2025-11-03 03:29:37
Minstens 10 dood, 150 beseer in aardbewing in Afganistan
Minstens 10 mense is dood en 260 beseer toe ’n aardbewing van 6,3 Afganistan vroeg Maandagoggend naby die stad Mazar-e Sjarif getref het.
Die Amerikaanse organisasie vir geologiese opname (USGS) het gesê die aardbewing het op ’n diepte van 28 km naby Mazar-e Sjarif toegeslaan.
Die getal sterftes en beseerdes is op hospitaalverslae gegrond.
Die land se nasionale rampbestuuragentskap het gesê verslae oor slagoffers en skade sal later uitgereik word. – Reuters, AFP
2025-11-03 03:35:36
‘Tragies,’ sê Trump oor Andrew wat nie meer prins is
Pres. Donald Trump het Sondag gesê hy kry die Britse koninklike familie jammer nadat koning Charles sy broer Andrew van sy titel as prins gestroop het te midde van toenemende druk oor Andrew se bande met wyle Jeffrey Epstein, veroordeelde seksmisdadiger.
“Dit is ’n verskriklike ding wat met die familie gebeur het,” het Trump aan verslaggewers aan boord van Air Force One gesê toe hy oor Charles se optrede gevra is.
“Dit is ’n tragiese situasie en dit is aaklig. Ek voel jammer vir die familie.” – Reuters
2025-11-03 03:44:59
Hamas gee oorskot van 3 gyselaars aan Israel
Hamas het Sondag die lyke van drie gyselaars aan Israel oorhandig.
Israeliese magte in die Gasastrook het doodskiste ontvang nadat Hamas dit aan die Rooi Kruis besorg het, het die kantoor van premier Benjamin Netanyahu gesê.
Die oorskot sal na Israel vervoer word vir identifikasie.
Die lyke is na verwagting dié van drie van die 11 gyselaars wie se oorskot Israel uit die Gasastrook wou hê ingevolge die bepalings van ’n skietstilstand. – Reuters
2025-11-03 04:09:01
26 dood, 25 vermis weens grondstortings in Kenia
Minstens 26 mense is dood in ’n grondstorting weens swaar reën in die Skeurvallei in Wes-Kenia.
Altesaam 25 mense word ná verwoestende vloede in die Elgeyo-Marakwet-distrik steeds vermis en 26 is gered, volgens ’n regeringswoordvoerder.
Die regering het militêre vliegtuie en spesialis-rampwerkers ontplooi om ’n soek-en-reddingsoperasie uit te voer.
Honderde mense is die laaste paar jaar dood in grondstortings en vloede in Kenia.
Wetenskaplikes sê klimaatsverandering veroorsaak meer intense en gereelde uiterste weerstoestande. – Reuters
2025-11-03 04:13:10
Pous herhaal beroep om skietstilstand in Soedan
Pous Leo XIV het Sondag sy beroep om ’n onmiddellike skietstilstand in Soedan herhaal.
“Met groot hartseer volg ek die tragiese nuus wat uit Soedan kom, veral uit die stad El-Fasjer,” het die pous gesê.
Hy het “lukrake geweld teen vroue en kinders en aanvalle op ongewapende burgers” veroordeel en gesê dit skep “ernstige struikelblokke vir humanitêre optrede” wat “’n reeds uitgeputte bevolking ná lang maande van konflik onaanvaarbare lyding besorg het”. – AFP
2025-11-03 04:46:37
23 sterf weens ontploffing in supermark in Mexiko
Minstens 23 mense is Saterdag weens ’n ontploffing in ’n supermark in Noord-Mexiko dood en 12 beseer.
Van die slagoffers was minderjariges, het die owerheid gesê.
Die meeste is dood nadat hulle giftige gas ingeasem het.
Ondersoekers het gesê die ontploffing was ’n ongeluk wat moontlik deur ’n foutiewe elektriese transformator veroorsaak is. – AFP
2025-11-03 05:19:03
Geen Tomahawk-missiele aan Oekraïne vir eers, sê Trump
Pres. Donald Trump het Sondag gesê hy oorweeg vir eers nie ’n ooreenkoms wat Oekraïne in staat sal stel om Tomahawk-missiele vir gebruik teen Rusland te bekom nie.
Trump is tot dusver huiwerig oor ’n plan vir Amerika om Tomahawks aan Navo-nasies te verkoop wat hulle aan Oekraïne sal oordra.
“Nee, nie regtig nie,” het Trump gesê toe hy deur verslaggewers gevra is of hy ’n ooreenkoms oorweeg om die missiele te verkoop.
Hy het egter bygevoeg dat hy van plan kan verander. – Reuters
2025-11-03 05:20:20
Mexikaanse burgemeester doodgeskiet
Die Mexikaanse president, Claudia Sheinbaum, het geregtigheid belowe nadat die burgemeester van die stad Uruapan Saterdag doodgeskiet is.
Carlos Manzo (40) het op die Dag van die Dooies-fees ’n kersliggeleentheid bygewoon toe hy vermoor is. Hy was ’n openlike kritikus van georganiseerde misdaad.
Twee verdagtes is in hegtenis geneem en ’n derde is dood, het die ministerie van sekuriteit gesê.
Verskeie politici en joernaliste is die laaste paar jaar in dié stad in die geweldgeteisterde staat Michoacán in Wes-Mexiko vermoor. – AFP
2025-11-03 05:39:08
Dodetal styg tot 20 weens aardbewing in Afganistan
Die dodetal weens ’n aardbewing in Afganistan het toegeneem tot meer as 20, het die ministerie van gesondheid gesê. Ongeveer 320 mense is ook beseer.
Dié ongevalle is in die provinsies Balkh en Samangan aangeteken. Dit is slegs voorlopige syfers.
Vroeër is berig ’n aardbewing van 6,3 het Afganistan vroeg Maandagoggend naby die stad Mazar-e Sjarif getref. – AFP
2025-11-03 06:37:06
5 Duitse bergklimmers sterf weens sneeustorting in Italië
Vyf Duitse bergklimmers het Saterdag in ’n sneeustorting in die Dolomietberge in Italië omgekom.
Twee groepe bergklimmers is in die stortvloed van sneeu vasgevang.
“Die eerste groep van drie mense was heeltemal begrawe” onder die sneeu, het Italië se reddingsdienste gesê.
Twee klimmers van ’n tweede span van vier mense het oorleef nadat hulle skuiling gevind het.
Die lyke van die ander twee ander klimmers, ’n pa en sy dogter (17), is Sondagoggend gevind. – AFP
2025-11-03 06:42:59
Oorskot geïdentifiseer van 3 wat deur Hamas oorhandig is
Die Israeliese owerhede het die oorskot van drie dooies wat deur Hamas oorhandig is geïdentifiseer as gyselaars wat in Oktober 2023 gevange geneem is, het die kantoor van premier Benjamin Netanyahu Maandag gesê.
Die owerheid sê die oorledenes is “in aksie” dood.
Die oorskot sluit in dié van Omer Neutra, ’n Amerikaans-Israeliese kaptein wat 21 jaar oud was toe hy as gyselaar geneem is. Die ander twee is kpl. Oz Daniel (19) en kol. Assaf Hamami (40). – AFP
2025-11-03 06:54:06
28 al dood weens orkaan Melissa in Jamaika, syfer kan styg
Die dodetal weens die orkaan Melissa in Jamaika het Sondag van 19 tot 28 gestyg.
Andrew Holness, premier van Jamaika, het die nuwe sterftesyfer bevestig.
Hy het gesê daar is “nog verslae van moontlike sterftes wat inkom en nog bevestig moet word”.
Melissa het verlede week die eiland as ’n kategorie 5-orkaan getref. – AFP

’n Foto vanaf ’n hommeltuig van skade wat deur die orkaan Melissa in Belmont, Jamaika, veroorsaak is. Foto: Reuters
2025-11-03 07:35:00
4 probeer glo skip in Somalië onregmatig betree
’n Groep ongematigde individue wou aan boord van ’n skip gaan wat in waters oos van Mogadisjoe, Somalië, vaar, het die Britse Maritieme Handelsoperasies (UKMTO) Maandag gesê.
“Die kaptein het aangemeld dat vier ongemagtigde persone probeer het om aan boord van sy vaartuig te gaan,” lui ’n verklaring deur die UKMTO.
“Alle bemanningslede is veilig en reis na die volgende hawe. Die owerhede het ’n ondersoek van stapel gestuur. Skepe word aangemoedig om met versigtigheid te reis.” – Reuters
2025-11-03 08:22:38
Meer as 35 000 vlug uit streek in Soedan
Tienduisende Soedannese burgers het uit dorpe in ’n uitgestrekte streek oos van Darfoer gevlug, het die Verenigde Nasies (VN) gesê.
Dit kom net meer as ’n week nadat die paramilitêre Blitsondersteuningsmag (RSF) die stad El-Fasjer oorgeneem het.
Die VN se migrasie-agentskap het laat Sondag gesê dat ’n geskatte 36 825 mense uit vyf plekke in die noorde van Kordofan gevlug het.
Dit is ’n streek ’n paar honderd kilometer oos van Darfoer. – AFP

Plaaslike inwoners in die stad Omdoerman neem Vrydag deel aan ’n betoging teen die paramilitêre Blitsondersteuningsmag. Foto: AFP
2025-11-03 08:38:35
Rusland, China toets kernwapens, beweer Trump
Pres. Donald Trump het Sondag beweer dat lande, insluitend Rusland en China, ondergrondse kernwapentoetse uitgevoer het wat nie aan die publiek bekend gemaak is nie.
“Rusland toets, en China toets, maar hulle praat nie daaroor nie,” het Trump gesê en ook na Noord-Korea en Pakistan verwys.
“Ek wil nie die enigste land wees wat nie toets nie.”
Trump het verlede week beveel dat Amerika kernwapentoetse moet hervat.
Daar is egter verwarring oor die spesifieke aard van die toetse. – AFP
2025-11-03 08:54:45
Leier van Spaanse streek waar 100de weens vloede sterf, bedank
Carlos Mazon, die leier van Spanje se Valencia-streek, het bedank oor sy administrasie se hantering van die katastrofiese vloede wat verlede jaar die streek getref het.
Mazon het daaglikse oproepe vir sy bedanking ontvang sedert swaar reën op 29 Oktober 2024 tot die dood van 229 mense gelei het en miljarde euro’s se skade veroorsaak het.
Inwoners van die geaffekteerde gebiede beskuldig die streeksregering daarvan dat hy ’n waarskuwing te laat uitgereik het nadat geboue reeds onder water was en baie mense verdrink het. – Reuters
2025-11-03 09:11:52
2 bergklimmers sedert Saterdag in Nepal vermis
Twee Italiaanse bergklimmers het in Nepal vermis geraak terwyl hulle ’n afgeleë piek geklim het. Dit kom nadat die sikloon Montha weer in die streek ontwrig het.
Die bergklimmers, Farronato Stefano en Caputo Alessandro, het probeer om die Panbari-berg van 6 887 m in die weste van Nepal as deel van ’n span van drie te klim.
“Die twee was vasgevang in kamp een weens swaar sneeuval en is sedert Saterdag weg,” het Nepal se departement van toerisme gesê. – AFP
2025-11-03 09:35:34
President van Tanzanië ingehuldig ná omstrede verkiesing
Pres. Samia Suluhu Hassan van Tanzanië (65) is Maandag ingehuldig vir haar eerste verkose termyn nadat sy ’n verkiesingsoorwinning behaal het wat tot noodlottige betogings gelei het.
Hassan, wat in 2021 aan die bewind gekom het ná die dood van haar voorganger, is tot wenner van verlede week se verkiesing verklaar met 97,66% van die stemme.
Sy het slegs teen kandidate van kleiner partye meegeding omdat haar hoofopposisiekandidate of in die tronk is of verbied is om deel te neem. – Reuters
2025-11-03 09:47:38
10 aanklagte van poging tot moord teen man weens trein-aanval in Londen
’n Man sal Maandag op 10 aanklagte van poging tot moord in die hof verskyn ná ’n aanval Saterdag op ’n trein wat na Londen onderweg was.
Anthony Williams (32) word ook aangekla van poging tot moord en die besit van ’n skerp voorwerp weens ’n vroeëre voorval in die ooste van Londen. – Reuters

Beamptes op die toneel nadat die trein by die Huntingdon-treinstasie naby Cambridge in Engeland gestop het. – Reuters
2025-11-03 10:10:50
Israeliese aanklaer vas oor video van soldate wat gevangene mishandel
Die Israeliese polisie het ’n voormalige militêre aanklaer in hegtenis geneem ná ’n skandaal wat ontketen is toe sy ’n video uitgereik het wat wys hoe soldate ’n Palestynse gevangene mishandel.
Yifat Tomer-Yerushalmi het volgens haar bedankingsbrief erken dat haar kantoor die video verlede jaar aan die media beskikbaar gestel het.
Vyf reserviste is aangekla sedert die video in 2024 uitgereik is.
Die aanklagte teen Tomer-Yerushalmi is nog nie bekend gemaak nie. – AFP
2025-11-03 10:29:38
‘Nuwe era van kernwapens’
Pres. Alexander Stubb van Finland sê ’n “nuwe era van kernwapens” het begin, nadat Amerika verlede week aangekondig het dit beplan om kernwapentoetse te hervat.
Stubb sê die “logika van afskrikking en strategiese stabiliteit tussen supermoondhede” ondergaan ’n transformasie.
“Ons het ’n nuwe era van kernwapens betree, waarin die betekenis van kernwapens ongelukkig toeneem,” het Stubb in ’n toespraak in Helsinki gesê. – AFP
2025-11-03 10:44:54
Swanger Britse tiener in Georgië vrygelaat
Bella Culley (19), ’n swanger Britse tiener wat vroeër vanjaar op aanklagte van dwelmhandel in Georgië in hegtenis geneem is, is Maandag vrygelaat.
Culley, van Billingham in die noordooste van Brittanje, het in Thailand vermis geraak voordat sy in Mei na Georgië gevlieg het.
Sy is met haar aankoms by die lughawe aangekeer. Aanklaers sê sy het 14 kg dagga in haar bagasie gehad. Culley het aanvanklik skuld ontken in Julie, maar haar familie het verlede week $187 000 in vergoeding betaal om vir ’n ligter vonnis te onderhandel.
Sy is toe gevonnis tot vyf maande en 24 dae – die tyd wat sy reeds in aanhouding uitgedien het. – Reuters
2025-11-03 11:14:34
EU-lande onderteken verklaring om regulering van nywerhede te vergemaklik
Die nywerheidsministers van 17 lande van die Europese Unie (EU), insluitend Duitsland, Frankryk, Italië, Spanje en Pole, het Maandag in Berlyn 'n verklaring onderteken wat hulle oproep tot die radikale vereenvoudiging van die EU se regulering vir nywerhede.
Die verklaring sluit in ’n sterker basis vir verdediging sowel as nuwe finansiële maniere om toegang tot kritieke grondstowwe te verseker. Die doel is om die EU se nywerheidsmededingendheid te verbeter en minder afhanklik te maak van invoer soos energie en grondstowwe, veral te midde van wêreldwye konflik, verskuiwings in handel en toenemende mededinging vanuit China en Amerika.
Daar is ook toenemende druk om die EU se regulasies te vereenvoudig omdat sakeondernemings kla dat oormatige regulering die sektor se groei belemmer. – Reuters
2025-11-03 11:27:00
Trump mag nie Nasionale Garde na Portland stuur
'n Amerikaanse federale regter het 'n bevel wat pres. Donald Trump verhoed om Nasionale Garde-troepe in Portland in die deelstaat Oregon te ontplooi, vir vyf dae verleng hangende 'n finale uitspraak.
Trump, 'n Republikein, het die Nasionale Garde vanjaar na drie Demokraties-geleide stede, Los Angeles, Washington en Memphis, gestuur, maar sy pogings om soldate in Portland en Chicago te ontplooi, is deur die howe gestuit.
Trump beskou Portland as ‘n "oorloggeteisterde stad wat deurspek is met geweldsmisdaad”. Regter Karin Immergut sê egter daar is "geen geloofwaardige bewyse" daarvoor nie. – AFP

Lede van die Nasionale Garde loop verby die Lincoln-gedenkteken in Washington ten tyde van hul ontplooiing in die Amerikaanse hoofstad. Foto: Getty Images
2025-11-03 11:37:33
Jesse Klaver (39) gekies om linkse groepering in Nederland te lei
Die Nederlandse linkse Groen-Arbeider-groepering het Maandag die jeugdige, sosialemedia-vaardige Jesse Klaver as hul nuwe hoof gekies. Klaver vervang die voormalige visepresident van die Europese Kommissie Frans Timmermans, wat ná 'n teleurstellende verkiesing bedank het.
Klaver (39) se eerste taak sal waarskynlik koalisiegesprekke met Rob Jetten, die verkiesingswenner, wees, wat 'n breë span wil hê wat die linkse en regse kant van die Nederlandse politiek dek.
"Jesse is een van die dryfkragte agter ons linkse samewerking," skryf die Groen-Arbeider-groep in 'n plasing op X nadat Klaver verkies is. – AFP

Jesse Klaver, nuwe partyleier van die Nederlandse linkse Groen-Arbeider-groepering, praat met joernaliste nadat hy op 'n parlementêre vergadering in Den Haag verkies is. Foto: AFP
2025-11-03 12:05:05
Samewerking met VSA nie moontlik, sê opperleier van Iran
Samewerking tussen Iran en Amerika is nie moontlik nie solank as wat Washington voortgaan om Israel te ondersteun, militêre basisse handhaaf en in die Midde-Ooste inmeng, sê die ajatolla Ali Chamenei, opperleier van Iran.
Chamenei se kommentaar kom terwyl pres. Donald Trump se administrasie poog om druk op Iran te verhoog. "Die Amerikaners sê soms dat hulle graag met Iran wil saamwerk. Samewerking met Iran is nie moontlik solank die VSA voortgaan om die vervloekte Sionistiese regime te ondersteun, militêre basisse te handhaaf en in die streek in te meng nie," sê Chamenei.
Trump het in Oktober aangedui dat die VSA bereid is om 'n ooreenkoms met Iran te sluit wanneer Teheran gereed is om dit te doen en gesê: "Die hand van vriendskap en samewerking met Iran is oop”. – Reuters
2025-11-03 12:11:04
Werkers beseer toe toring naby Colosseum gedeeltelik ineenstort
’n Werker is met ernstige beserings in die hospitaal opgeneem ná die gedeeltelike ineenstorting van ’n Middeleeuse toring tydens opknapping naby die Colosseum in Rome. Twee ander werkers is lig beseer, berig Italiaanse media.
Volgens Luca Cari, woordvoerder van die nasionale brandweerdiens, was nooddienste vroeër besig om ’n werker, wat onder die puin vasgekeer is, te bevry.
Die 29 meter hoë Torre dei Conti staan in die Via dei Fori Imperiali, die breë laan wat van die sentrale Piazza Venezia na die Colosseum lei. – Reuters
2025-11-03 12:19:15
Ek bedank...

Carlos Mazón, president van die Valencia-streek in Spanje, staan Maandag joernaliste te woord ná sy bedanking. Mazón is ondersoek oor sy hantering van die katastrofiese vloede verlede jaar, wat tot die dood van 229 mense gelei het. Foto: AFP
2025-11-03 12:30:47
Israel oorhandig 45 lyke van Palestyne
Israel het Maandag die oorskot van 45 Palestyne terugbesorg wat die totale getal wat ingevolge die skietstilstand in die Gasastrook oorhandig is op 270 te staan bring.
Israel moet ingevolge die ooreenkoms wat deur pres. Donald Trump bemiddel is, die oorskot van 15 Palestyne oorhandig vir elke oorlede Israeli wat oorhandig word.
Israel het Maandag bevestig dat die oorskot wat die vorige dag deur Hamas oorhandig is, dié is van drie gyselaars wat in die aanval op 7 Oktober 2023 gevange geneem is – kapt. Omer Neutra, kpl. Oz Daniel en kol. Assaf Hamami. – AFP
2025-11-03 13:07:58
Geweld in Soedanse stad moontlik oorlogsmisdade
Die kantoor van die aanklaer by die Internasionale Strafhof (IS) in Den Haag het Maandag gewaarsku dat gruweldade wat in die Soedanse stad el-Fashir gepleeg is, as oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom beskou kan word.
Ná 18 maande van beleg, bombardering en hongersnood het die paramilitêre Blitsondersteuningsmag (RSF) op 26 Oktober beheer oor die stad geneem en die laaste vesting van die weermag in Soedan se westelike Darfoer-streek verdryf.
Die IS het sy “uiterste kommer” uitgespreek oor die massamoorde, verkragtings en ander beweerde misdade in el-Fashir. “Dié gruweldade is deel van ’n breër patroon van geweld wat die hele Darfoer-streek sedert April 2023 teister,” lui ’n verklaring. – AFP
2025-11-03 13:17:23
Op moedverloor se vlakte

’n Seun sit tussen die puin van ’n beskadigde huis ná ’n aardbewing in die dorpie Tasjkoergan in die Choelm-distrik van die Samangan-provinsie van Afganistan. Foto: AFP
2025-11-03 13:24:10
4 lig beseer toe trein in Engeland ontspoor
Vier mense is Maandag lig beseer toe ’n trein vroegoggend ontspoor het ná ’n grondverskuiwing in die afgeleë heuwels in die noordweste van Engeland.
Tientalle passasiers is om 04:28 van die Avanti Weskus-dienstrein van Glasgow in Skotland na die Londen Euston-stasie afgelei nadat dit by Shap, Cumbria, ontspoor het.
“Die voorste treinwa het van die spore afgekom, maar het regop gebly,” het vervoerowerhede gesê en bygevoeg dat 85 mense van die trein af begelei is. Die voorval word ondersoek, sê die plaaslike spoorwegdiens. – AFP
2025-11-03 13:32:13
Chinese premier: Rusland bly ‘betroubare vennoot’
China sê hy wil sy samewerking met Rusland versterk en hul gesamentlike veiligheidsbelange verdedig. Li Qiang, Chinese premier, het so ’n samewerking Maandag aan die besoekende Russiese premier, Michail Misjoestin, belowe.
Li het tydens gesprekke in Hangzhou die twee lande beskryf as “goeie bure en betroubare vennote”. Die gesprekke het gefokus op ekonomiese en tegnologiese samewerking te midde van Westerse sanksies teen Rusland weens die oorlog in Oekraïne, en handelspanning tussen China en die VSA.
Hoewel Rusland en China in 2022 ’n “sonder beperkinge”-vennootskap gesluit het, het Chinese uitvoer na Rusland onlangs afgeneem. Chinese maatskappye het invoer van Russiese olie gestaak ná Amerikaanse sanksies.
Nietemin neem Chinese invoer uit Rusland weer toe, veral van koper, nikkel en landbouprodukte. – Reuters
2025-11-03 14:01:25
Waar gaan my hulp vandaan kom?

