrook moes gestaak het in pas met pres. Donald Trump se vredesplan. "Wat die skietstilstand betref, moet hierdie vraag eers aan die Israeliese besettingsregering gerig word. Hy was veronderstel om eintlik op te hou met sy militêre operasies,” het Majed al-Ansari, regeringswoordvoerder, aan verslaggewers in Doha gesê.
Hamas en Israel voer hierdie week indirekte gesprekke in Egipte oor Trump se 20-punt-voorstel om die oorlog in die Gasastrook te beëindig en 'n padkaart vir sy ná-oorlogse regering te bou.
Al-Ansari sê dit is nog “vroeg” om die toekoms van Hamas se politieke buro in Doha te bespreek, nadat Israel verlede maand die groep se leierskap in die Katarrese hoofstad aangeval het. – AFP
2025-10-07 11:37:36
Besig soos 'n miernes...

Passasiers loop op die platform by die Nanjing-treinstasie in Nanjing in die Jiangsu-provinsie van China. Foto: Getty Images
2025-10-07 12:05:55
3 beseer toe gebou in Madrid ineenstort
'n Gebou het gedeeltelik in sentraal-Madrid naby die operahuis ineengestort, sê die Spaanse owerhede. Drie mense is beseer en nog iemand is in 'n ernstige toestand.
Brandbestryders met snuffelhonde is ontplooi om na vermistes te soek, sê die polisie. Dit is nie bekend of enige mense in die gebou vasgekeer is nie.
Videomateriaal wat deur die nooddienste gepubliseer is, wys verskeie ambulanse en brandbestrydingsvoertuie voor 'n gebou wat gerestoureer word. – Reuters
2025-10-07 12:10:20
Hamas wil struikelblokke oorkom om oorlog te beëindig
Fawzi Barhoum, ’n amptenaar van die militante Palestynse organisasie Hamas, sê dat die groep se afvaardiging, wat tans in Egipte met Israel onderhandel oor ’n Amerikaanse vredesplan om die oorlog in die Gasastrook te beëindig, poog om alle hindernisse uit die weg te ruim om ‘n skikking te bereik.
Hamas is betrokke in ‘n ernstige konflik met Israel. Verskeie internasionale pogings, insluitend deur Amerika en Egipte, is reeds onderneem om 'n einde aan die oorlog te maak.
Barhoum se standpunt dui daarop dat Hamas bereid is om op sekere voorwaardes kompromisse aan te gaan, solank oplossings vir sleutel-kwessies gevind kan word. – Reuters
2025-10-07 12:19:19
VN bekommerd oor vlugtelinge in Mosambiek
Die Verenigde Nasies (VN) sê dat hy diep bekommerd is oor die aantal burgerlikes wat van geweld in die noorde van Mosambiek vlug. Volgens die VN word talle vlugtelinge tot op die punt van geen terugkeer gedryf.
Die VN se vlugteling-agentskap (UNHCR) sê dat meer as 100 000 mense in Mosambiek sedert die begin van die jaar gedwing is om uit hul huise te vlug, met byna 22 000 mense wat in 'n enkele week aan die einde van September gevlug het.
"Wat ons die afgelope twee weke gesien het, is buitengewone menslike lyding," sê Xavier Creach, die UNHCR se verteenwoordiger in Mosambiek.
"Burgerlikes word direk geteiken," sê hy. Hernude aanvalle is die laaste ruk in die Cabo Delgado-provinsie aangemeld, waar 'n opstand sedert 2017 woed. – AFP

'n Argieffoto van Januarie 2025 wys lede van die Mosambiekse polisie wat die strate van Maputo met honde patrolleer. Foto: AFP
2025-10-07 13:13:06
Duitse burgemeester aangeval week ná sy verkies is
Iris Stalzer, pas verkose burgemeester van Herdecke in Wes-Duitsland, is met veelvuldige steekwonde gevind en haar lewe is in gevaar, sê veiligheidsbronne.
Stalzer, ’n 57-jarige ma van twee tieners en ervare arbeidshofprokureur, is verlede week tot burgemeester verkies en sou in November amptelik in haar amp begin. Volgens die Duitse koerant Bild is sy deur haar seun gevind.
Friedrich Merz, Duitse bondskanselier, het op sosiale media ‘n vinnige ondersoek geëis en sy hoop op ’n volledige herstel uitgespreek. Die motief vir die aanval is nog onbekend. – Reuters
2025-10-07 13:17:53
Sirië kondig ‘omvattende skietstilstand’ aan
Sirië het ’n omvattende skietstilstand met Koerdiese magte aangekondig ná ’n vergadering Dinsdag tussen Sirë se pres. Ahmed al-Sjaraa en die Koerdiese leier Mazloem Abdi, wat gevolg het op dodelike konflik in die noordelike stad Aleppo.
Sirië se owerheid, wat verlede jaar mag oorgeneem het ná die uitsetting van die langdurige heerser Basjar al-Assad, het Koerdiese eise vir ’n gedesentraliseerde regering wat hulle groter outonomie gee, verwerp.
Die kwessie het bygedra tot spanning met die Koerdiese administrasie wat dele van die noorde en noordooste beheer, terwyl verskille tussen die twee kante die implementering van 'n ooreenkoms van 10 Maart oor die integrasie van die Koerde se burgerlike en militêre instellings in die staat vertraag het. – AFP
2025-10-07 13:26:13
Polisie in Tanzanië ondersoek bewerings dat oudambassadeur ontvoer is
Die polisie in Tanzanië sê hy ondersoek bewerings dat Humphrey Polepole, wat in Julie as ambassadeur in Kuba bedank het en Tanzanië se regerende party toe herhaaldelik gekritiseer het, ontvoer is.
Polepole, ’n inwoner van Dar es Salaam, word sedert Maandag vermis.
Verskeie kritici van die regering van pres. Samia Suluhu Hassan, wat haar vir herkiesing op 29 Oktober verkiesbaar gestel het, het sedert verlede jaar verdwyn. Opposisiepartye voer aan dat hulle ontvoer word.
David Misime, ’n polisiewoordvoerder, sê die bewerings dat Polepole ontvoer is, word ondersoek.
“Die polisie het die bewerings gesien wat deur sy familielede op sosiale media versprei word dat hy ontvoer is. Ons het reeds begin werk om die waarheid vas te stel,” sê hy. – Reuters
2025-10-07 13:38:14
Moeilike vrae...

Pam Bondi, Amerikaanse minister van justisie, verskyn voor die Amerikaanse senaat se regsafdelingkomitee in Washington DC om vrae oor die justisiedepartement se werksaamhede te beantwoord. Foto: AFP
2025-10-07 14:02:58
Hamas sê 7 Oktober-aanval was ‘historiese reaksie’
Hamas het Dinsdag gesê die aanval op Israel op 7 Oktober 2023, wat volgens Israeliese amptenare tot die dood van 1 219 mense gelei het, was ’n “historiese reaksie” op Israel se optrede.
“Ons bevestig weer dat dit … ’n historiese reaksie was op pogings om die Palestynse saak uit te wis,” het Fawzi Barhoem, ’n senior Hamas-amptenaar, in ’n televisietoespraak gesê.
Volgens die gesondheidsministerie in die Gasastrook is meer as 67 000 mense tot dusver in Israel se militêre teenaanval in dié Hamas-beheerde gebied dood. – AFP
2025-10-07 14:19:00
Vlug verby die ‘Jagtersmaan’

’n Passasiersvliegtuig vlieg Dinsdag oor Singapoer voor die volmaan, ook bekend as die “Jagtersmaan”, verby. Foto: AFP
2025-10-07 14:37:55
Pous Leo besoek Turkye, Libanon op eerste reis
Pous Leo XIV sal einde November na Turkye en Libanon vertrek vir ’n reis van ses dae, sy eerste sedert hy hoof van die Rooms-Katolieke Kerk geword het, het die Vatikaan Dinsdag aangekondig.
Die 70-jarige Amerikaner word van 27 tot 30 November in Turkye verwag en van 30 November tot 2 Desember in Libanon. – AFP
2025-10-07 15:00:25
Nuwe giftige paddaspesie ontdek in Peruaanse Amasone
Wetenskaplikes het ’n nuwe giftige paddaspesie ontdek in die Amasone-streek, volgens ’n Peruaanse regeringsagentskap verantwoordelik vir omgewingsbewaring.
Die nuwe spesie, genaamd Ranitomeya hwata, is net sowat 15 mm lank en helderkleurig, het die agentskap Maandag in ’n verklaring gesê, sonder om die datum van die ontdekking te vermeld.
Die paddatjies leef uitsluitlik in bamboeswoude en gebruik die hol stamme van die plante – waarin reënwater gestoor word – om voort te plant.
Die nuwe spesie is in die Alto Purus Nasionale Park in Oos-Peru ontdek, naby die land se grens met Brasilië. – AFP

Ranitomeya hwata, ’n nuwe giftige paddaspesie wat in Peru se Alto Purus Nasionale Park in die ooste van die land ontdek is. Foto: Peru se Biodiversiteitsmuseum/AFP
2025-10-07 15:31:10
Rusland, Indië begin gesamentlike militêre oefeninge
Rusland en Indië het met gesamentlike militêre oefeninge in die Noordwes-Indiese deelstaat Rajasthan begin met die doel om veldtogte teen terreur te verbeter, het Rusland se ministerie van verdediging gesê.
Die Russies-Indiese “Indra 2025”-oefeninge sal tot 15 Oktober voortduur, het die ministerie gesê.
“Spesiale aandag sal geskenk word aan die verhoging van die operasionele versoenbaarheid van gevegseenhede en die uitruil van die beste praktyke in die konteks van moderne oorlogvoering.” – Reuters
2025-10-07 15:59:56
Denemarke wil sosiale media vir kinders verbied
Denemarke het Dinsdag aangekondig dat hulle van plan is om ’n sosialemediaverbod vir kinders jonger as 15 in te stel.
Mette Frederiksen, premier, het nie gespesifiseer watter sosialemedianetwerke onder die verbod sal val of hoe dit prakties sal werk toe sy die inisiatief in ’n toespraak in die parlement aangekondig het nie.
"Selfone en sosiale media beroof ons kinders van hul kinderjare," sê Frederiksen.Sy voer aan dat 60% van Deense seuns tussen 11 en 19 jaar oud verkies om tuis te bly eerder as om tyd saam met vriende deur te bring. – AFP
2025-10-07 16:15:51
Wiel herontwerp in Nepal-protes

Oorblyfsels van voertuie wat in die Nepalese protes teen korrupsie in September uitgebrand is. Die protes het daartoe gelei dat die regering omvergewerp is. Die voertuie word op die perseel van die parlement in Katmandoe geberg nadat dit vanuit verskeie oorde versamel is. Foto: Reuters
2025-10-07 16:27:16
Appèl nadat terreurklag teen Kneecap-rapper geskrap is
Brittanje se vervolgingsgesag het Dinsdag gesê hulle appelleer teen ’n hofbeslissing waarin terreuraanklagte teen Liam Óg Ó hAnnaidh (ook bekend as Mo Chara), lid van die Ierse rapgroep Kneecap, geskrap is.
’n Hof in Londen het verlede maand die aanklag uitgegooi, wat met die vertoon van ’n Hezbollah-vlag in November by ’n Londen-konsert verband hou. – Reuters
2025-10-07 16:44:20
Minstens 10 sterf in Indië toe grondstorting bus tref
Minstens 10 mense is dood en verskeie ander beseer nadat ’n bus Dinsdag deur die vallende puin van 'n grondverskuiwing in Indië se noordelike deelstaat Himachal Pradesh getref is.
"Daar is kommer dat verskeie ander moontlik steeds onder die puin vasgekeer is," sê die hoofminister van die deelstaat in ’n plasing op X.
Narendra Modi, Indiese premier, het ’n betaling van $2 254 vir die naasbestaandes van elke persoon aangekondig wat in die ongeluk dood is. Die beseerdes sal sowat $570 elk ontvang. – Reuters
2025-10-07 17:22:29
Laaste voorbereidings...

’n Lugfoto van die RRS Sir David Attenborough vasgemeer in die Harwich- internasionale hawe in die ooste van Engeland voor die skip se vertrek later vandeesmaand om navorsing in Antarktika te doen. Foto: AFP
2025-10-07 17:30:55
Rekordgetal bere in Slowakye geskiet
Bewaringsaktiviste in Slowakye het Dinsdag ’n beroep op die regering gedoen om die “massiewe uitwissing” van bere te staak ná ’n aankondiging dat ’n rekordgetal van 160 van die beskermde diere reeds vanjaar geskiet is.
Slowakye se regering het reeds in April toestemming gegee dat tot 350 bere van kant gemaak word weens die toename in getalle en vrese oor aanvalle op mense.
Hierna is selfs ’n noodtoestand in die meeste distrikte verklaar oor die “ongewensde” teenwoordigheid van bere, en is die eet van bruinbeervleis goedgekeur.
Die land se omgewingsdepartement het intussen bevestig dat vrektes onder bere ’n nuwe hoogtepunt bereik het. Aktiviste waarsku dat hierdie drakoniese optrede die spesie in gedrang kan bring en vra vir ’n onmiddellike herbesinning. – AFP
2025-10-07 17:37:59
‘Vredesprys vir Trump as hy China se militêre optrede teen Taiwan kan keer’
Pres. Donald Trump behoort die Nobelprys vir vrede te kry as hy daarin kan slaag om pres. Xi Jinping van China daarvan te oortuig om af te sien van sy militêre optrede teen Taiwan, het pres. Lai Tsjing-te van dié land in ’n onderhoud met die Amerikaanse radioprogram The Clay Travis and Buck Sexton Show gesê.
Lai se opmerkings kom terwyl spanning in die streek oplaai, en voor ’n vergadering tussen Trump en Xi later vandeesmaand. Lai beklemtoon dat China se toenemende militêre aktiwiteit om Taiwan nie net ’n bedreiging vir die eiland inhou nie, maar ook vir die internasionale orde en Amerikaanse belange.
Ondanks Amerika se tradisionele steun aan Taiwan, bestaan onsekerheid oor Trump se vasbeslotenheid om die eiland te verdedig. Intussen werk Taiwan om sy verdediging op te skerp en sy militêre begroting teen 2030 tot 5% van sy bruto binnelandse produk te verhoog. – Reuters
2025-10-07 18:22:31
Premier van Katar gaan hom by Gasa-vredesgesprekke aansluit
Sjeik Mohammed bin Abdoelrahman al-Thani, premier van Katar, sal hom Woensdag in Egipte by die gesprekke oor pres. Donald Trump se Gasa-vredesplan aansluit.
“Ná twee dae se onderhandelinge reis Katar se premier na Egipte om met ander bemiddelaars, onder wie Steve Witkoff en Jared Kushner, te vergader met die doel om die Gasa-skietstilstandplan en gyselaarooreenkoms vorentoe te dryf,” sê ’n regeringswoordvoerder van Katar.
Die betrokkenheid van Witkoff, spesiale Amerikaanse gesant na die Midde-Ooste en van vredesendings, en Kushner, Trump se skoonseun en voormalige adviseur oor die Midde-Ooste, dui daarop dat Amerika nou met sy bondgenote saamwerk om ’n deurbraak te probeer bewerkstellig. – Reuters
2025-10-07 18:28:06
EU wil sterker optree teen konversieterapie vir LGBTQIA+-gemeenskap
Die Europese Unie (EU) wil sterker optree teen omskakelingsterapie wat op die LGBTQIA+-gemeenskap gemik is. Die EU gaan egter nie ’n algehele verbod op dié praktyk instel nie.
Meer as 1 miljoen mense het in Mei ’n petisie onderteken wat die EU versoek om omskakelingspraktyke te verbied.
“Ons kan dit nie verbied nie, want dit sal inbreuk maak op die bekwaamheid van lidlande,” sê Hadja Lahbib, EU-kommissaris vir gelykheid.
Lahbib, wat Woensdag ’n plan sal bekend maak om diskriminasie teen die LGBTQIA+-gemeenskap te takel, het egter onderneem om inligting oor die praktyke in ál 27 EU-lande in te samel. “Ons gaan alle data insamel oor dié praktyke, wat dikwels as sielkundige hulp vermom is.” – AFP
2025-10-07 18:43:00
Hamas wil waarborge van Trump en borglande hê
Hamas wil behoorlike waarborge van pres. Donald Trump en die borglande hê dat die oorlog eens en vir altyd sal eindig, het Khalil al-Haija, hoofonderhandelaar van Hamas, Dinsdag in indirekte gesprekke met Israel in Egipte gesê.
“Ons vertrou nie die besetting nie, nie eens vir ’n sekonde nie,” het hy aan die Egiptiese media gesê, met verwysing na Israel.
“Die Israeliese besetter het deur die geskiedenis nie sy beloftes nagekom nie, en ons het dit twee keer in dié oorlog ervaar. Daarom wil ons werklike waarborge hê,” het hy voorts gesê en Israel daarvan beskuldig dat hy twee skietstilstande in die huidige oorlog geïgnoreer het. – AFP
2025-10-07 18:51:02
Woede kook oor

Veiligheidsmagte met skilde en knuppels verdryf mediese studente op ’n betoging vir beter gesondheidsorgdienste en grondwetlike hervormings in Antananarivo, Madagaskar. Foto: AFP
2025-10-07 19:00:54
Rusland het vanjaar 5 000 km² in Oekraïne verower – Poetin
Pres. Wladimir Poetin het Dinsdag gesê Russiese magte het in 2025 bykans 5 000 km² in Oekraïne verower en dat Rusland die volledige strategiese inisiatief op die slagveld behou.
Oekraïne probeer diep in Russiese gebied aanval, maar dit sal nie help om die situasie te verander nie, het Poetin op ’n vergadering met senior militêre bevelvoerders van Rusland gesê. – Reuters
2025-10-07 19:11:13
Laat ek jou nou vertel

Pres. Donald Trump (regs) vergader Dinsdag met Mark Carney, Kanadese premier, in die Oval Office van die Withuis. Carney hoop om Trump te oorreed om Amerikaanse tariewe te verslap. Foto: AFP
2025-10-07 19:37:48
Alle gyselaars sal bevry word, belowe Netanyahu
Benjamin Netanyahu, Israeliese premier, het Dinsdag op die tweede herdenking van Hamas se aanval op 7 Oktober 2023 belowe om ál Israel se oorlogsdoelwitte in die Gasastrook te bereik, beginnende met die bevryding van alle gyselaars.
“Ons is in beslissende dae. Ons sal aanhou optree om al die oorlog se doelwitte te bereik: die terugkeer van alle ontvoerdes, die uitwissing van Hamas se bewind en om te verseker dat die Gasastrook nooit weer ’n bedreiging vir Israel sal wees nie,” het hy in ’n verklaring gesê. – AFP
2025-10-07 20:13:42
Burkina-junta gryp humanitêre werkers weens ‘spioenasie’
Burkina Faso se militêre regering het Dinsdag gesê hy het agt lede van ’n humanitêre groep, onder wie drie Europeërs, in hegtenis geneem onder verdenking van “spioenasie en verraad”.
Mahamadou Sana, minister van veiligheid, sê die agt lede van Inso, ’n groep wat in Nederland gesetel is, is ’n Fransman, ’n Frans-Senegalese vrou, ’n Tsjeggiese man, ’n Malinees en vier burgers van Burkina Faso. – AFP
2025-10-07 20:23:24
Prêt-à-porter in Parys

’n Model vertoon Dinsdag ’n skepping deur Pierre Cardin vir die prêt-à-porter lente-somer-versameling van 2026 op die Paryse modeweek. Foto: AFP
2025-10-08 03:24:01
Skare bestook Ecuador-president se motor met klippe
Pres. Daniel Noboa van Ecuador se motor is Dinsdag deur ’n skare met klippe bestook.
Inés Manzano, minister van omgewing en energie, het ’n formele verslag van ’n sluipmoordpoging op die president ingedien. Sy sê vyf mense is in aanhouding nadat Noboa se motorstoet deur sowat 500 betogers omring is wat die stoet met klippe gegooi het.
Noboa se kantoor sê diegene wat in hegtenis geneem is, sal van terrorisme en poging tot moord aangekla word. – Reuters
2025-10-08 03:28:36
Ingesneeudes op Everest gered
Reddingswerkers het Dinsdag al die oorblywende stappers naby die ooste van die berg Everest in Tibet na veiligheid gelei, insluitend honderde plaaslike gidse en jakherders.
Honderde stappers was die afgelope naweek in diep sneeu gestrand nadat ’n buitengewoon kragtige sneeustorm swaar sneeuval in die streek veroorsaak het.
Reddingswerkers het Sondag sowat 350 stappers na veiligheid gelei. Altesaam 580 stappers, saam met meer as 300 gidse, herders en ander ondersteuningspersoneel, is gered. – Reuters
2025-10-08 03:36:09
Staking vertraag talle vlugte in Amerika
'n Tekort aan lugverkeerspersoneel veroorsaak vir ’n tweede agtereenvolgende dag vertragings in vlugte by talle Amerikaanse lughawens namate die regeringsluiting sy sewende dag bereik.
Volgens vlugopsporingsdata is meer as 3 000 vlugte vertraag omdat personeeltekorte ’n toenemende getal lughawens beïnvloed. Dit sluit Houston, Nashville, Dallas, Chicago O’Hare en Newark in, sê die Federale Lugvaartadministrasie (FAA).
Die FAA moet noodgedwonge die getal aankomende vlugte per uur by Chicago O’Hare verminder. – Reuters
2025-10-08 04:09:28
2 lyke gevind nadat gebou in Spanje ineenstort
Die nooddienste in Spanje het twee lyke in die puin gevind nadat ’n gebou wat onder konstruksie was Dinsdag in Sentraal-Madrid ineengestort het.
Twee ander mense word vermis en verskeie werkers is beseer.
Nooddienste sê brandbestryders op die toneel naby die Plaza Mayor het baie werk “ná die ineenstorting van verskeie vloerplate”.
’n Regeringsverteenwoordiger sê die ineenstorting het “veroorsaak dat die verskillende verdiepings tot in die kelder van die gebou meegegee” het. – AFP
2025-10-08 04:19:29
Italiaanse premier by IS verkla
Giorgia Meloni, premier van Italië, het Dinsdag gesê sy en twee van haar ministers is by die Internasionale Strafhof (IS) aangekla van medepligtigheid aan volksmoord in verband met Israel se offensief in die Gasastrook.
Meloni het in ’n televisieonderhoud gesê Guido Crosetto, minister van verdediging, en Antonio Tajani, minister van buitelandse sake, is ook aangekla.
“Ek glo nie daar is nog so ’n saak in die wêreld of in die geskiedenis nie.”
Sy het nie verder oor die saak uitgewei nie. – Reuters

Giorgia Meloni, premier van Italië, Dinsdag in ’n televisieonderhoud in Rome. Foto: Getty Images
2025-10-08 04:26:49
Netanyahu se missielkommentaar laat Iran brom
Iran het Benjamin Netanyahu, premier van Israel, se waarskuwings oor sy missielprogram as verdigsel afgemaak.
“Iran ontwikkel nou interkontinentale ballistiese missiele vir ’n reikafstand van 8 000 km," het Netanyahu vroeër gesê.
"Wat beteken dit? Hulle voeg nog 3 000 km by en het . . . die stad New York in die visier, asook Washington, Boston, Miami, Mar-a-Lago.”
Laasgenoemde verwys na pres. Donald Trump se woning in Florida.
Abbas Araghtsji, minister van buitelandse sake van Iran, veroordeel die kommentaar.
“Israel probeer nou ’n denkbeeldige bedreiging van ons verdedigingsvermoëns maak.” – AFP
2025-10-08 04:34:59
Israel onderskep 3 bote van nuwe hulpflottielje na Gasastrook
Die organiseerders van ’n nuwe hulpflottielje na die Gasastrook sê die Israeliese weermag het Woensdag minstens drie van sy bote onderskep.
“Drie vaartuie is vroegoggend, 220 km van die kus van die Gasastrook, aangeval en onwettig deur die Israeliese weermag onderskep," sê die Global Sumud-flottielje.
Die Israeliese ministerie van buitelandse sake het dit bevestig.
“Die vaartuie en die passasiers word na ’n Israeliese hawe oorgeplaas,” sê die weermag.
“Al die passasiers is veilig en verkeer in goeie gesondheid.” – AFP
2025-10-08 05:16:12
Indië-modderstorting: Dodetal in busramp styg
Die dodetal nadat ’n bus Dinsdag deur die vallende puin van ’n modderstorting in Indië getref is, het tot 15 toegeneem.
Een kind word steeds in die fratsongeluk in Indië se noordelike deelstaat Himachal Pradesh vermis, het amptenare en die polisie Woensdag gesê. Twee kinders is ook in die voorval beseer.
Swaar reënval het vandeesweek wydverspreide oorstromings en modderstortings oor Indië se Himalaja-streek veroorsaak. – Reuters
2025-10-08 05:43:05
Poetin Donderdag in Tadjikistan vir post-Sowjet-spitsberaad
Pres. Wladimir Poetin sal Donderdag met Sentraal-Asiatiese leiers in Tadjikistan vergader vir slegs die tweede spitsberaad sedert die val van die Sowjetunie.
Dit kom terwyl Moskou met China en Europa om invloed meeding, terwyl Rusland se geskiedkundige greep op die streek die afgelope paar jaar afgeneem het.
Die president van Tadjikistan het op die eerste spitsberaad met Sentraal-Asië se vyf leiers in 2022 Moskou daarvan beskuldig dat hulle die post-Sowjet-state verwaarloos en hulle min respek betoon. – AFP
2025-10-08 06:17:46
Beer in supermark beseer 2 mans in Japan
’n Beer wat in die gange van ’n supermark in Sentraal-Japan rondgeloop het, het twee mans beseer.
Die volwasse beer van 1,4 m het Dinsdagaand die supermark in die stad Noemata, noord van Tokio, binnegekom en ’n man in sy 70's en ’n ander in sy 60's matig beseer.
In 'n afsonderlike voorval is 'n man Woensdag dood op ’n berg in die Iwate-streek aangetref ná nog ’n vermoedelike beeraanval.
Al hoe meer bere is die afgelope paar jaar in Japan opgemerk, selfs in woongebiede, weens faktore soos ’n dalende menslike bevolking en klimaatsverandering. – AFP

’n Veiligheidskamera wys ’n beer in ’n supermark in Noemata, noord van Tokio. Foto: AFP/Japan Out
2025-10-08 06:33:41
Militante vermoor 11 in Pakistan
Islamitiese militante het Woensdag ’n Pakistanse militêre konvooi naby die Afgaanse grens in ’n lokval gelei en nege paramilitêre soldate en twee offisiere vermoor.
Bomme het die konvooi getref voordat ’n groot aantal militante ’n geweeraanval in die distrik van Koerram geloods het, het vyf Pakistanse veiligheidsbeamptes aan Reuters gesê.
Die Pakistanse Taliban het in ’n verklaring aan ’n Reuters-verslaggewer erken dat hul vegters die konvooi aangeval het.
Die weermag se skakelafdeling het nie onmiddellik op ’n versoek om kommentaar gereageer nie. – Reuters
2025-10-08 06:46:26
Dodetal styg tot 4 nadat gebou in Spanje ineenstort
Die dodetal weens die ineenstorting van ’n gebou onder konstruksie in Sentraal-Madrid, Spanje, het Woensdag tot vier gestyg nadat nooddienste die lyke van die laaste twee mense wat as vermis aangemeld is, Woensdagoggend vroeg verwyder het.
Nog twee lyke is Dinsdag laat op die terrein naby die Plaza Mayor gevind. Die slagoffers sluit drie mans in wat op die terrein gewerk het en ’n vrou wat toesig oor die projek gehou het.
Spaanse media het berig dat die werkers van Mali, Guinee en Ecuador afkomstig was.
Nog drie mense het matige beserings opgedoen. – AFP
2025-10-08 07:19:51
8 dood weens vloede in Viëtnam
Agt mense is reeds vandeesweek in Viëtnam dood en rekord-vloede het Woensdag strate in verskeie gemeenskappe oorstroom.
Tienduisende mense is in hul huise vasgekeer of het gevlug van vloedwater wat die bopunt van motors en dakke bereik het in gebiede van die stad Thai Ngoejen, ongeveer 80 km noord van die hoofstad, Hanoi.
Die ministerie van omgewingsake het gesê agt mense is sedert Maandag in kitsvloede en grondstortings dood en vyf word vermis. – AFP

’n Lugfoto wys Woensdag vloedwater wat woongebiede oorstroom het ná swaar reën in die stad Thai Ngoejen. Foto: AFP
2025-10-08 07:25:44
Eritrea berei voor vir oorlog beweer Ethiopië
Ethiopië het Eritrea daarvan beskuldig dat hy kragte saamsnoer met ’n opposisie-faksie ter voorbereiding op ’n oorlog, luidens ’n brief wat AFP Woensdag bekom het.
“Die geharde faksie van die TPLF (Tigray People’s Liberation Front) en die regering van Eritrea berei aktief voor om oorlog teen Ethiopië te voer,” skryf Ethiopië se minister van buitelandse sake in die brief, wat aan António Guterres, sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, gerig is.
Die TPLF, wat die Ethiopiese politiek vir sowat 30 jaar oorheers het, is deelname aan politieke aktiwiteite verbied. – AFP
2025-10-08 07:38:39
‘Europa moet homself verdedig teen Rusland se hibriede oorlog’
Ursula von der Leyen, hoof van die Europese Kommissie, sê Europa moet sy verdediging verskerp om Rusland se “hibriede oorlogvoering” af te skrik ná verskeie luginvalle, kuberaanvalle en skade aan ondersese kabels.
“Hierdie voorvalle is bereken om in die skemer van ontkenning te bly. Dit is nie lukrake teistering nie.
"Dit is ’n samehangende en eskalerende veldtog.
“Twee voorvalle is toevallig, maar drie, vyf, tien, dit is ’n doelbewuste en geteikende grys-sone-veldtog teen Europa, en Europa moet reageer.” – AFP

Ursula von der Leyen, hoof van die Europese Kommissie. Foto: Getty Images
2025-10-08 08:04:57
8 dood in kraamsaal weens hommeltuigaanval in Soedan
Agt mense is in ’n kraamsaal dood in die beleërde stad El-Fasher, Soedan, in ’n hommeltuigaanval deur die paramilitêre Blitsondersteuningsmag (RFS).
Die aanval, wat Dinsdag plaasgevind het, het ook sewe mense in die plaaslike hospitaal beseer en “geboue en toerusting beskadig”, het ’n gesondheidswerker op voorwaarde van anonimiteit uit vrese vir hul veiligheid gesê.
Dit is die jongste aanval op gesondheidsorgfasiliteite sedert die begin van die oorlog in Soedan in April 2023 tussen die RSF en die Soedannese weermag. – AFP
2025-10-08 08:55:43
Denemarke gaan 150 000 hoenders van kant maak weens voëlgriep
Denemarke gaan 150 000 hoenders van kant maak nadat ’n uitbreking van die hoogs aansteeklike H5N1-voëlgriepvirus in ’n kudde in die suidoostelike deel van die land se Jutland-skiereiland bespeur is.
Die Deense Veeartsenykundige en Voedseladministrasie sê die uitbreking is die eerste sedert April toe dit beperkings op pluimveeboerdery wat in Desember 2024 ingestel is, opgehef het.
Die Nederlandse regering het gesê hy gaan 71 000 hoenders van kant maak weens die bespeuring van voëlgriep. – Reuters
2025-10-08 09:36:11
Betogers in Madagaskar verwerp ‘nasionale dialoog’
Betogers in Madagaskar het Woensdag ’n aanbod verwerp om aan pres. Andry Rajoelina se “nasionale dialoog” met verskeie groepe deel te neem.
Die jong betogers het Rajoelina se regering van onderdrukking beskuldig ná weke van demonstrasies in die Afrika-eilandnasie.
Minstens 22 is dood, volgens die Verenigde Nasies.
Rajoelina het verlede week sy kabinet ontbind in ’n poging om die onrus te demp.
Die betogings is op 25 September aangevuur deur woede oor volgehoue krag- en watertekorte en het gegroei tot breër betogings teen die regering. – Reuters, AFP

Mediese studente bots Dinsdag met veiligheidsmagte ten tyde van ’n betoging in Antananarivo, Madagaskar. Foto: Reuters
2025-10-08 09:53:19
Pous praat weer oor Trump se immigrasiebeleid
Pous Leo het Amerikaanse biskoppe Woensdag gevra om hul sterk uit te spreek teen pres. Donald Trump se immigrasiebeleid.
Leo, die eerste Amerikaanse pous, het tientalle briewe van immigrante ontvang wat hul vrese oor deportasie onder die Trump-administrasie beskryf.
“Ons Heilige Vader (die pous) ... is persoonlik baie bekommerd oor hierdie sake,” het biskop Mark Seitz, wat aan die vergadering deelgeneem het, gesê. – Reuters
2025-10-08 09:57:56
Nobelpryswenners in chemie aangekondig
Die wetenskaplikes Susumu Kitagawa van Japan, Richard Robson, wat in Brittanje gebore is en Omar Yaghi, ’n Amerikaanse en Jordaniese burger, het vanjaar se Nobelprys vir chemie vir “die ontwikkeling van metaal-organiese raamwerke”, gewen.
Die prys word toegeken deur die Koninklike Sweedse Akademie vir Wetenskappe en die wenners deel 11 miljoen Sweedse krone, sowel as die roem om waarskynlik die wêreld se mees gesogte wetenskapprys te wen. – Reuters, AFP
2025-10-08 10:16:53
Twee handgranate in besending uie in Nederland gevind
Die owerhede in Nederland het twee handgranate wat in 'n pakkie uie weggesteek is, gevind.
Die granate, wat uit 1925 dateer, is gevind in ’n besending uie wat van Frankryk na ’n fabriek in die provinsie Zeeland in die noorde van Nederland op pad was, volgens die Organisasie vir die Verbod op Chemiese Wapens (OPCW).
“Die projektiele is geïdentifiseer as ooreenstemmend met ou chemiese wapens van voor 1925 in Frankryk en Duitsland.” – AFP
2025-10-08 10:23:41
Vredesonderhandelinge verloor stoom, sê Rusland
Rusland sê die onderhandelinge vir ’n vredesooreenkoms vir die oorlog in Oekraïne het, ná pres. Wladimir Poetin en pres. Donald Trump se beraad in Alaska, stoom verloor.
Die twee leiers het in Augustus op ’n lugmagbasis in die stad Anchorage vergader, maar het nie daarin geslaag om enige ooreenkoms te bereik nie.
“Ongelukkig moet ons erken dat die kragtige momentum wat deur Anchorage ten gunste van ooreenkomste gegenereer is ... grootliks verdwyn het,” het Sergei Riabkof, Russiese adjunkminister van buitelandse sake, volgens Russiese nuusagentskappe gesê.
Riabkof het Europa vir die dooiepunt blameer. – AFP
2025-10-08 10:42:38
‘Optimisme’ oor bemiddeling in Gasastrook
Hamas sê daar heers “optimisme” in indirekte gesprekke met Israel wat daarop gemik is om die oorlog in die Gasastrook te beëindig.
Hamas het ’n lys van name van gevangenes ingedien wat hulle vrygelaat wil hê in ruil vir die vrylating van Israeliese gyselaars.
“Die bemiddelaars wend groot pogings aan om enige struikelblokke vir die implementering van die skietstilstand te verwyder, en ’n gees van optimisme heers onder alle partye,” het Taher al-Noenoe, ’n senior Hamas-amptenaar gesê. – AFP
2025-10-08 11:15:23
EU-stem vir verbod om vleisname vir plantgebaseerde kosse te gebruik
Die Europese Parlement het Woensdag gestem om die gebruik van vleisverwante terme soos "burger" en "biefstuk" in die bemarking van plantgebaseerde kosse te verbied.
Europese Unie (EU)-wetgewers het die wetsvoorstel goedgekeur met 355 stemme ten gunste daarvan en 247 daarteen in 'n sitting in Straatsburg. Die besonderhede moet nog met die groepering se 27 lidlande onderhandel word voordat dit wet word. Hierdie verbod is deel van 'n wyer debat in die EU oor die etikettering van alternatiewe voedselprodukte.
Tradisioneel is terme soos "burger", "wors" en "biefstuk" aan vleisprodukte gekoppel, maar met die toename in plantgebaseerde alternatiewe het voedselmaatskappye hierdie terme begin gebruik om hul produkte beter aan verbruikers te bemark. – AFP
2025-10-08 11:22:26
Rusland sal toets as ander kernmoondhede dit waag
Sergei Riabkof, Russiese adjunkminister van buitelandse sake, sê dat Rusland vinnig ’n kernwapentoets sal uitvoer as Amerika dit doen, berig die staatsnuusagentskap RIA.
Pres. Wladimir Poetin het ook onlangs gesê Rusland sal ’n kernwapentoets uitvoer as ’n ander kernmoondheid so ’n stap doen.
Volgens Riabkof is die Kremlin bewus daarvan dat Amerika reeds vir ’n geruime tyd besig is om hul eie toetsinfrastruktuur gereed te maak. As die VSA wel so ’n toets uitvoer, sê Riabkof, sal Rusland vinnig dieselfde doen. – Reuters
2025-10-08 11:28:27
Viëtnam verskerp optrede teen geloofsleiers, kritici
'n Viëtnamese pastoor en menseregte-aktivis, Y Nuen Ayun, is Woensdag op teenstaatsaanklagte in hegtenis geneem. Ayun is 'n leier van die Montagnard Evangeliese Kerk van Christus, ‘n onafhanklike Protestantse kerk in die sentraal-hoogland.
Die Amerikaanse departement van buitelandse sake het vroeër gemeld dat hierdie kerk en sy lede glo deur Viëtnamese owerhede geteister word weens hul aktiwiteite teen die regering. Ayun is gearresteer vir “herhaaldelike vals inligting oor godsdiensaktiwiteite, laster teen die regering en die skep van probleme vir die gemeenskap”.
Hy is reeds vantevore as ‘n “risiko” beskou deur menseregte-aktiviste wat politieke vervolging dophou. Nog 'n man, Huynh Ngoc Tuan, is Dinsdag gearresteer weens kritiek teen die regering op Facebook. Viëtnam het onlangs sy optrede teen kritici verskerp, en selfs gewone sosialemediagebruikers word geteiken. – AFP
2025-10-08 11:34:30
Verset teen Israel