’n Beseerde man word Maandag uit ’n voertuig gehelp in ’n ongeïdentifiseerde plek in Afganistan ná ’n aardbewing van 6,3. Die aardbewing oornag het die lewe van minstens 20 mense in die noorde van Afganistan geëis en meer as 500 beseer, het owerhede gesê. Foto: Verskaf/Afgaanse Rooi Halfmaan via Reuters
2025-11-03 14:14:36
Bangladesj skrap musiekonderrig ná Islamitiese kapsie
Bangladesj het planne gekanselleer om musiekonderwysers vir primêre skole aan te stel, het ’n regeringsamptenaar Maandag gesê, nadat dit fel teenstand van Islamitiese groepe in dié Moslem-meerderheidsland gekry het.
“Die musiek- sowel as liggaamlike-opvoedingposte is nou laat vaar,” het ’n senior amptenaar op voorwaarde van anonimiteit aan AFP gesê.
Bangladesj se grootste Islamitiese politieke party, Jamaat-e-Islami, en ander Islamitiese organisasies het gesê dit is onaanvaarbaar om musiek- en dansonderwysers aan te stel sonder om ook godsdienstige instrukteurs in diens te neem. – AFP
2025-11-03 14:39:19
China ontken kernwapentoetse ná Trump-beskuldigings
China het Maandag ontken dat hulle kernwapentoetse gedoen het nadat pres. Donald Trump beweer het dat dié land toetse uitvoer waarvan die publiek nie weet nie.
“China het nog altyd die pad van vreedsame ontwikkeling gevolg, ’n beleid nagestreef om nie eerste kernwapens te gebruik nie, ’n selfverdedigende kernstrategie gehandhaaf, en ooreenkomstig sy verbintenis om kerntoetse op te skort, opgetree,” het ’n woordvoerder van die ministerie van buitelandse sake gesê. – AFP
2025-11-03 15:03:46
Gegroet, kameraad

’n Makker van Nolan Durie, ’n 21-jarige Kanadese lid van die Oekraïense buitelandse vrywilligerseenheid wat in gevegte teen Russiese magte dood is, neem Maandag van hom afskeid op ’n geleentheid in Kijif, Oekraïne. Foto: Reuters
2025-11-03 15:16:42
2 dood in Israeliese aanvalle in suide van Libanon
Twee aanvalle deur die Israeliese weermag op dorpe in die suide van Libanon het Maandag die lewe van twee mense geëis en sewe gewond gelaat, het die Libanese gesondheidsministerie gesê, kort nadat Israel gedreig het om sy aanvalle teen die Iran-gesteunde Hezbollah uit te brei. – AFP
2025-11-03 15:34:11
Geregshof ondersoek berigte oor massaslagtings in Soedan
Aanklaers van die Internasionale Geregshof (Wêreldhof) het Maandag gesê hulle samel bewyse in oor beweerde massaslagtings en verkragtings nadat die paramilitêre Blitsondersteuningsmag die stad al-Fashir in Soedan se Darfoer-streek verlede week in besit geneem het.
Die Wêreldhof ondersoek reeds sedert 2005 beweerde volksmoord, oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom in Darfoer.
Meer as 70 000 mense het al-Fashir al verlaat, en oorlewendes het vertel van verkragtings en die teregstelling van mans wat die stad vir veiligheid wou verlaat. – Reuters
2025-11-03 16:03:11
Vlieg soos ’n arend

’n Seun vlieg Maandag ’n vlieër voor vernietigde geboue in die stad Gasa. – Foto: AFP
2025-11-03 16:14:31
Tienduisende in Filippyne ontruim voor aanslag van tifoon
Meer as 150 000 mense het Maandag skuiling gesoek in die Filippynse kusprovinsies in die aangesig van die kragtige tifoon Kalmaegi, wat na verwagting binnekort aan land sal kom.
Die tifoon, op koers om die Visayas-eilandgroep eerste te tref, gaan gepaard met winde van tot 170 km/h, sê die land se nasionale weerdiens. – AFP
2025-11-03 16:43:22
Palestyne moet Palestina ná oorlog regeer, sê Turkye
Turkye wil ’n naoorlogse raamwerk vir die Gasastrook sien waarin "Palestyne Palestina se regering en veiligheid verseker", het Hakan Fidan, Turkse minister van buitelandse sake, Maandag gesê ná ’n vergadering in Istanbul waaraan Katar, Saoedi-Arabië, die Verenigde Arabiese Emirate, Jordanië, Pakistan, Indonesië en Turkye deelgeneem het.
Fidan sê verder Israel moet ophou met sy gereelde skendings van die skietstilstand in die Gasastrook en ook sy plig nakom om humanitêre hulp toe te laat. – Reuters
2025-11-03 17:35:25
Michigan: 2 aangekla van terreurkomplot
Federale aanklaers het twee mans aangekla wat verbind word met wat hulle beweer 'n Isis-geïnspireerde komplot vanuit Michigan was om 'n aanval in die VSA uit te voer.
Luidens 'n hofdokument het Mohmed Ali en Majed Mahmoud elkeen die afgelope paar maande vuurwapens gekoop en deelgeneem aan aanlyn gesprekke wat aandui dat hulle kennis gedra het van 'n aanvalsplan.
Ali en Mahmoud word aangekla kragtens federale wetgewing wat die poging of sameswering verbied om vuurwapens en ammunisie te verkry wat vermoedelik in 'n terreurmisdaad gebruik kan word, in hierdie geval die verskaffing van materiële ondersteuning aan Isis.
31 Oktober is volgens die FBI as die aanvalsdatum beplan. – Reuters
2025-11-03 17:43:48
Waarnemers sê Tanzaniërs kon nie vrylik stem
Groot kommer heers in Tanzanië ná verlede week se presidents- en parlementsverkiesings. Volgens waarnemers kon burgers nie vrylik stem nie, weens dreigemente, sensuur en die feit dat opposisiekandidate uitgesluit is.
Berigte dui aan dat honderde mense omgekom het tydens betogings ná die stemmery op 29 Oktober. Sommige belangrike opposisiekandidate is in hegtenis geneem of verbied om deel te neem. Pres. Samia Suluhu Hassan is Maandag ingehuldig nadat sy glo 98% van die stemme gewen het, maar die opposisie sê die verkiesing was nie regverdig nie.
’n Groot aantal kiesers het glo uit vrees van die stembusse weggebly. Daar is ook berig oor stembriefbedrog, waar sommige mense meer as een stem uitgebring het. – AFP
2025-11-03 17:50:36
Oekraïne verbind tot EU-toetreding
Oekraïne toon "merkwaardige toewyding" om hom by die Europese Unie (EU) aan te sluit, maar moet onlangse negatiewe tendense in die stryd teen korrupsie omkeer en die hervorming van die regstaat versnel, lui 'n verslag van die Europese Kommissie.
Die teks, deel van 'n EU-uitbreidingsverslag wat na verwagting Dinsdag aangeneem sal word, lui "ten spyte van die baie moeilike omstandighede waarin die land hom bevind as gevolg van Rusland se oorlog van aggressie, het Oekraïne die afgelope jaar steeds merkwaardige toewyding aan die EU-toetredingspad getoon".
Oekraïne het aansoek gedoen om hom by die EU aan te sluit dae nadat Rusland sy volskaalse inval in Februarie 2022 begin het. – Reuters
2025-11-03 17:55:49
Selfie met 'n prins

Prins William van Brittanje poseer vir foto's saam met lede van die publiek tydens 'n besoek aan Rio de Janeiro, Brasilië, voor sy bywoning van die jaarlikse Earthshot-toekenningseremonie ten bate van omgewingsbewaring. Foto: Getty Images
2025-11-03 18:14:19
Aanval op demokrasie, sê AfD ná LP se motor uitbrand
Die regse party Alternatief vir Duitsland (AfD) het Maandag die uitbrand van een van sy parlementslede se motor as ’n “aanval op demokrasie” beskryf.
Die voertuig van Bernd Baumann het vroegoggend in die Othmarschen-distrik van Hamburg uitgebrand en die polisie vermoed dit was ’n “politiek gemotiveerde” daad.
Alice Weidel en Tino Chrupalla, medeleiers van die AfD, is baie ontsteld en meen ’n aanval op ’n lid van die grootste opposisiegroep is ook ’n direkte aanslag op demokrasie in Duitsland.
Die AfD het tans 151 van die 630 setels in die parlement. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. – AFP
2025-11-03 18:19:19
Amerikaanse regering betaal slegs helfte van voedselsekerheidsvoordele
Die Trump-administrasie het aangekondig dat hy slegs gedeeltelik vir voedselhulp aan miljoene Amerikaners sal betaal, nadat twee regters beveel het dat noodfondse gebruik moet word om November se kos-toelae tydens die regeringsluiting uit te betaal.
Die Amerikaanse departement van landbou (USDA) het bevestig dat $5,25 miljard se kontingensiefondse in die program vir bystand aan behoeftige huishoudings (SNAP) aangewend word. Dit dek egter slegs ongeveer 50% van die normale voordele vir sowat 42 miljoen mense.
Volgens die USDA is $600 miljoen vir administrasie gereserveer en die res sal na die gesinne gaan. Sommige state sal weke en selfs maande benodig om hul stelsels aan te pas vir die verminderde uitbetalings. – Reuters
2025-11-03 18:27:04
Oekraïne wil wapens uitvoer
Oekraïne sal vanjaar kantore vir wapenuitvoer en gesamentlike wapenproduksie in Berlyn en Kopenhagen oprig, sê pres. Wolodimir Zelenski. Hommeltuie en artilleriestelsels is onder die wapens wat uitgevoer sal word, sê hy.
"Dit gaan oor medevervaardiging en die uitvoer van die wapens wat ons onsself kan toelaat om te verkoop om meer geld te maak vir die items waaraan ons ’n tekort het,” sê hy.
Oekraïne is steeds afhanklik van sy bondgenote vir wapens soos vegvliegtuie en lugverdedigingstelsels, maar het vordering gemaak met die ontwikkeling van sy hommeltuig- en missielprogramme. Volgens Zelenski beplan Oekraïne om teen einde vanjaar met die massavervaardiging van sy plaaslike missiele, die Flamingo en Ruta, te begin. – Reuters
2025-11-03 18:31:21
In goeie geselskap

Keir Starmer, Britse premier, verwelkom militêre veterane by ’n onthaal by 10 Downingstraat in Londen. Foto: Getty Images
2025-11-03 19:00:39
Top-regsgeleerde van Israel se weermag vas oor skok-video
Die voormalige advokaat-generaal van Israel se weermag is in hegtenis geneem nadat sy erken het dat sy verlede jaar ’n video laat uitlek het wat wys hoe Israeliese soldate glo ’n Palestynse gevangene op ’n weermagsbasis mishandel.
Yifat Tomer-Yerushalmi het Vrydag uit haar pos bedank en gesê sy het die video laat uitlek om vals propaganda teen die weermag se wetstoepassers te neutraliseer nadat verregse politici gesê het bewerings van mishandeling is opgemaak.
Vyf Israeliese reserviste is sedertdien in verband met die voorval aangekla. Hulle ontken skuld. Tomer-Yerushalmi sal glo aangekla word van regsverydeling. – AFP
2025-11-03 19:36:16
Omgewingsrisiko's verhoog kardiovaskulêre sterftes – EU-agentskap
Een uit vyf sterftes weens kardiovaskulêre siektes in Europa kan voorkom word deur omgewingsrisiko's soos lugbesoedeling te verminder, het die Europese Unie (EU) se omgewingsagentskap Maandag gewaarsku.
Die hantering van ekstreme temperatuurskommelinge, blootstelling aan giftige chemikalieë, besoedeling en ander faktore is "deurslaggewend vir voorkoming", sê die Europese Omgewingsagentskap in ’n nuwe verslag.
Luidens die verslag is sulke faktore verantwoordelik vir minstens 18% van die meer as 1,7 miljoen mense wat in 2022 in Europa aan kardiovaskulêre siektes gesterf het. – AFP
2025-11-03 19:48:46
Krummels van die tafel

Inwoners van Houston, Texas, wag in hul motors by die Houston Food Bank by die NRG-stadion. Sowat een uit agt Amerikaners ontvang voedselhulp van die Amerikaanse regering deur die program vir bystand aan behoeftige huishoudings (Snap), ’n program wat in gevaar is om nie volledig gefinansier te kan word nie weens die regeringsluiting. Foto: AFP
2025-11-03 20:03:17
Guinee se junta-leier gaan wel staan vir president
Mamady Doumbouya, Guinee se junta-leier, het Maandag gesê hy gaan staan in die presidentsverkiesing op 28 Desember, ’n stap wat hom nog vyf jaar leier van die land kan maak.
Die 40-jarige Doumbouya het belowe om nie aan verkiesings deel te neem toe hy in 2021 die bewind in die Wes-Afrikaland oorgeneem het nie. ’n Nuwe grondwet wat in September goedgekeur is, het egter die weg vir sy kandidatuur gebaan.
Die nuwe grondwet vervang bepalings ná die staatsgreep wat lede van die junta verbied het om aan verkiesings deel te neem. – Reuters
2025-11-03 20:18:59
VSA-regeringsluiting raak meer as 3,2 m. lugpassasiers
Meer as 3,2 miljoen Amerikaanse lugpassasiers is geraak deur vertragings of kansellasies van vlugte weens personeeltekorte onder lugverkeerbeheerders sedert die land se regeringsluiting op 1 Oktober begin het, het ’n lugrederygroep Maandag gesê.
Airlines for America, wat onder meer American Airlines, United Airlines en Delta Airlines verteenwoordig, sê 16% van die vertragings in Oktober kan aan personeelprobleme toegeskryf word, teenoor die tipiese 5% voor die regeringsluiting.
Vrydag alleen is meer as 300 000 passasiers geraak, die ergste dag sedert die sluiting begin het, het die groep bygevoeg. – Reuters
2025-11-03 20:21:13
Lad-u-u-u-ma!

Prins William van Brittanje skiet Maandag ’n doel in die Maracanã-stadion in Rio de Janeiro op ’n geleentheid saam met kinders. William besoek Brasilië om die jaarlikse Earthshot-toekenningseremonie aan te bied en sal later die Verenigde Nasies se 30ste klimaatberaad (COP30) namens koning Charles bywoon. Foto: AFP
2025-11-04 03:26:14
1 sterf weens tifoon Kalmaegi in Filippyne
Een persoon het gesterf toe die tifoon Kalmaegi die Sentraal-Filippyne Dinsdag getref het, het die nasionale rampagentskap hier gesê.
Stortreën, sterk winde en stormvloede het tienduisende mense genoop om hul huise te ontruim.
Die tifoon het vroeg Dinsdag land bereik met volgehoue winde van 150 km/h en rukwinde van tot 205 km/h.
Daar word voorspel dat Kalmaegi, wat plaaslik Tino genoem word, teen Woensdag oor die Visayas-eilandstreek en oor die Suid-Chinese See sal beweeg. – Reuters
2025-11-04 03:44:31
Trump dreig om beursie toe te knyp as Mamdani burgemeester word
Pres. Donald Trump het Maandag sy ondersteuning toegesê aan Andrew Cuomo, ’n onafhanklike kandidaat, in die stryd om die burgemeesterskap van die stad New York.
Trump, ’n Republikein, het homself in wedloop ingewurm en gedreig om federale finansiering aan die stad te besnoei as Zohran Mamdani, die Demokrate se kandidaat, Dinsdag se verkiesing wen.
Trump lewer gereeld kommentaar oor die burgemeestersverkiesing in New York. Hy het egter sy party se grense oorskry deur voorkeur te gee aan Cuomo eerder as Curtis Sliwa, die Republikeinse kandidaat wat sleg vaar in meningspeilings, en Mamdani.
Mamdani is die voorloper. – Reuters

Zohran Mamdani, Demokratiese burgemeesterskandidaat vir die stad New York. Foto: Getty Images/Pool
2025-11-04 04:00:54
Werker sterf toe dele van Middeleeuse toring in Rome ineenstort
’n Roemeense werker wat Maandag ure lank onder puin in Rome vasgekeer was ná die gedeeltelike ineenstorting van ’n Middeleeuse toring naby die Colosseum, is dood, het plaaslike media berig.
Die man is Maandag laat deur nooddienste gered en in ’n ernstige toestand hospitaal toe geneem.
Dele van die 29 meter meter hoë Torre dei Conti, wat in die 13de eeu deur pous Innocentius laat oprig is, het by minstens twee geleenthede ineengestort.
Die eerste ineenstorting het omstreeks 10:30 (plaaslike tyd) plaasgevind en die tweede ongeveer 90 minute later. – Reuters

’n Stofwolk verberg Maandag die Torre dei Conti naby die Colosseum in Rome, Italië, toe dele van dié toring ineengestort het. Foto: Reuters
2025-11-04 04:17:47
Peru verbreek diplomatieke betrekkinge met Mexiko
Peru het besluit om diplomatieke betrekkinge met Mexiko te verbreek.
Dit kom nadat Betsy Chavez, voormalige premier van Peru wat onder pres. Pedro Castillo gedien het, glo na die Mexikaanse ambassade in die land gevlug het om asiel te vra.
Chavez is strafregtelik aangekla weens haar beweerde rol in Castillo se poging om die kongres in 2022 te ontbind.
Die verbreking van diplomatieke betrekkinge is “in reaksie op hierdie onvriendelike daad, en met inagneming van die herhaalde geleenthede waarin daardie land in die interne sake van Peru ingemeng het, het Hugo de Zela, minister van buitelandse sake van Peru, gesê.
Mexiko se ministerie van buitelandse sake het nie onmiddellik op ’n versoek om kommentaar gereageer nie. – Reuters
2025-11-04 04:27:00
VSA-regeringsluiting: Trump-administrasie sal wel voedselvoordele deels finansier
Pres. Donald Trump se administrasie sal wel November se voedselvoordele vir miljoene Amerikaners deels finansier nadat ’n regter Vrydag gelas het dat noodgeld gebruik word om die Bystandsprogram vir Aanvullende Voeding (Snap) te dek.
Die regering het egter gewaarsku dat dit sommige deelstate weke of maande kan neem om stelselveranderinge aan te bring en die verminderde voordele aan mense te verskaf.
Die administrasie het gesê hy sal die volle $5,25 miljard van die gebeurlikheidsfonds spandeer, maar nie ander finansiering waarmee hy die volle Snap-voordele van minstens $8 miljard vir 42 miljoen Amerikaners sou kon dek nie.
Snap-voedselkoepons is die eerste keer tot nog toe Saterdag teruggehou weens die verlengde sluiting van die federale regering. – Reuters
2025-11-04 04:45:50
Amerikaanse aktrise Diane Ladd sterf
Die Amerikaanse aktrise Diane Ladd (89) is Maandag oorlede.
Ladd is vir Oscars benoem vir haar ondersteunende rolle in Alice Doesn’t Live Here Anymore van 1974, Wild at Heart van 1990 en Rambling Rose van 1991.
Ladd is in haar huis in Kalifornië oorlede, het Laura Dern, die dogter van Ladd en haar eksman Bruce Dern, gesê.
Bruce en Laura is ook albei akteurs.
Ladd was bekend om die vertolking van sterk, intelligente en komplekse vroue tydens ’n loopbaan van sewe dekades wat in die 1950’s begin het. – Reuters

Diane Ladd by ’n geleentheid in Kalifornië in die VSA op 12 Desember 2019. Foto: Getty Images
2025-11-04 05:20:39
13 sterf in Mexiko-skietery tussen dwelmkartel en veiligheidsbeamptes
Dertien vermeende lede van ’n dwelmkartel is Maandag doodgeskiet in ’n onderonsie met veiligheidsbeamptes in die Mexikaanse staat Sinaloa.
Nog vier verdagtes is in hegtenis geneem en nege mense wat deur die bende ontvoer is, is ná die voorval vrygelaat.
Veiligheidspersoneel wat ’n patrollie uitgevoer het, is aangeval deur gewapende mans wat onder ’n brug weggekruip het.
Sinaloa word al langer as ’n jaar geskud deur konflik tussen faksies van ’n magtige plaaslike dwelmkartel.
Minstens 1 700 mense het in die geweld gesterf en bykans 2 000 word vermis. – AFP
2025-11-04 05:36:05
Franse lewer 40 ton hulpvoorraad vir Jamaika af
’n Franse vlootskip het Maandag 40 ton hulpvoorraad aan Jamaika afgelewer terwyl dié eilandstaat steier onder die verwoesting van die orkaan Melissa.
Die vrag sluit in basiese noodsaaklikhede vir 500 gesinne en twee waterbehandelingseenhede wat deur die Franse Rooi Kruis verskaf is, het ’n woordvoerder van Frankryk se ministerie van buitelandse sake gesê.
Die helfte van die voorraad is deur die Verenigde Nasies geskenk.
Die orkaan het Jamaika op 28 Oktober getref, dorpe verwoes en minstens 28 mense dood gelaat. – AFP
2025-11-04 05:51:27
Britse akteur vanjaar ‘People’ se sexyste man
Die Britse akteur Jonathan Bailey (37) is vanjaar die tydskrif People se sexyste lewende man.
People het die aankondiging Maandag gedoen.
Bailey het gesê dit is ’n “groot eer” om die popkultuur-eerbewys te ontvang wat voorheen toegeken is aan sterre soos Chris Hemsworth en George Clooney.
“Ek voel natuurlik ongelooflik gevlei. En dit is heeltemal absurd,” het Bailey aan People gesê.
Hy het geskerts dat hy die nuus slegs met sy hond, Benson, gedeel het.
Bailey het prins Fiyero gespeel in verlede jaar se lokettreffer Wicked. – Reuters

Jonathan Bailey Foto: Reuters
2025-11-04 06:41:34
Dodetal nou 40 weens vloede in Viëtnam
Die dodetal in Sentraal-Viëtnam het Dinsdag op 40 gestaan ná ’n week van oorstromings en ’n ongeëwenaarde volume reënval, het die owerheid gesê.
Nog ’n kragtige storm het die streek intussen getref.
Die stortreën het strate in kanale omskep, riviere het oor hul oewers gebars en van die land se mees besoekte geskiedkundige bakens is oorstroom.
Reën van tot 1,7 meter diep het binne ’n tydperk van 24 uur geval – ’n stortbui wat die hoogste nasionale syfers tot nou toe oortref het. – AFP
2025-11-04 07:26:31
Dodetal styg weens verwoestende tifoon in Filippyne
Die dodetal weens die tifoon Kalmaegi in die Filippyne het tot minstens vyf gestyg.
Honderdduisende mense is ook verplaas toe reën Dinsdag dele van die sentrale Filippyne oorstroom het.
Hele dorpe op die eiland Cebu is oorstroom, terwyl motors, vragmotors en selfs massiewe skeepshouers gesien kon word wat deur modderige vloedwater meegesleur is.
“Die situasie in Cebu is werklik ongekend. Die vloedwater is net verwoestend,” het Pamela Baricuatrohet, provinsiale goewerneur, gesê. – AFP

’n Reddingswerker loop Dinsdag verby opgestapelde motors wat deur vloede weggespoel is in Cebu in die sentrale Filippyne. Foto: AFP
2025-11-04 08:17:31
Beperkings in Tanzanië gedeeltelik opgehef ná noodlottige betogings
Sommige Tanzaniërs het Dinsdag weer uitgegaan nadat beperkings, insluitend ’n aandklokreël en die onderbreking van internettoegang, gedeeltelik opgehef is.
Dit volg nadat verlede week se presidentsverkiesings noodlottige betogings ontketen het.
Volgens die opposisie is honderde mense weens die betogings dood.
Pres. Samia Suluhu Hassan is Maandag weer in die amp beëdig.
’n Totale onderbreking van internettoegang sedert verlede week is gedeeltelik opgeskort, maar dit bly moeilik om inligting uit die land te bevestig. – AFP
2025-11-04 08:38:01
VN-hoof bekommerd oor skending van skietstilstand in Gasastrook
Antonio Guterres, sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, het Dinsdag gewaarsku teen skendings van die skietstilstand in die Gasastrook wat twee jaar van ’n verwoestende oorlog in die Palestynse gebied beëindig het.
Guterres het aan verslaggewers in Doha, Katar, gesê hy is “diep bekommerd oor die voortgesette skendings van die skietstilstand”.
“Dit moet stop en alle partye moet die besluite van die eerste fase van die vredesooreenkoms nakom.” – AFP

’n Ontheemde Palestynse meisie kyk Dinsdag by ’n tent uit in die stad Gasa te midde van ’n skietstilstand tussen Israel en Hamas. Foto: Reuters
2025-11-04 08:54:19
23 vermis ná stortreën in Indonesië
Minstens 23 mense word ná stortreën in ’n afgeleë gebied van Indonesië vermis.
Die vloede, wat deur swaar reën Saterdag veroorsaak is, het twee afsonderlike dele van die provinsie Papua Pegunungan getref.
Vyftien van die 23 mense wat vermis word, is deur die vloede meegesleur terwyl hulle probeer het om ’n rivier oor te steek, het Abdul Muhari, woordvoerder van die nasionale agentskap, gesê.
Soek-en-reddingspogings duur voort, maar word deur grondstortings belemmer. – AFP
2025-11-04 09:50:42
Tifoon Kalmaegi: Militêre helikopter wat gaan help, stort neer
’n Filippynse militêre helikopter wat ontplooi is om met hulpverlening weens die tifoon Kalmaegi te help, het Dinsdag op die eiland Mindanao neergestort, het ’n streeksbevelsentrum gesê sonder om te onthul of daar oorlewendes is.
Die Super Huey-helikopter het neergestort terwyl dit na die kusstad Butuan onderweg was “ter ondersteuning van hulpverlening” weens die kragtige storm.
Vroeër is berig minstens vyf mense is dood en honderdduisende ontheem toe reën Dinsdag die sentrale dele van die Filippyne getref het. – AFP
2025-11-04 09:52:00
1 dood, 2 beseer op Griekse eiland
’n Man (20) is Dinsdag doodgesteek en twee beseer op die Griekse eiland Evia in twee afsonderlike voorvalle.
Vyf mense is in hegtenis geneem, insluitend die twee beseerde mans, wat in verskillende gebiede gevind is, het Constantina Dimoglidou, polisiewoordvoerder, gesê.
“Die polisie probeer bevestig of dit met sokkergeweld verband hou,” sê Dimoglidou.
Minstens agt mense was by die gewelddadigheid betrokke. Die verdagtes is ondersteuners van twee mededingende sokkerspanne. – Reuters
2025-11-04 09:59:01
5 kry doodstraf in China weens bedrog-sentrums
China het Dinsdag vyf mense ter dood veroordeel weens hul betrokkenheid by ’n gewelddadige misdaadbende wat bedrog in die Kokang-streek in Mianmar gepleeg het.
Bedrog-sentrums gedy in Mianmar se wettelose grensgebiede.
Die misdade van die vyf mense het gelei tot die “dood van ses Chinese burgers, een se selfdood en dat verskeie ander beseer is”, berig die nuusagentskap Xinhua. – AFP
2025-11-04 10:26:07
Dodetal in Filippyne styg tot 26
Die dodetal weens die tifoon Kalmaegi in die Filippyne het tot minstens 26 gestyg.
Vroeër die dag was dit minstens vyf.
Een en twintig van die sterftes is op die eiland Cebu.
’n Amptenaar sê die meerderheid van die slagoffers het verdrink.
Minstens 183 mm reën het geval in die 24 uur voordat die tifoon aan land gekom het. Die maandelikse gemiddelde reënval is 131 mm.
Die owerhede het geweier om kommentaar te lewer oor of daar enige oorlewendes is nadat ’n militêre helikopter wat vir hulpverlening ontplooi is, neergestort het. – AFP
2025-11-04 10:32:23
Huishoudings in Australië kry binnekort 3 uur gratis sonkrag per dag
Huishoudings in Australië sal toegang hê tot drie uur per dag se gratis sonkrag as deel van ’n program om energie te bespaar.
“Ons wil sien dat almal voordeel trek uit hernubare energie,” sê Chris Bowen, minister van energie.
Die Solar Sharer-skema sal van volgende jaar af in sommige gebiede, insluitend Nieu-Suid-Wallis en Suid-Australië, uitgerol word voordat dit dalk uitgebrei word.
Australië het miljarde dollars in onder meer sonkrag en windturbines gestort en belowe om die land ’n supermoondheid in hernubare energie te maak. – AFP
2025-11-04 10:50:25
Noorse welvaartfonds sê nee vir Musk-pakket van $1 000 miljard
Noorweë se soewereine welvaartfonds, wat een van Tesla se 10 grootste aandeelhouers is, sê dat hulle teen die maatskappy se voorgestelde salarispakket vir Elon Musk ter waarde van moontlik meer as $1 000 miljard sal stem.
Tesla-aandeelhouers sal die salarispakket Donderdag op ’n vergadering in Austin, Texas, oorweeg.
Norges Bank Investment Management sê op sy webwerf hoewel dit “die beduidende waarde wat onder mnr. Musk se visioenêre leierskap geskep is, waardeer”, is dit onder meer bekommerd oor die grootte van die pakket. – AFP
2025-11-04 11:10:26
Belastingverhogings op horison vir Britte, waarsku minister
Rachel Reeves, Britse minister van finansies, het Dinsdag gewaarsku dat belastingverhogings vir werkers moontlik volgende maand op pad is.
Reeves het in ‘n seldsame toespraak voor die begroting gesê "ons almal moet bydra" om die Britse ekonomie te verbeter. Sy het gewaarsku van moeilike besluite in die begroting van 26 November aangesien Brittanje met hoë skuld en inflasie sukkel.
Sy het gesê sy sal doen wat nodig is om gesinne teen hoë inflasie te beskerm. Die regering van Keir Starmer, Britse premier, het reeds vroeër belasting op sakeondernemings verhoog, wat blameer word vir swak ekonomiese groei.
Reeves het die vorige konserwatiewe regering en internasionale druk, soos die Amerikaanse tariewe en Brexit, die skuld vir die huidige probleme gegee. – AFP

Rachel Reeves, Britse minister van finansies, lewer Dinsdag 'n toespraak in Londen waar sy gewaarsku het oor belastingverhogings. Foto: Getty Images
2025-11-04 11:21:35
Verkiesings in Amerika toets steun vir Trump
Kiesers in die Amerikaanse deelstate New Jersey en Virginië stem Dinsdag vir hul volgende goewerneurs – ’n belangrike aanduiding van hoe Amerikaners oor pres. Donald Trump voel ná nege maande in die amp.
In New York se burgemeestersverkiesing pak Zohran Mamdani die oud-goewerneur Andrew Cuomo. In Kalifornië besluit kiesers of die Demokrate meer beheer oor die kiesafdelingskaart moet kry.
In New Jersey bly die wedloop hewig, met die Demokraat Mikie Sherrill wat net voor haar Republikeinse teenstander is. Abigail Spanberger, ook ’n Demokraat, het 'n groter voorsprong in Virginië en in New York loop Mamdani tans voor.
Meer as drie miljoen Amerikaners het vroeg gestem, ’n groot toename in vergelyking met ander jare. – Reuters
2025-11-04 11:33:28
Dick Cheney (84) sterf
Dick Cheney, voormalige visepresident van Amerika, is in die ouderdom van 84 oorlede. Cheney was van 2001 tot 2009 die visepresident van die VSA onder pres. George W. Bush. Hy was ook die minister van verdediging onder pres. George H.W. Bush, en het oor dekades heen ’n invloedryke rol in Amerikaanse politiek gespeel.
Cheney is bekend vir sy sterk standpunte oor buitelandse beleid, veral tydens die Irak-oorlog, en sy invloed binne die Republikeinse Party. – Reuters

Dick Cheney Foto: Getty Images
2025-11-04 13:04:19
Voëlgriep: Britte stel verpligte onderdakmaatreëls in
Brittanje het Dinsdag verpligte onderdakmaatreëls wat die hele Engeland dek ingestel vir pluimvee met ingang vanaf Donderdag in ’n poging om die verspreiding van voëlgriep te vertraag. Die siekte versprei vinnig in Europa, met die hoogste aantal lande in ten minste ’n dekade wat vroeë uitbrekings aangemeld het.
Dit wek kommer oor ’n herhaling van vorige krisisse wat gelei het tot die uitdunning van tientalle miljoene voëls en hoër voedselpryse. Twee uitbrekings by kommersiële pluimvee-eenhede is Maandag bevestig, een in Noord-Yorkshire en die ander in Devon, en ’n derde onder voëls in Oos-Sussex. – Reuters
2025-11-04 13:05:20
Hulp bereik miljoen in Gasastrook, maar krisis steeds groot
Die Verenigde Nasies (VN) het Dinsdag gesê ’n miljoen mense in die Gasastrook het al kospakkies ontvang sedert die skietstilstand tussen Hamas en Israel van krag geword het, maar waarsku dat die organisasie steeds “in ’n wedloop is om lewens te red”.
Die Wêreldvoedselprogram (WFP) sê alle grensposte na die Gasastrook moet toeganglik wees sodat noodleniging vinniger kan plaasvind.
Tot dusver bly die noordelike grensoorgange met Israel gesluit sonder enige verduideliking. Abeer Etefa, WFP-woordvoerder, sê sowat 700 000 mense ontvang daagliks vars brood, maar basiese kossoorte soos groente, vleis en vrugte is steeds skaars. – AFP
2025-11-04 13:06:08
Chaos breek uit...

Pro-Palestynse betogers bots met polisiebeamptes in Sydney, Australië, by die Indo-Pasifiese internasionale maritieme uitstalling weens die teenwoordigheid van Israeliese uitstallers. Foto: Getty Images
2025-11-04 13:06:59
Cheney dood weens gesondheidskomplikasies – familie
Dick Cheney (84), voormalige visepresident van Amerika, is dood weens gesondheidskomplikasies, berig die Amerikaanse media met verwysing na ’n verklaring wat Dinsdag deur sy familie uitgereik is.
Cheney was die 46ste Amerikaanse visepresident en het tussen 2001 en 2009 twee termyne in die amp gedien.
Die voormalige kongreslid en minister van verdediging “het gesterf weens komplikasies van longontsteking en hart- en vaskulêre siektes,” lui ’n verklaring deur sy familie.
“Oor dekades het Dick Cheney ons nasie gedien, insluitend as Withuis-stafhoof, as kongreslid vir Wyoming, minister van verdediging en visepresident van die VSA,” lui die verklaring. – AFP
2025-11-04 14:00:52
Dis nou sir David Beckham vir jou

Die Engelse oudsokkerspeler David Beckham poseer saam met sy vrou, die sangeres en modeontwerper Victoria Beckham, met sy medalje nadat hy Dinsdag by die Windsor-kasteel tot ridder geslaan is vir sy diens aan sport en liefdadigheid. Foto: AFP
2025-11-04 14:21:50
Lyfstraf swendelaars se voorland in Singapoer
Singapoer beplan om aanlyn swendelaars met minstens ses houe met ’n rottang te straf, het ’n minister Dinsdag aan wetgewers gesê.
Dié stadstaat, Suidoos-Asië se tweede grootste ekonomie, het van 2020 tot en met die eerste helfte van 2025 meer as $2,8 miljard verloor weens bedrog, het Sim Ann, senior minister van binnelandse sake, aan die parlement gesê.
Sowat 190 000 voorvalle van bedrog is in dié tydperk aangemeld.
“Ons sal verpligte lyfstraf vir bedrieërs instel,” het sy gesê. “Oortreders wat bedrog aanlyn pleeg … sal gestraf word met minstens ses houe met ’n rottang,” het sy gesê. – AFP
2025-11-04 14:39:12
Wêreld op katastrofiese 2,5 °C-verhittingstrajek dié eeu – VN
Die wêreld het daarin misluk om sy hoofteiken vir klimaatsverandering – om die styging in globale temperature tot 1,5 °C te beperk – te bereik en sal waarskynlik dié drempel in die volgende dekade oorskry, het die Verenigde Nasies (VN) se Omgewingsprogram (Unep) Dinsdag gesê.
Internasionale verbintenisse om besoedeling wat hitte vaskeer, te verminder, sal globale verhitting tot 2,5 °C hierdie eeu beperk – verreweg nie genoeg om verwoestende klimaatimpakte te voorkom nie, het Unep in sy jaarlikse Emissions Gap-verslag gesê. – AFP
2025-11-04 15:01:28
Nog net ’n klein entjie

Reddingswerkers dra Dinsdag ’n inwoner verby motors wat deur vloedwater van die tifoon Kalmaegi meegesleur is in ’n woonbuurt in die stad Cebu in die Sentraal-Filippyne. Minstens 39 mense is dood en honderdduisende verplaas nadat vloedwater groot dele van die Sentraal-Filippyne oorstroom het. Foto: AFP
2025-11-04 15:22:40
Jode moenie vir ‘Jode-hater’ Mamdani stem – Trump
Pres. Donald Trump het Maandag Zohran Mamdani, wat moontlik New York se eerste Moslem-burgemeester kan word, as ’n "Jode-hater" uitgekryt en gesê Jode moet hom nie ondersteun nie.
"Enige Joodse persoon wat vir Zohran Mamdani stem, ’n bewese en selfverklaarde JODE-HATER, is dom!!!" het Trump op Truth Social geskryf.
Mamdani, die 34-jarige Demokratiese kandidaat, is tans die voorloper in die stryd om New York se burgemeesterskap.
Trump het Maandag gedreig om federale finansiering aan die stad te besnoei sou Mamdani wen, en het hom ook al as ’n “kommunis” beskryf. – AFP

Zohran Mamdani Foto: AFP
2025-11-04 15:43:47
Eswatini laat pro-demokrasie-leier ná 4 jaar vry
’n Voormalige opposisieleier in Eswatini is Dinsdag vrygelaat nadat hy begenadig is ná meer as vier jaar in die tronk weens pro-demokrasie-betogings in 2021.
Afrika se laaste absolute monargie word geregeer deur koning Mswati III, wat sedert 1986 op die troon is en onbeperkte mag het sonder enige betekenisvolle uitdaging van sy gesag.
Mthandeni Dube is in Julie 2021 in hegtenis geneem saam met 'n mede-LP Mduduzi Bacede Mabuza weens die aanhitsing van onrus ten tyde van pro-demokrasie-protesoptredes wat gewelddadig deur die veiligheidsmagte onderdruk is. Tientalle mense het in dié onluste gesterf. – AFP
2025-11-04 16:03:34
Portret van geloof en lig

Hindoe-gelowiges sit Dinsdag by olielampe om Lokenath Brahmatsjari, ’n Hindoe-heilige en filosoof, te aanbid terwyl hulle die Racher Oepobasj-fees by ’n tempel in Dakka, Bangladesj, vier. Foto: Reuters
2025-11-04 16:10:45
'N-Koreaanse troepe gestuur om Rusland te herbou'
Noord-Korea het sedert September reeds sowat 5 000 konstruksietroepe na Rusland gestuur om te help met "die heropbou van infrastruktuur", het ’n Suid-Koreaanse parlementslid Dinsdag gesê ná ’n inligtingsessie deur die land se intelligensieagentskap. – AFP
2025-11-04 16:24:15
Europa het tans nie genoeg troepe vir oorlog met Rusland
Europa sal sukkel om genoeg troepe en wapentuig te mobiliseer of vinnig genoeg wapens te vervaardig in die geval van ’n direkte konfrontasie met Rusland.
“Uit die 20 uit 30 Navo- of Europese Unie-lande maak die professionele grondmagte minder as 15 000 uit," waarsku 'n nuwe studieverslag deur die Franse Instituut vir Internasionale Betrekkinge.
"Afgesien van ’n paar gevegsfrontlande wat reserwemagte en nasionale gardes op hul grondgebied kan mobiliseer, sal die ander nie meer as ’n paar bataljons in die veld kan stoot nie." – AFP
2025-11-04 16:38:25
'Amerikaners kry eers weer voedselhulp as regeringstaking eindig'
Voedselhulp, waarvan miljoene Amerikaners afhanklik is, sal eers hervat as die regeringstaking eindig, het pres. Donald Trump Dinsdag gesê, hoewel sy administrasie Maandag gesê het die hulp sal gedeeltelik hervat word.
Trump pak ook weer die skuld vir die dooiepunt in die regeringstaking op die Demokrate.
Voedselhulp "sal slegs gegee word wanneer die Radikale Linkse Demokrate die regering oopmaak, wat hulle maklik kan doen – en nie voor dit nie!" skryf Trump in ’n Truth Social-plasing.
Sowat een uit agt Amerikaners ontvang voedselhulp van die regering deur die program vir bystand aan behoeftige huishoudings (Snap). – AFP, Reuters
2025-11-04 17:16:16
VSA op pad na langste sluiting van regering tot nog toe
Die Amerikaanse regeringsluiting het Dinsdag sy 35ste dag bereik, wat die rekord van pres. Donald Trump se eerste termyn ewenaar.
Sonder ’n groot deurbraak lyk dit byna seker dat die geslote federale regering op pad is na die langste sluiting tot nog toe. Tog is daar hoop, aangesien leiers “optimisties” is dat nuwe onderhandelinge tussen die Republikeine en die Demokrate dalk ’n einde daaraan kan bring.
Sedert 30 September is 1,4 miljoen staatsamptenare sonder betaling of op gedwonge verlof, terwyl belangrike programme soos koshulp in die weegskaal is. Die knelpunt bly gesondheidsorgbesteding. Die Demokrate wil seker maak subsidies duur voort, terwyl die Republikeine eers die regering weer wil open voordat gesondheidsorg bespreek word. – AFP
2025-11-04 17:22:54
Rusland hou oog op spanning tussen Venezuela en VSA
Rusland bly in deurlopende kontak met Venezuela te midde van spanning in die Karibiese streek.
Volgens Dmitri Peskof, Kremlin-woordvoerder, is Rusland en Venezuela gereeld in kontak. Hy wou nie verder uitwei oor dié interaksie nie.
Peskof beklemtoon ook dat Rusland hoop die situasie tussen Venezuela en Amerika bedaar en dat geen nuwe konflikte uitbreek nie.
Rusland het die afgelope naweek “oormatige militêre mag” deur Amerika in die Karibiese See veroordeel en openlik sy steun aan Venezuela se regering bevestig. Amerika handhaaf tans ’n groot militêre teenwoordigheid in die streek, veral in sy veldtog teen beweerde dwelmsmokkelary. – Reuters
2025-11-04 17:31:51
VSA sal kartelle in Mexiko g’n aanval, sê Sheinbaum
Dit is onwaarskynlik dat Amerika militêre mag teen kartelle op Mexikaanse grondgebied sal gebruik, sê pres. Claudia Sheinbaum van Mexiko na aanleiding van gerugte dat Amerika dit oorweeg om troepe suid van die grens te ontplooi.
“Dit sal nie gebeur nie. Ons stem nie saam met enige ingryping nie,” sê Sheinbaum.
Pres. Donald Trump beskuldig Mexiko daarvan dat hy nie genoeg doen om die vloei van dwelms na Amerika te keer nie. ’n Operasie in Mexiko sal ’n drastiese eskalasie van Trump se militêre veldtog teen Latyns-Amerikaanse dwelmsmokkelaars aandui.
Minstens 62 mense is in die laaste paar weke dood in Amerikaanse aanvalle op beweerde dwelmbote in die Stille Oseaan en in die omgewing van die Karibiese Eilande. – AFP
2025-11-04 17:36:41
Vlae halfstok vir oudvisepresident