'n Fietsryer ry verby graffiti met "Bevry Palestina" en "Dood aan Israel” op 'n muur in Straatsburg in die ooste van Frankryk.
Foto: AFP
2025-10-08 12:11:14
Rubio vergader in Parys oor Gasastrook, sê bronne
Marco Rubio, Amerikaanse minister van buitelandse sake, sal na verwagting Donderdag 'n ministeriële vergadering in Parys met Europese, Arabiese en ander lande bywoon om die oorgang in die Gasastrook te bespreek, sê diplomatieke bronne.
Die vergadering, wat parallel loop met onderhandelinge tussen Israel, Hamas en bemiddelaars in Egipte se Rooisee-oord Sjarm el-Sheik, het ten doel om te bespreek hoe om 'n plan wat deur pres. Donald Trump voorgestel is, in werking te stel.
Kollektiewe verbintenisse van lande sal ook beoordeel word. Die Amerikaanse ambassade in Parys het nie onmiddellik op navrae oor die vergadering gereageer nie. – Reuters
2025-10-08 12:20:02
Nuwe teisteringsaak plaas Madeleine McCann weer in kollig
Kate McCann, ma van die vermiste Britse meisie Madeleine McCann, het Woensdag in 'n hof verklaar dat sy onmiddellik aan foto’s kon sien dat die Poolse vrou wat voorgee sy is Madeleine, 'n bedrieër is.
Julia Wandelt (24) en Karen Spragg (61) van Cardiff in Wallis verskyn tans in die hof op aanklagte van teistering nadat hulle glo aanhoudend die McCanns gebel en hul huis besoek het.
Wandelt het beweer sy is Madeleine en het Kate gesmeek vir 'n DNS-toets. Hulle het selfs tot 60 oproepe op 'n dag gemaak. Kate McCann het dit oorweeg om die toets te laat doen, maar was van die begin af oortuig Julia is nie haar dogter nie.
Die saak plaas weer die aandag op Madeleine, wat in 2007 uit die gesin se vakansiehuis vermis geraak het. Wetenskaplike getuienis bewys Wandelt is nie verwant aan haar nie. – AFP
2025-10-08 12:24:41
Oorspoel

Boeddhistiese monnike loop deur 'n oorstroomde gebied om aalmoese in te samel ná swaar reënval in die Pathum Thani-provinsie in Thailand. Foto: Reuters
2025-10-08 12:31:26
Saoedi-Arabië veroordeel Israeliese minister se besoek aan Al-Aksa
Saoedi-Arabië het Woensdag 'n besoek deur Itamar Ben Gvir, Israeliese minister van nasionale veiligheid, aan die Al-Aksa-kompleks in die ooste van Jerusalem veroordeel. Hierdie betwiste gebied huisves Islam se derde heiligste plek, asook Judaïsme se heiligste terrein.
Die Saoedi-Arabiese departement van buitelandse sake het sy “veroordeling uitgespreek oor die bestorming van die Al-Aksa-moskee-kompleks deur Israeliese amptenare en setlaars onder beskerming van die besettingsmagte”.
Die departement het ook sy afkeur herhaal oor die voortgesette aanvalle op die heiligheid van die Al-Aksa-moskee. – AFP
2025-10-08 13:05:05
Trump: Tronk toe met burgemeester van Chicago, Illinois-goewerneur
Pres. Donald Trump het Woensdag gesê die burgemeester van Chicago, Brandon Johnson, en die goewerneur van die deelstaat Illinois, JB Pritzker, moet tronk toe gestuur word.
Trump het ook die twee Demokrate daarvan beskuldig dat hulle nie federale immigrasiebeamptes beskerm nie, sonder om enige bewyse vir die aantyging aan te bied.
Trump se kommentaar, wat op sy sosialemediaplatform geplaas is, kom terwyl die Republikeinse president soldate van die Nasionale Garde na Chicago, die derde grootste stad in Amerika, ontplooi het ondanks plaaslike amptenare se besware.
“Die burgemeester van Chicago behoort in die tronk te wees omdat hy nie beamptes van ICE beskerm het nie! Goewerneur Pritzker ook!” skryf Trump in die plasing met verwysing na die Amerikaanse agentskap vir immigrasie en doeane-afdwinging (ICE). – Reuters
2025-10-08 13:06:30
Indië verbied sommige hoesstrope ná dood van kinders
Indiese owerhede het Woensdag die publiek aangeraai om nog twee hoesstroop-handelsname te vermy ná die dood van 17 kinders jonger as vyf.
Amptenare sê die kinders is in die afgelope maand in Indië dood nadat hulle hoesstroop met diëtileenglikol ingeneem het.
Die sterftes word aan die gebruik van Coldrif-hoesstroop gekoppel, wat reeds op 2 Oktober verbied is ná bevestiging van die toksiese bestanddeel.
Volgens waarskuwings van Gujarat en ander Indiese deelstate bevat Respifresh en Relife ook diëtileenglikol, wat ernstige vergiftiging veroorsaak en tot nierversaking, neurologiese komplikasies en selfs die dood kan lei, veral onder kinders. – Reuters
2025-10-08 13:07:55
Sy sal enige regering dwarsboom, sê Frankryk se Le Pen
Die verregse Franse leier Marine le Pen het Woensdag onderneem om alle voornemende stappe deur ’n nuwe regering te dwarsboom te midde van ’n ernstige politieke krisis.
Pres. Emmanuel Macron sukkel om ’n funksionerende regering saam te stel ná verlede jaar se vervroegde verkiesing.
Le Pen se party, Rassemblement National, dring aan op ’n nuwe verkiesing of Macron se bedanking. Le Pen sê haar party sal “teen alles stem” .
Die party neem ook nie deel aan besprekings om die krisis te beëindig nie. Sébastien Lecornu, uittredende premier, is deur Macron versoek om tot Woensdagaand in sy amp aan te bly om die krisis die hoof te bied.
Volgens meningspeilings steun 70% van die Franse publiek Macron se bedanking. – AFP

Marine le Pen. Foto: AFP
2025-10-08 14:07:16
IMF sê wêreldekonomie vaar beter as verwag
Die wêreldekonomie vaar beter as wat aanvanklik verwag is, maar is steeds onder die verwagte vlak, sê Kristalina Georgieva, hoof van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF).
Ondanks aanhoudende onsekerheid en swak mediumtermynvooruitsigte, verwag die IMF slegs ’n effense groeivertraging vanjaar en volgende jaar, ondersteun deur goeie prestasie in Amerika en ander sleutel-ekonomieë.
Volgens Georgieva is internasionale handel die fokuspunt op die komende jaarlikse vergadering van die Wêreldbank en die IMF.
Ondanks ’n daling in Amerikaanse tariewe, bly tariefvlakke hoog en is die impak daarvan nog nie volledig gevoel nie. Gegewe die uitdagings, voorspel die IMF ’n matige globale groei van ongeveer 3% op mediumtermyn. – AFP
2025-10-08 14:08:38
Duitse owerhede ondersoek Temu oor prysbeïnvloeding
Duitsland se kantoor vir die ondersoek na kartelle het met stappe teen Temu begin om vas te stel of dié Chinese afslag-e-handelsplatform handelaars se pryse beïnvloed.
“Ons ondersoek die vermoede dat Temu ontoelaatbare vereistes aan handelaars se pryse op die Duitse mark stel,” sê die kantoor. “Sulke vereistes kan beduidende beperkings op mededinging inhou en uiteindelik lei tot prysverhogings in ander verkoopskanale.”
Die stappe is begin teen die Dublin-gebaseerde Whaleco Technology Limited, wat as Temu in Duitsland bedryf word. – Reuters
2025-10-08 14:20:04
Voormalige FBI-hoof pleit onskuldig in hof
James Comey, voormalige direkteur van die FBI, het Woensdag in die distrikshof in Alexandria, Virginië, onskuldig gepleit op federale strafregtelike klagte. Sy regspan, onder leiding van Patrick Fitzgerald, het die pleit tydens die formele hofverskyning ingedien.
Die saak word wyd gesien as ’n nuwe fase in pres. Donald Trump se pogings om regstappe teen politieke teenstanders te doen.
Die saak teen Comey volg nadat Trump herhaaldelik sy frustrasie uitgespreek het oor die ondersoek na Russiese inmenging in die 2016-verkiesing – ’n ondersoek waarin Comey ’n sentrale rol gespeel het voordat hy in 2017 deur Trump afgedank is. – AFP

Mense betoog buite die Albert V. Bryan-hofgebou tydens die hofverrigtinge teen James Comey, voormalige FBI-direkteur, in Alexandria, Virginië. Foto: AFP
2025-10-08 15:01:07
Afgaanse Taliban-minister bring eerste besoek aan Indië
Afganistan se Taliban-minister van buitelandse sake het Woensdag na Nieu-Delhi vertrek, het sy ministerie gesê, in wat die eerste besoek aan Indië deur ’n Taliban-leier sou wees sedert die groep die mag in 2021 oorgeneem het.
Die reis beklemtoon die Taliban se pogings om betrokkenheid by streeksmoondhede uit te brei in ’n soeke na ekonomiese betrekkinge en uiteindelike diplomatieke erkenning.
Tot dusver is Rusland die enigste land wat die Taliban-administrasie formeel erken.
Amir Chan Moettaki, die Afgaanse minister van buitelandse sake, sal samesprekings voer met Subrahmanyam Jaishankar, die Indiese minister van buitelandse sake, en ander amptenare oor politieke, ekonomiese en handelskwessies. – Reuters
2025-10-08 15:01:54
Aanvaller van Manchester-sinagoge sweer glo trou aan Isis
Die man wat verlede week ’n sinagoge in Manchester, Brittanje, aangeval het, het aan die Islamitiese Staat (Isis) trou gesweer in ’n foonoproep aan die polisie aan die begin van die aanval, sê die teenterreur-afdeling van die Britse polisie.
Jihad al-Shamie (35) het glo buite die Heaton Park- Hebreeuse gemeente se sinagoge die polisie gebel en sy lojaliteit teenoor Isis verklaar.
Die polisie het binne sewe minute op die toneel gereageer en Al-Shamie het in die skietery gesterf.
Twee Joodse persone het ook in die aanval gesterf – een vermoedelik weens ’n dwaalkoeël deur die polisie. – AFP
2025-10-08 15:09:43
Betogers in Madagaskar wil g’n praat
Jeugbetogers in Madagaskar het Woensdag ’n aanbod verwerp om hulle aan te sluit by pres. Andry Rajoelina se “nasionale dialoog” met verskeie groepe.
Ná weke van betogings in die Afrika-eilandnasie het hulle sy regering van onderdrukking beskuldig.
Die betogings, geïnspireer deur soortgelyke “Generasie Z”-bewegings in Kenia en Nepal, het op 25 September begin en bied die grootste uitdaging tot nog toe vir Rajoelina se regering sedert sy herverkiesing in 2023.
Die betogers is ontevrede oor wydverspreide armoede en hoëvlak-korrupsie.
Rajoelina het verlede week sy kabinet afgedank in ’n poging om die onrus te bedwing, ’n nuwe premier aangestel en planne vir ’n nasionale dialoog aangekondig wat Woensdagmiddag begin het. – Reuters
2025-10-08 15:17:08
En die vooruitsigte is ...

Kristalina Georgieva, hoof van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF), praat Woensdag by die Milken-instituut voor die jaarvergadering van die IMF en die Wêreldbank in Washington. Foto: AFP
2025-10-08 16:00:20
Duitsland verhoog voorspelling vir groei
Duitsland se ekonomie sal in 2025 skrale groei toon voordat dit volgende jaar sal versnel, het die regering Woensdag gesê terwyl hy “beslissende hervormings” vir volgehoue herstel gevra het.
Duitsland se ekonomie het in sowel 2024 as 2023 gekrimp nadat dit getref is deur ’n vervaardigingsineenstorting, stygende energiekoste en ’n swak vraag na uitvoer, veral van die sleutelmark China.
Die ministerie van die ekonomie het in sy jongste voorspellings gesê dat hy nie ’n derde jaar van resessie in 2025 verwag nie, hoewel die ekonomie slegs met 0,2% sou groei. Dit was hoër as ’n voorspelling van stagnasie in April. – AFP
2025-10-08 16:02:02
Mali-militante laat vrese vir brandstoftekort opvlam
Motoriste het Woensdag in lang rye buite vulstasies in Mali se hoofstad, Bamako, gestaan ná etlike dae van sluitings en vrese vir ’n tekort nadat militante verlede maand brandstofinvoer geblokkeer het.
Vulstasies kon sedert verlede week slegs diesel verskaf – ’n druktaktiek wat op Mali se militêre regering toegepas word deur militante groepe wat volgens ontleders die land se ekonomiese suurstof wil afsny.
“Ons sê vir alle handelaars wat diesel en petrol na Mali invoer, of dit nou van die Ivoorkus, Guinee, Senegal of Mauritanië afkomstig is, om dit tot verdere kennisgewing te staak,” het ’n woordvoerder van die militante groep Jama’at Nusrat al-Islam wal-Muslimin (JNIM) in ’n video verklaar, waarna die blokkade vroeg in September afgekondig is. – Reuters
2025-10-08 16:04:02
Sê hallo vir die pous

Pous Leo XIV groet ’n baba met sy aankoms op die St. Petrus-plein in die Vatikaan. Foto: Getty Images
2025-10-08 16:10:57
Italië open ‘geheime gang’ in Colosseum vir publiek
’n Eens geheime gang in die Colosseum, genoem na die vreesaanjaende antieke Romeinse keiser wat in die Hollywood-lokettreffer Gladiator verskyn, is die eerste keer vir die publiek oopgemaak.
Die sogenaamde Commodus-gang het keisers in staat gestel om die arena in Rome te betree om na gladiator-gevegte te kyk sonder om met die skare te meng.
Dit is tussen die einde van die 1ste eeu n.C. en die begin van die 2de eeu n.C. by die Colosseum aangebring as ’n toevoeging tot die oorspronklike ontwerp. “Hierdie gang is nou vir die eerste keer oop vir die publiek,” sê Barbara Nazzaro, ’n argeoloog. – Reuters
2025-10-08 16:58:22
Franse hof gee in November uitspraak oor Sarkozy se appèl
Frankryk se hoogste hof het Woensdag aangekondig dat sy finale uitspraak oor oudpres. Nicolas Sarkozy se laaste appèl teen onwettige veldtogfinansiering in November gelewer sal word.
Sarkozy is reeds in 2021 skuldig bevind in die sogenaamde “Bygmalion-saak”, waarin hy en sy regse party daarvan beskuldig is dat hulle sowat €43 miljoen aan sy 2012-verkiesingsveldtog bestee het – byna dubbel die toegelate bedrag.
Sy straf is al tot ses maande tronkstraf verminder, met ’n elektroniese moniteringstelsel, nadat ’n appèl in 2024 die vonnis gedeeltelik opgehef het. Die finale beslissing word op 26 November verwag, te midde van politieke onsekerheid in Frankryk. – AFP
2025-10-08 17:00:44
Oekraïne vra Amerika vir wapentuig wat Europa nie kan verskaf
Aljona Getmantsjoek, Oekraïne se ambassadeur by die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo), het Woensdag Europese bondgenote aangespoor om die aankope van Amerikaanse wapentuig te verhoog, aangesien dit slegs die VSA is wat in die vermoëns kan voorsien wat nodig is om Rusland se aanvalle teen te staan.
“Europese Navo-lidlande kan dit nie vervang volgens tipe, volume of spoed van aflewering nie,” sê Getmantsjoek.
“Dit is nie dat ons Amerikaanse wapens bo Franse of Duitse of ander Europese wapens verkies nie. Die kwessie is dat ons Amerika vra vir wapens wat Europese lande nie kan verskaf nie.” – AFP
2025-10-08 17:01:48
Victoria Beckham erken onsekerhede in nuwe dokumentêr
Victoria Beckham, voormalige Spice Girl en ontwerper, erken in ’n nuwe Netflix-dokumentêr dat sy gesukkel het om aanvaar te word ná haar dae as Posh Spice.
Beckham (51) vertel hoe sy ná die musiekgroep Spice Girls se sukses in 2000 haar kreatiwiteit in die modewêreld begin uitleef het, ten spyte van teenspoed en skeptisisme oor haar nuwe loopbaan.
Sy erken dat sy lank gevoel het sy pas nêrens in nie en “desperaat was om aanvaar te word”.
Beckham, getroud met die sokkerlegende David Beckham, bespreek in die driedelige reeks ook haar handelsmerk se finansiële probleme – haar klere-etiket het sedert 2008 nog geen wins getoon nie.
Die Spice Girls het ná hul debuut in 1996 wêreldwyd 85 miljoen albums verkoop. – AFP

Victoria Beckham Foto: AFP
2025-10-08 17:58:18
Starmer staan by regering se besluit oor spioenasiesaak
Keir Starmer, Britse premier, ontken dat Brittanje die vervolging van twee mans weens spioenasie vir China gestaak het om dié land te paai.
Starmer beklemtoon dat dié besluit op wetlike beperkings berus en nie politieke oorwegings nie. Ten tyde van ’n besoek aan Indië het hy gesê die regering is teleurgesteld dat die saak nie voortgesit is nie, maar enige skuld lê by die vorige konserwatiewe regering se beleid teenoor China.
“Die saak moes volgens die stand van sake onder die vorige regering gehanteer word. Dis die regsvereistes, nie ’n politieke speelbal nie,” sê Starmer.
Die vorige regering het China nie as ’n bedreiging verklaar toe die oortredings glo plaasgevind het nie, wat vervolging bemoeilik. Starmer, voormalige hoofaanklaer, sê wetgewing stel dit duidelik dat ’n land as vyand verklaar moet wees om vervolging te kan lei. – Reuters
2025-10-08 17:59:58
Ontheemdes in Haïti verdubbel, miljoene kinders het hulp nodig
Sowat 680 000 kinders in Haïti is tans ontheem weens bendegeweld, sê die Verenigde Nasies (VN) se kinderfonds (Unicef).
Volgens Unicef is dit ’n getal wat binne net ’n jaar byna verdubbel het. Meer as 3,3 miljoen kinders is nou afhanklik van humanitêre hulp en moet daagliks om oorlewing veg.
Bendegeweld het die laaste paar jaar in Haïti toegeneem, veral in die hoofstad, Port-au-Prince, waar gereelde skietgevegte, ontvoerings en geweld gesinne dwing om hul huise te verlaat. – AFP
2025-10-08 18:01:05
Nuweling in verdediging

’n Nuwe hommeltuig word bekend gestel by die aanbieding van ’n program vir hommeltuigverdediging in Cochstedt in die ooste van Duitsland. Die Duitse federale polisie sal voortaan toegelaat word om hommeltuie af te skiet. Foto: AFP
2025-10-08 18:02:23
Poetin in Tadjikistan: Europa, China ding ook mee om streek
Pres. Wladimir Poetin het Woensdag in Tadjikistan aangekom vir ’n driedaagse besoek wat fokus op gesprekke met leiers van Sentraal-Asië, ’n streek waar Rusland se tradisionele oorheersing onlangs uitgedaag is.
Pres. Emomali Rahmon van Tadjikistan het Poetin in die hoofstad, Doesjanbe, verwelkom, berig Russiese media. Andrei Beloesof, Russiese minister van verdediging, het intussen ’n Russiese militêre basis in die land besoek. Poetin gaan Donderdag met die staatshoofde van ál vyf die streek se voormalige Sowjetstate, asook met pres. Ilham Alijef van Azerbeidjan, vergader.
Rusland probeer om sy invloed te behou deur energie-ooreenkomste en kernkragprojekte. China en die Europese Unie (EU) het ook hul teenwoordigheid in Sentraal-Asië versterk en ding mee om strategiese invloed ná onlangse samewerkingsberade met streekleiers. – AFP
2025-10-08 19:01:47
Nuwe Franse premier dalk binnekort aangekondig
Sébastien Lecornu, tydelike premier van Frankryk, het Woensdag gesê pres. Emmanuel Macron kan moontlik binne 48 uur ’n nuwe premier aanstel, en dat dit die kans op ’n vervroegde parlementsverkiesing laat afneem.
Volgens Lecornu het die politieke situasie begin stabiliseer. Frankryk is tans in ’n toestand van onsekerheid nadat ’n polariserende verkiesing die parlement sonder ’n duidelike meerderheid gelaat het.
Vroeër is bespiegel dat Macron die Nasionale Vergadering moontlik kon ontbind en ’n nuwe verkiesing kon uitroep om ’n sterker mandaat te probeer kry. Die moontlikheid hiervan lyk nou minder waarskynlik en die fokus verskuif na die aanstelling van ’n nuwe premier wat stabiliteit kan herstel.
Politieke waarnemers meen Macron sal iemand moet kies wat ondersteuning van verskillende partye kan kry. – Reuters
2025-10-08 19:04:06
Die naam is Blanc... Benoit Blanc

Die Britse akteur Daniel Craig poseer vir foto’s op die rooi tapyt tydens die openingsaand van die fliek ‘Wake Up Dead Man: A Knives Out Mystery’ op die BFI Londense Fliekfees. Foto: AFP
2025-10-08 19:07:17
Florida-man aangekla van reusebrand in Kalifornië
’n Man van die Amerikaanse deelstaat Florida is in hegtenis geneem op aanklagte dat hy doelbewus die verwoestende Palisades-brand in Los Angeles vroeër vanjaar gestig het, sê die Amerikaanse departement van justisie.
Volgens aanklaers het Jonathan Rinderknecht (29) ná ’n Uber-skof op 1 Januarie ’n brand naby ’n staproete in Pacific Palisades gestig. Hoewel brandbestryders aanvanklik geglo het die brand is geblus, het dit op 7 Januarie weer opgevlam en ontwikkel in die vernietigende Palisades-brand.
12 mense het gesterf en die vlamme het meer as 23 000 hektaar verwoes en 6 000 strukture vernietig. Die skade word op sowat $150 miljard geraam. Selfoondata en Rinderknecht se eie verklarings verbind hom glo met die brandstigting. – Reuters
2025-10-08 20:02:38
Dolly Parton stel gerus: ‘Ek is nie dood nie!’
Die Amerikaanse sangeres Dolly Parton (79) het Woensdag haar aanhangers op Instagram verseker: “Ek is nie dood nie!”
Dit kom nadat haar suster Freida Parton besorgdheid ontlok het met ’n Facebook-plasing oor Parton se gesondheid. Gerugte het blitsvinnig versprei.
In haar video bedank Parton die publiek dat hulle omgee, maar sê sy voel nie dat haar tyd om te sterf al aangebreek het nie. “Baie gerugte doen die ronde, maar as jy dit van my hoor, weet jy ek is oukei,” het sy gesê.
Parton het onlangs optredes in Las Vegas uitgestel vir mediese behandeling ná haar man se dood, maar hou voet by stuk dit is nie ernstig nie. “Ek moes net 'n bietjie stilstaan,” sê sy.
Parton vra dat almal kalm bly: “Ek waardeer die gebede, ek glo in geloof, maar ek is oukei. Moenie glo ek is slegter af as wat ek is nie!” – AFP
2025-10-08 20:04:29
Massabetogings: Bekendes rig brief aan Marokkaanse koning
60 Marokkaanse openbare figure, onder wie akademici, kunstenaars en menseregte-aktiviste, het Woensdag ’n brief aan koning Mohammed VI gerig met ’n dringende versoek vir hervormings en ’n daadwerklike stryd teen korrupsie.
Die skrywers steun die protesbewegings en massabetogings oor swak dienslewering wat deur die jeug aangedryf word. Dit het in September losgebars ná tragiese sterftes in openbare-gesondheidsgeriewe.
In hul brief vra hulle die koning om verandering. Hulle eis konstitusionele hervorming, die vrylating van betogers en dat besteding geprioritiseer word om in landsburgers se basiese behoeftes te voldoen eerder as smukprojekte.
Die brief kom aan die vooraand van die koning se jaarlikse toespraak. – AFP
2025-10-08 20:05:43
Musk skik met oud-Twitter-bestuurders ná afdankings
Die Amerikaanse miljardêr Elon Musk het ingestem om ’n onvermelde bedrag te betaal om ’n regsdispuut met vier voormalige Twitter-bestuurders te skik, lui hofstukke wat Woensdag ingedien is.
Die saak spruit uit Oktober 2022, toe Musk Twitter vir $44 miljard gekoop en Parag Agrawal, Ned Segal, Vijaya Gadde en Sean Edgett summier afgedank het.
Musk het hulle daarvan beskuldig dat hulle nalatig was, maar hulle het hulle in Maart 2024 in San Francisco tot die hof gewend en $128 miljoen geëis.
Die vier beweer hulle is onregverdig afgedank. Die skikking bly aan voorwaardes onderhewig; as dit nie nagekom word nie, heropen die saak op 31 Oktober. – AFP
2025-10-08 20:06:55
Trump in sy noppies met Gasa-onderhandelinge
Pres. Donald Trump sê hy sal moontlik aan die einde van die week na die Midde-Ooste gaan aangesien ’n vredesooreenkoms tussen Israel en Hamas in die Gasastrook “baie naby” is.
“Ek sal dalk teen die einde van die week daarheen gaan, miskien eintlik Sondag,” het Trump Woensdag aan verslaggewers by die Withuis gesê. “En ons sal sien, maar daar is 'n baie goeie kans. Onderhandelinge vorder baie goed.” – AFP

Pres. Donald Trump van Amerika. Foto: Getty Images
2025-10-09 03:32:15
Israel, Hamas stem in tot skietstilstand, vrylating van gyselaars
Israel en Hamas sê hulle het ’n langverwagte skietstilstand- en gyselaarsooreenkoms bereik.
Dit is die eerste fase van pres. Donald Trump se plan om die oorlog in die Gasastrook te beëindig wat meer as 67 000 lewens geëis het en die Midde-Ooste hervorm het.
Die indirekte gesprekke in Egipte het ’n ooreenkoms opgelewer oor die aanvanklike fase van Trump se 20-punt-raamwerk. – Reuters

Twee vroue hou Saterdag plakkate omhoog gedurende ’n betoging in Jerusalem om ’n einde aan aanvalle op die Gasastrook en die terugkeer van Israeliese gyselaars te eis. Foto: Getty Images/Anadolu
2025-10-09 03:40:22
Taiwan-verslag waarsku oor verhoogde bedreiging deur China
China verhoog die voorkoms van sy militêre aktiwiteite rondom Taiwan en ontwikkel nuwe toerusting om sy aanvalsvermoë te verfyn.
Dit is volgens ’n verslag wat Taiwan se ministerie van verdediging Donderdag uitgereik het. China gebruik “hibriede oorlogvoering” om mense se vertroue in Taiwan se regering en ondersteuning vir verdedigingsbesteding te verswak.
Volgens die verslag gebruik China ook kunsmatige intelligensie om swakpunte in Taiwan se kritieke infrastruktuur te soek. – Reuters
2025-10-09 03:47:27
Trump sê ooreenkoms oor Gasastrook groot dag vir hele wêreld
Pres. Donald Trump het Woensdag aan Reuters gesê dat ’n ooreenkoms oor gyselaars en ’n skietstilstand in die Gasastrook wat in Egipte beklink is, ’n “groot dag vir die wêreld” verteenwoordig.
“Die hele wêreld het hieroor saamgekom, Israel, elke land het saamgekom. Dit was ’n fantastiese dag,” het Trump gesê. “Dit is ’n groot dag vir die wêreld. Dit is ’n wonderlike dag, ’n wonderlike dag vir almal.”
Trump het ook Woensdag aan Fox News gesê die gyselaars wat in Gasa aangehou word, sal waarskynlik Maandag vrygelaat word. – Reuters
2025-10-09 04:01:58
Israel verwag gyselaars sal Saterdag vrygelaat word
Israel verwag dat sy gyselaars Saterdag vrygelaat sal word nadat Israel en Hamas die eerste fase van ’n ooreenkoms oor die Gasastrook aanvaar het, het ’n woordvoerder van die Israeliese regering aan Reuters gesê.
Die woordvoerder het nie gesê of die regering verwag dat al 48 oorblywende gyselaars, lewend en dood, dadelik vrygelaat sal word nie. – Reuters
2025-10-09 04:03:10
Netanyahu roep Donderdag vergadering byeen oor skietstilstand
Benjamin Netanyahu, premier van Israel, sê hy sal die regering Donderdag byeenroep om die skietstilstand in die Gasastrook goed te keur wat daarop gemik is om al die Israeliese gyselaars huis toe te bring.
“ ’n Groot dag vir Israel,” het Netanyahu in ’n verklaring bygevoeg ná die aankondiging dat ’n ooreenkoms tussen Israel en Hamas bereik is. – Reuters
2025-10-09 04:12:17
Starmer verwelkom ooreenkoms oor Gasastrook
Keir Starmer, premier van Brittanje, sê hy verwelkom die ooreenkoms oor die eerste fase van pres. Donald Trump se plan vir die Gasastrook en dring daarop aan dat dit sonder versuim ten volle geïmplementeer moet word.
“Hierdie ooreenkoms moet nou sonder versuim ten volle geïmplementeer word, en vergesel word deur die onmiddellike opheffing van alle beperkings op lewensreddende humanitêre hulp aan die Gasastrook.” – Reuters

Mense vier Donderdag op die “Gyselaarsplein” in Tel Aviv, Israel, pres. Donald Trump se aankondiging dat Israel en Hamas ooreengekom het oor die eerste fase van ’n skietstilstand in die Gasastrook. Foto: Reuters
2025-10-09 04:30:37
Dít is deel van ooreenkoms oor Gasastrook
Hamas sal 20 lewende gyselaars vrylaat as deel van die eerste fase van die ooreenkoms, het ’n Palestynse bron na aan die onderhandelinge gesê.
’n Topamptenaar in Hamas sê Israel sal byna 2 000 Palestynse gevangenes vrylaat: 250 onder diegene wat lewenslange vonnisse uitdien en 1 700 ander wat sedert die begin van die oorlog aangehou is.
Die uitruiling behoort binne 72 uur ná die implementering van die ooreenkoms plaas te vind. – AFP

Einav Zangauker, die ma van gyselaar Matan Zangauker, reageer op die “Gyselaarsplein” in Tel Aviv, Israel, op die nuus dat pres. Donald Trump aangekondig het dat Israel en Hamas ooreengekom het oor die eerste fase van ’n skietstilstand in die Gasastrook. Foto: Reuters
2025-10-09 05:39:55
Vlugte 3de dag geraak weens regeringsluiting
Die Federale Lugvaartadministrasie (FAA) het Woensdag vlugte by lughawens ’n derde agtereenvolgende dag vertraag omdat die agentskap steeds hoër as normale personeeltekorte ervaar weens die regeringsluiting.
Daar was byna 3 000 vertragings van vlugte teen 17:30 (plaaslike tyd) ná altesaam 10 000 vertragings Maandag en Dinsdag.
Duisende van die vertragings is gekoppel aan die afwesigheid van lugverkeersbeamptes oor die land heen, terwyl die regeringsluiting sy agtste dag bereik het. – Reuters
2025-10-09 05:40:37
VN-personeellid deur Hoethi’s vrygelaat
’n Personeellid van die Verenigde Nasies (VN) wat onlangs deur Jemen se Hoethi-owerhede aangehou is, is vrygelaat, het Stephane Dujarric, VN-woordvoerder, Woensdag gesê.
“Ons gaan voort om die de facto-owerhede aan te spoor om onmiddellik en onvoorwaardelik alle VN- en humanitêre werkers vry te laat wat die kwesbaarste mense in Jemen ondersteun,” het Dujarric gesê.
Dujarric sê 53 VN-personeellede word steeds deur Hoethi’s aangehou, van wie sommige sedert 2021 aangehou word. – Reuters
2025-10-09 06:02:13
Ooreenkoms oor Gasastrook na verwagting om 12:00 onderteken
Die ondertekening van die ooreenkoms oor die eerste fase van pres. Donald Trump se plan vir Gasa sal na verwagting om 12:00 Israeliese tyd (ook Suid-Afrikaanse tyd) plaasvind, het ’n bron wat Donderdag oor die besonderhede van die ooreenkoms ingelig is, aan Reuters gesê.
Die skietstilstand sal na verwagting op grondvlak in die Gasastrook in werking tree sodra die ooreenkoms onderteken is, het die bron bygevoeg. – Reuters
2025-10-09 06:29:07
Aardbewing tref China
’n Aardbewing van 5,4 het Donderdag die Ganzi-prefektuur in die hooglande van die Sichuan-provinsie in China getref.
Ganzi, ’n yl bevolkte streek, grens aan Yunnan in die suide en Tibet in die weste.
China het oor die afgelope vyf jaar 23 aardbewings van 3 of hoër binne 200 km van die episentrum naby die Xinlong-distrik in Ganzi ervaar.
Die sterkte van Donderdag se aardbewing was groter as enige van die aardbewings van daardie periode. – Reuters
2025-10-09 06:37:17
Israeliese weermag berei voor om troepe in Gasastrook terug te trek
Die Israeliese weermag (IDF) het Donderdag gesê dat hy voorberei om troepe in die Gasastrook terug te trek nadat Israel en Hamas ’n ooreenkoms vir ’n skietstilstand bereik het om die oorblywende gyselaars vry te laat.
“Die IDF het met operasionele voorbereidings begin voor die implementering van die ooreenkoms. As deel van hierdie proses is voorbereidings en ’n gevegsprotokol aan die gang om binnekort oor te skakel na aangepaste ontplooiingslyne,” het die weermag in ’n verklaring gesê. – AFP

Rook styg Donderdag uit die Gasastrook op soos gesien vanaf die Israeliese kant van die grens nadat pres. Donald Trump aangekondig het dat Israel en Hamas ooreengekom het oor die eerste fase van ’n skietstilstand. Foto: Reuters
2025-10-09 07:28:15
Talle juig ná ooreenkoms oor die Gasastrook
Palestyne en die families van Israeliese gyselaars het Donderdag wild feesgevier nadat dit bekend geword het dat Israel en Hamas ’n ooreenkoms bereik het.
“Dankie tog vir die skietstilstand, die einde van bloedvergieting en moord,” het Abdoel Majeed Abd Rabbo in Chan Joenis in die suide van die Gasastrook gesê.
“Ek kan nie asemhaal nie, ek kan nie verduidelik wat ek voel nie... dis mal,” het Einav Zaugauker, die ma van ’n gyselaar, gesê. – Reuters