Amerikaanse vlae by die Withuis in Washington hang halfstok ná die afsterwe van Dick Cheney, voormalige visepresident van Amerika. Foto: Getty Images
2025-11-04 18:06:31
Sluiting kan VSA 'dwing om volgende week deel van lugruim te sluit'
Indien die federale regering nog ’n week lank gesluit bly, kan dit tot “massachaos” lei en hom dwing om van die nasionale lugruim vir lugverkeer te sluit, het Sean Duffy, Amerikaanse minister van vervoer, Dinsdag gewaarsku.
Dis ’n drastiese stap wat Amerikaanse lugvaart kan omverwerp. “Julle sal massachaos sien, julle sal massavlugvertragings sien. Julle sal massakansellerings sien en julle kan dalk sien dat ons sekere dele van die lugruim sluit, want ons kan dit net nie bestuur nie,” het Duffy Dinsdag op ’n mediakonferensie gesê.
Met die sluiting van die regering wat Dinsdag sy 35ste dag binnegegaan het, het die Federale Lugvaartadministrasie nog vlugte vertraag. Volgens lugdienste is 3,2 miljoen passasiers die afgelope week deur vertragings of gekanselleerde vlugte geraak weens ’n toename in die afwesigheid van lugverkeerbeheerders. – Reuters
2025-11-04 18:13:43
Getty Images verloor groot deel van KI-hofsaak in Londen
Die Amerikaanse mediamaatskappy Getty Images het die grootste deel van sy hofsaak teen die Britse kunsmatige intelligensie (KI)-maatskappy Stability AI in Londen verloor, het die hof Dinsdag beslis.
Getty het beweer dat Stability AI, wat deur onder andere die Kanadese rolprentmaker James Cameron bestuur word, miljoene foto’s sonder toestemming van Getty se webwerwe onttrek het om sy KI-model, Stable Diffusion, op te lei.
Getty het egter in die verhoor sy aanklagte van direkte kopieregskending teruggetrek. Die hof het bevind dat daar geen bewyse is dat die opleiding van Stable Diffusion in Engeland plaasgevind het nie en die uitspraak is dus beperk tot enkele oorblywende eise soos handelsnaamskending.
Stability AI is net gedeeltelik skuldig bevind, want sommige foto’s het steeds die Getty- of die iStock-watermerk bevat. Getty waarsku nou dat die uitspraak ’n uitdaging is vir kopiereghouers wêreldwyd en vra om sterker reëls oor KI-deursigtigheid. – AFP
2025-11-04 18:21:45
Omstrede toebroodjie-verhoor begin in VSA
Die verhoor van Sean Dunn, voormalige Amerikaanse ministeriële werknemer, het Dinsdag in Washington begin nadat hy na bewering ’n toebroodjie na ’n federale agent gegooi het tydens pres. Donald Trump se polisiemag-optrede.
Dunn staan tereg op ’n aanklag van ligte aanranding. ’n Video van die voorval, waar Dunn ’n toebroodjie na ’n federale agent gooi en vloekwoorde skree, het vinnig versprei en hom ’n simbool van kritiek teen Trump se beleid gemaak.
Dunn het skuld ontken, maar sy regspan erken hy het die toebroodjie gegooi, en noem dit ’n “onskadelike gebaar” uit protes teen immigrasie- en polisiereëls wat hy as rassisties en onderdrukkend beskou. – Reuters
2025-11-04 18:31:19
Stemdag

’n Aanwysing wys waar om te stem in McLean in die Amerikaanse deelstaat Virginië. Die Demokraat Abigail Spanberger kom te staan teen die Republikein Winsome Earle-Sears in ’n verkiesing wat die deelstaat sy eerste vrouegoewerneur sal gee.
Foto: Getty Images
2025-11-04 19:00:39
6 sterf in Filippyne toe ramphulp-helikopter neerstort
Ses mense is Dinsdag dood nadat ’n Filippynse militêre helikopter tydens ramphulpverlening neergestort het nadat die tifoon Kalmaegi dele van die land getref het.
Volgens die weermag is ses lyke, glo dié van die vlieënier en vyf bemanningslede van die Huey-helikopter, op die eiland Mindanao gevind.
Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie.
Die dodetal weens tifoon Kalmaegi in die sentrale deel van die Filippyne het laat Dinsdag tot 40 gestyg, het owerhede gesê. – Reuters
2025-11-04 19:26:44
48 glo doodgemaak in Kameroense verkiesingsprotes
Die veiligheidsmagte in Kameroen het 48 mense doodgemaak in hul optrede verlede week teen betogings oor die herkiesing van pres. Paul Biya, het twee bronne van die Verenigde Nasies Dinsdag aan Reuters gesê.
Die meeste van die slagoffers is doodgeskiet, hoewel verskeie gesterf het nadat hulle met stokke en knuppels geslaan is, het die twee bronne gesê.
Biya se regering het nie ’n sterftesyfers in die betogings gegee nie en ’n staatswoordvoerder het nie Dinsdag op ’n versoek om kommentaar gereageer nie. – Reuters
2025-11-04 19:42:47
Ma, hoe lank nog, Ma?

’n Meisie wag Dinsdag in die ry saam met haar ouers in ’n stemlokaal in Brooklyn om hul stemme in die New Yorkse burgemeestersverkiesing uit te bring. Die stembusse sluit Woensdag om 04:00 (SA tyd). Foto: Reuters
2025-11-04 20:03:07
Frankryk bekyk TikTok oor algoritmes wat ‘selfdood aanhelp’
Franse owerhede het Dinsdag gesê hulle het ’n ondersoek begin na die Chinese sosialemedia-platform TikTok en die risiko's dat sy algoritmes jongmense tot selfdood kan aanhelp.
Laure Beccuau van die Paryse aanklaerskantoor het gesê die ondersoek is in reaksie op ’n versoek van ’n parlementêre komitee om ’n strafregtelike ondersoek te begin na TikTok wat moontlik jong gebruikers se lewe bedreig.
Sy het gesê ’n verslag deur die komitee het gewys op “TikTok se onvoldoende moderering, maklike toegang vir minderjariges en gesofistikeerde algoritmes wat kwesbare individue na selfdood kan dryf deur hulle vinnig vas te vang in ’n siklus van toegewese inhoud”. – Reuters
2025-11-04 20:24:01
Withuis ‘verbind daartoe’ om vrede in Soedan te bereik
Amerika werk saam met ander lande om die konflik in Soedan te beëindig, het Karoline Leavitt, die Withuis-woordvoerder, Dinsdag gesê. Dit volg op berigte van massaslagtings nadat paramilitêre magte die stad Al-Fasjer verlede week ingeneem het.
“Amerika is aktief betrokke by pogings om ’n vreedsame oplossing vir die verskriklike konflik in Soedan teweeg te bring,” het Leavitt gesê.
Aanklaers van die Internasionale Geregshof het Maandag gesê hulle samel bewyse in van beweerde massaslagtings en verkragtings in Al-Fasjer. – Reuters
2025-11-04 20:40:38
Nie lekkerder as ma s’n nie

In hierdie foto, wat deur die 24ste gemeganiseerde brigade van die Oekraïense weermag uitgereik is, berei ’n soldaat ’n maaltyd in ’n skuiling aan die frontlinie naby die dorp Tsjasif Jar in die Donetsk-streek. Foto: Oekraïense weermag/AFP
2025-11-05 03:38:42
Mamdani seëvier, word eerste Moslem-burgemeester van stad New York
Zohran Mamdani (34) van die Demokratiese Party het Dinsdag se burgemeestersverkiesing in die stad New York gewen.
Mandani, wat in Uganda gebore is, sal die eerste Moslem-burgemeester van Amerika se grootste stad wees.
In ’n teken van hoe Mamdani se veldtog baie kiesers aangewakker het, is meer as 2 miljoen stembriewe, insluitend vroeë stemme, uitgebring, volgens die verkiesingsraad.
Dit is die meeste stemme in ’n burgemeestersverkiesing sedert minstens 1969. – Reuters

Zohran Mamdani Foto: Getty Images
2025-11-05 03:53:41
New Yorkers vier Mamdani se oorwinning

New Yorkers is Dinsdag in die Bohemian Hall & Beer Garden in die Queens-distrik van die New York ooglopend oorstelp van vreugde toe Zohran Mamdani as die nuwe burgemeester aangewys word. Foto: Getty Images
2025-11-05 03:58:56
Demokrate seëvier ook in twee deelstate
Benewens Zohran Mamdani se oorwinning in die burgemeestersverkiesing in die stad New York het die Demokrate Dinsdag ook twee ander verkiesings gewen.
Abigail Spanberger het as wenner uit die stryd getree in die deelstaat Virginia en Mikie Sherrill in die deelstaat New Jersey se goewerneursverkiesings.
Al drie Demokratiese kandidate het ekonomiese kwessies, veral bekostigbaarheid, beklemtoon. – Reuters
2025-11-05 04:21:07
7 sterf, 11 beseer toe UPS-vragvliegtuig in Kentucky val
Minstens sewe mense is dood en 11 beseer toe ’n UPS-vragvliegtuig Dinsdag kort ná opstyging by die Louisville Internasionale Lughawe in Kentucky neergestort het.
Die vliegtuig het sakeondernemings langs die lughawe getref.
Die Amerikaanse Federale Lugvaartadministrasie (FAA) het gesê die vliegtuig, met Hawaii as bestemming, het omstreeks 17:15 plaaslike tyd neergestort.
Andy Beshear, goewerneur van Kentucky, het gesê hy verwag dat die getal oorledenes en beseerdes sal toeneem.
UPS het gesê drie bemanningslede was aan boord van die vliegtuig. Dit is onbekend of hulle oorleef het. – AFP, Reuters
https://www.youtube.com/watch?v=qQJLzzrL3sU
2025-11-05 04:39:49
Tifoon in Filippyne eis minstens 66 lewens
Die dodetal weens die tifoon Kalmaegi in die Sentraal-Filippyne het Woensdag tot minstens 66 gestyg.
Die tifoon het ’n spoor van verwoesting gelaat wat Woensdag voortgeduur het terwyl dit na die Suid-Chinese See beweeg.
Onder die sterftes is ses militêre personeel wie se helikopter in Agusan del Sur op die eiland Mindanao tydens ’n humanitêre sending neergestort het.
Minstens 13 mense word vermis. – Reuters, AFP

Skade wat veroorsaak is deur die tifoon Kalmaegi in Talisay, Cebu, in die Filippyne. Foto: Reuters
2025-11-05 04:46:04
Minstens 10 sterf in brand in Bosnië in tehuis vir bejaardes
Minstens 10 mense is dood en verskeie beseer in ’n brand wat Dinsdagnag in ’n tehuis vir bejaardes in die dorp Tuzla in Noord-Bosnië uitgebreek het.
Die brand het omstreeks 21:00 plaaslike tyd uitgebreek en is omstreeks 22:00 geblus, het plaaslike media berig.
Die oorsaak van die brand is nie bekend nie.
Minstens vyf mense is beseer en drie is in intensiewe sorg.
Verskeie van die pasiënte is vir koolstofmonoksiedvergiftiging behandel. – Reuters
2025-11-05 05:04:03
2 Belgiese lughawens gesluit weens hommeltuie
België se lughawens in Brussel en Luik is Dinsdagaand gesluit nadat hommeltuie opgemerk is.
Kurt Verwilligen, ’n woordvoerder van die Belgiese lugverkeersbeheerdiens, het kort voor 20:00 plaaslike tyd gesê ’n hommeltuig is naby die Brussel-lughawe bespeur.
Die lughawe is toe as ’n veiligheidsmaatreël gesluit.
Die lughawe is ná twee uur heropen, maar weer gesluit nadat nog hommeltuie opgemerk is.
Die Liege-lughawe is ook gesluit en dit is onduidelik wanneer vlugte by al twee lughawens sal hervat. – Reuters
2025-11-05 05:22:52
Oorskot van gyselaar wat Hamas oorhandig is wel Chen – Israel
Israel het Woensdag bevestig dat die oorskot wat Hamas die vorige dag oorhandig het, wel dié van die Israelies-Amerikaanse soldaat Itay Chen is.
Chen het by Israel se grens met die Gasastrook gewerk toe Hamas en sy bondgenote Israel op 7 Oktober 2023 aangeval het.
Chen is op daardie dag as gyselaar geneem.
Sy ouers het die laaste keer met hom kontak gehad toe die aanval begin het.
Die Israeliese weermag het in Maart 2024 bekend gemaak dat Chen gesneuwel het. – Reuters
2025-11-05 06:14:48
Amerika praat met Mali oor veiligheidsbelange
Christopher Landau, Amerikaanse adjunkminister van buitelande sake, het Dinsdag gesê hy het met Abdoulaye Diop, sy ampsgenoot van Mali, gepraat om gedeelde veiligheidsbelange in die streek te bespreek.
Jama’at Nusrat al-Islam wal-Muslimin (JNIM) het in September ’n verbod op brandstofinvoer na die land afgekondig en sedertdien konvooie brandstoftenkwaens aangeval wat die land probeer binnegaan.
Amerika het verlede week sy burgers in Mali aangemoedig om onmiddellik die land te verlaat. – Reuters
2025-11-05 06:28:23
2 Franse burgers uit gevangenis in Iran vrygelaat
Iran het twee Franse burgers, Cécile Kohler (41) en haar lewensmaat, Jacques Paris (72), uit die gevangenis vrygelaat.
Jean-Noel Barrot, minister van buitelandse sake, het Dinsdag gesê dat Kohler en Paris “veilig” is by die Franse ambassade in Teheran “voor hul finale vrylating”.
Esmaeil Baghaei, woordvoerder van die ministerie van buitelandse sake van Iran, het later gesê dat die twee op borgtog vrygelaat is en in Iran “onder toesig sal bly tot die volgende fase van die geregtelike verrigtinge”.
Die twee is skuldig bevind aan spioenasie vir Frankryk en Israel. – Reuters
2025-11-05 06:36:23
2 dood in nóg ’n Amerikaanse aanval op boot in Stille Oseaan
Amerikaanse magte het Dinsdag twee mense om die lewe gebring in ’n aanval op ’n boot in die Stille Oseaan, het Pete Hegseth, Amerikaanse minister van oorlog, gesê.
Hy het in ’n inskrywing op X gesê daar is bevestig dat die vaartuig by dwelmsmokkelary betrokke was.
Hegseth se inskrywing sluit ’n video in van ’n boot wat in vlamme gehul is.
Amerika het vroeg in September met sulke aanvalle begin, wat volgens kenners op buitegeregtelike moorde neerkom.
Minstens 67 mense is al in die Karibiese Eilande en die Stille Oseaan doodgemaak. – Reuters
2025-11-05 07:47:13
Pous kritiseer Amerikaanse militêre ontplooiing in Karibiese Eilande
Pous Leo XIV het Dinsdag die Amerikaanse militêre ontplooiing in die Karibiese Eilande gekritiseer, sonder om pres. Donald Trump by die naam te noem.
Die pous het gereageer op ’n vraag deur ’n joernalis terwyl hy sy woning in Castel Gandolfo verlaat het.
Die pous het gesê ’n land het die reg dat sy weermag “vrede verdedig”.
“In hierdie geval lyk dit egter ’n bietjie anders... elke keer nader aan die kus van Venezuela,” het hy gesê in verwysing na Amerikaanse bote.
“Ek dink nie ons wen met geweld nie. Die ding om te doen is om dialoog te soek.” – AFP
2025-11-05 07:59:36
Franse vrou vas wat glo man vermoor, lyk in helfte kap
Ondersoekers in Frankryk wat probeer om ’n moordsaak op te los waarin ’n lyk in die helfte gekap is, het Dinsdag gesê dat ’n Franse vrou in Switserland in hegtenis geneem is.
’n DNS-toets word uitgevoer om die slagoffer te identifiseer.
Die man se lyk is Saterdag op ’n rivieroewer in die ooste van Frankryk gevind, slegs in onderklere geklee, in die helfte gesny by die middel en met ’n wit stof bedek.
Daar word geglo dat die slagoffer ’n 75-jarige Switserse man is wat sedert Vrydag vermis word.
Die verdagte, wat in haar 30’s is, was glo die man se huurder. – AFP
2025-11-05 08:41:35
EU-lande keur teiken vir uitlaatgasse goed
Die ministers van klimaat van die EU-lande het Woensdag ’n teiken vir 2040 goedgekeur om uitlaatgasse met 90% te verminder, maar met buigsaamheid om hierdie doelwit te verslap.
Die ministers het in ’n openbare stemming die 90%-teiken goedgekeur, wat lande in staat sal stel om buitelandse koolstofkrediete te koop om tot 5% van die 90%-uitlatingsverminderingsdoelwit te dek.
Dit sal die vermindering van uitlaatgasse wat van Europese nywerhede vereis word, effektief tot 85% verslap. – Reuters
2025-11-05 08:48:31
40 dood in aanval op begrafnis in Soedan
Altesaam 40 mense is dood in ’n aanval op ’n begrafnis in die stad El-Obeid in die sentrale Kordofan-streek in Soedan, het die Verenigde Nasies (VN) se humanitêre kantoor Woensdag gesê.
Die verklaring het nie aangedui op watter dag die aanval plaasgevind het of wie dit uitgevoer het nie.
Die aanval het gekom voor ’n verwagte aanval op die stad deur die paramilitêre Blitsondersteuningsmag (RSF), met troepe van die weermag wat ook bymekaarkom in ’n poging om die RSF af te weer.
“Die veiligheidsituasie in die Kordofan-streek bly versleg,” het die VN gesê. – AFP
2025-11-05 09:18:07
Dodetal styg weens brand by tehuis
Die dodetal weens ’n brand by ’n tehuis vir bejaardes in Tuzla in Noord-Bosnië het Woensdag tot 11 gestyg en ongeveer 30 mense is beseer, sê die polisie.
Die brand het Dinsdag omstreeks 21:00 op die sewende verdieping van die ou gebou van nege verdiepings uitgebreek.
Plaaslike media sê baie van die oorledenes was mense met gestremdhede.
Sommige van die beseerdes is in ’n kritieke toestand. Vroeër is berig verskeie van die pasiënte is vir koolstofmonoksiedvergiftiging behandel. Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie. – Reuters
2025-11-05 09:35:20
Trump, Siriese president vergader binnekort in Withuis
Pres. Donald Trump beplan om Maandag met pres. Ahmed al-Sjaraa van Sirië in die Withuis te vergader.
Sedert hy in Desember die mag van Basjar al-Assad oorgeneem het, het Al-Sjaraa ’n reeks buitelandse reise onderneem terwyl sy oorgangsregering poog om Sirië se bande met wêreldmoondhede te herstel.
Trump het ’n goeie verhouding met Al-Sjaraa nagestreef.
Hy het in Junie die meeste Amerikaanse sanksies teen Sirië herroep. – Reuters
2025-11-05 10:09:27
Dodetal styg weens tifoon in Filippyne
Die dodetal weens die tifoon Kalmaegi in die sentrale deel van die Filippyne het Woensdag tot meer as 100 gestyg namate die verwoestende impak op die provinsie Cebu duideliker word ná erge oorstromings.
Die dodetal Woensdag vroeg was minstens 66.
Vloedwater wat as ongekend beskryf word, het ’n dag tevore deur Cebu gestroom en motors, hutte op rivieroewers en massiewe skeepshouers meegesleur. Minstens 76 van die sterftes is hier aangemeld.
Twaalf mense word op die naburige eiland Negros vermis. – AFP
2025-11-05 10:24:52
Soldate ontplooi weens rekordaantal beeraanvalle in Japan
Japan het Woensdag troepe na die noorde van die land ontplooi om bere te vang.
Die operasie het in die dorpie Kazoeno begin.
Daar was sedert April vanjaar meer as 100 beeraanvalle en 12 sterftes oor Japan heen.
Tweederdes van die sterftes was in die Akita-prefektuur, waar Kazoeno geleë is.
Die owerhede in Akita sê waarnemings van bere het vanjaar sesvoudig tot meer as 8 000 gestyg.
Die troepe gaan staalstrikke vervoer, opstel en inspekteer wat gebruik word om bere te vang.
Die bere sal later deur opgeleide jagters, wat gehuur word om die bevolking uit te dun, geskiet word. – Reuters
2025-11-05 11:13:24
Bangladesj bied voor verkiesing belonings aan vir gesteelde vuurwapens
Bangladesj het Woensdag kontantbelonings aangekondig as masjiengewere, gewere en pistole wat verlede jaar in ’n opstand gebuit is, aan die owerhede terugbesorg word in die hoop om voor ’n belangrike verkiesing honderde wapens in te samel.
Na raming 6 000 vuurwapens is uit polisiebewaring gesteel ten tyde van die dodelike onluste in Augustus 2024, wat die bewind van sjeik Hasina, die destydse premier, omvergewerp het.
Meer as 1 300 vuurwapens word steeds vermis, sê die polisie. Die kontantbelonings wissel van R69 920 vir ’n ligte masjiengeweer, R13 984 vir ’n aanvalsgeweer en R6 992 vir ’n haelgeweer of pistool. Kontant word ook vir ammunisie betaal. – AFP