Palestyne vier in Chan Joenis ná die aankondiging dat ’n ooreenkoms tussen Hamas en Israel bereik is. Foto: AFP
2025-10-09 07:32:44
Israeliese minister gaan nie ten gunste van ooreenkoms stem
Bezalel Smotrich, Israeliese minister van finansies, sê hy is gekant teen die ooreenkoms oor die Gasastrook wat tussen Israel en Hamas bereik is en het daarop aangedring dat hy daarteen sal stem.
“Daar is geweldige vrees vir die gevolge van die leegmaak van die gevangenisse en die vrylating van die volgende generasie terroriste-leiers, wat alles sal doen om voort te gaan om riviere van Joodse bloed hier te stort, God verhoede,” het Smotrich op X gesê.
“Om hierdie rede alleen kan ons nie deelneem aan kortsigtige vieringe of ten gunste van die ooreenkoms stem nie.” – AFP
2025-10-09 07:38:30
13 dood in aanval op moskee in Soedan
Dertien mense is Woensdag dood in ’n artillerie-aanval op ’n moskee in die beleërde stad El-Fasher deur Soedan se paramilitêre blitsondersteuningsmag (RSF).
“Ons het 13 lyke onder die puin uitgehaal en begrawe ná die bomaanval in die middag,” het ’n man wat in die omgewing woon, gesê.
’n Oorlewende van die aanval het gesê: “Ons was 70 gesinne binne die moskee nadat die RSF ons huise binnegegaan het.”
Twintig mense is ook in die aanval gewond. – AFP
2025-10-09 08:21:45
Eienaar van maatskappy wat dodelike hoesstroop vervaardig, aangekeer
Die polisie in Indië het die eienaar van ’n farmaseutiese maatskappy in hegtenis geneem nadat ’n hoesstroop wat by sy aanleg vervaardig is, verbind is met die dood van minstens 21 kinders.
Die meeste van die kinders, almal onder vyf jaar oud, is oor die afgelope maand in die deelstaat Madhya Pradesh dood nadat hulle die stroop voorgeskryf is, wat met ’n dodelike gifstof besmet was.
Die man is aangekla van strafbare manslag wat nie neerkom op moord nie en die vervalsing van medisyne. – AFP
2025-10-09 08:49:39
WGO sê hy is gereed om pasiënte in Gasastrook te help
Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), sê die ooreenkoms tussen Hamas en Israel oor die Gasastrook is ’n “groot stap in die rigting van blywende vrede”.
Die WGO “staan gereed om sy werk op te skaal om in die ernstige gesondheidsbehoeftes van pasiënte oor die Gasastrook heen te voorsien en om die rehabilitasie van die vernietigde gesondheidstelsel te ondersteun”.
“Die beste medisyne is vrede,” het Ghebreyesus bygevoeg. – AFP
2025-10-09 09:23:04
Israeliese kabinet vergader om 18:00 oor Gasastrook
Israel se kabinet sal Donderdag om 18:00 (Suid-Afrikaanse tyd) vergader om ’n plan te bespreek om die vrylating van alle gyselaars wat in die Gasastrook aangehou word, te verseker.
Vroeër is berig Israel en Hamas het ’n langverwagte skietstilstand- en gyselaarsooreenkoms bereik.
Dit is die eerste fase van pres. Donald Trump se plan om die oorlog in die Gasastrook te beëindig wat meer as 67 000 lewens geëis het en die Midde-Ooste hervorm het. – AFP
2025-10-09 09:38:33
Netanyahu se kantoor sê ooreenkoms eers in werking ná goedkeuring deur kabinet
Die kantoor van die Israeliese premier, Benjamin Netanyahu, sê dat ’n ooreenkoms om die vrylating van gyselaars in die Gasastrook te verseker, eers in werking sal tree nadat die kabinet dit goedgekeur het.
“In teenstelling met Arabiese mediaberigte, sal die 72-uur-aftelling eers begin nadat die ooreenkoms in die kabinetsvergadering goedgekeur is, wat na verwagting in die aandure plaasvind.”
Pres. Donald Trump het aangekondig dat Israel en Hamas ooreengekom het oor die eerste fase, wat die uitruil van gyselaars en Palestynse gevangenes behels.
Die uitruiling sal plaasvind binne 72 uur ná die inwerkingstelling van die ooreenkoms. – AFP
2025-10-09 10:07:28
Prinses Kate waarsku oor gevare van digitale toestelle vir kinders
Catherine, prinses van Wallis, het Donderdag gewaarsku dat slimfone en ander digitale toestelle ’n sleutelrol speel in ’n “epidemie van diskonneksie” wat die ontwikkeling van jong kinders terughou.
“Terwyl digitale toestelle beloof om ons met mekaar te verbind, doen dit dikwels die teenoorgestelde,” het Catherine, in ’n gesamentlike opstel met prof. Robert Waldinger van Harvard Mediese Skool, geskryf.
Sy sê dit is veral 'n probleem by babas en jong kinders wat gebore word in ’n wêreld wat in digitale tegnologie verdrink. – Reuters
2025-10-09 10:27:33
Trump eis arrestasie van Demokratiese goewerneur, burgemeester
Pres. Donald Trump het Woensdag geëis dat die Demokratiese goewerneur van Illinois en burgemeester van Chicago tronk toe gestuur word omdat hulle sy massa-deportasieveldtog teenstaan.
Chicago het die jongste brandpunt geword in ’n veldtog teen onwettige immigrante deur die Amerikaanse immigrasie- en doeane-afdwingingsagente (ICE).
“Die burgemeester van Chicago behoort in die tronk te sit omdat hy nie ICE-beamptes beskerm het nie! Goewerneur (JB) Pritzker ook!” het Trump Woensdag op Truth Social gesê. – AFP
2025-10-09 11:07:59
Vredesmagte op agenda by vergadering oor Gasa-oorgang, sê Duitse minister
Vredestroepe, 'n wetlike raamwerk en Hamas wat nie meer as 'n gevaar beskou word nie, is alles in die toekoms nodig as deel van 'n plan vir die Gasastrook, sê Johann Wadephul, Duitsland se minister van buitelandse sake.
Wadephul vergader Donderdag met internasionale bondgenote in Parys om die stand van sake in die Gasastrook te bespreek.
"Humanitêre en mediese hulp moet nou vinnig die Gasastrook bereik. Die mense daar het vooruitsigte vir heropbou nodig," sê Wadephul. – Reuters
2025-10-09 11:15:28
Hongaarse skrywer wen Nobel-literatuurprys
Die Nobelprys vir Letterkunde is Donderdag toegeken aan László Krasznahorkai, wat deur baie beskou word as Hongarye se belangrikste lewende skrywer, wie se werke temas van postmoderne distopie en melancholie ondersoek.
Die Sweedse Akademie het hom vereer "vir sy boeiende en visionêre oeuvre wat, te midde van apokaliptiese terreur, die krag van kuns herbevestig".
Vorige wenners van die literatuurprys van 11 miljoen Sweedse krone ($1,2 miljoen) sluit in die Franse digter en essayis Sully Prudhomme, wat die eerste toekenning gewen het, die Amerikaanse romanskrywer en kortverhaalskrywer William Faulkner in 1949, die Britse premier Winston Churchill in 1953, Turkye se Orhan Pamuk in 2006 en Noorweë se Jon Fosse in 2023. – Reuters, AFP

‘n Argieffoto van die Hongaarse romanskrywer en draaiboekskrywer László Krasznahorkai wat Donderdag die Nobelprys vir Letterkunde gewen het. Foto: Getty Images
2025-10-09 11:26:23
Macron soek nuwe premier om Franse krisis te beëindig
Pres. Emmanuel Macron van Frankryk was Donderdag onder druk om binne die sperdatum van twee dae 'n nuwe premier te vind nadat die bedanking van die uittredende premier, Sébastien Lecornu, die land dieper in 'n politieke krisis gedompel het.
Die presidensie het laat Woensdag gesê dat Macron binne die volgende 48 uur 'n nuwe premier sal aanwys, wat aandui dat die aanstelling teen Vrydagaand sal plaasvind.
'n Verklaring het Donderdag onwaarskynlik gelyk, met ministers van buitelandse sake in Parys vir gesprekke oor planne om die Palestyne ná die Gasa-oorlog te help.
'n Aankondiging oor 'n nuwe premier sal heel waarskynlik Vrydag plaasvind, het 'n bron na aan Macron gesê. – AFP
2025-10-09 12:01:54
Spanjaarde staal hul vir gure weer
AEMET, Spanje se weeragentskap, het Donderdag sy hoogste waarskuwing vir swaar reën in Alicante in die oostelike streek van Valencia uitgereik en gewaarsku oor "buitengewone gevaar".
AEMET sê die rooi waarskuwing sal vanaf Vrydagoggend om 10:00 (08:00 GMT) in die Mediterreense kusstreke van die provinsie Alicante, sowel as in die aangrensende streek Murcia, van krag wees.
"Buitengewone gevaar. Oorstromings en kitsvloede kan voorkom. Volg die advies van burgerlike beskerming," sê die weeragentskap. – AFP
2025-10-09 12:13:22
Pous waarsku: ‘Morele waardes of rioolput vir wêreld’
Pous Leo XIV het Donderdag in sy eerste groot dokument 'n dringende beroep op die wêreld gedoen om immigrante by te staan. Die beroep fokus op die armes se behoeftes en vra vir strukturele veranderinge in die wêreldmarkstelsel om ongelykheid en armoede aan te pak.
Die dokument van 104 bladsye is oorspronklik deur pous Franciskus begin, maar is ná sy dood vroeër vanjaar voltooi deur Leo, die eerste Amerikaanse pous. Leo verwys in sy dokument "Dilexi te" (“Ek het jou liefgehad”) na Franciskus se kritiek op pres. Donald Trump se anti-immigrasiebeleid.
Hy waarsku dat die wêreld in 'n “rioolput” sonder morele waardigheid kan verval as die armes verontagsaam word. “Waar die wêreld bedreigings sien, sien die Kerk kinders; waar mure gebou word, bou die Kerk brûe,” skryf Leo. – Reuters

Pous Leo XIV groet 'n skare mense Donderdag met sy aankoms by die Vatikaan. Foto: AFP
2025-10-09 12:20:59
Hongaarse skrywer baie bly oor sy Nobelprys
László Krasznahorkai, Hongaarse skrywer, het Donderdag tot sy groot vreugde die Nobelprys vir letterkunde ontvang.
“Ek is baie bly, kalm en terselfdertyd baie senuweeagtig,” het Krasznahorkai aan 'n Sweedse radiostasie gesê nadat hy die nuus in Frankfurt ontvang het.
Die Sweedse Akademie het hom vereer “vir sy meesleurende en visioenêre oeuvre wat, te midde van apokaliptiese vrees, die krag van kuns bevestig”.
Krasznahorkai se styl, bekend vir sy lang, vloeiende sinne en donker temas, het hom internasionale lof besorg. Sy baanbrekersroman, Satantango (1985), word steeds as 'n literêre sensasie beskou. Krasznahorkai sal die prys op 10 Desember in Stockholm ontvang. – AFP
2025-10-09 12:57:47
Ysbreker-ooreenkoms ’n mylpaal vir VSA, Finland
Pres. Donald Trump en pres. Alexander Stubb van Finland sal Donderdag by die Withuis vergader om ’n ooreenkoms te onderteken waarin die Amerikaanse kuswag tot vier ysbrekers van Finland se skeepswerwe sal aankoop. Die ooreenkoms lê die grondslag vir toekomstige kommersiële transaksies tussen Amerika en Finland.
’n Ysbreker is ’n spesiale skip wat ontwerp is om dik see-ys oop te kloof en veilige roetes vir ander skepe in ysbedekte waters te skep.
Trump het lankal gepleit vir meer ysbrekers om Amerikaanse veiligheid in die Arktiese gebied te verbeter en die invloed van China en Rusland teen te werk.
Die plan is om 11 nuwe Arktiese ysbrekers te bou – vier in Finland en sewe uiteindelik in die VSA, teen ’n geskatte koste van $6,1 miljard. – Reuters

’n Lugfoto van ’n Russiese ysbreker-skip onderweg na die Noordpool. Foto: Getty Images
2025-10-09 13:00:34
Frankryk verwelkom Arabiese en Europese ministers vir gesprekke oor Gasastrook
Frankryk speel Donderdag gasheer vir die ministers van buitelandse sake van Arabiese en Europese lande vir gesprekke oor hulpverlening aan die Palestyne sodra die Gasa-konflik tussen Israel en Hamas eindig.
Pres. Emmanuel Macron van Frankryk sal ’n inleidende toespraak aan die byeenkoms lewer nadat hy die skietstilstandooreenkoms as “groot hoop” vir die streek bestempel het.
Israel en Hamas het vroeër op ’n skietstilstandooreenkoms in die Gasastrook ooreengekom en om die oorblywende lewende Israeliese gyselaars wat deur die Palestynse militante aangehou word, vry te laat. – AFP
2025-10-09 13:03:24
Oekraïne wil Trump benoem vir Nobel-vredesprys
Oekraïne probeer nou ’n nuwe taktiek om pres. Donald Trump tot sterker optrede teen Rusland aan te spoor: Die land wil hom benoem vir die Nobel-vredesprys.
Pres. Wolodimir Zelenski het Donderdag aangekondig dat Trump die prys verdien as hy ’n skietstilstand in Oekraïne kan bewerkstellig. “Indien Trump vir die wêreld – veral vir die Oekraïense volk – die geleentheid vir so ’n vrede kan bring, behoort hy die prys te kry,” sê Zelenski.
Oekraïense parlementslede het ook onlangs versoek dat Trump benoem word as bewys van lojaliteit teenoor ’n strategiese bondgenoot.
Trump, wat self glo hy verdien die Nobelprys vir sy vredespogings, het vroeg reeds belangstelling in die prys getoon. – Reuters
2025-10-09 13:58:47
Israel, Hamas onderteken ooreenkoms
Israel en die militante Palestynse groep Hamas het Donderdag ’n ooreenkoms onderteken vir ’n skietstilstand en om Israeliese gyselaars vry te laat in ruil vir Palestynse gevangenes.
Dit is die eerste fase van pres. Donald Trump se plan om die oorlog in die Gasastrook te beëindig. Amptenare aan albei kante het bevestig dat hulle die ooreenkoms onderteken het ná indirekte gesprekke in die Egiptiese strandoord Sjarm el-Sjeich.
Die aankondiging van die ooreenkoms is met vieringe onder Palestyne en Israeli’s begroet. Ingevolge die ooreenkoms, die grootste stap tot nog toe in die rigting van vrede, sal gevegte gestaak word en Israel sal hom gedeeltelik uit die Gasastrook onttrek.
Hamas sal gyselaars vrylaat wat hulle gevange geneem het in die aanval wat die oorlog ontketen het, in ruil vir gevangenes wat deur Israel aangehou word.
Die kantoor van die Israeliese premier, Benjamin Netanyahu, sê die skietstilstand sal in werking tree sodra die ooreenkoms deur sy regering bekragtig word. Dit sal Donderdag ná ’n vergadering van die veiligheidskabinet wees. – Reuters

Israeliese burgers in Tel Aviv, Israel, reageer op die nuus van die vredesooreenkoms tussen Israel en Hamas. Foto: Getty Images
2025-10-09 14:03:10
Trump Sondag in Jerusalem verwag
Pres. Donald Trump word Sondag in Jerusalem verwag, luidens ’n verklaring deur die Israeliese president se kantoor.
Pres. Isaac Herzog se beplande aktiwiteite vir dié dag is gekanselleer vanweë Trump se moontlike besoek, hoewel daar nog geen amptelike bevestiging was nie.
Trump se moontlike besoek volg op die ondertekening van ’n vredesooreenkoms tussen Israel en die Palestynse militante groep Hamas.
Benjamin Netanyahu, Israeliese premier, het Donderdag gesê Trump moet die Nobelprys vir vrede ontvang, ure nadat die Amerikaanse president ’n skietstilstand tussen Israel en Hamas en ’n ooreenkoms vir die vrylating van gyselaars aangekondig het. – Reuters, AFP
2025-10-09 14:09:10
Poetin wil Trump in Gasastrook help
Rusland hoop pres. Donald Trump se plan om die oorlog in die Gasastrook te beëindig sal suksesvol deurgevoer word en is bereid om pogings te ondersteun om die bloedvergieting te stop, sê pres. Wladimir Poetin.
“Ons hoop van harte dat die inisiatiewe van die Amerikaanse president in die praktyk realiseer,” het Poetin op ’n beraad in Tadjikistan gesê.
Iran het ook Donderdag die ooreenkoms verwelkom.
“Iran het nog altyd enige stappe en inisiatief ondersteun wat die staking van die volksmoord in die oorlog, die onttrekking van die besettingsmagte, die inbring van humanitêre hulp, die vrylating van Palestynse gevangenes en die verwesenliking van die fundamentele regte van die Palestyne insluit,” lui ’n verklaring deur Iran se departement van buitelandse sake. – Reuters, AFP
2025-10-09 15:04:21
‘Nobelprys vir Trump’

’n Lugfoto wys die woorde “Nobel 4 Trump” waar dit deur die landboukunstenaar Peter Winner in ’n veld naby die Maoz Haim-kibboets in die noorde van Israel geskep is. Dit volg ná die aankondiging deur pres. Donald Trump dat Israel en Hamas ooreengekom het op die eerste fase van ’n skietstilstand in die Gasastrook. Foto: Reuters
2025-10-09 15:05:51
Werklike vordering in Gasa moet vloei van hulp insluit, sê VN-hoof
Ware vordering in die Gasastrook sal kom wanneer struikelblokke vir die lewering van humanitêre hulp verwyder word, nie net “die stilmaak van die gewere nie,” sê Antonio Guterres, sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies (VN).
Hy het met verslaggewers gepraat ná die aankondiging dat Israel en Hamas ooreengekom het op ’n skietstilstand en gyselaarvrylatingsooreenkoms, wat kan help om die twee jaar lange oorlog in die verwoeste Palestynse gebied te beëindig.
Die VN-hoof het sy oproep herhaal dat alle partye die bepalings van die ooreenkoms “ten volle” moet nakom. – AFP
2025-10-09 15:07:03
Britse radio-aanbieder aangekla van verkragting, onsedelike aanranding
Tim Westwood, voormalige BBC Radio-aanbieder, staan tereg op vier aanklagte van verkragting en nege van onsedelike aanranding.
Die aanklagte hou verband met beweerde oortredings teen sewe vroue tussen 1983 en 2016, sê die Britse polisie. Westwood (68) moet ook antwoord op twee aanklagte van seksuele aanranding.
Hy sal op 11 November in die Westminster-landdroshof verskyn. Die huidige aanklagte volg op ’n reeks openbare beskuldigings deur verskeie vroue. – Reuters
2025-10-09 15:07:52
Zelenski sê Rusland wil chaos saai met aanvalle
Pres. Wolodimir Zelenski beskuldig Rusland daarvan dat hy “chaos” saai met hernude aanvalle op Oekraïne se energienetwerk.
Rusland, wie se magte Oekraïne in 2022 binnegeval het, het die laaste paar weke sy lugaanvalle op Oekraïense kraginfrastruktuur en spoorwegstelsels verhoog.
Die aanvalle het gelei tot ’n reeks kragonderbrekings en treinvertragings.
“Rusland wil chaos skep en sielkundige druk op die bevolking uitoefen deur aanvalle op energie-aanlegte en spoorweë,” sê Zelenski. – AFP
2025-10-09 15:56:13
Gasa: Macron sê komende ure deurslaggewend
Pres. Emmanuel Macron van Frankryk sê die komende ure sal deurslaggewend wees vir die vestiging van vrede in die Gasa-strook en dat die huidige konferensie oor die saak wat in Parys gehou word, daarop gemik is om parallel met die Amerikaanse inisiatief te werk.
Frankryk is Donderdag gasheer vir 'n vergadering van ministers van buitelandse sake van Westerse en Arabiese lande in Parys om 'n internasionale vredesmag en heropboubystand vir die Gasa-strook te bespreek.
Israel en die Palestynse militante groep Hamas het Donderdag 'n ooreenkoms vir ‘n skietstilstand onderteken en om Israeliese gyselaars in ruil vir Palestynse gevangenes vry te laat. – Reuters
2025-10-09 15:58:44
Ekstra tronkstraf vir man wat appelleer teen vonnis ná verkragting
'n Franse appèlhof het Donderdag 'n man 'n vonnis van 10 jaar tronkstraf opgelê vir die verkragting van Gisele Pelicot, 'n verhoging op sy oorspronklike vonnis van nege jaar.
Husamettin Dogan (44) was die enigste persoon wat appèl aangeteken het ná die eerste verhoor verlede jaar van 51 mans, insluitend Pelicot se eksman Dominique Pelicot, in die saak van massa- seksuele misbruik wat skokgolwe deur Frankryk gestuur het.
Dominique Pelicot het vreemdelinge gewerf om sy vrou te verkrag en seksueel aan te rand. – AFP

Gisele Pelicot verlaat die hof, omring deur Franse polisiebeamptes, in Nimes in die suide van Frankryk. Foto: AFP
2025-10-09 16:00:29
Indiana stel 3de man tereg sedert doodstraf hervat is
Roy Lee Ward (53) sal Vrydagoggend in die Amerikaanse deelstaat Indiana met 'n dodelike spuitstof tereggestel word. Ward is in 2002 tot doodstraf gevonnis vir die verkragting van en moord op die 15-jarige Stacy Payne in Dale. Stacy is herhaaldelik met ’n mes gesteek en het ure ná die aanval aan haar beserings beswyk. Ward is op die toneel, nog met die moordwapen by hom, in hegtenis geneem.
Dit is die derde teregstelling in Indiana sedert die deelstaat verlede jaar die doodstraf ná 15 jaar teruggebring het. Vanjaar was daar reeds 34 teregstellings in Amerika, die meeste sedert 2014.
Florida het die meeste (13) teregstellings, gevolg deur Texas, Suid-Carolina en Alabama. Stikstofhipoksie (versmoring) – wat deur die Verengide Nasies as wreed veroordeel is – is in vier gevalle gebruik, maar die meeste word per dodelike inspuiting tereggestel. – AFP
2025-10-09 16:59:43
Trump sê Israeliese gyselaars behoort ‘Maandag of Dinsdag’ vrygelaat te word
Pres. Donald Trump het Donderdag gesê dat die gyselaars in die Gasastrook Maandag of Dinsdag vrygelaat behoort te word. Hy het ook die hoop uitgespreek om persoonlik ’n ondertekeningseremonie in Egipte by te woon.
Trump het ’n kabinetsvergadering van die Withuis geopen om die ooreenkoms te bespreek wat Woensdag bereik is, waarvolgens die gyselaars wat deur Hamas-militante aangehou word, vrygelaat sal word as deel van ’n eerste fase van ’n breër vredesplan.
Trump het gesê hy glo dit sal lei tot “blywende vrede”. Volgens hom sal die Palestynse enklawe herbou word. Daar sal na verwagting 20 Israeliese gyselaars vrygelaat word. – Reuters

Pres. Donald Trump (middel) praat Donderdag tydens ’n kabinetsvergadering by die Withuis. Marco Rubio, minister van buitelandse sake, en Pete Hegseth, minister van verdediging, sit weerskante van Trump. Foto: AFP
2025-10-09 17:01:47
Trump verdien Nobelprys, sê Egipte
Pres. Abdel Fattah al-Sisi van Egipte het in ’n telefoonoproep aan pres. Donald Trump gesê dat hy “die Nobelprys vir vrede verdien” omdat hy ’n ooreenkoms bewerkstellig het om die oorlog in die Gasastrook te beëindig.
Hy het Trump genooi om “deel te neem aan die viering wat in Egipte gehou sal word om die sluiting van die ooreenkoms vir ’n skietstilstand in die Gasastrook te vier”. Die eerste fase van die ooreenkoms is in Egipte onderteken.
Sisi se kantoor sê die Egiptiese president “het die noodsaaklikheid benadruk om vorentoe te beweeg met die implementering van die skietstilstand in al sy fases”. – AFP
2025-10-09 17:03:43
Hamas verwerp Trump as toesighouer oor Gasastrook
Osama Hamdan, senior amptenaar van Hamas, sê die Palestynse groep verwerp pres. Donald Trump se voorstel vir ’n tussentydse “Raad van Vrede” wat die Gasastrook sou administreer, met Trump as voorsitter.
Hamas en Israel het vroeër tot ’n skietstilstand ooreengekom wat die vrylating van gyselaars in ruil vir Palestynse gevangenes behels. Trump se 20-punt-vredesplan, waarop die onderhandelinge gebaseer is, eis die ontwapening van Hamas en dat ’n oorgangsraad die Gasastrook bestuur.
Hierdie plan word egter deur al die Palestynse faksies, ook die Palestynse Owerheid, verwerp. Hamdan het die plan vergelyk met koloniale praktyke en benadruk dat geen Palestyn dit sal aanvaar nie. Die plan behels dat Trump oor die heropbou van die Gasastrook toesig hou. – AFP
2025-10-09 17:54:40
G’n einde in sig...

’n Man loop deur traangas wat deur polisiebeamptes afgevuur is tydens ’n landwye betoging teen kragonderbrekings en watertekorte in Antananarivo, Madagaskar. Foto: Reuters
2025-10-09 17:56:58
Israel blokkeer glo hulp aan Gasastrook
Israel blokkeer na bewering hulp van 250 ton vir die Gasastrook, insluitend kos, mediese voorrade en opvoedkundige materiaal, weens meningsverskille oor die inhoud daarvan.
Die Italiaanse liefdadigheidsorganisasie Music for Peace sê die hulp is as deel van die Global Sumud-vloot bymekaargemaak.
Ongeveer 40 ton is op bote gelaai wat deur Israel, saam met die res van die konvooi, gestop is. Nog 250 ton lê in die hawe van Genua omdat Israel blykbaar eise stel oor wat gestuur mag word. Volgens die organisasie wil Israel hê sogenaamde hoë-energie-voedsel, soos beskuit en heuning, moet uitgelaat word.
Israeliese owerhede sê hulle blokkeer nie dié produkte nie en beskuldig internasionale organisasies daarvan dat hulle fopnuus versprei. – Reuters
2025-10-09 17:58:57
Gasa: Ontwapening en onttrekking volgende op agenda
Pres. Donald Trump sê in die volgende fase van die Gasa-ooreenkoms sal die ontwapening van Hamas en onttrekking van die Israeliese weermag sentraal staan.
Israel het daarop aangedring dat Hamas alle wapens moet neerlê as deel van die vredesproses in die Gasastrook. Volgens Trump word ontwapening as ’n noodsaaklike stap gesien om ware stabiliteit in die streek te bereik, met verdere onderhandelinge wat verwag word oor die presiese implementering van die vereistes.
Ontleders meen egter dat so ’n ontwapening uiters moeilik sal wees weens diep verdeeldheid en wantroue in die streek. – AFP
2025-10-09 18:09:34
Federale ingryping in Amerika se Demokratiese stede in howe betwis
Twee federale hofsake rakende die ontplooiing van Nasionale Garde-troepe in Demokraties-geleide stede in Amerika is Donderdag gehou tydens die eerste patrollies in die Chicago-omgewing.
’n Hof in Chicago het beslis oor ’n versoek deur die deelstaat Illinois om 500 troepe te keer, terwyl ’n hof in San Francisco argumente aangehoor het oor die verbod op troepe in Portland, Oregon.
Die Demokratiese goewerneurs beskuldig die federale regering daarvan dat hy vreedsame betogings as gewelddadig voorstel ter regverdiging vir militêre ingryping. Talle inwoners van Chicago betoog al sedert Woensdag teen die ontplooiing, veral ná die dood van Silverio Villegas Gonzalez deur migrasiebeamptes.
Die Nasionale Garde word normaalweg vir ramphulp ontplooi, nie vir wetstoepassingsoptredes teen burgerlikes nie. Sowat vier regsgedinge is reeds ingestel teen hierdie ontplooiings, waarvan sommige as onwettig bevind is. – Reuters
2025-10-09 19:02:22
Gasa-ooreenkoms: Hoethi-leier sê groep 'bly waaksaam'
Abdoelmalik al-Hoethi, leier van die Hoethi-rebellegroep in Jemen, sê die groep sal noukeurig dophou of die skietstilstand tussen Hamas en Israel werklik hou voordat hy sy operasies beëindig. Die Hoethi's teiken Israel ter ondersteuning van die Palestyne tydens die oorlog in die Gasastrook.
"Ons sal waaksaam en ten volle voorbereid bly, en die inwerkingstellingsfase van hierdie ooreenkoms monitor. Sal hierdie ooreenkoms werklik lei tot 'n einde aan die aggressie in die Gasastrook?" het Al-Hoethi gevra.
Die Hoethi’s, wat deel vorm van Iran se “spil van weerstand” teen Amerika en Israel, teiken die noodsaaklike Rooisee-handelsroete om hul soldariteit met die Palestyne in die Gasastrook te betoon. – AFP
2025-10-09 19:08:50
Regering moet val as Hamas nie ontbind, dreig minister
Itamar Ben-Gvir, Israel se verregse minister van nasionale veiligheid, het Donderdag gewaarsku sy party, Joodse Mag, sal poog om die regering van Benjamin Netanyahu, premier, tot 'n val te bring indien Hamas nie volledig ontbind word nie.
“Indien Hamas nie ontbind nie, sal Joodse Mag die regering afbreek,” het Ben-Gvir gesê. Ben-Gvir is bekend vir sy afkeer in Hamas en steun vir sterker veiligheidsmaatreëls.
Die huidige Israeliese koalisieregering, gelei deur Netanyahu, is reeds broos en steun op die samewerking van kleiner regse partye. – Reuters
2025-10-09 19:15:04
Ontploffings ruk Kaboel
Twee kragtige ontploffings het Donderdagaand die middestad van Kaboel, hoofstad van Afganistan, geskud. Die eerste oorverdowende ontploffing het omstreeks 21:50 (plaaslike tyd) plaasgevind, gevolg deur 'n tweede ontploffing 'n paar minute later.
"Die voorval word ondersoek, maar geen ongevalle is nog aangemeld nie en alles is in orde," het Zabihoellah Moedjahid, 'n regeringswoordvoerder, op X gesê. Meer inligting sal later uitgereik word, het hy gesê.
Verskeie mense het op sosiale media geskryf dat hulle die ontploffings gehoor en hommeltuie gesien het. Die mobiele telefoondiens was ook in verskeie woonbuurte buite werking.
Amir Chan Moettaqi, Afganistan se minister van buitelandse sake, het vroeër Donderdag in Indië aangekom op 'n tweedaagse besoek. Dit is 'n nuwe stap in die Taliban-regering se pogings om internasionale steun te kry. – AFP
2025-10-09 19:24:22
Ysters buig

'n Inwoner van Kijif in Oekraïne oefen met gewigte op 'n sportveld in die Obolon-woonbuurt. Foto: AFP
2025-10-09 20:02:34
Twee Duitse LP's verloor parlementêre immuniteit
Die Duitse parlement het twee LP's van die verregse Alternatief vir Duitsland (AfD) van hul parlementêre immuniteit gestroop wat die weg baan dat hulle geregtelik ondersoek kan word.
Matthias Moosdorf word daarvan beskuldig dat hy 'n "beweerde Hitler-saluut ongeveer twee en 'n half jaar gelede" in 'n kamer in die Reichstag gemaak het. So 'n saluut is verbode in Duitsland.
Die ander AfD-lid, Stephan Brandner, word daarvan beskuldig dat hy 'n "onderonsie met 'n joernalis van Der Spiegel" gehad het. Die joernalis sê die LP het haar 'n "fascis" genoem. Aanklaers het in 2024 'n ondersoek na laster teen Brandner begin. – AFP
2025-10-09 20:03:38
Trump bevestig reis na Midde-Ooste
Pres. Donald Trump het Donderdag aan joernaliste gesê hy beplan om Sondag na die Midde-Ooste te vertrek nadat Israel en Hamas 'n ooreenkoms bereik het om gyselaars wat in die Gasastrook aangehou word, vry te laat.
Israel en die militante Palestynse groep Hamas het Donderdag 'n ooreenkoms vir 'n skietstilstand onderteken en om Israeliese gyselaars vry te laat in ruil vir Palestynse gevangenes.
Dit is die eerste fase van Trump se inisiatief om die twee jaar lange oorlog in die Gasastrook te beëindig. – Reuters
2025-10-09 20:12:40
Raak van Spanje ontslae, sê Trump
Pres. Donald Trump het Donderdag voorgestel dat die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) dit moet oorweeg om Spanje uit te sluit weens sy lae militêre besteding.
Navo-lidlande het vroeër vanjaar ooreengekom om hul verdedigingsbesteding tot 5% van die bruto binnelandse produk te verhoog – ’n belangrike prioriteit vir Trump, wat Europese lande aanspoor om meer aan hul eie veiligheid te bestee.
Pedro Sanchez, Spaanse premier, het egter geweier om hierdie teiken te aanvaar aangesien dit volgens hom “onversoenbaar is met Spanje se welsynstaat en wêreldbeskouing”. – Reuters
2025-10-10 03:35:41
Tsoenami-waarskuwings nadat sterk aardbewing kus van Filippyne tref
’n Aardbewing van 7,5 het Vrydagoggend die suidelike kus van die Filippyne getref.
Tsoenami-waarskuwings is in verskeie lande uitgereik en mense in nabygeleë kusgebiede is aangemoedig om na hoër grond te beweeg.
Die Phivolcs-agentskap het gewaarsku oor skade en naskokke van die sterk aardbewing, wat in die waters naby die dorp Manay in Davao Oriental in die Mindanao-streek plaasgevind het.
Die sterkte is afwaarts aangepas van ’n aanvanklike lesing van 7,6 tot 7,5. – Reuters
2025-10-10 03:43:32
Amerika gaan 200 troepe na Israel ontplooi
Amerika sal tot 200 troepe na Israel ontplooi om ’n taakspan te vestig om stabiliseringspogings in die Gasastrook te ondersteun.
Geen Amerikaners word verwag om in die Palestynse enklawe ontplooi te word nie, het Amerikaanse amptenare Donderdag gesê.
Die Amerikaanse weermag se sentrale bevel sal die taakspan opstel, bekend as die Siviel-Militêre Koördineringsentrum, of SMKS.
Die SMKS se taak sal wees om die vloei van bystand in die Gasastrook te fasiliteer, insluitend veiligheidsbystand en humanitêre hulp. – Reuters
2025-10-10 03:48:48
Regter keer Trump se ontplooiing van troepe in Illinois
’n Federale regter in Chicago het Donderdag tydelik pres. Donald Trump se ontplooiing van honderde Nasionale Garde-troepe in Illinois gekeer.
Regter April Perry sê dat die ontplooiing van Garde-troepe in die staat slegs “olie op die vuur sou gooi”, nadat sy argumente van prokureurs vir die regering en die staat Illinois aangehoor het, wat die Trump-administrasie oor die ontplooiing gedagvaar het.
Dit kom vyf dae nadat ’n ander regter ’n soortgelyke ontplooiing in Portland, Oregon, gekeer het. – Reuters
2025-10-10 04:10:34
Ecuador ontplooi 3 000 soldate weens betogings
Ecuador se weermag het Donderdag begin met die ontplooiing van 3 000 soldate om orde te herstel in die nasleep van antiregering-betogings wat Quito vir weke lank ruk.
Dit kom ook twee dae nadat die motorstoet van pres. Daniel Noboa met klippe gegooi is deur ’n groep van ongeveer 500 mense wat teen stygende brandstofpryse betoog het.
Die land se grootste organisasie vir inheemse volke, genaamd Conaie, versper paaie sedert 22 September.
Een betoger is dood. – AFP
2025-10-10 04:16:46
Amerikaanse regeringsluiting duur voort
Die Amerikaanse regeringsluiting duur voort nadat senators Donderdag weer ’n Republikeinse wetsontwerp oor finansiering verwerp het.
Federale agentskappe is sedert 1 Oktober sonder geld en openbare dienste word belemmer te midde van gestaakte gesprekke tussen die Demokrate en Republikeine wat tot ’n reeks mislukte stemmings gelei het om die ligte weer aan te skakel.
Die senaat het tot Dinsdag verdaag, wat beteken geen stemmings sal gedurende daardie tyd gehou word nie. – AFP
2025-10-10 04:21:02
Venezuela vra noodvergadering van veiligheidsraad oor Amerika
Venezuela het Donderdag die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad gevra om noodgesprekke te voer oor “toenemende bedreigings” deur Amerika, wat oorlogskepe na die Karibiese See gestuur het om dwelmhandel te bekamp.
Die gesprekke sal Vrydag by die VN se hoofkwartier in New York plaasgevind, het diplomate aan AFP gesê.
Die ministerie van buitelandse sake sê dat Amerikaanse aanvalle in internasionale waters, wat in onlangse weke tot minstens 21 mense se dood gelei het, “vrede, veiligheid en internasionale stabiliteit in die streek” in gevaar gestel het. – AFP
2025-10-10 05:06:10
Drake verloor lastersaak teen Kendrick Lamar
’n Regter in New York het Donderdag ’n lastersaak wat deur die rapper Drake teen sy eie platemaatskappy oor ’n liedjie deur Kendrick Lamar ingedien is, verwerp.
In 2024 het die twee ’n reeks liedjies waarin hulle mekaar beledig, uitgereik met Lamar wat die groot hou gelewer het met sy liedjie “Not Like Us”.
In sy regsgeding het Drake Universal Music Group onder meer daarvan beskuldig dat hy hom verraai het ten gunste van winste deur die liedjie te bevorder, wat lirieke bevat wat hom van pedofilie beskuldig.
Maar regter Jeannette Vargas het gesê Lamar se lirieke het neergekom op “nie-vervolgbare opinie”. – AFP
2025-10-10 05:07:21
Abbas hoop vrede sal heers
Mahmoed Abbas, Palestynse president, het Donderdag in ’n seldsame onderhoud met ’n Israeliese televisienetwerk die hoop uitgespreek dat vrede tussen die Palestyne en Israeli’s sal heers ná die ondertekening van ’n ooreenkoms.
“Wat vandag gebeur het, is ’n historiese oomblik. Ons het gehoop, en hou aan hoop, dat ons ’n einde kan maak aan die bloedvergieting wat in ons land plaasvind, of dit nou in die Gasastrook, die Wesoewer of Oos-Jerusalem is.” – AFP
2025-10-10 05:34:47
President van Peru in staat van beskuldiging geplaas
Wetgewers in Peru het Vrydag gestem om pres. Dina Boluarte in ’n staat van beskuldiging te plaas. Sy het geweier om oornag in die sitting voor die kongres te verskyn.
Boluarte is gekritiseer vir die mislukking om misdaad te stuit en haar termyn sedert Desember 2022 is gekenmerk deur betogings.
’n Oorweldigende meerderheid van 118 uit 122 wetgewers het vir haar staat van beskuldiging gestem, wat haar as president verwyder. – AFP