Sowat 6 000 vuurwapens is uit polisiebewaring gesteel ten tyde van die dodelike onluste in Bangladesj in Augustus 2024. Foto: Getty Images
2025-11-05 11:21:24
Motoris op Franse eiland vasgetrek nadat hy in mense inploeg
Twee mense is ernstig beseer toe ’n motoris Woensdag op Frankryk se toeriste-eiland Oléron naby die Atlantiese kus in voetgangers en fietsryers vasgery het.
Laurent Nunez, Franse minister van binnelandse sake, sê die man is deur die polisie in hegtenis geneem en 'n ondersoek is geopen. Altesaam nege mense is beseer, sê Thibault Brechkoff, burgemeester van Dolus-d'Oléron. Die verdagte is ongeveer 30 jaar oud, het hy gesê.
Die verdagte het glo "Allahu Akbar" (Arabies vir God is die grootste) geskree toe hy in hegtenis geneem is. Luidens die koerant Le Parisien word die moontlikheid ondersoek dat die verdagte geestesversteurd is. – Reuters
2025-11-05 11:28:01
Polisie in Hongkong vlek reuse-kripto-bedrogspul oop
Lede van die Hongkongse polisie het Woensdag gesê hulle het 80 mense in hegtenis geneem in verband met die stad se grootste kripto-bedrogspul ooit.
Die JPEX-kripto-uitruilskandaal beloop HK$1,6 miljard.
Sedert September 2023 word JPEX ondersoek nadat die effekte-reguleerder die platform van “verdagte” bedrywighede en die bemarking van produkte sonder ’n lisensie beskuldig het.
Sestien van die aangeklaagdes is reeds van bedrog aangekla terwyl ondersoeke voortduur. Volgens die polisie is dit die grootste saak in sy soort in Hongkong, met meer as 2 700 klagte wat ingedien is en miljarde dollar se verliese. – AFP
2025-11-05 11:33:11
Mistige Rio de Janeiro

'n Algemene uitsig oor Rio de Janeiro in Brasilië vanaf die Christus die Verlosser-standbeeld. Foto: Getty Images
2025-11-05 12:17:27
Voëlgriep breek uit op Ierse kalkoenplaas
Ierland het ’n uitbreking van die hoogs aansteeklike H5N1-voëlgriep op ’n kalkoenplaas in die oostelike deel van die land aangemeld, sê die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (WOAH) te midde van ’n vinnige seisoenale toename in die dodelike siekte in Europa.
Die verspreiding van voëlgriep wek kommer onder regerings en die pluimveebedryf omdat dit die laaste paar jaar wêreldwyd voorraad ontwrig, voedselpryse laat styg en die risiko van oordrag na mense verhoog het.
Die H5N1-virus is in 3 240 voëls in die dorp Carlow ontdek, wat tot 3 130 voëlvrektes gelei het, sê die WOAH. Die oorblywende voëls is as voorsorgmaatreël van kant gemaak. – Reuters
2025-11-05 12:30:08
Oekraïne nou ook vennoot in Europese militêre groep
Oekraïne het Woensdag “verbeterde vennootskap”-status in die Gesamentlike Ekspedisiemag (JEF) verkry, het John Healey, Britse minister van verdediging, aangekondig.
Die JEF, wat uit 10 Navo-lande in Noord-en Oos-Europa bestaan, fokus op vinnige krisisreaksie en samewerking. Die verdedigingsministers het die ooreenkoms op ’n vergadering in Bodo, Noorweë, onderteken.
Healey meen dit stuur ’n duidelike boodskap aan Rusland: Europa staan bankvas agter Oekraïne. Die vennootskap versterk samewerking en bring Oekraïne nader aan volledige lidmaatskap van Navo.
Die JEF is in 2014 ná Rusland se anneksasie van die Krim-skiereiland gevorm. Oekraïne se kundigheid oor hibriede aggressie, lugafweerstelsels en hommeltuie sal die alliansie versterk. – AFP

’n Oekraïense soldaat staan in ’n loopgraaf in die Charkif-streek in Oekraïne. Foto: Getty Images
2025-11-05 12:43:15
Duitse verpleër kry lewenslange tronkstraf vir moord op pasiënte
’n Verplieër in Duitsland is Woensdag tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op 10 pasiënte en poging tot moord op nog 27 deur dodelike inspuitings.
Die hof in Aken het bevind die 44-jarige man het die misdade tussen Desember 2023 en Mei 2024 in ’n hospitaal naby Aken gepleeg.
Die man, wie se naam nie bekendgemaak is nie, is deur aanklaers daarvan beskuldig dat hy die "meester van lewe en dood" gespeel het oor diegene wat in sy sorg was.
Hy het groot dosisse kalmeermiddels en pynstillers, insluitend morfien en midazolam, aan die slagoffers toegedien om sy werklas op nagskofte te verminder. Daar word steeds ondersoek ingestel na nog moontlike slagoffers. – AFP
2025-11-05 13:07:14
Skotte soek nie digitale ID’s

Mense betoog in Edinburg, Skotland, teen die Britse regering se plan om digitale ID’s in te stel. Foto: Getty Images
2025-11-05 13:14:25
Duitse polisie arresteer 18 vir aanlyn bedrog
18 mense is in hegtenis geneem ná ’n internasionaal gekoördineerde ondersoek onder leiding van Duitsland na aanlyn bedrog- en geldwasserynetwerke wat betaaldiensverskaffers gebruik.
Altesaam 44 verdagtes, insluitend ses voormalige werknemers van groot Duitse betaaldiensverskaffers, is glo betrokke by die skema wat die kredietkaartbesonderhede van sowat 4,3 miljoen mense in 193 lande gesteel het, sê die Duitse polisie
Die verdagtes het individue se data gesteel en toe intekeninge geskep vir herhalende rekeninge op vals pornografie- en afspraakdienste, alles met die ondersteuning van betaalfirmas, wat meer as €300 miljoen in skadevergoeding opgelewer het. – Reuters
2025-11-05 13:20:14
VSA-lughawe heropen vir lugverkeer ná vragvliegtuigongeluk
Die internasionale lughawe in Louisville, Kentucky, waar ’n wyeromp-vragvliegtuig neergestort het wat tot die dood van sewe mense gelei het, is vroeg Woensdag 12 uur ná die ongeluk weer vir lugverkeer oopgestel.
Ondersoekers van Amerika se nasionale vervoerveiligheidsraad is intussen na die ongelukstoneel gestuur om die proses te begin om uit te vind wat verkeerd geloop het toe die 34 jaar oue MD-11-vragvliegtuig Dinsdag in vlamme uitgebars het en toe neergestort het.
Die aanloopbaan van waar die vragvliegtuig opgestyg het, sal na verwagting nog vir 10 dae gesluit wees. – Reuters
2025-11-05 13:28:45
Noorde van Duitsland verenig teen bedreiging van hommeltuie
Owerhede oor Noord-Duitsland heen gaan gesamentlik hul hommeltuig-verdediging versterk ná ’n toename in verdagte hommeltuie, wat deels aan Rusland toegeskryf word. Hamburg het Woensdag die inisiatief aangekondig, met die fokus op strategiese plekke soos lughawens en militêre basisse.
Die federale regering het reeds goedkeuring gegee dat die Duitse polisie hommeltuie mag afskiet of elektronies neutraliseer. Verteenwoordigers van kusstate tesame met kenners en nyweraars sal Vrydag vergader om strategieë te beplan. In die afgelope maande het voorvalle naby die Oossee en by lughawens soos Bremen en München vir ontwrigting gesorg.
Die verdagte hommeltuie word glo van Russiese skepe gelanseer as deel van ’n breër sabotasie- en intimidasieveldtog teen Duitsland en ander Europese bondgenote van Oekraïne. – AFP
2025-11-05 14:00:41
En dít, my seun, is die koning

Brittanje se koning Charles gesels Woensdag met lede van die publiek, insluitend Leif (7), ná ’n besoek aan Chatfield Health Care in Battersea, Londen, om meer uit te vind oor die dienste en spesifieke ondersteuning wat aan oorlogsveterane gebied word. Foto: Reuters
2025-11-05 14:14:15
Poetin wil hê Rusland moet ook kernwapens toets
Pres. Wladimir Poetin van Rusland het senior militêre en verdedigingsamptenare Woensdag opdrag gegee om voorstelle in te dien vir die moontlike uitvoering van kernwapentoetse in reaksie op verklarings deur pres. Donald Trump dat Amerika sy eie toetse gaan uitvoer.
Poetin het gesê as ander lande sulke toetse doen, behoort Rusland dienooreenkomstig te reageer. – Reuters
2025-11-05 14:38:04
Trump blameer ‘kamikaze’-Demokrate vir langste regeringsluiting
Pres. Donald Trump het Woensdag probeer om “kamikaze”-Demokrate die skuld te gee vir die langste Amerikaanse regeringsluiting tot nog toe nadat dit die rekord van 35 dae oortref het wat in sy eerste termyn opgestel is.
“ … Ek dink hierdie ouens is kamikazes,” het Trump by ’n ontbytbyeenkoms van Republikeinse wetgewers by die Withuis gesê. “Hulle sal die land laat ondergaan as hulle moet."
Trump het ook gesê die verkiesingsuitslae die vorige aand was nie goed vir die Republikeine nie, en hy dit deels aan die regeringsluiting toegeskryf, wat volgens hom die Demokrate nie op die manier skade berokken het wat hy gedink het dit sou nie. – AFP, Reuters
2025-11-05 15:00:32
Met die maan gepla

’n Straler vlieg Woensdag verby die November-volmaan bokant die bankdistrik van Frankfurt am Main in Wes-Duitsland. Foto: AFP
2025-11-05 15:11:50
Man vas wat Mexikaanse president betas, wil soen
’n Man is in hegtenis geneem nadat hy Claudia Sheinbaum, die Mexikaanse president, betas en probeer soen het terwyl sy ondersteuners in die land se hoofstad gegroet het.
Die voorval het Dinsdag plaasgevind terwyl Sheinbaum na ’n geleentheid naby die presidensiële paleis geloop en hand geskud en saam met mense vir foto’s geposeer het.
Die man het sy arm om Sheinbaum se skouers gesit en met sy ander hand haar heup en bors aangeraak terwyl hy probeer het om haar nek te soen.
Een van haar lyfwagte het die man weggestoot. Hy was glo onder die invloed van dwelms of alkohol.
Ten spyte van sy gedrag het Sheinbaum die man hoflik behandel, ingestem om saam met hom vir ’n foto te poseer, en hom toe op die rug geklop. – AFP
2025-11-05 15:35:21
Dodetal in Kentucky UPS-vliegtuigongeluk styg tot 9
Die dodetal in die ongeluk van ’n UPS-vragvliegtuig wat kort ná opstyging by die Louisville Internasionale Lughawe in Kentucky in die VSA neergestort het, het tot nege gestyg, het amptenare van die stad en die staat Woensdag gesê.
Andy Beshear, die goewerneur van Kentucky, het op sosiale media gesê dit is moontlik dat die dodetal verder kan toeneem.
Amptenare het gesê 11 beseerdes is na hospitale geneem. – Reuters
2025-11-05 16:06:00
Ons sal julle altyd onthou

Kruise wat diegene herdenk wat hul lewe verloor het in die twee Wêreldoorloë en onlangse konflikte, is hier in die Veld van Herinnering by die Westminster-abdy in Londen. Herinneringsdag word internasionaal op 11 November herdenk. Foto: Reuters
2025-11-05 16:26:35
7 Italianers ná dodelike storms in Nepal vermis
Sewe Italiaanse klimmers word in Nepal se Himalaja-gebergte vermis, het amptenare Woensdag gesê, ná dae van woeste storms en ’n sneeustorting wat reeds die lewe van nege mense geëis het.
Van die nege bevestigde sterftes sedert Vrydag – afsonderlik van die sewe wat nou vermis word – was drie Italianers.
“Plaaslike owerhede het tot dusver die sterftes van drie Italiaanse klimmers bevestig," sê Italië se ministerie van buitelandse sake in ’n verklaring.
"Daar is geen nuus oor sewe ander Italianers nie.”
Kommunikasie met afgeleë valleie in die bergreeks is weens die storms afgesny. – AFP
2025-11-05 16:46:39
Hamas oorhandig vanaand oorskot van nog ’n gyselaar
Hamas se gewapende vleuel sê hulle sal later Woensdag die oorskot van nog ’n gyselaar oorhandig soos ingevolge die skietstilstand met Israel in die Gasastrook vereis word.
Volgens die Ezzedine Al-Kassam-brigade sal die lyk, wat in ’n woonbuurt van die stad Gasa gevind is, omstreeks 21:00 (SA tyd) oorhandig word.
Van die 28 oorlede gyselaars wat Hamas ingevolge die ooreenkoms aan Israel gaan oorhandig, is 21 terugbesorg, insluitend 19 Israeli's, een Thaise burger en een Nepalees. – AFP
2025-11-05 17:16:12
Rusland, Oekraïne gewikkel in hewige gevegte in strategiese Oekraïense stad
Rusland sê sy magte gaan probeer om volle beheer oor die Oekraïense stad Pokrofsk te neem, terwyl die Oekraïense weermag sê hy gaan hard veg om te probeer keer dat die Russe nuwe grond wen.
Oekraïne erken dat sy troepe hulself in ’n moeilike situasie in dié strategiese oostelike stad bevind.
Pokrofsk was eens ’n belangrike vervoer- en logistieke spilpunt vir die Oekraïense weermag, wat Rusland al meer as ’n jaar probeer verower. Rusland beskou die stad as die poort na sy verowering van die oorblywende 10%, of 5 000 km², van Oekraïne se oostelike nywerheidstreek Donbas. – Reuters
2025-11-05 17:24:27
Mesaanval: Tiener het pa glo dikwels aangerand, met dood gedreig
Die tiener wat verlede jaar drie jong meisies tydens ’n Taylor Swift-dansklas in Southport, Brittanje, vermoor het, het hom dikwels aangerand en gedreig om hom dood te maak, het sy pa Woensdag aan ondersoekers gesê.
Axel Rudakubana is in Januarie tot lewenslange tronkstraf gevonnis weens die grusame mesaanval toe hy 17 jaar oud was. Bebe King (6), Elsie Dot Stancombe (7) en Alice da Silva Aguiar (9) is in die aanval doodgesteek. Dit het gelei tot die ergste onrus in Brittanje in dekades.
Alphonse Rudakubana, wat die Rwandese volksmoord oorleef en na Brittanje gevlug het, sê sy seun se gedrag het verander sedert hy in 2019 van die skool geskors is weens ’n mes. Hy het soms tot twee gewelddadige uitbarstings per dag gehad. Hy het nie die voorvalle by die owerhede aangemeld nie uit vrees dat hul seun van hom en sy vrou weggeneem sou word. – AFP
2025-11-05 17:32:26
Tanzanië-verkiesing voldoen nie aan demokratiese standaarde, sê AU-waarnemers
Tanzanië se algemene verkiesing het nie voldoen aan die Afrika-Unie (AU) se beginsels, ander internasionale verpligtinge en standaarde vir demokratiese verkiesings nie, het verkiesingswaarnemers Woensdag gesê.
“Tanzanië moet verkiesings- en politieke hervormings prioritiseer om die onderliggende oorsake van sy demokratiese en verkiesingsuitdagings aan te pak wat voor, gedurende en ná verlede week se verkiesing waargeneem is,” lui ’n verklaring.
Die AU stuur dikwels verkiesingswaarnemers om verkiesingsintegriteit in lidlande te monitor. Waarnemers grond hul verslae op internasionaal aanvaarde norme soos vryheid van uitdrukking, ’n oop politieke proses en die beskerming van stemregte. – Reuters
2025-11-05 17:41:24
Nuwe besem

Zohran Mamdani, pas verkose burgemeester van die stad New York, word bestorm deur joernaliste op pad na ’n mediakonferensie in die Queens-distrik. Foto: Reuters
2025-11-05 17:52:27
Stormskade

’n Lugfoto wys beskadigde huise in die nadraai van die tifoon Kalmaegi in Talisay in die Cebu-provinsie in die Filippyne. Foto: Getty Images
2025-11-05 18:09:01
Wêreld beskik oor gereedskap vir klimaatfinansiering, lui verslag
Die wêreld het ál die nodige gereedskap om $1 300 miljard in klimaatfinansiering aan kwesbare lande te verskaf, van skuldverligting tot belasting en beter koördinering, lui ’n “padkaart” wat Woensdag voor die COP30-beraad in Brasilië uitgereik is.
Die verslag van 81 bladsye is uitgereik deur die hoofde van verlede jaar se COP29-konferensie in Azerbeidjan en die komende COP30-beraad in Belem, Brasilië, terwyl leiers hulle voorberei om Donderdag en Vrydag te vergader.
“Dié ‘padkaart’ is daarop gemik om as katalisator en fondament vir die volgende fase van klimaatoptrede by te dra. Dit herinner ons daaraan dat die hulpbronne bestaan, die gereedskap gereed is en die tyd nou is,” skryf Moektar Babajef, COP29-president, en André Aranha Corrêa do Lago, COP30-president, in die voorwoord van die verslag. – AFP
2025-11-05 18:36:30
Angelina Jolie verras met besoek aan stad in Oekraïne
Die Hollywood-ster Angelina Jolie het Woensdag ’n verrassingsbesoek aan ’n suidelike Oekraïense stad aan die frontlinie gebring tydens haar tweede besoek aan dié land sedert Rusland se inval.
Jolie, wat voorheen ’n Verenigde Nasies (VN)-ambassadeur vir vlugtelinge was, het ’n kraamsaal en ’n kinderhospitaal besoek in Cherson, ’n stad wat in 2022 kortliks onder Russiese beheer was en steeds daagliks gebombardeer word.
Jolie, bekend om rolprente soos Maleficent en Mr. & Mrs. Smith, asook die Lara Croft-reeks, het van 2012 tot 2022 as ’n spesiale VN-gesant vir vlugtelinge gedien. – AFP

Angelina Jolie Foto: Getty Images
2025-11-05 19:02:49
Nóg vis nóg vlees

He Xiaopeng, medestigter en voorsitter van die Chinese elektriesevoertuig-vervaardiger XPeng, stel Woensdag die maatskappy se volgende generasie mensagtige robot, Iron, bekend by XPeng se hoofkantoor in Guangzhou, China. Foto: AFP
2025-11-05 19:14:14
Slenkdalkoors eis 42 in Mauritanië en Senegal – WGO
Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het Woensdag gesê ’n totaal van 404 bevestigde menslike gevalle van slenkdalkoors, insluitend 42 sterftes, is tussen 20 September en 30 Oktober deur die gesondheidsowerhede in Mauritanië en Senegal aangemeld. – Reuters
2025-11-05 19:39:14
‘NY se Jode moet Israel toe trek ná Mamdani-oorwinning’
’n Regse Israeliese minister het Woensdag New York se Joodse inwoners aangemoedig om na Israel te verhuis nadat Zohran Mamdani tot die stad se burgemeester verkies is.
Amichai Chikli, Israel se minister van diaspora-sake, het die linkse Demokraat as ’n “Hamas-ondersteuner” gebrandmerk.
Mamdani (34) sal die stad se eerste Moslem-burgemeester word wanneer hy in Januarie sy amp aanvaar.
“Die stad wat eens ’n simbool van wêreldvryheid was, het sy sleutels aan ’n Hamas-ondersteuner oorhandig,” het Chikli op X geskryf.
“New York sal nooit weer dieselfde wees nie, veral nie vir sy Joodse gemeenskap nie,” het hy bygevoeg. “Ek nooi die Jode van New York uit om ernstig te oorweeg om die land van Israel hul nuwe tuiste te maak.” – AFP
2025-11-05 20:00:23
Die trane die rol oor jou, Trump

’n Vrou wat ’n Statue of Liberty-kopstuk dra, woon Woensdag in Washington DC ’n betoging by wat een jaar sedert die herkiesing van pres. Donald Trump herdenk. Foto: Reuters
2025-11-05 20:15:08
NY sal kommunisties word onder Mamdani – Trump
Amerika het sy “soewereiniteit” verloor nadat New Yorkers die linkse Zohran Mamdani tot hul volgende burgemeester verkies het, het pres. Donald Trump Woensdag gesê en beweer die land se grootste stad sal kommunisties word.
“Ons sal dit hanteer,” het Trump gesê sonder om uit te wei oor wat hy bedoel.
In ’n toespraak in Miami, Florida, ’n dag ná Mamdani se oorweldigende oorwinning, het Trump gesê dat Miami “binnekort die toevlug sal wees vir dié wat die kommunisme in New York ontvlug”.
“Die besluit wat alle Amerikaners in die gesig staar, kan nie duideliker wees nie: Ons het ’n keuse tussen kommunisme en gesonde verstand,” het hy gesê. Hy het die keuse uitgebeeld as ’n “ekonomiese nagmerrie” of ’n “ekonomiese wonderwerk”.
Trump het wel gesê hulle “wil hê New York moet suksesvol wees” en dat hy moontlik hulp aan Mamdani kan bied. “Ons sal hom help, miskien ’n bietjie,” het Trump gesê. – AFP, Reuters
2025-11-06 03:37:25
Tifoon eis reeds 114 in Filippyne, kies koers na Viëtnam
Die sterftesyfer in die Filippyne weens die tifoon Kalmaegi het tot 114 gestyg.
Nog 127 mense word steeds vermis, het die rampbeheeragentskap Donderdag gesê.
Die storm het die sentrale dele van die land verwoes voordat dit opnuut krag opgebou het terwyl dit na Viëtnam voortsnel.
Ongeveer 350 000 mense in die provinsie Gia Lai in Viëtnam sal na verwagting teen die middel van dag ontruim wees.
Die owerheid hier het waarskuwings uitgereik oor swaar reën en skadelike winde. – Reuters
2025-11-06 03:51:03
Vlugopnemers van UPS-vliegtuig in Kentucky gevind, dodetal styg
Amerikaanse federale veiligheidsondersoekers het die vlugopnemers herwin uit die wrakstukke van ’n UPS-vragvliegtuig wat Dinsdag in Kentucky geval het.
Die vliegtuig het kort ná opstyging vanaf die Louisville- internasionale lughawe neergestort.
Die breëromp-vragvliegtuig, wat na Hawaii sou vlieg, het ontplof toe dit sakeondernemings langs die lughawe getref het.
Die dodetal het gestyg na minstens 12, en verskeie mense word steeds vermis.
Die sterftes sluit in die drie bemanningslede wat aan boord van die vliegtuig was en nege mense op die grond. – Reuters

Die toneel waar die UPS-vragvliegtuig neergestort het in Louisville, Kentucky. Foto: Getty Images
2025-11-06 04:06:25
Vrou van vermoorde burgemeester neem sy pos oor
Die vrou van ’n burgemeester wat Saterdag in die staat Michoacan in Mexiko vermoor is, is Woensdag in haar man se plek aangestel.
Grecia Quiroz is beëdig as burgemeester van die stad Uruapan om om haar man, Carlos Manzo, te vervang.
Manzo het op die Dag van die Dooies-fees ’n kersliggeleentheid bygewoon toe hy vermoor is.
Hy was ’n openlike kritikus van georganiseerde misdaad.
“Hulle gaan my nie stilmaak nie. Ek gaan in sy voetspore volg,” het Quiroz gesê en beloof om haar man se kruistog teen georganiseerde misdaad voort te sit. – Reuters

Grecia Quiroz word beëdig as die burgemeester van die stad Uruapan, Mexiko. Foto: Reuters
2025-11-06 04:21:03
Noord-Korea kritiseer Amerikaanse sanksies
Noord-Korea het pres. Donald Trump se administrasie gekritiseer oor die oplegging van sanksies “wat vyandigheid aanwakker” en gesê hulle sal dienooreenkomstig reageer.
Amerika het Dinsdag agt individue en twee entiteite finansiële sanksies opgelê wat na bewering by verskeie geldwassery-kuberskemas betrokke was.
Volgens die Amerikaanse tesourie is die doel van die sanksies om finansiering vir Noord-Korea se wapenprogramme te blokkeer.
“Daar is niks so dwaas soos om ’n nuwe resultaat te verwag terwyl jy die ou draaiboek van die mislukte verlede herhaal nie,” het ’n Noord-Koreaanse adjunkminister volgens die staatsmedia-instelling KCNA gesê. – Reuters
2025-11-06 04:35:01
Israel ontvang oorskot van nog ’n gyselaar
Israel het Woensdag die oorskot van nog ’n gyselaar uit die Gasastrook ontvang, het die kantoor van die premier gesê.
Hamas se gewapende vleuel het die oorskot aan die Rooi Kruis oorhandig.
Israel se forensiese owerheid sal die identiteit van die oorskot bevestig.
Indien bewys word dat die oorskot dié van ’n gyselaar is, beteken dit daar is nog die oorskot van ses gesneuwelde gyselaars in die Gasastrook oor. – Reuters
2025-11-06 06:04:07
6 vermoedelik vasgekeer by kragstasie in Suid-Korea
Ses mense is vermoedelik nog vasgekeer onder die puin van ’n Suid-Koreaanse kragstasie in die stad Ulsan nadat ’n groot struktuur Donderdag ineengestort het, het die nuusagentskap Yonhap berig.
Onder die aanvanklike vermoedelik agt wat onder die struktuur beland het, is twee gered.
Beamptes van die brandweer in die distrik waar die aanleg in Ulsan geleë is, kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie. – Reuters
2025-11-06 06:39:44
‘Tunisië skend migrante se menseregte’
Amnestie Internasionaal het Tunisië Donderdag beskuldig van “wydverspreide menseregteskendings” teen migrante, waaronder verkragting en marteling.
Tunisië is ’n belangrike vertrekpunt vir tienduisende migrante, van wie baie uit Afrika suid van die Sahara kom, wat jaarliks probeer om die Mediterreense See oor te steek na Europa.
“Tunisië se migrasie- en asielstelsel word nou gekenmerk deur rassistiese polisiëring en wydverspreide menseregteskendings,” het die organisasie gesê. – AFP
2025-11-06 06:54:28
5 vas in Amerika in internasionale ondersoek na bedrog
Amerika het vyf individue op Duitsland se versoek in hegtenis geneem.
Dit is deel van ’n internasionale ondersoek wat deur Duitsland gelei word oor aanlyn bedrog- en geldwasserynetwerke wat betaaldiensverskaffers gebruik.
Die individue, vier Amerikaanse burgers en een Kanadees, is in Kalifornië vasgetrek en het Woensdag die eerste keer in die hof verskyn.
Duitse amptenare het Woensdag gesê dat 18 mense vroeër vandeesweek danksy speurtogte van Singapoer tot Kanada in hegtenis geneem is. – Reuters
2025-11-06 06:59:17
Groot olie-aanleg in Belarus aan die brand
Die Naftan-olie-aanleg in Belarus, een van die land se twee grootstes, is aan die brand, maar dit is in bedwang gebring, het die staatsnuusagentskap Belta Donderdag berig.
Belta het gesê die brand is veroorsaak deur ’n voorval met diesel.
Die aanleg, wat in Nowopolotsk in die noorde van Belarus is, het ’n verwerkingskapasiteit van ongeveer 200 000 vate per dag. – Reuters
2025-11-06 08:30:05
5 vermoedelik steeds vasgekeer onder struktuur in Suid-Korea
Die owerhede in Suid-Korea vrees dat vyf mense steeds vasgekeer is nadat ’n struktuur by ’n kragstasie Donderdag in die stad Ulsan ineengestort het.
Beeldmateriaal van die toneel wys ’n massiewe staalstruktuur wat omgeval het en omring is deur soortgelyke strukture.
Kim Jung-shik, ’n brandweeramptenaar, sê werkers was besig om dele van die struktuur af te breek om dit voor te berei vir die sloping daarvan binne sowat 10 dae toe die ongeluk plaasgevind het.
Twee mense is vinnig gered en daarna is twee ander uit die puin bevry. – Reuters

Die toneel waar ’n struktuur Donderdag ineengestort het. Foto: AFP/Ulsan-brandweer
2025-11-06 08:53:40
Man vind goud in tuin toe hy gat vir swembad grawe
’n Man van Frankryk het vroeër vanjaar goud ter waarde van €696 000 ontdek terwyl hy ’n swembad in sy tuin gegrawe het, het plaaslike amptenare Donderdag gesê.
Die owerhede het hom toegelaat om die goud te hou omdat dit nie op ’n argeologiese terrein gevind is nie.
Hy het vyf goudstawe en baie munte in plastieksakke gevind.
Die polisie het vasgestel die goud is wettig verkry en is “ongeveer 15 of 20 jaar gelede” by ’n nabygeleë aanleg gesmelt.
Die vorige eienaar van die tuin het gesterf. Dit is onbekend hoe die goud daar beland het. – AFP
2025-11-06 08:58:40
Oorskot van gyselaar dié van Tanzaniese student
Israel sê die oorskot wat Woensdag deur Hamas oorhandig is, is dié van Joshua Loitu Mollel (21).
Mollel was ’n Tanzaniese student wie se lyk na die Gasastrook geneem is nadat hy in Hamas se aanval op Israel op 7 Oktober 2023 doodgemaak is.
Vroeër is berig die oorskot van ses gyselaars is steeds in die Gasastrook. – AFP
2025-11-06 09:02:52
Hezbollah vaar uit teen Israel
Hezbollah sê hy het die reg om homself teen Israel te verdedig en het die vooruitsig van enige politieke onderhandelinge tussen Libanon en sy buurland verwerp.
Dié uitlatings kom nadat Israel gewaarsku het dat hy operasies in Libanon teen Hezbollah kan verskerp.
“Ons herbevestig ons wettige reg om onsself te verdedig teen ’n vyand wat oorlog op ons land afdwing en nie sy aanvalle staak nie,” sê Hezbollah. – AFP
2025-11-06 09:36:08
Israel wil gebied by grens met Egipte in geslote militêre sone verander
Israel Katz, Israeliese minister van verdediging, het die weermag opdrag gegee om die gebied by die grens met Egipte in ’n geslote militêre sone te verander om die smokkelary van wapens via hommeltuie te bekamp.
Katz sê dit stel die land se veiligheid in gevaar.
“Wapensmokkelary via hommeltuie is deel van die oorlog in die Gasastrook en is bedoel om ons vyande te bewapen, en alle moontlike maatreëls moet getref word om dit te stop.” – AFP
2025-11-06 09:51:41
Afganistan, Pakistan hervat vredesgesprekke
Afganistan en Pakistan sal Donderdag vredesgesprekke in Istanbul hervat.
Die weermagte van dié twee lande het verlede maand geveg en tientalle mense is dood in die ergste geweld sedert die Taliban in 2021 na die bewind in Afganistan teruggekeer het.
Albei kante het ’n skietstilstand op 19 Oktober onderteken, maar ’n tweede ronde van onderhandelinge in Istanbul verlede week sonder ’n langtermynooreenkoms beëindig.
“Ons hoop dat wysheid seëvier en vrede in die streek herstel word,” het Khawaja Asif, minister van verdediging van Pakistan, gesê. – Reuters
2025-11-06 10:20:18
1 dood, 2 gewond op politieke saamtrek in Bangladesj
Een persoon is dood en twee gewond toe gewapende mans op motorfietse ’n politieke saamtrek in Bangladesj aangeval het.
Die skietvoorval het plaasgevind by ’n saamtrek van die Bangladesj Nasionale Party wat deur honderde mense in die hawestad Chattogram bygewoon is.
Groot partye het Woensdag hul veldtogte van stapel gestuur vir die verkiesing wat vir Februarie 2026 beplan word.
Dit is die eerste verkiesing sedert ’n dodelike opstand verlede jaar die outokratiese regering van sjeik Hasina, voormalige premier, omvergewerp het. – AFP
2025-11-06 11:10:02
Trump beoog groter Amerikaanse vastrapplek in Sentraal-Asië
Pres. Donald Trump het Donderdag die leiers van vyf Sentraal-Asiatiese lande by die Withuis verwelkom in ’n poging om Amerika se invloed in ’n streek wat deur Rusland oorheers is en waar China voortaan sterk belange toon, te vergroot.
Die beraad vind ook plaas te midde van ’n hewige stryd om toegang tot die streek se groot mineraalhulpbronne.
Die sogenaamde C5+1-platform, wat die VSA en Kazakstan, Kirgisië, Tadjikistan, Turkmenistan en Oesbekistan insluit, fokus op ekonomiese, energie- en veiligheidsamewerking. Kazakstan en Oesbekistan, albei groot uraanprodusente, is sentraal tot Amerika se strewe om toegang tot kernbrandstof te beveilig.
Aanduidings is dat Trump se administrasie regeringsamewerking sowel as kommersiële ooreenkomste wil bevorder te midde van China en Rusland se invloed. – Reuters
2025-11-06 11:20:59
Regeringsluiting: VSA kanselleer vlugte
Amerikaanse amptenare sê die geskeduleerde kapasiteit vir vlugte in 40 besige lugverkeergebiede landwyd sal weens die regeringsluiting met 10% verminder word.
Federale agentskappe het tot stilstand gekom sedert die kongres op 30 September nie finansiering goedgekeur het nie, met sowat 1,4 miljoen federale werkers, van lugverkeerbeheerders tot parkwagte, wat steeds met gedwonge verlof of op werk sonder betaling geplaas is.
"Daar gaan 'n 10%-vermindering in kapasiteit by 40 van ons liggings wees," het Sean Duffy, minister van vervoer, gesê en bygevoeg dat dit Vrydag in werking tree. – AFP

Die geskeduleerde kapasiteit vir vlugte in 40 besige lugverkeergebiede in Amerika sal Vrydag met 10% verminder word weens die regeringsluiting. Foto: Getty Images
2025-11-06 11:35:55
Seerowers val skip by Somalië aan wyl dit na Suid-Afrika reis
’n Skip, die Hellas Aphrodite, is Donderdag deur seerowers naby Somalië aangeval.
Al 24 bemanningslede is veilig. Die seerowers het die skip, wat petrol van Indië na Suid-Afrika vervoer, oorgeneem.
Die bemanning het ten tyde van die aanval in die skip se versterkte veiligheidskamer geskuil. Die Europese Unie se vlootmagte is intussen om hulp genader.
Die voorval volg ná ’n soortgelyke aanval vroeër die week naby Mogadisjoe. Hierdie aanvalle wek kommer oor die veiligheid van skeepsroetes in ’n baie belangrike gebied vir wêreldhandel. – Reuters
2025-11-06 13:05:33
Kameroen se Paul Biya vir 8ste termyn ingeseën
Paul Biya (92) is Donderdag vir ’n agtste termyn as president van Kameroen ingeseën ná ’n omstrede verkiesing wat tot massabetogings gelei het. Biya, wat al 43 jaar regeer, het luidens amptelike uitslae 53,7% van die stemme op hom verenig. Sy hoofteenstander, Issa Tchiroma Bakary, het 35,2% gekry, maar hou voet by stuk hy is die werklike wenner.
Biya is die wêreld se oudste staatshoof en het belowe om hard te werk om sy land te dien.
Die Verenigde Nasies en die Europese Unie het die regering se gewelddadige optrede teen betogers veroordeel en ’n ondersoek geëis.
Die politieke spanning in Kameroen duur voort, met die risiko van verdere onrus. – AFP

Paul Biya behou sy ystergreep op Kameroen.
Foto: Getty Images
2025-11-06 13:12:40
Katar belê miljarde in Egiptiese luukse kusprojek
Egipte en Katar het Donderdag ooreengekom om saam ’n luukse vaste eiendom- en toerismeprojek aan Egipte se kus langs die Middellandse See te ontwikkel.
Katar gaan in Desember R60,7 miljard betaal vir die grond vir die Alam Al-Roem-projek, as deel van ’n reusebelegging van R130,1 miljard wat Doha aan Kaïro belowe het.
Dié projek sluit gholfbane en marinas in oor ’n 7 km lange strandgebied sowat 480 km noordwes van Kaïro.
Volgens Egiptiese owerhede sal die geld help om skuld te verminder. Egipte kry ook woonstelle ter waarde van R31,2 miljard en 15% van die winste, nadat Katar sy koste verhaal het.
Die gesamentlike beleggingswaarde beloop amper R515,3 miljard. Egipte probeer lankal buitelandse beleggings lok om sy ekonomie te versterk. – Reuters
2025-11-06 13:19:55
Greenpeace kla oor jag van bere in Slowakye
Die internasionale omgewingsorganisasie Greenpeace het Donderdag by die Europese Unie (EU) gekla oor Slowakye se besluit om 350 bruinbere naby die Poolse grens van kant te maak.
Slowakye sê die bere raak te veel en hou ’n gevaar in vir mense, maar in Pole word dié diere beskerm. Greenpeace meen Slowakye se besluit bedreig die kleiner Poolse beerbevolking, want bere swerf gereeld tussen die twee lande. Pole het Slowakye gevra om minstens 30 km van die grens af op te hou jag, maar dié versoek is geïgnoreer.
Volgens EU-reëls mag bere net geskiet word as hulle ’n gevaar inhou of skade aanrig, en dan slegs as daar geen ander oplossing is nie. – AFP
2025-11-06 13:30:46
Is vrede in sy kanon in?

’n Ou kanon staan by Fort George in Port of Spain in Trinidad en Tobago. Amerikaanse magte brei tans hul teenwoordigheid in die Karibiese See uit terwyl bespiegeling voortduur oor moontlike aanvalle teen dwelmkartelle in Venezuela. Port of Spain huisves ongeveer 545 000 mense wat langs die Golf van Paria, 'n inham van die Karibiese See, geleë is. Dit is ongeveer 11 km van die kus van Venezuela. Foto: Getty Images
2025-11-06 14:00:45
Israel rig ontruimingswaarskuwings aan dorpe in Libanon
Israel se weermag het inwoners van sekere geboue in drie suidelike Libanese dorpe Donderdag gemaan om die gebiede te ontruim voordat aanvalle op Hezbollah se militêre infrastruktuur uitgevoer sou word.
Op X het die weermag se Arabiese woordvoerder, Avichay Adraee, waarskuwings uitgereik vir inwoners van sekere geboue in die dorpe Taibeh, Tair Debba en Aita al-Djabal. – AFP
2025-11-06 14:24:31
Pous Leo ontvang Palestynse leier by die Vatikaan
Pous Leo het Donderdag sy eerste ontmoeting gehad met Mahmoed Abbas, president van die Palestynse Owerheid, om die “dringende behoefte” te bespreek om die burgerlike bevolking in die Gasastrook te help.
Abbas se Fatah-beweging is die mededinger van Hamas, wat in 2007 beheer oor die Gasastrook geneem het.
Dit was die twee se eerste persoonlike ontmoeting sedert die Amerikaner in Mei as hoof van die wêreld se 1,4 miljard Katolieke aangewys is. – AFP

Pous Leo XIV en Mahmoed Abbas, president van die Palestynse Owerheid, ontmoet mekaar Donderdag in die Vatikaan. Foto: Vatikaan Media / AFP
2025-11-06 14:39:57
2025 een van 3 warmste jare in menseheugenis – VN
Ná meer as ’n dekade van ongekende hitte gaan 2025 een van die warmste jare wees wat tot nog toe aangeteken is, het die Verenigde Nasies (VN) Donderdag gesê.
“Die ontstellende reeks buitengewone temperature het in 2025 voortgeduur, en die jaar is op koers om óf die tweede óf derde warmste jaar ooit te wees,” het die Wêreld Meteorologiese Organisasie gesê in ’n opdatering van die stand van die wêreldwye klimaat wat voor volgende week se COP30 -klimaatberaad in Brasilië uitgereik is. – AFP
2025-11-06 15:02:34
Baie ver van Afrika

Nala die seekoei-ma en haar kalf, wat aan die einde van September gebore is, swem Donderdag in die Berlynse dieretuin. Foto: Reuters
2025-11-06 15:21:08
Tifoon tref Viëtnam nadat dit 140 lewens in Filippyne eis
Die tifoon Kalmaegi het Donderdag Viëtnam se reeds stormgeteisterde sentrale gebied getref, waar duisende mense uit gebiede in die pad van een van die wêreld se dodelikste tropiese storms van die jaar gevlug het.
Kalmaegi het vroeër die week ’n pad van verwoesting deur die Filippyne gebaan, met minstens 140 mense wat dood is en nog 127 vermis.
Kalmaegi het Viëtnam getref met volgehoue wind van tot 149 km/h, en veel sterker rukwinde.
Die tifoon het toegeslaan terwyl die sentrale Viëtnam nog besig was om te herstel van meer as ’n week van oorstromings en rekordreën waarin minstens 47 mense dood is. – AFP
2025-11-06 15:41:21
Pole wil 500 000 vrywilligers vir verdediging oplei
Die Poolse regering het Donderdag gesê dat dié buurland van Oekraïne en Rusland beplan om teen die einde van volgende jaar tot 500 000 vrywilligers op te lei om sy verdedigingsvermoëns te versterk.
Wladyslaw Kosiniak-Kamysz, die minister van verdediging, sê die doel van die nuwe opleidingsprogram is om die land en sy burgers voor te berei in geval van 'n verdere eskalasie in die oorlog tussen Rusland en Oekraïne.
Volgens Kosiniak-Kamysz is die program “bedoel vir jonger mense, selfs dié in laer- of hoërskool, sowel as vir werkers, ondernemings, en selfs bejaardes”.
Die regering beoog om 100 000 mense teen die einde van die jaar op te lei, en nóg “sowat 400 000” teen die einde van 2026. – AFP
2025-11-06 16:03:35
Toustaan om te stem

Kiesers staan Donderdag tou om hul stem uit te bring by ’n stempunt in die eerste fase van die verkiesing van streekverteenwoordigers in die Raghopur-kiesafdeling in die Vaishali-distrik van die Indiese deelstaat Bihar. Foto: AFP
2025-11-06 16:13:09
Nancy Pelosi kondig haar aftrede aan
Nancy Pelosi, die eerste vroulike speaker van die Amerikaanse huis van verteenwoordigers, het Donderdag aangekondig dat sy aan die einde van haar huidige termyn aan die einde van Januarie 2027 gaan aftree.
“Ek sal nie vir herkiesing staan nie,” het die 85-jarige Demokraat gesê. – AFP
2025-11-06 16:22:33
Trump mag nou swyggeldsaak op hersiening neem
’n Federale appèlhof het Donderdag gesê pres. Donald Trump verdien nog ’n kans om te toon dat sy sogenaamde swyggeldsaak in ’n federale hof hoort.
Dit bied opnuut ’n geleentheid vir Trump om sy skuldigbevinding te probeer uitdaag. Hy is skuldig bevind op 34 aanklagte nadat hy ’n betaling van $130 000, wat bedoel was om die porno-ster Stormy Daniels se stilswye te koop, verdoesel het.
Trump het destyds aangevoer dat hy nie vervolg mag word nie omdat Amerikaanse presidente nie vir hul optrede in hul amptelike hoedanigheid vervolg mag word nie. – Reuters
2025-11-06 16:40:42
Britse man vas oor beweerde Hamas-aanvalskomplot
’n Britse man wat glo wapens vir vermeende Hamas-lede in Duitsland vervoer het, is in hegtenis geneem. Die Hamas-lede word daarvan aangekla dat hulle aanvalle op Joodse teikens in Europa beplan het.
Daar is vroeër in Wene, Oostenryk, op die wapens beslag gelê, het die owerhede Donderdag gesê.
Die 39-jarige man is Maandag op versoek van Duitse owerhede in Londen in hegtenis geneem. – AFP
2025-11-06 17:07:44
Satellietbeelde wys massagrafte in Soedan
Nuwe satellietbeelde wys duidelike tekens van massagrafte in El-Fasjer, Soedan, kort nadat massamoorde daar aangemeld is. Luidens ’n verslag deur navorsers aan die Yale-Universiteit in Amerika blyk dit dat die paramilitêre Blitsondersteuningsmag (RSF) die oorskot van slagoffers by ’n moskee en ’n kinderhospitaal begrawe het nadat hulle die stad op 26 Oktober oorgeneem het.
Die navorsers het ook tekens van deur-tot-deur-moorde, bloedbevlekte tonele en lyke naby ander hospitale en moskees gevind. Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê meer as 460 pasiënte en mediese personeel is by die Al-Saoedi-hospitaal doodgemaak.
Weens beperkte toegang tot die gebied speel satellietbeelde ’n sleutelrol om die omvang van die krisis te monitor. – AFP
2025-11-06 17:11:27
Swede, Oekraïne gaan saambou aan gevorderde tegnologie vir verdediging
Swede en Oekraïne het Donderdag ’n belangrike ooreenkoms gesluit om gesamentlik aan gevorderde verdedigingstegnologieë te werk.
Pål Jonson, Sweedse minister van verdediging, sê ’n gesamentlike navorsingsentrum sal in Oekraïne opgerig word waar kundiges van albei lande hande sal vat om nuwe tegnologie vir die slagveld te ontwikkel en te vervaardig. Volgens Swede en Oekraïne sal dié samewerking hul vermoë versterk om innoverende oplossings vir moderne oorlogvoering te vind.
Die samewerking is ook deel van Swede se volgehoue steun aan Oekraïne in sy stryd teen Rusland en beklemtoon die waarde van internasionale vennootskappe in tye van konflik. – Reuters
2025-11-06 17:33:49
Pryse van gewilde gewigsverliesmiddels gaan verlaag word, sê Trump
Die farmaseutiese maatskappye Eli Lilly en Novo Nordisk het ooreengekom om die pryse van gewilde gewigsverliesmiddels te verlaag, het pres. Donald Trump Donderdag aangekondig.
Volgens Trump sal albei ondernemings hul mees gewilde GLP-1-gewigsverliesmiddels teen groot afslag beskikbaar stel, wat dit meer bekostigbaar en toeganklik vir die publiek sal maak
Die nuwegenerasie-eetlusdempers het die laaste tyd baie gewild geword omdat dit mense help om gewig te verloor. – AFP