Dina Boluarte gedurende ’n sitting van die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering in New York op 23 September. Foto: Getty Images
2025-10-10 06:28:05
Pakistan maak 30 militante dood wat glo aanval uitvoer
Pakistan se weermag sê sy veiligheidstroepe het 30 militante doodgemaak wat betrokke was by ’n lokval Dinsdag op ’n Pakistanse militêre konvooi naby die Afgaanse grens, wat tot die dood van nege soldate en twee offisiere gelei het.
Die militante groep Tehreek-e-Taliban Pakistan het verantwoordelikheid aanvaar vir die aanval in die Orakzai-distrik.
“Gedurende die uitvoer van die operasie is al 30 Indies geborgde Khwarij wat betrokke was by die terroriste-voorval hel toe gestuur,” het die weermag gesê.
Pakistan beskuldig Indië van die finansiering en rugsteun van militante wat aanvalle binne sy grense uitvoer. – Reuters
2025-10-10 06:47:37
Peru se nuwe president ingehuldig
Peru se wetgewers het Jose Jeri, hoof van die kongres, as die land se nuwe president ingehuldig minder as een uur nadat hulle gestem het om pres. Dina Boluarte te verwyder.
Die stemming en inhuldigingseremonie het Vrydag kort ná middernag plaasgevind.
Jeri, wat Peru se sewende president sedert 2016 word, het aangedui hy sal ’n harde benadering volg teenoor toenemende onveiligheid.
“Die hoofvyand is daar buite op die strate: misdadige bendes,” het hy gesê. “Ons moet oorlog verklaar teen misdaad.” – Reuters

Jose Jeri Foto: Reuters
2025-10-10 07:22:00
Israeliese atlete by sportbyeenkoms in Indonesië verbied
Indonesië se gimnastiekfederasie sê die sport se internasionale beheerliggaam ondersteun die regering se besluit om Israeliese atlete toegang te weier vir die wêreld-artistiekegimnastiekbyeenkoms in Djakarta.
Meer as 500 atlete van 79 lande sal na verwagting aan die byeenkoms, wat van 19 tot 25 Oktober plaasvind, deelneem.
Israeliese atlete was glo onder diegene wat gereed was om deel te neem, maar ’n kabinetsminister het Donderdag gesê die regering sal hulle nie toegang gee nie en verwys na ondersteuning aan die Palestyne. – AFP
2025-10-10 07:26:07
Party verlaat Japan se regerende koalisie
Komeito, die junior vennoot in Japan se regerende koalisie, het Vrydag gesê hy verlaat die alliansie met die Liberaal Demokratiese Party (LDP).
Die aankondiging laat twyfel of Sanae Takaitsji, wat minder as ’n week gelede hoof van die LDP geword het, Japan se eerste vroulike premier sal word.
“Ons wil hê die LDP-Komeito-koalisie moet vir eers van voor af begin en ’n einde maak aan ons verhouding,” het Tetsoeo Saito, hoof van die Komeito-party, gesê. – AFP
2025-10-10 07:53:31
Vermiste meisie 14 jaar later as tsoenami-slagoffer geïdentifiseer
Menslike oorskot wat in Japan gevind is, is geïdentifiseer as dié van ’n sesjarige meisie wat vermis is sedert die massiewe aardbewing en tsoenami van 2011.
Die ramp het 15 900 mense dood gelaat, met 2 520 mense wat steeds as vermis gelys is.
Tande en fragmente van 'n kakebeen is in Februarie 2023 in die noordelike streek Mijagi ontdek.
Die meisie was by haar huis in Jamada, ’n dorp ongeveer 100 km weg in die Iwate-distrik, toe die tsoenami haar weggespoel het. Sy was sedertdien as vermis gelys. – AFP
2025-10-10 08:19:19
Israeliese troepe begin terugtrek uit dele van Gasastrook
Die Gasastrook se siviele verdedigingsagentskap het Vrydag gesê dat Israeliese magte uit dele van die gebied begin terugtrek het.
“Israeliese magte het aan verskeie gebiede in die stad Gasa onttrek,” het Mohammed al-Moeghaidjir, ’n senior beampte van die agentskap, aan AFP gesê.
Hy het bygevoeg dat Israeliese militêre voertuie ook uit dele van Chan Joenis teruggetrek het. – AFP
2025-10-10 08:35:19
Sunak gaan senior poste by Microsoft, KI-maatskappy beklee
Rishi Sunak, voormalige Britse premier, gaan senior raadgewende poste by Microsoft en Anthropic, ’n nuwe kunsmatige intelligensie (KI)-maatskappy, beklee, luidens ’n regeringsdokument wat Donderdag gepubliseer is.
Sunak sal ’n deeltydse senior raadgewer by Microsoft wees.
Sy rol sal behels “die verskaffing van hoëvlak- strategiese perspektiewe op makro-ekonomiese en geopolitieke neigings”, volgens ’n Britse openbare liggaam wat voormalige senior beamptes oor aanstellings in die sakebedryf adviseer. – AFP
2025-10-10 08:48:30
Krag in 9 Oekraïense streke onderbreek weens Russiese aanvalle
Russiese magte het oornag bomaanvalle op Oekraïense energie-aanlegte uitgevoer wat die krag na nege streke afgesny het en dele van die hoofstad, Kijif, in duisternis gedompel het, het Oekraïense beamptes Vrydag gesê.
Minstens een persoon, ’n sewejarige kind, is dood en minstens 20 mense is beseer in die jongste Russiese aanval wat Oekraïne se energie-aanlegte geteiken het terwyl nog ’n winter in die oorlog nader kom. – Reuters
2025-10-10 09:10:17
Opposisieleier van Venezuela wen Nobelvredesprys
Maria Corina Machado, opposisieleier van Venezuela, is vanjaar se wenner van die Nobelvredesprys.
Sy het gewen “vir haar onvermoeide werk om demokratiese regte vir die mense van Venezuela te bevorder en vir haar stryd om ’n regverdige en vreedsame oorgang van diktatorskap na demokrasie te bereik,” het die Noorweegse Nobelkomitee gesê. – Reuters

Maria Corina Machado Foto: Getty Images
2025-10-10 09:38:02
Dís waarom opposisieleier Nobelvredesprys wen
Die Noorweegse Nobelkomitee sê vanjaar se wenner, Maria Corina Machado, Venezuela se opposisieleier, het ’n sleutelrol gespeel in die vereniging van die land se demokratiese opposisie.
“Machado was ’n sleutelfiguur in ’n politieke opposisie wat eens diep verdeeld was, ’n opposisie wat gemeenskaplike grond gevind het in die behoefte aan vrye verkiesings en ’n verteenwoordigende regering,” het Jorgen Watne Frydnes, die voorsitter van die Noorweegse Nobelkomitee in Oslo, gesê. – AFP
2025-10-10 09:59:28
Duterte se aansoek om vrylating verwerp
Rodrigo Duterte (80), voormalige president van die Filippyne, sal in die aanhouding van die Internasionale Strafhof bly nadat regters Vrydag ’n versoek van sy verdedigingspan vir vrylating op mediese gronde verwerp het.
“Die Kamer bevind dat mnr. Duterte se aanhouding nodig bly,” het die hof in sy uitspraak gesê.
Duterte staan tereg op drie aanklagte van misdade teen die mensdom weens sy vermeende betrokkenheid by minstens 76 moorde as deel van sy “oorlog teen dwelms”. – AFP
2025-10-10 10:15:15
Weermag waarsku Gasastrook-burgers wat na noorde gaan
Die Israeliese weermag sê verskeie gebiede oor die Gasastrook heen bly “uiters gevaarlik” vir burgers, terwyl duisende mense na die noorde gegaan het voordat ’n skietstilstand Vrydag in werking getree het.
“Beweging van die suide na die noorde in die Gasastrook sal toegelaat word via die Rashid (kus-) en Salah al-Din-roete,” het die weermag gesê.
Die weermag sê dat mense noordelike gebiede moet vermy asook enige liggings waar troepe swaar ontplooi is.
Burgers is ook gewaarsku om weg te bly van die Rafah-deurgang en Philadelphi-deurgang naby die grens met Egipte. – AFP
2025-10-10 10:40:04
Wenner van Nobelprys vir vrede ‘in skok’
Maria Corina Machado, opposisieleier van Venezuela, sê sy was “in skok” toe sy uitvind sy is die Nobelprys vir vrede toegeken, volgens ’n video wat deur haar mediaspan aan AFP gestuur is.
“Ek is in skok!” sê Machado per telefoon aan Edmundo Gonzalez Urrutia.
Urrutia het Machado as kandidaat in die presidentsverkiesings verlede jaar vervang nadat sy verhoed is om mee te ding.
“Ons is geskok van vreugde,” antwoord Urrutia, wat byna ’n jaar gelede in ballingskap gegaan het.
“Wat is dit? Ek kan dit nie glo nie,” sê Machado wat tans in Venezuela skuil. – AFP
2025-10-10 11:14:06
Beperkte lugruim: China, VSA in nuwe geskil
Amerika het voorgestel dat Chinese lugrederye nie langer die Russiese lugruim mag gebruik op vlugte na of van Amerikaanse lughawens nie.
Hierdie stap, wat in ’n dokument van die Amerikaanse departement van vervoer beskryf word, is gemik op ’n gelyke speelveld nadat Rusland sy lugruim in 2022 vir Amerikaanse draers gesluit het weens sanksies ná die Oekraïne-inval.
Volgens die departement kry Chinese lugrederye ’n onregverdige voordeel deur steeds oor Rusland te vlieg, wat tot erg negatiewe kompeterende uitwerkings vir Amerikaanse maatskappye lei.
Lugrederye soos Air China, China Eastern en Xiamen Airlines kan geraak word. China het in reaksie die VSA daarvan beskuldig dat hy internasionale reise benadeel en versoek om die impak op sy eie besighede te oorweeg.
Die voorstelle kom te midde van voortgesette handelsgesprekke tussen Washington en Beijing. – AFP

Die VSA beoog om Chinese lugrederye te verbied om die Russiese lugruimte na Amerika te gebruik om mededinging te balanseer, te midde van handelsgesprekke tussen die twee lande. Foto: Getty Images
2025-10-10 11:25:35
Withuis mor oor Nobelprys
Die Withuis het Vrydag die Nobelprys-komitee gekritiseer oor sy besluit om die Vredesprys aan die Venezolaanse opposisieleier, Maria Corina Machado, toe te ken in plaas van aan pres. Donald Trump.
“Pres. Trump sal aanhou om vredesooreenkomste te sluit, oorloë te beëindig en lewens te red. Hy het die hart van ’n humanitêre persoon, en daar sal nooit weer iemand soos hy wees wat berge met die krag van sy wil kan versit nie,” skryf Steven Cheung, Withuis-woordvoerder, in ’n plasing op X.
“Die Nobel-komitee het bewys hulle heg meer waarde aan politiek as aan vrede.” Die Nobelprys vir vrede word jaarliks toegeken aan individue of organisasies wat uitsonderlike bydraes tot vrede gelewer het. – Reuters
2025-10-10 11:31:43
Indië versterk bande met Afganistan se Taliban
Indië het Vrydag sy bande met Afganistan se Taliban-administrasie versterk, wat die diplomaties geïsoleerde groep ’n hupstoot gee, deur aan te kondig dat die land ’n ambassade in Kaboel sal heropen wat gesluit is nadat die Taliban in 2021 die mag oorgeneem het.
Die Taliban-administrasie sal ook diplomate na Nieu-Delhi stuur. Indië het sy ambassade in Kaboel gesluit ná die onttrekking van die Amerikaans geleide Navo-magte uit die oorloggeteisterde Afganistan.
Ongeveer ’n dosyn lande, insluitend China, Rusland, Iran, Pakistan en Turkye, het ambassades wat in Kaboel v=bedryf word, hoewel Rusland die enigste land is wat die Taliban-administrasie formeel erken. – Reuters
2025-10-10 12:00:14
Israel publiseer lys van gevangenes wat vrygelaat gaan word
Israel se departement van justisie het Vrydag ’n lys van 250 gevangenes gepubliseer wat na verwagting vrygelaat sal word in ruil vir gyselaars wat steeds in die Gasastrook aangehou word, as deel van ’n skietstilstandooreenkoms met Hamas.
Die lys sluit nie die name van verskeie senior Palestynse militante leiers in wat as simbole van weerstand beskou word en wie se vrylating Hamas geëis het nie.
Israel is geneig om die vrylating van prominente figure te weier weens hul simboliese waarde en sekuriteitsrisiko’s. Hamas, aan die ander kant, gebruik die eis vir hul vrylating as hefboom in samesprekings om steun te bou onder Palestyne en sy invloed te versterk. – AFP
2025-10-10 12:01:37
Duitsland wil konferensie hou oor heropbou van Gasastrook
Duitsland wil ’n internasionale konferensie met Egipte reël vir die heropbou van die Gasastrook, sê Friedrich Merz, Duitse bondskanselier, terwyl Israel en Hamas nader aan die beëindiging van vyandelikhede beweeg.
Die hoofdoel van die konferensie "moet wees om die dringendste behoeftes te takel, soos die heropbou van water- en energievoorrade en mediese sorg", sê Merz.
Die Duitse ministerie van ontwikkeling het Vrydag gesê dat Berlyn vinnig 850 tydelike akkommodasie-eenhede aan die Gasastrook kan verskaf. "Vyftig van hulle is in Ramallah en kan vinnig na Gasa gebring word sodat mense dringend nodige skuiling kan kry," sê ’n woordvoerder.
Die jongste inligting toon dat tussen 90% en 92% van die geboue in die Gasastrook erg beskadig of vernietig is. – AFP

Friedrich Merz, Duitse bondskanselier. Foto: Getty Images
2025-10-10 12:11:53
Israeliese weermag versoek inwoners om gebiede onder hul beheer te vermy
Effie Defrin, woordvoerder van die Israeliese weermag (IDF), het inwoners van die Gasastrook aangemoedig om gebiede wat onder Israeliese militêre beheer is, te vermy.
“Ek doen ’n beroep op die inwoners van die Gasastrook om nie gebiede onder die IDF se beheer binne te gaan nie. Hou by die ooreenkoms en verseker julle eie veiligheid,” het Defrin Vrydag gesê.
Vir gewone inwoners is die aanwysing van "IDF-beheergebiede" egter soms onduidelik, en beweegruimte bly dikwels beperk te midde van die humanitêre krisis en onrus in die Gasastrook. – Reuters

Israeliese soldate patrolleer ’n gebied in die Gasastrook. Foto: AFP
2025-10-10 12:58:53
'n Trompetgeskal...