Pres. Donald Trump Foto: Getty Images
2025-11-06 17:59:12
Nog ’n land erken Israel, sê Witkoff
Die Withuis sal later Donderdag aankondig dat nog ’n land sy betrekkinge met Israel sal normaliseer kragtens die sogenaamde Abraham-ooreenkomste, sê Steve Witkoff, spesiale gesant van pres. Donald Trump van Amerika.
“Ek vlieg vanaand terug na Washington, want ons gaan vanaand aankondig dat nog ’n land hom by die Abraham-ooreenkomste aansluit,” het Witkoff op die America Business Forum in Miami gesê.
Onder die Abraham-ooreenkomste tydens Trump se eerste termyn as president, het ’n aantal Arabiese lande in 2020 betrekkinge met Israel genormaliseer. – AFP
2025-11-06 18:05:38
Hommeltuie ontwrig Sweedse lughawe
Vlugverkeer is Donderdag by die Gothenburg-Landvetter-lughawe aan Swede se weskus gestop nadat een of meer hommeltuie by die lughawe opgemerk is, sê die burgerlike lugvaartagentskap LFV. “ ’n Hommeltuig of hommeltuie is net voor 6 nm. (19:00 SA tyd) by die Landvetter-lughawe opgemerk,” het ’n LFV-woordvoerder gesê.
Die teenwoordigheid van hommeltuie by verskeie lughawens oor Europa heen het die laaste paar maande tot groot ontwrigtings gelei.
Sommige lande beskuldig Rusland van sogenaamde “hibridiese oorlogvoering” – waar niemilitêre tegnieke gebruik word om lande te ontwrig – maar Rusland ontken enige betrokkenheid. Gothenburg is Swede se tweede grootste stad en die Landvetter-lughawe is ’n belangrike internasionale lughawe vir dié streek. – Reuters
2025-11-06 18:20:07
VSA dring aan op skietstilstand in Soedan
Amerika het Donderdag die strydende partye in Soedan dringend versoek om ooreen te kom op ’n skietstilstand en verwys na die “dringende” behoefte om burgerlikes te beskerm. Dit kom nadat die paramilitêre Blitsondersteuningsmag (RSF) aangedui het dat hy ’n voorstel vir ’n humanitêre ooreenkoms ondersteun.
“Ons versoek albei partye om saam te werk aan die Amerikaans geleide poging om ’n humanitêre skietstilstand te sluit, gegewe die onmiddellike dringendheid om die geweld te beperk en die lyding van die Soedanse bevolking te beëindig,” het ’n woordvoerder van die Amerikaanse departement van buitelandse sake gesê.
Die RSF is sedert April 2023 in gevegte met die nasionale weermag van Soedan gewikkel. – AFP
2025-11-06 19:02:08
Laat hy val waar hy wil

Pres. Donald Trump kyk Donderdag toe nadat ’n assistent in die Oval Office in die Withuis flou geraak het tydens 'n aankondiging dat die farmaseutiese maatskappye Eli Lilly en Novo Nordisk ooreengekom het om die pryse van gewilde gewigsverliesmiddels te verlaag. Foto: AFP
2025-11-06 19:23:19
Afgaanse opiumverbouing val met 20% – VN-verslag
Opiumverbouing in Afganistan het vanjaar met 20% afgeneem, het die Verenigde Nasies (VN) Donderdag gesê. Die Taliban-owerhede in die land het in 2022 opiumverbouing landwyd verbied.
Die oppervlak wat aan opiumverbouing gewy is, het van 12 800 ha verlede jaar tot 10 200 ha vanjaar afgeneem, lui ’n nuwe VN-verslag.
Die land se opium-uitset, die kernbestanddeel van heroïen, is vanjaar op sowat 296 ton geraam, wat ’n daling van 32% is vergeleke met verlede jaar.
Boere se inkomste uit opiumverkope het byna gehalveer, van $260 miljoen verlede jaar tot $134 miljoen vanjaar. – AFP
2025-11-06 19:41:45
Trump belowe 'plan 2' as hof tariewe blokkeer
Pres. Donald Trump het Donderdag gesê hy sal ander opsies oorweeg om handelstariewe in te stel indien die federale hooggeregshof in Washington teen sy vlagskip- ekonomiese beleid beslis.
Die hof het Woensdag met die aanhoor van betoë skepties voorgekom oor die wettigheid van die tariewe.
Trump het gesê ’n uitspraak teen tariewe "sal verwoestend wees vir ons land, maar ek dink ook dat ons ’n plan 2 sal moet ontwikkel".
"Ons kan ander dinge doen, maar dit is stadig in vergelyking," het hy gesê. – AFP
2025-11-06 20:02:13
Die Wolf van Rome

Die Amerikaanse akteur Robert de Niro poseer saam met Roberto Gualtieri, Rome se burgemeester, nadat hy Donderdag met die stad se Lupa Capitolina (Wolf van die stad)-toekenning vereer is. Foto: AFP
2025-11-06 20:09:27
VSA-onnie kry $10 m. nadat 6-jarige leerling haar skiet
’n Jurie in die Amerikaanse deelstaat Virginia het Donderdag $10 miljoen toegeken aan ’n voormalige gr. 1-onderwyseres wat deur ’n sesjarige leerling geskiet is.
Abby Zwerner (28) is ernstig gewond in die skietvoorval in Januarie 2023 by ’n laerskool in die stad Newport News.
Sy was twee weke lank in die hospitaal met beserings aan haar hand en bors nadat sy deur ’n koeël getref is.
Zwerner het ’n regsgeding teen die assistent-hoof aanhangig gemaak en haar daarvan beskuldig dat sy waarskuwings geïgnoreer het dat die kind ’n wapen skool toe gebring het.
Sy het beweer daar was sprake van growwe nalatigheid en het $40 miljoen in skadevergoeding geëis. – AFP
2025-11-06 20:29:15
Oudpresident in Argentinië se ‘grootste korrupsiesaak nog'
Oudpres. Cristina Kirchner (72) van Argentinië, wat reeds ’n vonnis van ses jaar onder huisarres weens bedrog uitdien, het Donderdag in ’n nuwe korrupsiesaak verskyn, wat beskryf word as die grootste in die land se geskiedenis.
Sy word daarvan beskuldig dat sy aan die hoof van ’n misdaadonderneming gestaan het wat miljoene dollars aan omkoopgeld van sakemense ontvang het in ruil vir staatskontrakte.
Kirchner was tussen 2007 en 2015 vir twee termyne die staatshoof van Argentinië. – AFP
2025-11-06 20:30:28
Ou ryperd

’n Palestynse kind speel Donderdag op ’n plastiekperdjie midde-in die puin van vernietigde geboue in Djabalia in die noorde van die Gasastrook. Foto: Reuters
2025-11-07 03:39:53
Nog 3 dood in Amerikaanse aanval op boot in Stille Oseaan
’n Aanval deur die Amerikaanse weermag Donderdag in internasionale waters by die Karibiese Eilande op ’n boot wat na bewering dwelms gesmokkel het, het tot die dood van drie mans gelei.
Pete Hegseth, Amerikaanse minister van oorlog, het op X gesê dat die vaartuig deur ’n “aangewese terroriste-organisasie” bedryf word, maar het geen verdere bewyse verskaf nie.
Sy inskrywing het ’n videogreep van 20 sekondes ingesluit van ’n boot in die water wat deur ammunisie getref word en ontplof.
Byna 70 mense is al in sulke Amerikaanse aanvalle dood. – Reuters
2025-11-07 03:54:54
Sanksies teen Siriese president opgehef voor vergadering met Trump
Die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies (VN) het sanksies teen Ahmed al-Sjaraa, president van Sirië, opgehef.
Al-Sjaraa vergader Maandag met pres. Donald Trump by die Withuis.
Die VN het ook sanksies teen Anas Khattab, Siriese minister van binnelandse sake, opgehef.
Basjar al-Assad, oudleier van Sirië, is in Desember ná 13 jaar van burgeroorlog in ’n blitsige offensief deur opstandige magte omvergewerp. – Reuters
2025-11-07 04:19:10
Musk se reuse-betaalpakket van tot $1 000 miljard goedgekeur
Elon Musk, uitvoerende hoof van Tesla, het Donderdag goedkeuring van aandeelhouers gekry vir die grootste korporatiewe betaalpakket in die geskiedenis. Dit volg nadat beleggers sy visie ondersteun het om die vervaardiger van elektriese voertuie in ’n kunsmatige-intelligensie (KI)-en-robotika-reus te omskep.
Die voorgestelde betaalpakket is met meer as 75% se steun goedgekeur.
Musk, wat reeds die wêreld se rykste persoon is, kan oor die volgende dekade tot $1 000 miljard in aandele kry, hoewel vereiste betalings die waarde tot $878 miljard sal verlaag. – Reuters
2025-11-07 04:40:11
Werker dood, 6 steeds vasgekeer in Suid-Korea
’n Werker is Vrydag dood en ses is steeds vasgekeer nadat ’n struktuur Donderdagmiddag by ’n kragstasie in die stad Ulsan in Suid-Korea ineengestort het.
Werkers was besig om dele van die struktuur af te breek om dit voor te berei vir sloping oor sowat 10 dae toe die ongeluk plaasgevind het.
Die dood van een werkers is vroeg Vrydag bevestig en die toestand van nog ’n werker is onbekend, het die owerhede gesê. – Reuters
2025-11-07 04:48:45
Meer as 300 volstruise van kant gemaak weens voëlgriep in Kanada
Die Kanadese regering gaan meer as 300 volstruise op ’n plaas in Brits-Columbië van kant maak, waar sommige voëls met voëlgriep besmet is.
Dit volg nadat die land se hoogste hof Donderdag geweier het om argumente aan te hoor om nie die voëls van kant te maak nie.
Die Universal Ostrich Farms in Edgewood het aangevoer dat hul voëls die oorspronklike infeksie wat in Desember 2024 bespeur is, oorleef het en immuun geword het.
Kanadese amptenare sê die voëls bly ’n potensiële bron van infeksie vir ander voëls en spesies. – Reuters
2025-11-07 05:02:56
Lughawe in België tydelik gesluit ná nog waarnemings van hommeltuie
Bedrywighede by die Brussel-lughawe in België is Donderdag tydelik gestaak weens die waarneming van ’n hommeltuig.
Die owerhede het nie aangedui hoeveel hommeltuie waargeneem is nie.
Die plaaslike media het berig dat hommeltuie ook in ander dele van die land waargeneem is.
Die Belgiese regering het vroeër Donderdagoggend ’n noodvergadering van belangrike ministers en veiligheidshoofde belê nadat waarnemings van hommeltuie Dinsdagaand die sluiting van lughawens en ’n militêre lugmagbasis afgedwing het. – Reuters
2025-11-07 05:18:42
Tiener vir moord op burgemeester in Mexiko verantwoordelik
’n Tiener (17) is as die moordenaar van die burgemeester van die stad Uruapan in Mexiko geïdentifiseer.
Carlos Manzo is Saterdag op ’n openbare geleentheid in die staat Michoacan doodgeskiet.
Forensiese toetse het bevestig dat Victor Manuel Ubaldo, wat dood is nadat hy deur veiligheidsmagte op die toneel doodgeskiet is, die moord uitgevoer het.
Ubaldo is Woensdag deur sy familielede uitgeken.
Die kantoor van die aanklaer van Michoacan sê bykomende individue was by die voorval betrokke. – Reuters
2025-11-07 05:53:17
Ontploffings naby Soedannese hoofstad gehoor
Ontploffings is Vrydag naby Khartoem, die hoofstad van Soedan, gehoor, het getuies aan AFP gesê.
Dit volg een dag nadat die paramilitêre Blitsondersteuningsmag (RSF) gesê het dat hy tot ’n humanitêre skietstilstand ingestem het.
Khartoem word deur die weermag beheer.
Inwoners in die naburige stad Omdoerman sê die ontploffings het naby ’n militêre basis en ’n kragstasie plaasgevind. – AFP
2025-11-07 06:16:45
Trump-administrasie moet voedselhulp ten volle finansier, beveel regter
’n Federale regter het pres. Donald Trump se administrasie beveel om vandeesmaand se voedselhulp vir 42 miljoen lae-inkomste-Amerikaners teen Vrydag ten volle te finansier.
Die regter het sodoende die administrasie se plan om slegs verminderde voordele gedurende die regeringsluiting te bied, gekeer.
Regter John McConnell het die administrasie daarvan beskuldig dat hy die voordele van die aanvullende voedingsbystandsprogram, bekend as Snap of voedselkoepons, om “politieke redes” weerhou.
Die Trump-administrasie het vinnig ’n appèl teen McConnell se beslissing ingedien wat dit onduidelik maak of Snap-voordele uiteindelik Vrydag ten volle uitbetaal sal word. – Reuters
2025-11-07 06:44:52
Air India-ongeluk: ‘Verslag impliseer nie vlieënier’
Die hooggeregshof in Indië het Vrydag gesê dat ’n voorlopige verslag oor die noodlottige Air India-ongeluk nie die vlieënier impliseer nie.
Die hof sal ’n pleidooi van die vlieënier se pa op 10 November aanhoor wat ’n onafhanklike ondersoek versoek.
Die vliegtuig was op 12 Junie na Gatwick, Londen, onderweg toe dit kort ná opstyging neergestort het.
Altesaam 260 mense is in die ongeluk dood.
Indië se lugongeluk-agentskap het vroeër vanjaar ’n tussentydse verslag gepubliseer wat vermeld dat albei brandstofskakelaars (wat brandstoftoevoer na die enjins beheer) van die vliegtuig in die afgeskakelde posisie was voordat dit neergestort het. – Reuters

Forensiese kundiges en amptenare op die ongelukstoneel van die Air India-vliegtuig in Ahmedabad, Indië, op 13 Junie 2025. Foto: Getty Images/Hindustan Times
2025-11-07 07:12:46
Jamie Lee Curtis vereer

Die aktrise Jamie Lee Curtis (66) aanvaar Donderdag die Jane Fonda- humanitêre prys op die WIF (Women In Film) Honors in Beverly Hills, Kalifornië. Foto: Reuters
2025-11-07 07:38:43
5 dood in Viëtnam weens tifoon, dodetal minstens 188 in Filippyne
Vyf mense is dood toe die tifoon Kalmaegi Vrydag Viëtnam getref het.
Die owerhede was Vrydagoggend steeds besig om die skade te bepaal, maar die ministerie van omgewingsake het gesê 57 huise in twee streke het ineengestort.
Nog 3 000 huise se dakke het afgewaai of is beskadig, terwyl 11 bote of skepe gesink het.
Die tifoon het vandeesweek rekordreënval en oorstromings in die sentrale Filippyne veroorsaak, waar die dodetal nou op minstens 188 staan. – AFP

’n Vrou kyk Vrydag na ’n beskadigde struktuur in Quy Nhon in die provinsie Gia Lai in Sentraal-Viëtnam nadat die tifoon Kalmaegi die gebied getref het. Foto: AFP
2025-11-07 07:44:13
Verskeie beseer in moskee binne skoolkompleks in Indonesië
Verskeie mense is Vrydag beseer in ’n moskee binne ’n skoolkompleks in Djakarta, hoofstad van Indonesië.
Dit was nie onmiddellik duidelik wat die ontploffing veroorsaak het nie. Die plaaslike media het berig dat verskeie mense beseer is, met wisselende getalle. Reuters kon nie die getal beseerdes onafhanklik bevestig nie.
Die polisie van Djakarta het nie onmiddellik op ’n versoek om kommentaar gereageer nie. Die burgemeesterskantoor, distriks- en nasionale polisie kon nie onmiddellik bereik word nie. – Reuters
2025-11-07 07:50:05
Iran veroordeel ‘barbaarse’ Israeliese aanvalle op Libanon
Iran het Vrydag Israel se aanvalle op Libanon veroordeel nadat Israel teikens wat aan Hezbollah behoort, getref het.
Die ministerie van buitelandse sake van Iran het “die Verenigde Nasies, die internasionale gemeenskap en lande in die streek aangespoor om die aanhitsing van oorlog” deur Israel te konfronteer, luidens ’n verklaring.
Die minister het ook sy “meegevoel betuig ná die dood van Libanese burgers in die barbaarse aanvalle”.
Israel het Donderdag gesê hy het ’n reeks teikens wat aan Hezbollah behoort, getref. – AFP
2025-11-07 08:23:15
Meer as 200 vlugte by lughawe in Indië vertraag
Meer as 200 vlugte by die Indira Gandhi- internasionale lughawe in Nieu-Delhi, Indië, is weens ’n tegniese probleem vertraag.
Die fout, wat die vertrek van tientalle vlugte met meer as 30 minute vertraag het, kan tot verkeersknope by ander lughawens in die land lei.
Die Lughawensowerheid van Indië het gesê ’n tegniese probleem met die stelsel wat gebruik word om vlugplanne te genereer, het lugverkeerbeheerders gedwing om dit met die hand te ontwikkel, wat tot vertragings gelei het. – Reuters
2025-11-07 08:31:08
54 in hospitale opgeneem ná ontploffing by Vrydaggebede in Indonesië
Minstens 54 mense is in hospitale opgeneem weens ’n ontploffing by ’n moskee binne ’n skoolkompleks in Djakarta, hoofstad van Indonesië.
Vroeër is berig die getal beseerdes is nog nie bekend nie.
Die voorval het ten tyde van Vrydaggebede plaasgevind.
Die polisie ondersoek die oorsaak van die ontploffing op die toneel in Kelapa Gading, in die noorde van Djakarta, het Asep Edi Suheri, stadspolisiehoof, op ’n mediakonferensie gesê.
Die beserings van die slagoffers wissel van matig tot ernstig en sluit brandwonde in. – Reuters
2025-11-07 09:18:03
Polisiejaagtog lei tot 6 se dood in Bulgarye
Ses immigrante is dood en drie beseer toe hul motor tydens ’n jaagtog met die polisie in ’n meer in die ooste van Bulgarye beland het.
Die ongeluk het Donderdag laat naby die hawestad Burgas gebeur.
“Die polisie het aanvanklik probeer om die voertuig te stop, maar die bestuurder het nie na hulle geluister nie,” sê ’n woordvoerder.
Beamptes het nog twee keer probeer om die motor te stop en met die derde poging het dit die pad verlaat en in die meer gestort.
Die bestuurder, ’n Roemeense burger, is in hegtenis geneem. – AFP
2025-11-07 09:49:27
4 in hegtenis wat by konsert van Israeliese orkes betoog
Die polisie in Frankryk het vier mense in hegtenis geneem weens betogings wat ’n konsert deur Israel se nasionale orkes in die Paryse Filharmoniese musieksaal ontwrig het.
Verskeie konsertgangers het Donderdagaand se konsert deur die Israeliese Filharmoniese Orkes herhaaldelik onderbreek, insluitend twee keer deur rook.
Die besoek deur die orkes het kritiek van verskeie groepe ontlok weens die oorlog in die Gasastrook. – AFP
2025-11-07 10:14:58
Party van gematigde wen Nederland se verkiesing
Die Nederlandse Verkiesingsraad het die party van Rob Jetten (38) Vrydag tot wenner van verlede week se verkiesing verklaar. Jetten is ’n gematigde kandidaat.
Sy D66-party het ’n noue oorwinning van net 29 668 stemme oor dié van die verregse kandidaat, Geert Wilders, gekry.
Die verkiesing is beskou as ’n aanduiding van die opkoms van Europa se verregses.
“Ek dink ons het nou aan die res van Europa en die wêreld gewys dat dit moontlik is om populistiese bewegings te klop as jy met ’n positiewe boodskap vir jou land ’n veldtog voer,” het Jetten verlede week gesê. – AFP

Rob Jetten Foto: Getty Images/Anadolu
2025-11-07 10:30:16

’n Brandbestryder werk Vrydag op die toneel van ’n Russiese hommeltuigaanval in die Charkif-streek in Oekraïne. Foto: Reuters
2025-11-07 10:45:41
Rusland vra duidelikheid oor VSA se kernwapentoetse
Rusland het gevra dat Amerika opmerkings deur pres. Donald Trump oor die hervatting van kernwapentoetse opklaar.
Maria Zacharowa, woordvoerder van die Russiese ministerie van buitelandse sake, sê die opmerkings vereis klarigheid omdat dit ernstige reaksie van ander lande sal ontketen.
Trump het verlede week die Amerikaanse weermag beveel om die proses vir die toets van kernwapens onmiddellik te hervat ná 33 jaar.
Maar dit is nie duidelik na watter tipe toetse Trump verwys het nie. – Reuters
2025-11-07 11:19:03
Regter moet uitspraak lewer oor Trump se ontplooiing van troepe in Portland
'n Regter sal Vrydag besluit of pres. Donald Trump federale wetgewing oortree het toe hy troepe van die Nasionale Garde na Portland in die Amerikaanse deelstaat Oregon gestuur het.
Die beslissing deur Amerikaanse distriksregter Karin Immergut, wat deur Trump aangestel is, kan die eerste wees wat Trump permanent verhoed om troepe te gebruik om protesoptogte teen federale immigrasie-owerhede te onderdruk, wat hy ook probeer doen in die Demokraties geleide Los Angeles, Chicago en Washington DC.
Die Nasionale Garde word tans deur ’n tydelike hofbevel verhoed om in Portland te ontplooi, en Immergut sal besluit of dit onbepaald verleng moet word. Die besluit hang daarvan af of die protesoptogte op ’n rebellie neergekom het, wat ’n militêre reaksie wettiglik regverdig. – Reuters
2025-11-07 11:29:45
Swede het 17 500 bendemisdadigers, sê polisiekommissaris
Swede, ’n land met 10,6 miljoen mense, het sowat 17 500 misdadigers wat tot bendes behoort.
Dit volg nadat die Sweedse regering die polisie opdrag gegee het om ’n oorsig van die stygende geweldsmisdaad in die Skandinawiese land te doen. ’n Vorige verslag in 2024 het geraam dat daar 14 000 bendelede in Swede is.
Volgens Petra Lundh, polisiekommissaris, sukkel Swede al meer as ’n dekade lank met stygende vlakke van geweldsmisdaad wat met misdaadbendes verbind word. Daar is byna daagliks skietvoorvalle en gevegte tussen bendes om die dwelmmark te beheer. – AFP
2025-11-07 11:40:07
2 tieners wat glo bomme gooi deur Israeliese weermag ‘geëlimineer’
Die Israeliese weermag sê dat twee mense Donderdagaand doodgemaak is wat selfgemaakte bomme in die besette Wesoewer-dorpie Djoedeira gegooi het.
Die Palestynse ministerie van gesondheid het die oorledenes as twee 16-jarige seuns geïdentifiseer.
“Twee terroriste is gisteraand geïdentifiseer toe hulle Molotofbomme aan die brand gesteek en na ’n hoof- burgerlike roete gegooi het in Djoedeira, in die noorde van Jerusalem,” sê die Israeliese weermag in ’n verklaring.
Die militêre eenheid wat in die gebied ontplooi is, het die individue “geëlimineer”, sê die weermag. Dit is ’n woord wat Israeliese amptenare gewoonlik gebruik wanneer verdagtes doodgemaak word. – AFP
2025-11-07 11:46:47
Ontplooi om immigrante uit te snuffel...

Gemaskerde federale agente staan wag terwyl hulle deur inwoners gekonfronteer word in Chicago in die Amerikaanse deelstaat Illinois. Federale agente patrolleer daagliks Chicago se buurte en omliggende voorstede op soek na ongedokumenteerde immigrante. Foto: Getty Images
2025-11-07 12:18:59
Duitsland skep spanne om vinnig op hommeltuie te reageer
Die Duitse weermag is besig om blitsreaksiespanne saam te stel om bedreigings deur hommeltuie die hoof te bied, sê ’n senior Duitse militêre bevelvoerder.
Volgens lt.genl. Alexander Sollfrank, wat aan die hoof staan van Duitsland se verdedigingsbeplanning, word sulke reaksiespanne ook na ander lande gestuur.
Die Duitse ministerie van verdediging sê ’n span kundiges is na België gestuur op versoek van dié land, wat ’n toename in hommeltuigwaarnemings naby militêre installasies en burgerlike lughawens ondervind. – Reuters
2025-11-07 12:26:05
Vrou skuldig bevind aan teistering van Madeleine McCann se ouers
’n Britse jurie het ’n Poolse vrou wat beweer het dat sy Madeleine McCann is, Vrydag skuldig bevind aan die teistering van dié vermiste Britse meisie se ouers, maar haar vrygespreek op aanklag dat sy hulle agtervolg het.
Julia Wandelt se Britse medebeskuldigde, Karen Spragg, is ná ’n maand lange verhoor in die Leicester-hof in Sentraal-Engeland onskuldig bevind aan agtervolging en teistering.
Kate en Gerry McCann, ouers van Madeleine, het abei seldsame openbare verskynings gemaak om te getuig. Madeleine het in Mei 2007 verdwyn terwyl sy saam met hulle met vakansie was in Praia da Luz in Portugal. – AFP
2025-11-07 12:33:15
VN bekommerd oor toenemende verhongering in DRK
Die aantal mense wat noodvlakke van hongerte in die oostelike Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) moet trotseer, het sedert verlede jaar byna verdubbel.
Die Verenigde Nasies (VN) se Wêreldvoedselprogram (WFP) sê ’n “toenemende hongerkrisis” is besig om in die streek te ontvou en waarsku dat sy personeel slegs ’n fraksie van diegene in nood kan bereik weens akute finansieringstekorte en toegangsprobleme.
“Krisisvlakke van hongerte – of erger – staar een uit elke drie mense in die DRK se oostelike provinsies van Noord-Kivu, Suid-Kivu, Ituri en Tanganjika in die gesig. Dit is meer as 10 miljoen mense,” sê Cynthia Jones, die WFP se direkteur in die DRK. – AFP
2025-11-07 13:08:03
Kan ek iets sê?

Sanae Takaitsji, Japan se nuwe premier, steek Vrydag haar hand op vir ’n spreekbeurt op ’n sitting van die huis van verteenwoordigers se begrotingskomitee in Tokio. Foto: Getty Images
2025-11-07 13:14:29
Britse man (66) moet tronk toe oor spioenasie
’n Hof in Brittanje het Vrydag ’n 66-jarige Britse man sewe jaar tronkstraf opgelê vir sy pogings om vir Rusland te spioeneer, wat deur die Britse intelligensiediens gedwarsboom is.
Howard Phillips is daaraan skuldig bevind dat hy met buitelandse intelligensiedienste kontak gemaak en sy hulp aangebied het tussen 2023 en 2024. Hy het ingestem om twee oënskynlike Russiese agente, “Sasha” en “Dima”, te help en het persoonlike inligting van die destydse minister van verdediging, Grant Shapps, deurgegee, insluitend sy adres, kontaknommer en die ligging van sy privaat vliegtuig.
Sasha en Dina blyk Britse intelligensiebeamptes te wees, en Phillips is in Mei 2024 in hegtenis geneem. – AFP
2025-11-07 13:23:48
Byna 100 verdwyn of word ontvoer in Sirië, sê VN
Byna 100 mense is sedert die begin van die jaar as ontvoer aangemeld of het in Sirië verdwyn, met berigte van nuwe gedwonge verdwynings wat voortduur, sê die Verenigde Nasies (VN) se menseregtekantoor.
“Dit is 11 maande sedert die val van die vorige regering in Sirië en ons ontvang steeds kommerwekkende berigte oor ’n groot aantal ontvoerings en gedwonge verdwynings,” sê Thameen Al-Keetan, woordvoerder van die kantoor van die VN se hoë kommissaris vir menseregte in Genève.
Volgens Al-Keetan is minstens 97 mense sedert Januarie vanjaar ontvoer of het verdwyn, maar is dit moeilik om ’n akkurate syfer vas te stel. – Reuters
2025-11-07 13:46:06
Rolprentmaker Lee Tamahori sterf
Die Nieu-Seelandse rolprentmaker Lee Tamahori is vreedsaam tuis oorlede, het sy familie Vrydag in ’n verklaring bevestig.
Tamahori (75) het Pierce Brosnan as geheime agent 007 in die James Bond-fliek Die Another Day, wat in 2002 uitgereik is, geregisseer. Dit was Brosnan se laaste vertolking as Bond en hy is later in 2006 deur Daniel Craig in Casino Royale vervang.
Volgens Tamahori se familie het hy al vir ’n geruime tyd aan Parkinson se siekte gely.
Tamahori is ook bekend vir die regie van Once Were Warriors (1994), wat as een van die beste Nieu-Seelandse rolprente van alle tye beskou word. Hy het die Nieu-Seelandse rolprenttoekenning vir beste regisseur vir dié rolprentgewen, sy regisseursdebuut.
Van sy ander rolprente is die 2001-riller Along Came a Spider met Morgan Freeman en The Convert (2023) met Guy Pearce. – Daily Star

Lee Tamahori Foto: Getty Images
2025-11-07 14:27:14
Meer as 100 van hoogverraad aangekla in Tanzanië
Tanzaniese owerhede het Vrydag meer as 100 mense van hoogverraad aangekla oor hul beweerde betrokkenheid by protesoptogte tydens die verkiesing op 29 Oktober.
138 mense is volgens ’n bron in ’n hof in die ekonomiese hoofstad Dar es Salaam aangekla.
Luidens die klagstaat word hulle daarvan beskuldig dat hulle “die bedoeling gehad het om die verkiesing te dwarsboom” en die uitvoerende gesag te intimideer deur ernstige skade aan regeringseiendom te veroorsaak. – AFP
2025-11-07 14:33:51
EU-reddingsmag bevry olievragskip van seerowers
’n Reddingsmag van die Europese Unie (EU) het Vrydag ’n olievragskip, die Hellas Aphrodite, van seerowers bevry nadat die skip Donderdag naby Somalië aangeval is.
Volgens Operasie Atalanta, die EU se vlootsending in die gebied, is al 24 bemanningslede veilig en is niemand beseer nie. Die sukses volg op hernude bekommernisse oor seerowery aan die Ooskus van Afrika, waar aanvalle op handelskepe onlangs weer toegeneem het.
Operasie Atalanta is sedert 2008 aktief in die streek met die doel om internasionale skeepsvaart teen aanvalle te beskerm en stabiliteit in die seegebied te verseker. – Reuters
2025-11-07 14:44:32
EU-lugrederye stem in om misleidende klimaat-aansprake te staak
Europese luglederye, insluitend Lufthansa, Air France en KLM, het ooreengekom om op te hou om misleidende omgewingsbewerings te maak oor die verrekening van die koolstofvrystellings van lugreise, sê die Europese Kommissie.
21 lugdienste het onderneem om te verduidelik dat die uitlatings van ’n spesifieke vlug nie “geneutraliseer, verreken of direk verminder” kan word deur by te dra tot klimaatbeskermingsprojekte of alternatiewe brandstowwe nie.
“Om te verhoed dat verbruikers mislei word, moet lugdienste hulself daarvan weerhou om vae omgewingstaal te gebruik en verseker dat enige bewerings oor toekomstige omgewingsprestasie gestaaf kan word,” sê die kommissie. – AFP

Lugrederye in Europa het onderneem om voortaan nie meer misleidende klimaat-aansprake te maak nie. Foto: Getty Images
2025-11-07 15:18:57
Amerika boikot VN-menseregtesessie
Die VSA het Vrydag nie opgedaag vir die Verenigde Nasies (VN) se Universele Periodieke Hersiening (UPR) van sy menseregtegeskiedenis nie, en is slegs die tweede land tot nog toe wat hierdie verpligte VN-proses boikot.
“Ons sou vandag met die hersiening van die VSA begin, maar ek merk op dat sy afvaardiging afwesig is,” het Jurg Lauber, voorsitter van die VN se menseregteraad, gesê toe hy die sitting geopen het.
Amerika het reeds in Augustus gesê hy gaan nie deelneem nie, maar die stap het steeds woede ontlok onder Amerikaanse menseregte-organisasies en amptenare wat Genève toe gereis het. China het die VSA se “gebrek aan respek” teenoor die proses veroordeel, terwyl Kuba die land daarvan beskuldig dat hy die VN se werk probeer ondermyn.
Daar is besluit om die VSA se hersiening na laat 2026 uit te stel. Israel was in 2013 die enigste ander land wat ook nie verskyn het nie. – AFP
2025-11-07 15:28:31
Jong Rus word ondersoek oor ‘ekstremistiese’ internet-inhoud
Sergei Gloechich (20) is die eerste Russiese burger wat ondersoek word ingevolge ’n nuwe wet wat internetsoektogte verbied oor inligting wat Rusland as ekstremisties beskou.
Sy prokureur, Sergei Barsoekof, sê Gloechich het per ongeluk op inligting oor pro-Oekraïense gevegseenhede afgekom terwyl hy op ’n bus die internet deurgesnuffel het.
Sy internetdiensverskaffer het hom daarna by die Russiese veiligheidsdiens, die FSB, aangegee.
Sedert Rusland se inval in Oekraïne in 2022 geld streng sensuurwette, met strawwe vir enigeen wat die weermag “slegsê” of sogenaamde vals nuus versprei.
Die nuwe wet lê boetes van tot 5 000 roebel op aan mense wat opsetlik na “ekstremistiese” materiaal soek.
Kritici meen dié wet kan misbruik word om mense sonder rede te vervolg. – Reuters
2025-11-07 15:40:04
Amerikaanse weermag gaan miljoen hommeltuie koop
Die Amerikaanse weermag beoog om minstens ’n miljoen hommeltuie in die volgende twee tot drie jaar aan te koop. Volgens Daniel Driscoll, weermagwoordvoerder, kan Amerika enigiets van ’n halfmiljoen tot miljoene hommeltuie jaarliks aanskaf in die jare wat volg.
Driscoll sê dit is ’n groot toename in die weermag se aanskaffing van hommeltuie. Gewoonlik koop die weermag jaarliks 50 000 hommeltuie aan.
“Hommeltuie is die toekoms van oorlogvoering, en ons moet in die aanvallende én verdedigingsvermoëns daarvan belê," sê hy. – Reuters
2025-11-07 16:00:05
Noord-Korea toets weer missiel

Mense loop verby ’n televisieskerm in Seoel in Suid-Korea waarop ’n nuusuitsending gesien kan word met beeldmateriaal van ’n missieltoets deur Noord-Korea. Foto: AFP
2025-11-07 16:13:06
VN waarsku oor 'verskerpte vyandelikhede' in Soedan
Die Verenigde Nasies (VN) verwag ’n toename in die vyandelikhede in Soedan, ondanks die feit dat die paramilitêre mag tot 'n skietstilstandvoorstel ingestem het ná meer as twee jaar van oorlog teen die land se weermag.
"Daar is geen teken van de-eskalasie nie," sê Volker Turk, die VN se menseregtehoof. "Verwikkelinge op die grond dui op duidelike voorbereidings vir verskerpte vyandelikhede,” sê Turk.
Die paramilitêre Blitsondersteuningsmag (RSF) sê dat hy 'n skietstilstandplan aanvaar het wat deur Amerika, Saoedi-Arabië, die Verenigde Arabiese Emirate en Egipte voorgestel is. Die regering van Soedan, gesteun deur die weermag, het egter nog nie op die voorstel van die bemiddelaars gereageer nie. – AFP
2025-11-07 16:19:04
Denemarke wil kinders teen sosiale media beskerm
Denemarke gaan die gebruik van sosiale media deur kinders onder die ouderdom van 15 jaar verbied, sê die Deense regering.
Ouers sal egter toegelaat word om vrywaring te gee vir kinders tot die ouderdom van 13 jaar om toegang tot sekere platforms te verkry.
Die stap volg op ’n oproep deur Mette Frederiksen, Deense premier, in haar openingstoespraak aan die parlement verlede maand weens kommer oor die geestesgesondheid van kinders weens die gebruik van sosiale media.
"Die sogenaamde sosiale media floreer daarop om ons kinders se tyd, kinderjare en welstand te steel, en ons maak nou 'n einde daaraan," sê Caroline Stage Olsen, minister van digitalisering. – Reuters
2025-11-07 17:00:54
Voormalige Britse soldaat in arres weens moord op Keniaanse vrou
’n Voormalige Britse soldaat is in Engeland in hegtenis geneem ná bewerings dat hy meer as ’n dekade gelede ’n Keniaanse vrou in Oos-Afrika vermoor het, het die polisie Vrydag bevestig.
Robert James Purkiss (38) is in aanhouding nadat hy in ’n hof in Londen verskyn het by die aanvang van uitleweringsverrigtinge.
Die saak spruit uit ’n moord wat meer as 10 jaar gelede in Kenia, ’n land waar Britse soldate gereeld vir opleiding gestasioneer word, gepleeg is. Die beskuldiging teen Purkiss kom te midde van voortdurende oproepe om geregtigheid van familielede van ander slagoffers wat beweer dat Britse militêre personeel by geweldsmisdade in Kenia betrokke is. – Reuters
2025-11-07 17:12:27
VSA se regeringsluiting lei tot kansellering van honderde vlugte by lughawens
Honderde vlugte is Vrydag oor Amerika heen gekanselleer nadat pres. Donald Trump se administrasie beveel het dat vlugte verminder moet word om die druk op lugverkeerbeheerders wat sonder betaling werk, te verlig te midde van ’n dooiepunt oor die federale begroting.
Vlugte by 40 lughawens, soos Atlanta, Newark, Denver, Chicago, Houston en Los Angeles, is verminder.
Die Republikeine en die Demokrate is in ’n bitter dispuut oor bestedingsprioriteite gewikkel. Groot getalle staatsamptenare, onder wie noodsaaklike lughawepersoneel, werk óf sonder betaling óf is tuis met verlof en wag op die einde van die krisis wat nou byna ses weke lank duur. – AFP
2025-11-07 17:30:02
’n Fransman in Mexiko

Pres. Emmanuel Macron van Frankryk loop verby ’n erewag tydens ’n verwelkomingsplegtigheid in die stad Mexiko as deel van sy amptelike besoek aan Mexiko. Foto: Getty Images
2025-11-07 18:08:00
Trump stel Hongarye dalk vry van Russiese oliesanksies
Pres. Donald Trump sal dit oorweeg om Hongarye vry te stel van sanksies op Russiese olie-aankope, het hy Vrydag aan Viktor Orbán, premier van Hongarye, gesê.
“Ons kyk daarna omdat dit baie moeilik vir hom is om die olie en gas van ander gebiede te kry. Soos julle weet, het hulle nie die voordeel van die see nie,” het Trump aan verslaggewers gesê toe hy met Orbán by die Withuis vergader het.
Orbán, regse nasionalis wat dikwels die res van die Europese Unie (EU) teenstaan om druk op Rusland uit te voer weens sy inval in Oekraïne, sê Russiese energie is ’n noodsaaklikheid vir sy land. “Pypleidings is nie ’n ideologiese of politieke kwessie nie. Dis ’n fisieke werklikheid omdat ons nie hawens het nie." – AFP
2025-11-07 18:19:54
Amerikaanse soldate sal in Roemenië bly, sê Hegseth
Amerikaanse troepe sal steeds in Roemenië gestasioneer wees, maar ’n verandering sal aangebring word in hoe Amerika sy soldate roteer, sê Pete Hegseth, Amerikaanse minister van oorlog.
Sedert Rusland se inval in Oekraïne in 2022 het Amerika sy militêre teenwoordigheid in Oos-Europa, wat Roemenië insluit, versterk om bondgenote van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) teen moontlike dreigemente te beskerm.
Roemenië speel ’n strategiese rol weens sy ligging aan die Swart See en nabyheid aan Oekraïne. Amerikaanse soldate en Navo-bondgenote neem gereeld deel aan gesamentlike militêre oefeninge in die streek om ’n vinnige reaksievermoë te verseker. – Reuters
2025-11-07 18:20:55
'Hallo daar, my naam is Zohran'

Zohran Mamdani, nuut verkose burgemeester van New York, skud blad met ’n kind tydens sy besoek aan ’n moskee in San Juan, Puerto Rico. Foto: Reuters
2025-11-07 19:20:10
Turkye reik lasbriewe uit vir inhegtenisneming van Netanyahu en kie
Turkye het Vrydag aangekondig dat hy lasbriewe uitreik vir die inhegtenisneming van sowel Benjamin Netanyahu, premier van Israel, as senior regeringsleiers, op aanklag van volksmoord in die Gasastrook.
Onder die 37 verdagtes is Israel Katz, minister van verdediging, Itamar Ben Gvir, minister van nasionale veiligheid, en lt.genl. Eyal Zamir, weermaghoof. Turkye beskuldig die Israeli’s van “volksmoord en misdade teen die mensdom” wat glo stelselmatig gepleeg is. – AFP
2025-11-07 19:24:57
Bolsonaro se appèl teen tronkstraf misluk
Drie lede op ’n paneel van vyf regters in Brasilië se hooggeregshof het Vrydag ’n meerderheid gevorm om oudpres. Jair Bolsonaro se appèl teen sy 27 jaar tronkstraf van die hand te wys.
Bolsenaro is gevonnis weens die beplanning van ’n staatsgreep om ná die presidentsverkiesing in 2022 aan die bewind te bly.
Regters Flavio Dino, Alexandre de Moraes en Cristiano Zanin het gestem om die appèl wat deur Bolsonaro se regspan ingedien is, te verwerp.
Die oorblywende lede van die paneel het tot 14 November om hul stem uit te bring. Bolsonaro sal eers sy vonnis begin uitdien sodra alle appèlle uitgeput is.
Hy is sedert Augustus onder huisarres weens die oortreding van voorsorgmaatreëls in ’n afsonderlike saak. Sy regspan sal na verwagting vra dat hy toegelaat word om sy vonnis onder soortgelyke omstandighede uit te dien weens gesondheidsredes. – Reuters
2025-11-07 19:35:28
'Glimlag vir die media...'

Pres. Donald Trump verwelkom Viktor Orbán, premier van Hongarye, by die Withuis in Washington. Foto: Reuters
