Noord-Koreaanse soldate blaas op trompette op 'n geleentheid vir die 80ste herdenking van die stigting van die regerende Werkersparty van Korea (WPK) in Pjongjang, Noord-Korea. Foto: Reuters
2025-10-10 13:01:56
Macron wys dalk Vrydag nuwe premier aan
Pres. Emmanuel Macron van Frankryk sou Vrydag 'n regeringshoof aanwys om die land uit 'n politieke krisis te help, met bondgenote wat geïrriteerd is dat hy dieselfde premier wat vroeër vandeesweek bedank het, kon herbenoem.
Die Franse politiek is in chaos gedompel sedert Macron verlede jaar op 'n blitsverkiesing gedobbel het wat hy gehoop het die mag sou konsolideer.
Macron se kantoor sê hy sal teen Vrydagaand 'n naam kies nadat sy sewende premier, Sébastien Lecornu (39), Maandag die handdoek ingegooi het weens 'n dooiepunt oor die besparingsbegroting. – AFP
2025-10-10 13:15:53
Bessent voer onderhoude vir nuwe Fed-voorsitter
Christopher Waller, een van die visepresidente van die Federale Reserweraad van Amerika (Fed), sê sy onderhoud met Scott Bessent, Amerikaanse minister van finansies, vir die pos as volgende hoof van die Fed, het vlot verloop en was glad nie polities van aard nie.
Waller, wat beskou word as 'n voorloper om Jerome Powell, huidige Fed-voorsitter, in 2026 op te volg, sê die onderhoud het gefokus op ernstige ekonomiese sake. Powell se termyn eindig in Mei volgende jaar.
“Ek weet nie of ek die kortlys gaan haal nie,” sê Waller. “Ek dink die onderhoud was positief.”
Bessent, wat die keuringsproses vir pres. Donald Trump lei, het glo al met tot 11 kandidate voorlopige onderhoude gevoer. – Reuters
2025-10-10 13:22:48
John Lodge van Moody Blues sterf
Die Britse sanger en kitaarspeler John Lodge, 'n langdurige lid van die groep The Moody Blues, is Vrydag in die ouderdom van 82 oorlede, het sy familie aangekondig.
Lodge, 'n baskitaarspeler, sanger en liedjieskrywer wat hom twee jaar ná die stigting in 1964 by die Engelse rockgroep aangesluit het, is "onverwags" oorlede, omring deur geliefdes.
"Dit is met die diepste hartseer dat ons moet aankondig dat John Lodge, ons geliefde man, vader, oupa, skoonvader en broer, skielik en onverwags van ons weggeneem is," lui 'n verklaring deur die familie. – AFP

‘n Argieffoto van 2023 van Britse sanger en kitaarspeler John Lodge. Foto: Getty Images
2025-10-10 14:01:38
VN vra Madagaskar om onnodige geweld teen betogers te vermy
Die Verenigde Nasies (VN) het Vrydag ’n beroep op die regering van Madagaskar gedoen om onnodige geweld teen betogers te vermy.
Dit volg ná botsings tussen die polisie en jong mense by ’n betoging in die hoofstad, Antananarivo, waar onrus reeds die afgelope twee weke voortsleep. Volgens ooggetuies was die stad Vrydag kalm, hoewel sekere dele steeds deur die veiligheidsmagte afgesper is.
Donderdag het die polisie egter traanrook en rubberkoeëls op betogers, verbonde aan die “Gen Z”-beweging, afvuur.
Die betogings word gedryf deur woede oor krag- en watertekorte in Madagaskar. Minstens ses mense is beseer. Gepantserde voertuie is ook ingespan om die skare te verdryf. – AFP
2025-10-10 14:12:01
Poetin nie gepla oor verlenging van kernwapenverdrag
Pres. Wladimir Poetin sê Rusland is besig om nuwe strategiese kernwapens te ontwikkel.
Volgens hom sou dit nie ’n krisis vir Rusland wees indien die VSA sou weier om die kernwapenverdrag, wat volgende jaar verstryk, te verleng nie.
Poetin sê dit sou jammer wees indien die laaste oorblywende wapenbeperkingsraamwerk tussen die twee wêreldmoondhede eenvoudig verdwyn, aangesien hulle die grootste kernarsenale het.
Die New Start-verdrag, wat in Februarie 2026 verstryk, beperk die aantal kernwapens wat die twee lande mag hou. Rusland het aangekondig hy is bereid om die reëls vrywilliglik te handhaaf as die VSA dit ook doen. Amerika het nog nie daartoe ingestem nie. – Reuters
2025-10-10 14:19:31
Afganistan, Pakistan stamp koppe
Afganistan se Taliban-regering het Pakistan Vrydag daarvan beskuldig dat hy lugaanvalle op sy grondgebied uitvoer en gewaarsku teen "gevolge".
11 Pakistanse soldate is Vrydag dood in 'n geveg met Islamitiese militante in die Tirah-gebied naby die Afgaanse grens, volgens Pakistanse veiligheidsamptenare. Pakistan sê militante van die Tehreek-e-Taliban Pakistan-groep opereer vanuit Afganistan.
Dit is 'n beskuldiging wat deur Kaboel ontken word. Die Taliban het Pakistan geblameer vir lugaanvalle in Kaboel, die hoofstad, laat Donderdag en in die oostelike provinsie Paktika omstreeks middernag. – Reuters
2025-10-10 14:32:30
Kiertsregop...

Pete Hegseth, Amerikaanse minister van verdediging, wag vir Katar se adjunk-premier en minister van verdediging, Sheikh Saoud bin Abdulrahman al-Thani, by die Pentagon in Washington DC vir samesprekings. Foto: Reuters
2025-10-10 15:19:40
Trump kanselleer vergadering met Xi
Pres. Donald Trump het Vrydag aangekondig dat daar geen rede is om oor twee weke soos beplan met die Chinese president, Xi Jinping, in Suid-Korea te vergader nie.
Hy het op sy Truth Social-platform aangedui dat Amerika ’n groot verhoging in invoertariewe op Chinese produkte oorweeg.
Hierdie skuif wys op groeiende spanning tussen die twee lande te midde van langdurige handels- en geopolitieke wrywing. – Reuters
2025-10-10 15:25:42
Peru verwyder president
Wetgewers in Peru het pres. Dina Boluarte net ná middernag Vrydag uit haar amp verwyder, wat ’n einde gemaak het aan ’n tydperk wat gekenmerk is deur protesoptogte, korrupsie-ondersoeke en wydverspreide misdaad.
Die 38-jarige hoof van die wetgewer, José Jerí, het die Suid-Amerikaanse land se presidentskap kort ná die stemming oorgeneem en aan wetgewers gesê dat hy ’n oorgangsregering sal lei totdat ’n verkiesing in April 2026 plaasvind.
Jerí het belowe, nadat hy ingehuldig is, om die res van die presidensiële termyn daaraan te bestee om die toenemende geweld te onderdruk.
“Die hoofvyand is buite, in die strate – die misdadige bendes, die misdaadgroepe ... ons moet oorlog teen hulle verklaar,” het hy gesê. – AFP
2025-10-10 15:32:35
Melania Trump sê Oekraïense kinders is aan families terugbesorg
Die Amerikaanse eerste dame, Melania Trump, sê sy is in gesprek met pres. Wladimir Poetin van Rusland om kinders wat in die Oekraïense oorlog vasgevang is te repatrieer, en dat sommige aan hul familie terugbesorg is, met meer wat binnekort herenig word.
“Dit bly ’n voortdurende poging,” het sy in kommentaar by die Withuis gesê. Sy het gesê Poetin het vroeër vanjaar op haar brief aangaande die kinders gereageer en dat daar steeds ’n oop kommunikasielyn tussen hulle is. – Reuters

Melania Trump. Foto: Getty Images
2025-10-10 16:07:53
Machado dra Nobelprys op aan Trump
Die Venezolaanse opposisieleier Maria Corina Machado het Vrydag haar Nobelprys vir Vrede opgedra aan die mense van Venezuela en pres. Donald Trump vir sy “beslissende steun” vir haar land se pro-demokrasie-beweging.
“Ek dra hierdie prys op aan die mense van Venezuela en aan pres. Trump vir sy beslissende steun aan ons saak!” skryf sy op X.
“Ons is op die drumpel van oorwinning en vandag, meer as ooit tevore, reken ons op pres. Trump, die mense van die VSA, die mense van Latyns-Amerika en die demokratiese nasies van die wêreld as ons belangrikste bondgenote om vryheid en demokrasie te bereik.” – AFP
2025-10-10 16:09:04
Brittanje, Frankryk en Duitsland beoog om kerngesprekke met Iran te hervat
Brittanje, Frankryk en Duitsland gaan probeer om kerngesprekke met Iran en die VSA weer aan die gang te kry, sê die drie Europese lande in ’n gesamentlike verklaring.
“Ons is vasbeslote om weer onderhandelinge met Iran en die VSA te begin met die oog op ’n omvattende, volhoubare en verifieerbare ooreenkoms wat verseker dat Iran nooit ’n kernwapen bekom nie,” sê die lande.
Die internasionale kernonderhandelinge met Iran het oorspronklik gelei tot ’n ooreenkoms in 2015 wat beperkings op Iran se kernprogram ingestel het in ruil vir sanksieverligting.
In 2018 het die VSA onder pres. Donald Trump egter uit die ooreenkoms onttrek en nuwe sanksies ingestel, waarna Iran weer begin het om dele van die ooreenkoms te oortree. – AFP
2025-10-10 16:18:53
VN veroordeel geweld in Darfoer
Volker Turk, die Verenigde Nasies (VN) se hoë kommissaris vir menseregte, het Vrydag die onlangse moord op talle burgerlikes in die beleërde Soedannese stad El-Fasher veroordeel, insluitend wat lyk na etnies-gedrewe teregstellings.
Die paramilitêre Blitsondersteuningsmag (RSF) loods tans hul hewigste aanval op El-Fasher, die laaste groot stad in Darfoer wat nog deur die regering se weermag beheer word.
Volgens Turk het die RSF tussen 5 en 8 Oktober minstens 53 burgerlikes vermoor en meer as 60 gewond. Turk waarsku dat die ware dodetal selfs hoër kan wees.
Die konflik in Darfoer duur voort met groeiende internasionale kommer oor die grootskaalse skending van menseregte en die toename in aanvalle op burgerlikes. – AFP

Vegters van die paramilitêre Blitsondersteuningsmag (RSF) in die stad Nyala in die suide van Darfoer. Foto: Getty Images
2025-10-10 17:03:55
Poetin loof Trump, kritiseer Nobelkomitee
Pres. Donald Trump “doen baie” om wêreldkrisisse op te los, het pres. Wladimir Poetin Vrydag gesê. Hy wou egter nie oordeel of Trump ’n Nobelprys vir vrede verdien nie.
Trump voer aan hy verdien die Nobelprys vir vrede weens sy rol in die oplossing van verskeie konflikte. Kommentators meen egter dié aansprake is oordrewe.
Poetin het op ’n mediakonferensie in Tadjikistan beklemtoon dat Trump “erg toegewyd is aan die oplossing van lang bestaande krisisse”, veral met verwysing na die onlangse skietstilstand in die Gasastrook.
Poetin het die Nobelkomitee gekritiseer en gesê vorige besluite om die prys aan “mense toe te ken wat niks vir vrede gedoen het nie”, ondermyn die geloofwaardigheid van die prys. Trump het Poetin later vir sy opmerkings op sosiale media bedank. – AFP

Pres. Wladimir Poetin en pres. Donald Trump onlangs in Alaska vir ’n vergadering . Foto: AFP
2025-10-10 17:12:12
Verregse leier in Nederland staak veldtog weens veiligheidsbedreiging
Geert Wilders, Nederlandse verregse leier, het Vrydag al sy veldtogaktiwiteite vir die komende verkiesing opgeskort weens ’n moontlike veiligheidsbedreiging.
In ’n plasing op X sê Wilders die Nederlandse nasionale anti-terrorisme-agentskap het aan hom bevestig dat ’n groep wat vermoedelik aanvalle op politici, onder wie Bart de Wever, premier van België, beplan, hom ook as ’n moontlike teiken beskou.
Wilders, wat Islam as ’n eksistensiële bedreiging vir vryheid in Nederland bestempel, leef al meer as 20 jaar onder streng veiligheid weens Islamitiese doodsdreigemente. Die Nederlandse verkiesing word op 29 Oktober gehou. – Reuters
2025-10-10 17:23:24
Burkina Faso weier om immigrante te ontvang wat VSA deporteer
Burkina Faso sal nie buitelanders inneem wat Amerika deporteer nie. Die land beskou dit as deel van die onderdrukking van immigrante deur pres. Donald Trump se administrasie.
Ghana, buurland van Burkina Faso, het in September gesê die regering het ingestem om burgers van ander Wes-Afrika-lande in te neem.
Karamoko Jean-Marie Traore, Burkina Faso se minister van buitelandse sake, sê dié land het verskeie voorstelle deur die Trump-administrasie geweier om gedeporteerdes van derde lande te aanvaar. "Burkina Faso is nie ’n land van deportasie nie." – Reuters
2025-10-10 18:05:30
Oekraïense infrastruktuur kort beskerming teen Russiese lugaanvalle, sê Zelenski
Rusland het doelbewus op gure weersomstandighede gewag om Oekraïne se kragstelsel aan te val, sê pres. Wolodimir Zelenski.
Die ongunstige weersomstandighede verminder die doeltreffendheid van lugverdediging met tussen 20% en 30%, sê hy. Zelenski het in ’n media-onderhoud Vrydag ook aangedui dat 203 kraginstellings in die land beskerming teen Russiese lugaanvalle benodig.
“Die hou was swaar, maar beslis nie noodlottig nie,” sê hy oor die onlangse Russiese aanval oornag.
Kraginfrastruktuur is ’n kernteiken van Russiese aanvalle. Dit verswak nie net die verdediging van die land nie, maar lei ook tot wydverspreide onderbrekings in krag- en watervoorsiening aan miljoene Oekraïners – veral gevaarlik in die wintermaande. – Reuters
2025-10-10 18:06:52
Trump-administrasie begin met afleggings te midde van regeringsluiting
Die aflegging van federale werkers het begin terwyl pres. Donald Trump probeer om druk op die Demokrate te verhoog om ’n regeringsluiting te beëindig wat openbare dienste verlam, sê die Withuis.
Russ Vought, Trump se begrotingshoof, het op sosiale media bevestig dat die administrasie aan die begin van die derde week van die sluiting begin het om sy dreigement na te kom om sommige van die 750 000 staatsamptenare wat op gedwonge verlof geplaas is, af te dank.
Vought wou nie sê of die afleggings "aansienlik" sou wees nie. Hy het ook nie presiese syfers of besonderhede gegee oor watter departemente die meeste geraak sal word nie. – AFP
2025-10-10 18:17:55
AFP-fotograaf beseer in aanval in Wesoewer deur Israeliese setlaars
Jaafar Ashtiyeh, AFP-fotograaf, is Vrydag beseer toe sowat 70 Israeliese setlaars olyfoeswerkers en joernaliste in die Palestynse dorpie Beita in die besette Wesoewer aangeval het.
Die groep was gewapen met stokke en klippe, en het nie net mense nie, maar ook motors met klippe bestook en aan die brand gesteek. Ashtiyeh is later uit die hospitaal ontslaan met kneusplekke.
Dis die eerste keer in sy 30-jarige loopbaan dat hy so ’n aanval beleef, sê hy, en hy sou dood gewees het as hy nie kon vlug nie. Die media het die aanval veroordeel en eis optrede van die Israeliese weermag teen die setlaars. – AFP

Die voertuig van ’n AFP-fotograaf in ligte laaie ten tyde van ’n aanval Vrydag op die Palestynse dorpie Beita. Foto: AFP
2025-10-10 19:01:41
Talle moontlik dood, beseer in ontploffing in Tennessee
'n Onbekende aantal mense is moontlik dood of beseer in 'n massiewe ontploffing Vrydag by 'n Amerikaanse militêre plofstofaanleg naby Nashville in Tennessee.
Nooddienste is na die toneel gestuur en die publiek is gewaarsku om die gebied te vermy. "Ons kan bevestig dat daar 'n ontploffing by Accurate Energetic Systems in die Bucksnort-gebied was," het die plaaslike polisie in 'n Facebook-plasing geskryf.
Die burgemeester se kantoor in die Hickman-distrik kon nie onmiddellik enige sterftes of die oorsaak van die ontploffing bevestig nie. – AFP
2025-10-10 19:16:52
Duisende in Gasastrook keer terug na die noorde
Die burgerlike verdedigingsagentskap in die Gasastrook sê sowat 200 000 mense het na die noorde van die gebied teruggekeer sedert die skietstilstand Vrydag in werking getree het.
"Sowat 200 000 mense het vandag na die noorde van die Gasastrook teruggekeer," het Mahmoed Bassal, woordvoerder van die agentskap, 'n reddingsmag wat onder Hamas-gesag opereer, gesê.
Die noorde het die afgelope paar maande onder swaar militêre operasies en bombardemente deurgeloop, wat daartoe gelei het dat duisende inwoners na die suide moes vlug vir veiligheid. – AFP
2025-10-10 19:28:47
'n Wakende oog...

'n Lid van die Amerikaanse geheimediens staan wag terwyl die konvooi van pres. Donald Trump Vrydag die Walter Reed nasionale militêre mediese sentrum verlaat ná Trump se mediese ondersoek in Bethesda, Maryland, in die VSA. Foto: Reuters
2025-10-10 19:44:22
19 vermis ná massiewe ontploffing by plofstoffabriek in VSA
Minstens 19 mense word vermis ná 'n reuse-ontploffing by 'n plofstoffabriek in die Amerikaanse deelstaat Tennessee, het 'n plaaslike amptenaar Vrydag gesê.
'n Onbekende aantal mense het in die ontploffing gesterf. "Op die oomblik kan ons bevestig dat ons 19 mense het waarna ons soek," sê Chris Davis, 'n plaaslike polisiewoordvoerder.
"Ek kan bevestig dat ons sterftes gehad het. Ek wil nie 'n getal daaraan koppel nie. Ek kan bevestig ons soek na 19 individue." – AFP
2025-10-10 20:10:04
Macron stel Lecornu weer aan as premier
Pres. Emmanuel Macron van Frankryk het Vrydag sy uittredende premier, Sébastien Lecornu, weer in daardie amp aangestel, slegs vier dae nadat Lecornu bedank het.
“Die president van die republiek het mnr. Sébastien Lecornu as premier benoem en hom die taak gegee om 'n regering te vorm,” het die Élysée-paleis Vrydagaand in 'n verklaring gesê. – AFP
2025-10-10 20:18:43
Lecornu aanvaar premierskap ‘uit plig’
Sébastien Lecornu is Vrydagaand weer as Franse premier aangestel en is die taak opgelê om teen die einde van Maandag 'n begroting aan die parlement voor te lê.
"Ek aanvaar – uit plig – die missie wat die president van die republiek aan my toevertrou het om alles moontlik te doen om Frankryk teen die einde van die jaar van 'n begroting te voorsien en die daaglikse lewenskwessies van ons medeburgers aan te pak," het Lecornu ná sy herinstelling op X geskryf. – Reuters
2025-10-10 20:32:57
Nobel-instituut bekyk moontlike lekkasie oor vredesprys
Die Noorse Nobel-instituut gaan ondersoek instel of inligting oor die toekenning van die Nobelprys vir Vrede aan die Venezolaanse opposisieleier Maria Corina Machado uitgelek het. Dit nadat verdagte weddenskappe aan die lig gekom het.
Die kans dat Machado die prys sou wen, het oornag van Donderdag tot Vrydag van 3,75% tot bykans 73% toegeneem op die weddenskapplatform Polymarket.
Maar geen kenner of media-publikasie of -uitsending het genoem dat sy onder die gunstelinge vir die prys is nie, wat net 'n paar uur later in Oslo aangekondig is. – AFP
















